Gala 2022
Toe die horison die oggend van die 17de November rooi-pienk ingekleur word, groet ‘n spul moeë maar opgewonde BTKeen-ers mekaar. Onder die bondel mense is daar ou gesigte, nuwe gesigte, verwagte gesigte, en ook ‘n paar onverwagte gesigte, danksy die A3 monster wat in die nag toegeslaan het en ‘n paar minder-voorbereide toeriste oorrompel het. Met die groetery, pakkery en draaiery afgehandel, val ons in die pad. Binne minute word alle eksamensorge langs die N2 weggesmyt, en die gedreun van buswiele op ‘n teerpad sus die spul aan die slaap. Sommige minderbevoorregte drommels, soos die uwe sketsskrywer, moes egter soos Mr. Bean vuurhoutjies onder die ooglede inprop om haar oë oop te hou soos wat sy nog aan ‘n opstel gesit en tik het op daardie einste bus. Maar wat, as jy keen is is jy keen. #stapnouwerknetvoordatdittelaatis.
‘n Goeie kwylbekslapie later kom ons by Diaz-strand aand. “Two by two” smul ons aan kaas-en-konfyt roosterkoeke, voordat ons die draai om die baai na die kampterrein toe aanpak. By die kamp aangekom is dit net treintjie-vorm-afpak, kombuisspanne indeel (met die spanne wat vernoem word na ouens wat, volgens die teenwoordige dames se voorspelling, eerste gekys gaan word) en tent opslaan. Met al die hordes verantwoordelikhede uiteindelik afgehandel, en die stappers uitgerus na die woeste stuk stap kamp toe – want nee ons dag Gala is mos rustig – kon ons uiteindelik die laatmiddag-lekkertes afskop met ‘n bietjie touchies en strand-swem. ‘n Paar van ons is selfs deur ‘n dolfyn begroet wat so nuuskierig was dat ons sy (of haar) asem kon ruik.
Met ‘n suksesvolle strandswemsessie agter die rug vat die snoekbraai vlam, met die mans wat die vure stook en komme vol botter-soetpatats roer. Uiteindelik sê ons toe dankie aan ons Hemelse Vader vir die groot bederf van goeie rus in die vorm van ‘n bord goed-gesoute snoek (maar nie so sout dat die kiewe trek nie), ‘n oop sterrehemel en die potensiaal van nuwe maatjies. Daardie aand droom ongeveer 100 jongmense van Maymarie en Marlize se soetpatats, wat letterlik tot karamel afgeprut was. Legendes vertel dat ‘n sekere Petri Smit steeds daarvan droom. So gepraat van die duiwel, daardie aand open hy slee soos ‘n ware epileptiese bok, met Mario en Luigi wat kort daarna hul verskyning maak met houtlepels vir roeispane – shame.
Met vol mae en helder ogies klim die mense die volgende oggend op die bus, gereed om die St. Blaise staproete aan te pak. Op die pad groet ons ‘n paar mak dassies en bewonder die oranje klipkranse en turkoois oseaan wat al langs ons kronkelpaadjie saamloop. Gamebreak word geroep en is die ideale geleentheid vir ‘n vinnige middagslapie op die rotse en kiekies voor die potblou green-screen. Die saligheid word egter elke kort-kort onderbreek met die effens angswekkende, effens grapperige “Vaaaaan ons, aan die eerste toeriste!” wat iewers vanuit die verte weergalm. So tussendeur die stappery slaag iemand daarin om ‘n bankkaart te verloor, en ‘n tang word uit stokkies geprakseer om in Stilbaai nog roomys te kan koop, want ‘n boer maak ‘n plan BTKner maak… ook een.
Daardie aand word ons weereens bederf met ‘n heerlike slaapplekkie so bietjie verder verwyder van die stad se geraas, en ‘n dromerige uitsig oor die hengse blou “dam”. ‘n Paar wattetjie-wolke hang lui-lui in die lug, en oranje dakkies loer neer vanuit die hoogtes om ‘n salige atmosfeer te skep. Ek kan nie mooi onthou wat ons geëet het nie, maar ek het wel aangeteken dat dit vrek lekker was, so daar: Dit was vrek lekker! Die uitsig en atmosfeer het mense sommer lus gemaak om te skoffel; plakkies en crocs het gevlieg soos wat hulle op die gras tekere gegaan het, en daar is selfs na die laaste sokkie-treffer ge-aaagghh om die standaard daarvan bekend te maak! Die slee was topgehalte, en hoewel ek nie wakker was vir alles nie kan ek jou waarborg dat Jo-an en PF mekaar aangehits het tot een of ander iets wat so moeilik is om uit te maak dat ons almal gelag het. Stefan het ook heel moontlik ‘n grappie vertel wat almal na ‘n “dut om die kampvuur” gevoel gevat het.
Die volgende oggend word die dames getrou wakker gesing, en na die Cornflakes in is, is Gourits die nuwe bestemming. Hierdie deel was heerlik teen die see, met die “uke” wat sommer so in die loop getokkel word. Faf se filmkamera word ook uitgepluk, en die branders verwek gille soos wat dit spontaan oor die mense se voete spoel. By die kampterrein aangekom word die BTKitaar se snare sagkens gestreel, en soos regte BTKners was almal gereed om kruisbeen te sit en saam te sing tot die son soos die laaste kooltjies van ‘n vuur in die see verdwyn het. Aandete word gesellig saam geniet, nuwe vriende word gemaak, en die vriendekringe bly permanent oop vir nuwe gesigte om hulself te kom voorstel. Daardie aand is wraakaand, en al die ou toeriste is vir eens wakker om die keen nuwelinge se rolle tydens die BTK se vreemde tradisies te aanskou. Carmen het die storie pragtig georganiseer en gefasiliteer: PF wonder sommige dae steeds “Where’s Waldo?” (Is hy dalk in ‘n boom, besig om doelloos die diep donkerte van die niks in te staar vanuit ‘n kampterrein in Stilbaai?) Karlien van Jaarsveld se dansmoves word ongelukkig in ons breine ingeëts, en so ook Kim Kardashian se vals agterstewe.
Met die dag wat vrolik breek word die tente afgeslaan met meer ritme as wat effektief is, en Alicia en Jo-an dans so gesinkroniseerd dat mens nie meer kan sien wie’s wie nie. Karlien klim weer uit haar dop uit, Abba word oor die speakers geblaas en die meisies en ouens verdeel amper bonatuurlik in groepe om “Vous les vous” te sing asof ons in ‘n musical is. Kort daarna vertrek ons na oom Boetie se plaas, waar ons rustig langs ‘n pad vol dorings afwandel. Hier is Carmen van mening dat jy eerder die doring in jou skoen moet los, want as jy dit uittrek maak die volgende een net ‘n dieper gat. Toe ons uiteindelik by “The Stairway to Heaven” kom is mense so opgewonde dat hulle amper by die duine af wil ‘abseil’. Uiteindelik is almal onder, waar ons die “Narnia-esque” baai geniet en in die glybranders lê en lekker kry. Daar word touchies gespeel en ordentlik bruin (of kreef) getan. Man, dis mos nou salig. Die aand voel almal nog of hulle wieg toe hulle ogies toeval.
BTK Sondag is salig en daar word vir omtrent 45 minute met toe oë geworship op die kampterrein se grasperk. Dit was so verfrissend en goed om ons Vader glorie te gee vir die rus en die kinderlike speel van die afgelope paar dae. Later word daar roomys by die legendariese blou huis gekoop en die branders word weer ingevaar. Sommige getroue ondersteuners het hulself in die klein kroegie gaan indruk om die rugby te gaan geniet, en asof BTKners nie reeds soos (letterlike) seer tone uitstaan nie het hulle nog ‘n bak roomys en ‘n paar lepels die kroeg ingesmokkel. Absolute honneskou!
Die spikeball toernooi met Jo-an en PF as aankondigers is ook een vir die boeke. ‘n Skoen se drome van roem word waar toe hy as mikrofoon gebruik word, en LT hanteer sy tweede plek met die waardigheid en nederigheid van iemand veel ouer.
Iewers tussen dit alles word die Durban aaitem genomineer vir die mees oorspronklike aaitem, met die woorde “boet”, “bru” en “naught” wat een keer te veel gebruik word. Troepe was topklas, met Petri as korporaal en LT as die generaal met minofmeer die takt van ‘n kruiwa. Ek sal nou nie SW se gesprek oor submission opbring nie, maar julle verstaan.
Dankie Here vir ‘n tyd van rus, vir opregte vreudge, mooie dinge en vir lekker mense wat dinge lig maak, maar wat ook swaarder dinge kan gesels. Tot volgende jaar; Gala what you must!