Moordenaarskaroo 2023

Moordenaarskaroo 2023

‘n Skets van gebeure deur De Wet Denkema

Voorwoord:

‘n Lang skets vir ‘n lang toer. Eerlikwaar ek dink die skets is dalk langer as die toer, en ek maak dit net erger deur hierdie voorwoord te skryf. Gebaseer op ‘n ware verhaal, slegs die feite is verander. Die werke wat in hierdie skets voorgestel word is feitelik korrek en het werklik gebeur, alle plekke en mense is ware plekke en mense, en enige verwysing na fiktiewe plekke en/of karakters is heeltemal toevallig, die sketsskrywer mag dus nie verantwoordelik gehou word vir enige skade aan persone of reputasies wat gebeur as gevolg van hierdie toevallige verwysings nie. Hierdie skets is ‘n produk van die skrywer se verbeelding, en indien einige feite wanvoorgestel word, of die volgorde van gebeurtenisse verkeerd vertel word, dan is dit nou maar so.

Dag 1: 16 Julie 2023 – ~14km

Die 16de Julie is ‘n dag met geen dieper betekenis of groot geskiedkundige gebeurtenisse nie. Of, ten minste, geen waarvan ek weet nie. Die enigste groot prestasie wat die 16de Julie al ooit in sy lewe behaal het is dat hy presies ‘n maand na Jeugdag op die kalender val. Die 16de Julie is, in alle moontlike maniere, dik average. Of eerder, dit was. Die 16de Julie om 8uur begin ‘n storie wat lewens verander, ‘n storie wat aan menigte kinders in die verre toekoms vertel gaan word. Wie weet, miskien word die 16de Julie eendag in die Berg- en Trouklub annale opgeskryf as die dag wat iemand hul tweede helfte ontmoet het. Die 16de Julie, Dag Een van ons BTK Moordenaarskaroo toer.

 

Dit is ‘n mistroostige Sondagoggend, hierdie 16de Julie. Die eerste mense wag reeds by die Neelsie, warm en relatief waterdig aangetrek teen die reëndruppels wat ons terg met die belofte van ‘n nat busrit. Binne minute vergroot die groep tot 57 van die 60, die bus word gelaai, groepies word aangekondig, en die storie begin. Met ‘n bus vol mense wat gereed is om te vertrek wag ons net gougou vir Schalk, Tristan, Alida en Hannah, wie duidelik besluit het dat dit haar missie is om laaste op die bus te klim wanneer ookal moontlik. Kwart oor nege vertrek ons vanaf die Neelsie, slegs vyftien minute later as wat meneer die toerleier, Petri Smit, beplan het. *Ahem*. Foreshadowing.

 

Aan die ander kant van die tonnel word ons begroet deur ‘n reënboog wat 180° deur die lug strek. ‘n Belofte van die afwesigheid van vloedreën in ons toekoms, amper soos wat aan Noag gemaak is na die vloed? Op daardie stadium het ons nie geweet nie, en kon ons maar net hoop. Ons getalle vermeerder na 59 met SW en Janke wat by die Ultra City naby Worcester opklim tydens ‘n vinnige 15 minuut badkamer breuk. Die eerste “O jitte ek het xyz vergeet!” word reeds hier gedink deur sommige mense, met witgoud wat inderhaas gekoop word. Met die 15 minuut stoppie op end, kry ons ‘n halfuur later rigting, Laingsburg toe.

 

Op Laingsburg word ons voltallig met Rachel wat by ons aansluit by die Shell, waar Zander, Naude en Johannes meer geld as wat redelik is spandeer om ‘n R2 Bialetti te probeer wen. Hulle verloor egter. ‘n Ruk later tref ons sinkplaat, en binne ‘n oogwink word ons gedeponeer by ons bestemming: ‘n hek met 8 slotte, reg langs die middel van nêrens. Die bus word afgelaai, die mense trek hul skoene aan, en die tradisies word geopen met Bertus en Danielle wat skiet verduidelik. Dit lyk egter of Bertus moontlik gaan kompetisie hê vir sy meisie se teenwoordigheid in die slee, want ongeveer 6 van die manne besluit om te intercept tydens die verduideliking. Dit word gevolg deur die ordentlikheidspraatjie, en die flouste van flou grappies word vertel. Die twee geslagsgroepe maak ‘n ry voor mekaar, en De Machtige Koning word gesing. Of eerder, die eerste drie reëls word gesing. Daarna ontplof dit in chaos, basies ‘n vuisgeveg. Soos gewoonlik. Leana raak amper handgemeen met Petri vir sy hoed. Okay, ek oordryf dalk ‘n bietjie. ‘n Klein, klein, baie klein bietjie. Toe is dit middagete.

 

Maymarie open groepie twee se smalltalk met ‘n vragie gerig aan elkeen in die groep: “Watter gebeurtenis in jou kleintyd het jou gescar for life?” Lise deel graag. Na lunch begin die stappery, en so begin dag een uiteindelik, in volle swang. Sommer vroeg-vroeg al begin die eerste mense uiting gee aan hul pyne. Fisiese pyne, Dag 1 is te vroeg vir emosionele pyn geselsies. Schalk se sak weeg omtrent 25kg want “Ek dra Justin se goed. Justincase.” Min weet ons hoekom sy sak werklik so swaar is.

 

Op 8km, na ‘n stewige stappie, rus ons vir die eerste keer. Die eerste pleisters word hier alreeds geplak. Trotse lede van die Beblaasde Tone Klub. Bertus vra ‘n paar van ons watter voorwerpe ons graag eendag sal wil wees. Antwoorde sluit in ‘n stoel, ‘n ster en ‘n karoobossie. ‘n Rukkie later tref ons ‘n rivercrossing. “IN DIE KAROO!” Skryf ek in hoofletters met groot uitroeptekens en vraagtekens in my boekie, heeltemal onbewus van wat voorlê.

 

Ons neem kort daarna ‘n kort ompad, ten spyte van meer tekens wat gegooi word as ‘n dame wat flankeer (flirt). ‘n Volle twee pyle wat sê “draai links”. Ons neem dus die logiese besluit en gaan reguit aan, want die Karoo is baie groot en ons is bang ons mis iets. Toe ons uiteindelik teen laatskemer by die kammplek uitkom, brand die kosvure reeds. Franci verwelkom ons, en ons begin kamp opslaan. Rugsakke word neergesit, tente word uitgehaal, en skiet word oopgemaak, tot hierdie sketsskrywer se skok en verontwaardiging, en ten spyte van ‘n sekere toerleier wat nie naby aan enige dames staan nie. Met die opwinding van skiet agter die rug word die stookproses aan die stokers verduidelik, en die mans ooga booga fiyah fiyah rondom die stofie se vlammetjie, soos mans maar doen.

 

Die dames, asook ‘n paar manne, staan tou vir emmertjies warm water om te gaan stort. Hulle het nog hoop vir ‘n skoon, warm, gemaklike toer. Rondom die kosvuur vra SW vir ‘n groepie dames hoe hulle sal wil hê die mans moet hulle uitvra. André luister aandagtig.

 

‘n Groot kampvuur word gemaak, en elkeen skep ‘n uitstekende bord kos van lam-en-hoender kerriepot met mash. Met die sterre wat skitterend neerglinster op ons, en ‘n paar dames wie se giggels vanuit die stort-area gehoor kan word, vra ons die seën. Vir poeding kry ons malvapoeding met vla. ‘n Gesellige kampvuur, warm kos, lekker poeding en goeie geselskap. Wat meer wil jy hê vir ‘n BTK toer?

 

Slee word aanmekaargeslaan rondom die vuur, en Petri open items met ‘n versoek om stilte sodat ons die sterre kan bestudeer, nes die eertydse Griekse sterrekundiges. Hy weier egter om ‘n liedjie vir ons te sing terwyl ons bestudeer. Onbillik. Kort daarna word Ballade van ‘n Sterwende Bok opgevoer, maar toe maak die sketsskrywer ‘n strategiese besluit om nie die items verder neer te skryf nie. Hy trek egter kort daarna sy pen weer nader toe Naude se twee chicks met lang bene hul verskyning maak, net om dit direk daarna weer neer te lê. ‘n Lekker warm lê-sessie langs die vuur later word die pen weer gegryp vir André se genie wat probeer om SW se wense waar te laat word. Soos ons almal egter weet, kan ’n genie slegs ‘n wens laat waar word as hy self ervaring het met die onderwerp, so ek dink nie SW gaan ooit verstaan hoe dames se koppe werk nie.

 

Met hekels/jikkels/hiekels/heukels/haikus meld SW trots aan dat hy van sy dames hou soos van Jian se arms: Sterk, mooi, en onafhanklik. Schalk sê sy sak is soos om ‘n swanger vrou se maag vas te hou, maar ek is nie lekker seker water tipe swanger vrou sal ‘n 1L boks wyn in haar maag ronddra nie, soos wat Petri toe beweer Schalk in sy rugsak dra. Zander wou nog altyd soos ‘n prinses gevoel het, en Petri word hard getune dat hy die tekens/aanwysings ignoreer.

 

Slee behoort aan die dames, en van hulle is braaf genoeg om buite te slaap. Dit sou ook die laaste aand wees wat so iets gebeur.

Dag 2: 17 Julie 2023 – ~16km

Sesuur op hierdie swart Maandagoggend sing SW en sy trawante ons wakker. Of eerder, rap ons wakker, met ‘n abridged weergawe van Groete aan Mannetjies Roux, gevolg deur ‘n baie entoesiastiese maar ietwat wankelrige Bloubergstrand se Sonsak, en uiteindelik die stokerliedjie wat op dag 2 darm nog redelik menslik klink. “Groepie Twee, water is reg!” Kry my uit die tent, en koffie en BTK pap word oomblikke later aan gesmul. Die eerste brokkie inligting wat hierdie oggend met my meegedeel word is dat ‘n sekere groepielid van my die vorige aand met haar tentmaat gelê en gesels het oor “die ou met die met boekie wat alles neerskryf”. My groepielid verduidelik toe wat die skets is, en dat ek alles wat snaaks is en alles wat gebeur neerskryf. Dit word beantwoord met “Is ons seker dis veilig om HOM te laat besluit wat snaaks is?”. Ek knik maar net my kop, haal my boekie uit en skryf toe dit neer, want ek besluit ek vind dit snaaks.

 

Die res van die toer het niks snaaks gebeur nie, so die skets eindig nou hier.

 

Pause. Duh

 

Om 7uur begin die son ons terg met die verkleuring van die horison na ‘n stoute oranje, maar dit is eers 45 minute later wat hy uiteindelik sy kop oor die horison steek. Die temperatuur daal skerp, en almal staan en bibber in die koel lig wat oor ons spoel. Oom Jan open vir ons met Psalm 8 en gebed, waarna jong Jian uitvind dat hy vandag verjaar.

 

Die groep sing vir hom, en daarna is dit die dames se beurt. Die dames lyk baie gretig om aan hom te raak, want die kringetjie wat hulle rondom hom trek raak baie vinnig kleiner. En kleiner. En kleiner. Dit was ‘n stamperige situasie, maar Jian is darm heel anderkant uit. ‘n  Vinnige vroegoggend aerobics sessie later, gelei deur ons Tone, Leana, en ons is gereed in beide liggaam en gees om te stap. Ons tref sommer vroegoggend al ons eerste rivercrossing, en die musiek begin.

 

Aan af aan en af gaan al die krag in die dag dag dag… En so ook almal se skoene met die verskeie rivercrossings. Heen en weer, links en regs, holderstebolder, oor en weer strompel ons oor die klippe en deur die river. Sommige mense maak vroeg al vrede met nat skoene en loop sommer net deur die water. Ander mense kies strategies om die dag met crocs uit te stap. Watter metode beter gewerk het los ek maar aan jou, want ek self is nie onpartydig nie. Dertig crossings later word gamebreak uiteindelik geroep, en die uitkyk kring eis sy eerste slagoffer. Zander trek die kitaar nader, en binne oomblikke dans die klanke van die kitaar met die kabbeling van die rivier. Die musiekvertoning word kort-kort onderbreek deur die uitkykkring wat nog ‘n slagoffer nader roep, maar Kiara besluit die hele spul lyk nie baie lekker nie en draai summier om en loop weg. Te gou is gamebreak verby, en ons ploeter voort. Die rivier, wat vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer vloei, voed die omliggende wêreld, en die lewe in die natuur rondom ons weerspieël die lewendige groepie mense wat opgewek deur water en oor klippe plas, en ons spore en gesprekke laat ‘n glimlag op die Moordenaarskaroo se gesig.

 

Na verskeie ure se crocplakkienatskoen stap deur die rivier, met meerderemale se nat hond pootskudprosedure om klippies uit crocs te kry, word middagete uitendelik om 5 minute oor 1 geroep. In ‘n kronkel in die river, in die skadu van ‘n klipkrans vergader die groepies om te smul aan paninis met Lays chips en mayonnaise.  Binne oomblikke word grondboontjiebotter en konfyt ook onthul, en dit is nie drie sekondes nie of daar word ge-eksperimenteer met mayochip en grondboontjiebotter paninis. Met vol magies verontagsaam ‘n paar mense hul moeders se bevele en gaan swem in die ysige rivierwater, want Dag 2 se weer is lekker warm, en die mense is moeg gestap deur die rivier.

 

Kort voor lank roep Petri Stapnou!, en ons maak spore. Diep spore trap ons, in die harte van ons mede stappers, in die hartjie van die Moordenaarskaroo. Maar meestal in die rivierbedding; Petri sak op ‘n stadium tot middelkuitdiepte in die klipsand weg en word omtrent deel van die rivier. Na ‘n redelike dodgy trek deur die dorings kom ons by die kammplek. Dames- en manskamp word aangewys, tente word opgeslaan, en die dames staan rivier se kant toe om te gaan was. Die sketsskrywer, wat baie skryfwerk het om in te haal, sprei sy seil uit in die middel van die niemandsland tussen mans en dameskamp en word oombliklik omsingel deur ‘n paar van die mans wat ook sitplek soek. Onder die moeë manne word skiet bespreek, en daar word ingestem dat Petri heel waarskynlik nie skiet sal oopmaak terwyl die dames bad nie. Met hierdie konsensus wat bereik is, lê die manne terug om bietjie te ontspan na die dag se harde werk. Petri sit toe skielik regop en maak skiet oop, en ‘n algemene konsensus onder die raad van mans word bereik vir ‘n aanklag van onbillikheid, en die jurie bevind hom skuldig.

 

Wat toe volg laat my baie dink aan hoe ek myself sou voorstel ‘n situasie lyk waar ‘n trop wanopgevoede leeumannetjies probeer om ‘n rooibok met drie bene te jag. Elke keer as ‘n dame dit waag om ‘n toon buite dameskamp te sit, VLIEG ‘n paar van die manne op, met prooi in hul gedagtes. Een tree uit, en die manne se skouers sak, koppe af, bene gebuig, bobeenspiere wat soos staalkabels bult onder die vel, gereed om weg te spring. ‘n Tweede tree, en die mans se hammies begin dans soos hulle gereed maak vir SPOED. ‘n Derde tree, en die produk van duisende jare se evolusie ontplof tot aksie. Arms pomp, rugspiere trek saam en ontspan in ‘n ritmiese dans, soepel en sterk. Oë wat instinktief rondblits, opsoek na teenstanders en prooi. Dan, die man wat die dame vra “is jy al geskiet”, en die jaagtog hervat en kom tot volle swang.

 

Die dames soek inderhaas skuiling, in die vorm van dameskamp vir meeste, en in die vorm van ‘n doringbos vir Lizé en Mayms (dink ek). Ek wonder somtyds wat dit sê van die mans wie hulle gejaag het, as hulle eerder die omhelsing van ‘n doringbos sal verkies bo die omhelsing van die mans wat hulle probeer vang. Dit is egter nie nou ter sprake nie. ‘n Paar van die mans verloor byna hul lewens toe hulle die dames in dameskamp involg. Dit is ‘n situasie wat my laat dink aan die sogenaamde “Siren’s Song” uit Griekse mitologie, en dit is so hittete of ons verloor vir Jian aan die Skiet se Lied en die opwinding van die jagtog.

 

Die arme dames is, soos die Engelse spreekwoord lui, “like deer in headlights.” Stel jouself voor, Jian, Pieter en SW kom op jou afgestorm, jy word vasgepen onder hul oë, en jy weet so voor jou siel, jy is volgende. Jy kan sekerlik nie die dames kwalik neem as hulle nie seker is met wie hulle wil slee nie, dis seker die dat hulle besluit om eerder maar die veilige roete te vat en vir almal weg te hardloop. Laat natuurlike seleksie besluit wie die prooi vang, “die dames wil pursue word,” after all.

 

Teen hierdie tyd het die dames ook al besluit op ‘n amptelike reaksie op hierdie situasie, en die keuse om skiet op juis daardie oomblik oop te maak: Baie stupid. Hulle sit egter koppe bymekaar, en begin plan maak oor hoe om hierdie situasie aan te pak. Ek kan maar net raai wat in daardie vergadering gesê is, maar soos André se genie vir arme SW laat weet het die vorige aand, kan hy eerder sewe verskillende staprugsakke optower voor ons dames se koppe sal verstaan. Ek sal ook die versoeking weerstaan om my kreatiewe vryheid te gebruik om die prentjie in te kleur, want hierdie skets is alreeds lank genoeg en dis nou eers dag twee, so kom ons sit alle oorgedramatiseerde herlewings van hierdie gebeurtenis nou eers op ys. Ons sal seker ook nooit weet wat die dames se aanvalsplan was nie, want net voor dit in werking gestel kon word, word skiet toegemaak, tot die dames se verontwaardiging. Die manne verdaag manskamp toe, en die situasie is tydelik ontlont.

 

Daarna is dit die manne se beurt om te bad. Hier is hoe dit gebeur het: *Ahem + Dramatic pause for effect. Ja ek sit stage descriptions in, mens kort die volle ervaring as jy die lees.*

 

In elk geval, kosmaaktyd. Ons word bederf met ‘n behoorlike tweegang maaltyd van sop en nachos. Na ‘n tweede porsie wat groter was as die eerste (thanks, Mayms) gaan jag ‘n paar van die manne klippe, terwyl ‘n paar ander hout aandra. Die vuur word gepak en aan die brand gesteek, en in die warm, flikkerend lig van twee vars vlammetjies begin mense saamdrom rondom die nuutgeskape geselligheids fokuspunt. Daar word gelag en gesels, en die salige, oranjehitte van die vuur se vlamme resoneer met die vrede in ons harte. Soos die vlamme laer en laer brand staan ons nader en nader, en ons maak hande en harte warm.

 

Skiet word intussen weer oopgemaak, en die laaste paar leeumannetjies vang uiteindelik ‘n maatjie vir die aand. ‘n Aand van skitterende sterre wat glimlaggend op ons neerkyk, en in elkeen van ons harte weerspieël die vreugde van die voorreg wat ons beleef om net te kan wees, daar te kan wees. Die konstellasies word bestudeer, die suiderkruis (of die sterre vis, soos Marie dit noem) word uitgewys, en die skerpioen, wat dwarsoor die melkweg lê, domineer die naglug. Weer word die kitaar uitgehaal, en vir die kringetjie mense rondom die kampvuurkole kan daar niks lekkerder wees as om na Zander te luister wat die kitaarsnare behendig streel nie. Na ‘n krismis in Kampale, word hardekole wat brand gespeel, en dit maak volledig die prentjie van die kampvuur en die BTKaners. Kort daarna neem Graham die kitaar oor om ons te begelei in wat ek eerlikwaar kan beskryf as die beste cover van Suiderkruis wat ek al ooit gehoor het.

 

Daarna is dit items, en in my heeltemal onbevooroordeelde opinie is die beste item die pragtige gedig wat Maymarie oor my skryf.

 

Slee behoort vanaand aan niemand nie, aangesien niemand niks gedoen het om enigiets te verdien nie, so nou lei ons almal daaronder.

Dag 3: 18 Julie 2023 – ~23km

Ek het geslaap soos ‘n klip. In ‘n vuur. Sonder enige verantwoordelikheid. Meeste klippe het geen verantwoordelikheid nie, maar net om enige potensiële verwarring te verhoed, spesifiseer ek dit nou. Die stokers sing baie pragtig vir hierdie klip, maar ek kan nie so baie lekker onthou wat hulle gesing het nie. Klipkop. Vroeg-vroeg al word ‘n vuur aan die brand gesteek, want hierdie oggend is kouer as die vorige, en, spoiler alert, dit raak net kouer van hier af.

 

Soos ‘n padda wat al hoe stadiger swem in water wat al warmer word, begin ons al hoe meer traag word vir kamp afslaan. Met die sonsopkoms wat nader sluip en die temperatuur wat toertjies doen oppad ondertoe begin ons al hoe langer langs die vuur spandeer om die warmte-battery te laai, voor ons verder afslaan. Die vuur lyk later soos ‘n antieke, effens kultistiese ritueel, met ‘n rituele sirkel van skoene wat die vuur versper agter ‘n dik wal van warm stoomwolke, en stappers wat hul klere, handdoeke en sokkies aan die hittebron opoffer. “Whack, but not a cult,” soos Karl later sal opmerk.

 

André staan nader en deel my hoogs vertroulike inligting mee: sy vinger is seer. Dit is al wat hy bereid is om te sê oor die saak, en hy verdwyn vinnig weer. ‘n Absolute enigma van ‘n mens. Oomblikke later is hy terug, en spog hy met sy skemerkelkie van Slowmag, ACC600 (nie 200 nie, mind you) en Linctagon. Kersie-geur Linctagon. “En water,” voeg Zander by, altyd hulpvaardig.

 

Met die kamp wat uiteindelik afgeslaan is en die rugsakke wat gereed staan om gelaai te word wag ons net vir Leana om gou haar Tone-dienste af te handel. Arme Leana, wie teen Dag 3 reeds ‘n mediese internskap-jaar se ervaring opgedoen het van al die blase wat sy moes pop en pleisters wat sy moes plak, kry skaars kans om asem te haal. En wanneer sy doen, ruik die wêreld soos voete. SW besef egter waar sy hulp vandaan kom, en hy bid sommer vroeg al hardop dat sy lyfie die dag se swarighede beter sal dra as die vorige dae.

 

Van myself kan ek sê dat my heupe meer sensitief is as ‘n LGHDTV oor sy/haar model, en die voete laat my elke tweede tree weet dat die Nasionale Unie vir Mensvoete van Suid Afrika sal hoor van die walglike werksomstandighede. Staak nou, werk later. Petri is egter genadeloos, en ons sit ‘n stywe stappie aan in winderige weer, met ‘n volle 8km wat op Strava geskryf word voor ons uiteindelik gamebreak. Gamebreak was ‘n relatief gebeurtenislose gebeurtenis. Die enigste ding wat ek neergeskryf het is ‘n sin wat, sonder konteks, regtig awkward gaan klink so ek gaan hom nie hier insit nie. Hekel my, I dare you.

 

Ons stap verder, en ek weet ek was nogals moeg want ek het niks geskryf tot lunch geroep word nie. Of was ek? Franci daag skielik op en gesels met Petri, waarna middagete baie skielik aangekondig word. ‘n Kort geselsie met Petri later hoor ek die rede vir die skielike stop: Vandag is NIE die lang dag nie, en ons het op daardie stadium slegs ongeveer 7km van stap oorgehad in plaas van die verwagte 12km. Lunch is, soos gewoonlik, ‘n groot treffer. Ons smul aan die klassieke creamcheese-en-komkommer broodjies, met ‘n kinkel: salami.

 

Met lunch wat lekker lê in daai gaatjie wat deur die loop van die dag gegroei het, begin ons eers lekker loop. Die bene pomp soos goed geoliede masjiene, maar daar is egter ‘n paar mense wat loop asof hulle die wind sterk van voor het. In hulle verdediging, die dag is alreeds baie lank, en die rugsakke is swaar. O, en die wind het baie sterk van voor gewaai.

 

Die Karoo cruistertrack (want geen selfrespekterende Karoo-boer gaan met ‘n Jeep in die Karoo ry nie) lei ons teen ‘n krans van ‘n klimmetjie uit, en die uwe val terug tot by die sleutel-trio. Met die sleutel-trio wat nou ‘n dubbele-duo geword het, loop ons lekker en gesels tot die slegte nuus ons bereik: die pad is byster geraak. Pieter smyt sy sak neer en vang ‘n sprint-draffie wat Michaela met verlange agterna laat staar. “I kinda want to run and go look at the view,” she says with a pout.

 

Intussen bereik Pieter die Slabbert-squad, en in ‘n opregte poging om ‘n onnodige afdraand te vermy, lei hy hulle van die wal af in die sloot, terug bergop. By the chief road outcomed word Pieter via radio meegedeel dat ons asseblief afwaarts moet verkeer, want die fout was verkeerd. Oom Jan is… effens verontwaardig, en weier, via Pieter en sy radio, om verder te stap teensy Petri hom PERSOONLIK kom haal. (SN, for posterity: Oom Jan het gegrap, dit was baie duidelik aan alle betrokke partye, indien jy moontlik dink die oom was besig om ernstig te wees.) Petri, wie op daardie oomblik besig is om ons verblyfreëlings te tref, staan toe in stilte saam met die Karoo Oom en Tannie op wie se plaas ons sou bly en luister na hierdie boodskap. Petri lig dus vir Pieter in dat hy nie op daardie stadium met hom kan gesels nie, maar hy sal so gou hy klaar is vir oom Jan gaan haal.

 

Nadat Oom Jan ongeduldig geraak het met wag vir Petri (grappie) en sommer self afgestap het, kom ons almal by die kampplek aan en begin kamp opslaan. ‘n Sekere wapen van massa-misloop het toe sy sketsskrywer tentmaat se tentpenne misplaas, maar ons word gered deur die spaar stel tentpenne wat ons die Saterdagaand voor die toer strategies in Bertus se tent weggesteek het, onder die dekmantel dat ons ekstra penne moet saamneem, alweer vir justin. Justin Case.

 

Tente word opgeslaan, skiet word oopgemaak, en ‘n toervergadering word gehou om te stem vir wie eerste gaan was. Dis koud, dis winderig, dis reeds skemer, en die dames is nie lus om nou nat te word nie. Die algemene konsensus is toe dat die mans maar in die river mag gaan was. Laat ek net noem, ek dink ek verstaan nou hoekom dit die manne is wat die vriendin item doen; ek dink nie enige dame se stem kan só hoog nie. Die koue slaan eers jou asem weg, en dan gil jy; ek dink Naudé het ‘n F6 geslaan.

 

Vir aandete rig die stokers hul stofies aan die lêwaartse kant van die plaashuis op, en die kokke begin werk aan die aand se feesmaal: Maymarie noem dit “Chicken noodle sop”, maar ek dink dis meer van ‘n “spaghetti chicken broth”. Groepie twee, wat weens die aand se gebeurtenisse as die “boelie groepie” gedoop word, beleër ‘n klein afdakkie en die plastiektafel en -stoele. Alida, wie wegkruip vir die koue agter ‘n muurtjie en dus geskei is van haar groepie, sit met ‘n dilemma: “Ek kry koud, maar ek is ‘n ekstrovert!” Roep sy van agter die muurtjie vir ons. Koudkry wen egter, en sy bly sit. Vir twee minute.

 

Vir poeding maak ons koue beertjie poeding, en danksy die temperatuur wat laer is as my yskas s’n na vier ure van loadshedding, stol die poeding behoorlik vir waarskynlik die eerste keer in my BTK loopbaan. Ons smul behoorlik daaraan, want poeding is skaars hierdie toer. Soos dit hoort. Die laaste paar happies poeding verdwyn, en die reën begin ons terg, eers speels, toe met redelike erns. Slee word dus gekanselleer, tot my verontwaardiging (ek het belowende sleedates gehad). Ons verkeer na ons respektiewe kampe, en in manskamp het André en SW ‘n groot uitval. “Liefie is nooit by die huis nie!” en “Skattebol is die rede dat die kinders nooit huistoe kom nie!” Ek luister met groot oë, ek het nie geweet die BTK laat getroudes toe om te toer nie. Behalwe natuurlik die toerouers.

 

Wind en reën sus ons aan die slaap, en binne minute is die enigste klanke wat oor die stikdonker prentjie speel die suising van die wind, die kletter van die reën teen die tente, en die sagte fluistering van 60 asems in die koue naglug.

Dag 4: 19 Julie -~ 26km

Met ‘n lied in ons harte word ons wakkergesing, en die woorde van Klein Tambotieboom dans deur die kraakvars oggendlug. Die stokers voel duidelik die druk, want met die stokerslied se “opstaan” begin hulle soos nagapies in die vroegaand gil, en ek eggo die krete geluidloos toe ek opstaan. Ongemaklik skuifel-skuifel ons na ons groepies, elke treetjie ongemaklik met blase tussen die tone, onder die hakke, en langs die voete. Die mense kreun soos ou stoele, ysige vingers werk plek-plek aan ‘n seer bobeen of kuit en hier en daar hoor mens ‘n skerp asemteug soos wat iemand daai spasma goed beetkry. Die klanke van die Karoo na 53km van oppak, afpak, swaarsak, aanpak.

 

Die oggend is koud, winderig, en effens bewolk. Presies wat jy soek vir ‘n lekker lang 26km dag in die hart van die Karoo. Ons drom saam om die vuur se doodsnikke, die rook dwarrel verward rond soos wat almal probeer om dit in te asem. “Welkom by die rokerskring,” heet Danielle my welkom en staan effe opsy om my toe te laat om ‘n diep asemteug in te suig. Lizé sit op ‘n plastiekstoel wat sy uit die kloue van groepie twee bevry het en braai haar bene asof sy ‘n spitbraai is. Al draaiend, een kant ander kant, been kant boud kant. Dalk draai sy so om weg te kom van die rook, maar ek weet nie hoekom sy in die rokerskring staan as dit nie is vir die rook nie.

 

Die dag se stap begin vroeg al met twee rivercrossings. Die sleutelpaar word bederf met ‘n persoonlike rivieroordragsessie elk, en oom Jan dra later sommer vir André oor, rugsak en al. André is egter nie ‘n man wat homself lank in die skuld laat nie, en sommer by die volgende crossing al ontdek hy sy innerlike siviele ingenieur en bou hy brug vir ons agterste groepie. “Ek sal vir jou ‘n brug oor ‘n rivier bou,” belowe hy plegtig aan Marlize, “maar vir jóú probleme…? Bou ‘n brug en kom self oor dit.”

 

Gamebreak kom en gaan, met Maymarie wat strategies vier groot pakke sout-en-asyn popcorn saam met die restock ingesmokkel het en met ons deel. Sout en asyn was nog nooit só lekker nie.

 

Daar waar ek agter stap is die geselskap goed, maar die voete is séér. Die wind speel meer met ons gevoelens as ‘n wispelturige dame, en ons klere gaan uit-aan-uit-aan soos wat die wind met die son en die wolke wegkruipertjie speel. Oudste boetie son speel dalk bietjie lelik, want plek-plek drup daar ‘n traantjie of twee uit die wolke, en dit terg ons groepie dapper stappers keer op keer met ‘n koue vlaag druppels teen die skouer. Dit is egter nie genoeg vir ons om ons rugsakke se reënbeskermers uit te grawe nie, en gougou koop broeder son vir kleinboet wolk om, waarmee weet ek nie. Of miskien het hy hom gedreig. Ons almal weet wat met mis voor die son gebeur. Teen middagete is daar al meer son as wolk, maar die wind waai meedoënloos, kouer as die skouer wat Alicia my gee as ek haar Aiiilicia noem.

 

Ons dra BOK swaar. Kyk, ek is stapfiks. Ek stap al van kort ná geboorte af, hoewel ek eers in Graad 5 begin hike het, en my pote PYN, ‘n sentiment wat ek dink ‘n hele paar van my medestappers sal beaam. Ons blaas-blaas teen ‘n heuwel uit, want die Karoo het toe blykbaar meer as net vlaktes. Party blaas hard, ander blaas permanent, en sommige gaan al die pad en word basies blase. Toe is dit middagete, sommerso langs die groot grondpad.

 

Almal se sakke word onmiddelik ligter.’n Kilogram ham, ‘n sak tamaties, seker 5 wortels, ‘n kwart kop kool, ‘n bottel mayonnaise en ‘n paar teelepels basil pesto sneuwel en word toegedraai in wraps en verslind. Na lunch pak ons weer die lang pad aan. Die oom van die plaas verskyn in sy Cruiser (onthou wat ek gesê het van Karooboere en cruisers?) en bied aan om diegene wie swaarkry se lewens te vergemaklik. Maymarie aanvaar die uitdaging en laai ook haar sak op, teen alle verwagtinge. Ons moes amper met Jeandré baklei om sy sak van hom af weg te neem, maar Jeandré is ‘n redelike man, en met mooipraat is hy uiteindelik oorreed om ook sy sak op te laai. En ons stap toe aan. En aan. En aan.

 

Voete pyn, maar dis alles die moeite werd. Die landskap is mooi. Verskriklik mooi, amper ongerep. Die enigste teken van beskawing is die telefoonpale… ag, oorhoofse hoëspanning elektrisiteitslyne wat soos stil reuse handevashou oor die landskap. Met die windjie wat ons afkoel eet ons die kilometers tot die eindpunt op, en die dapper stappers staar hierdie dag vir moeder natuur in die oë en knipoog: ysige rivercrossings word met ‘n lag begroet, en die meedoënlose wind woed homself uit om die vurige kole wat in die stappers se harte gloei te probeer blus. Met die son wat sy laaste doodsnikke uithoes na ‘n bloedige veldslag teen die skemerte van die nag, bereik die moeë stappers die saal waar ons die nag gaan spandeer. Dit is ‘n semi-voltooide trou lokaal, en ons word, na 26km se harde stap, behoorlik bederf. Ons slaap die aand binneshuis, onderdak. ‘n Kampvuur wat skrik vir niks brand voor die ingang, en die afkondiging word gemaak dat ons warm storte kry die aand. Daar is min dinge wat ‘n groep tam, uitgelope, deurgetrapte en yskoue stappers se gemoedere vinniger kan lig as die belofte van ‘n warm stort. Ek kan egter ‘n paar dinge noem wat ‘n kans staan: Die skielike verskyning van verskeie varsgebakte, stomend warm pizzas, en ‘n (semi) free drink in die vorm van ‘n bier, ‘n cider, of ‘n coke. Sjoe. Spitskoppe. Onthou die naam. Hulle doen troues ook. Dis nou ingeval jy oor 5 of 10 jaar opsoek is na ‘n trouvenue en onthou so vaagweg van daai tawwe toer waar jy jou man/vrou ontmoet het.

 

Terug by die warm storte staan ons rondom ‘n vuur en wag vir die water om warm te word, en die situasie lyk belowend: stoom borrel behoorlik uit die storte uit soos die warm krane oopgedraai word. Onder die skitterende sterre, met ‘n gloeiende bed van kole wat die kringetjie mense se gesigte rooi-oranje inkleur, beleef ek vir die eerste keer in my lewe ware verraad: die stoom wat so aanloklik borrel? Dit lieg vir ons. Die water is net-net louwarm, en ten spyte van die sauna-agtige atmosfeer gaan dit maar vinnig, sodat ons rondom die vuur kan gaan staan om weer warm te word. Daar waar ons staan, beleef on vir die tweede keer verraad: Pieter, die cruiserdrywer, besluit om sy pligte op ys te sit en eers aandete te eet. Lank staan ons en wonder of Pieter die cruiser omgesmyt het en of ons nou eers in die ysige modder gaan moet bakkie stoei, voor ons uiteindelik die ligte deur die takke sien nader kom. Met ‘n opgewekte “Howzit” spring hy uit die cruiser uit, en die oorverdowende stilte groet hom met oorgawe. Die groepie mense klim op die cruiser, tjoepstil, en Pieter staan vir verskeie lang, stil sekondes en wonder hoekom niemand met hom praat nie. Naude verlos hom egter van sy verwarring, en die oorverdowende stilte word verbreek deur ‘n lagbui. Seker net Pieter sal kan sê of dit die gloed van die vuur is wat sy gesig rooi inkleur, en of dit vir ‘n ander rede was.

 

Vir aandete kry ons pasta met songedroogte tamatie en basil pesto. Of koljander pesto, as jy in Maymarie se groepie was. Ek kan net soveel keer skryf dat “aandete lanklaas so lekker was”, so ek gaan hierdie keer eerder net se “aandete was die vorige aand laas so lekker gewees”, want ons almal weet hoe lekker ons geëet het.

 

Die wraakkonsert en slee hou ons wakker tot 2uur die oggend. Ek gebruik die woord “wakker” baie tong in die kies hier, want die afwesigheid van enige items of hekels in die skets behoort ‘n baie duidelike prentjie te skep van hoe ek my tyd gedurende slee spandeer het. Ek het natuurlik met my sleedate(s) gesels, baie dankie. Uiteindelik, na ‘n baie, baie lang dag van stap, gesels, en die buitelug en mekaar se geselskap geniet, word ons almal in die massiewe stoor/trouvenue aan die slaap gesus deur die klank van 59 sagte asems en ‘n kettingsaag.

Dag 5: Seker so 17km

Die oggend word ek uit my sluimering gepluk deur Alicia en Marietjie 1.0 wat my met groot hartseer meedeel dat daar nie water is nie. Binne oomblikke, soos ‘n geskenk van bo, begin dit egter reën. In die saal. Die water het gevries in die pype, en na ‘n hondeskou van rondsoek vir ‘n bietjie water kan ons uiteindelik die koffie aan die gang kry.

 

Petri wil 9uur in die pad val, so 20 oor 9 vergader ons om ‘n pragtige stukkie te lees wat die eienaars van die plaas geskryf het en aan Petri oorgedra het. Kort daarna sing ons vir Marlize, wie se wens van op ‘n toer verjaar uiteindelik waar word. Die oggend verrigtinge word voltooi, en stap oor 20 minute word geroep. 40 minute later is al die sakke op die oom se cruiser gelaai, wat darm nog in werkende toestand is, ten spyte van Pieter se beste pogings. Petri roep StapNou!, en ons stap toe. Tot by ‘n stuk Nasa ruimterommel en ‘n regop klip met ‘n inskrywing in ou Nederlands wat ek nie kan onthou of Jesse dit ontsyfer kon kry nie. Oomblikke later waai die wind ons egter weg, en ons stap behoorlik met die wind in ons seile. En teen ons lywe, deur ons klere, en oral waar die wind kan waai wat ‘n mens laat koud kry. Binne ‘n paar kilometer begin sommiges al hoop dat ons maar ons sakke kan terug kry, want ten minste is mens dan warm. Lize, die hoogs kompeterende hokkiebokkie wat sy is, besluit om die wind uit te daag tot ‘n wedloop, en sy spring summier weg en draf bergaf. En bergop. Toe sy driekwart teen die anderkant se bult op is, toe draai ons van die pad af. Toe sy bo kom, beweeg die laastes van die groep deur die plaashek. Ek kan net dink hoe die aansig van die groep wat heeltemal ‘n ander pad as sy inslaan die wind uit haar seile moes neem.

 

Terug by die res van die groep word die sakke van die bakkie afgelaai, en Maymarie maak dameskiet oop. Die manne laat nie op hulle wag nie en laat spat. Gamebreak word geroep, en toe is ons weer oppad. Met ‘n cruisertrack langs kronkel ons, die omgewing so eg Karoo soos kan kom. Die wind looi ons steeds, maar diegene onder ons wat hul winddigte klere vroeg al aangetrek het geniet dit verskriklik. Die ysige wind stoot ons tot in ‘n droë rivierlopie, waar middagete geroep word. Marietjie 2.0 beveel die wind om te gaan lê, met ‘n stemtoon wat geen ongehoorsaamheid duld nie. Broeder wind is egter die jongste kind, en ons almal weet die reëls is nie van toepassing op die jongste nie. Hy haal diep asem, en Marietjie se bevel word versprei en weggegooi soos grassade in die wind.

 

Petri roep heeltemal te gou “stap oor 20 minute”. Dis egter nie die “sjoe dit is so mooi hier, ek sal vir ure kan sit” heeltemal te gou nie, dis die “woah tjom ons eet nog dis nou eers soos 10 minute jig jys onbillik wag eers” heeltemal te gou. Dit blyk dat, as hulle sê “die beste manier om vir koue aan te trek is om lae/layers te dra” bedoel hulle jy moet dit aan jou lyf dra, nie in jou rugsak nie. Petri het egter nie die memo gekry nie, en hy kry dus baie koud.

 

Die ware rede vir sy haas verskyn seker so 30 minute later: die kamplek. ‘n Ou skaapstoor met ‘n windpomp, ‘n sementdam en ‘n regte, egte, 100% locally sourced Karoo murasie. Luuuks. Meer Karoo as dit kan jy nie kry nie. Die dames skrop nes in die stoor, en die mans rig hul tente op aan die lêwaartse kant. Mettertyd begin ons stook, en die aandete is alles wat lekker is. Biltong, kips, rys en blatjang. Die biltong word ont-vacuum, en elke groepie stel ‘n erewag aan om hul hopie biltong te beskerm. Die wêreld is egter vol geleentheidsmisdadigers, en biltong is inderdaad ‘n uitstekende geleentheid om ‘n misdaad te pleeg. So in die verbygaan sien een geleentheidsmidadiger een so geleentheid, en hy gryp behendig ‘n stukkie biltong van Lizé se hopie af. Hy het homself egter misgis met die blitsvinnige reflekse wat Maties by hul hokkiespelers indril, en hy het skaars die stukkie biltong beet of sy gewrig word in ‘n ystergreep geklem. Met houtlepels, gille, en verkeerde name word hy aangeval, jy hoor net Alicia krete van “Nee! Naudé! Nee! Af! Los. Naudé!! NAUDÉ!!!” Maar my naam was nog nooit Naudé nie, daarvan is ek doodseker. Dramatiese sug. Aiiiiiilicia.

 

Daai groepie se woede teenoor my koel agter vinnig af, want dis dameskiet, en julle weet wat dit beteken! Fotosessie, vriendin! Dit is ‘n hoogs komieklike spul wat by die stoor uitpeul en so in die loop hul warm klere afstroop. Almal staan en bibber en wag hul kans af om afgeneem te word, en dit gaan vinnig want niemand wil lank so staan nie. Die sessie is egter kort, die kortste in onlangse toere, want die dames staan in die yswind met somerrokkies aan. In die Karoo. In die winter. En die mans is net plein sag. BTKeen is egter ‘n ding, en daar is min dinge wat mense nie sal doen vir daai perfekte foto nie.

 

Met alle biltongverwante oortredinge vergewe danksy ‘n vrede-offer van my kant af in die vorm van nog biltong, wat reg voor my opgeëet word, en aandete agter die rug begin ons inpak vir slee. En hoor hier, ons pak onsself soos sardientjies in daai stoor. 60 mense in seker so 20 vierkante meter, rug teen been, styf gepak. Soos daai liedjie gaan, “lyf teen lyf, voel jy my”, of so iets. Baie lekker knus en warm bekyk ons die items; Petri en Naude se Frikkie en Sarel soek ‘n golifant vir Kgoningin, en daar was definitief nog items gewees wat baie snaaks was. Pieter en Jian verskaf ‘n ligvertoning teen die dak om die aand af te sluit, en toe is dit nag dames.

Dag 6 – Mal ver

Daar is min dinge so lekker soos om lekker knus en warm te lê wanner dit ysig koud is buite. En daar is min dinge so ongerieflik op ‘n toer soos om te moet opstaan in die winderige, ysige koue en jou warm klere te moet aanworstel voor jy uit die tent verreis, soos ‘n majestieuse lyk wat uit sy graf opstaan en dan binne drie tree oor ‘n boomwortel struikel. Binne die stoortjie giggel die vuurtjie al opgewek in die kaggel, (ek begin nou al regtig baie ver reach om byvoeglike naamwoorde te kry vir ‘n vuur wat lekker warm en aanloklik brand, maar so be it) en ‘n paar mense staan en maak hande warm, ten spyte van die deur wat hulle kort-kort in die rug klits as iemand wil in of uitgaan.

 

Met koffie om die gemoed op te bou en BTK pap om dit hoog te hou val ons in die pad. Die Karoo is nog steeds groot, ons is nog steeds bang ons gaan nie alles sien nie, en die toer is al amper verstreke. Petri besluit dus om die dag ten volle te benut en so lekker lang heen-en-terug stappie te doen sodat ons alles kan beleef, sommer met rugsakke en alles. So twee of wat uur later vat ons gamebreak, ongeveer 100m van die beginpunt af. Dit is, soos om Jan sê, Petri se bydrae tot die BTK annale: die naaste gamebreak aan die beginpunt, ooit. Petri sê die ekstra 7km is karma vir die vorige dag se rugsaklose 7km, en ons kan nie fout vind met sy logika nie.

 

Middagete geskied by ‘n windpomp met ‘n dam, surprise surprise. Dis ‘n redelike algemene tendens. Windpompe met damme in die Karoo, meen ek. Lunch eintlik ook. Ek sou selfs sover gaan om te sê dat lunch meer algemeen is as windpompe in die Karoo, maar ek is oop om die saak te debatteer. Van lunch kan ek net sê, koue water maak lekker game, selfs al kom die water uit ‘n dam met ‘n hele ekosisteem van plante op die bodem.

 

En toe stap ons. Deur droë rivierbeddings, oor berge en dale, koppies en klowe, oor heuwels en deur gate, deur heinings en oor drade. Elke nou en dan stap ons verby ‘n windpomp, en elke dan en wan vang ons ‘n verkeerde draai. Ongeveer 23km na ons die oggend vertrek het word ons begroet deur ‘n hoogs besorgde Karooboer wat summier die dames se sakke oplaai en ‘n paar kilometer nader aan die eindpunt neem. Pieter sleep saam om te help aflaai, en Maymarie spring ook op. So 5km later tref ons die eerste liggie, wat soos ‘n Hansie-en-Grietjie broodkrummel glinster in die donker langs ‘n enkele, wit-op-swart pyl wat die rigting aanwys. Gelukkig was daar net een pyl, anders weet ek nie waar ons sou opeindig nie.

 

Soos ‘n spul Hansies met ‘n span Grietjies stroom ons agter die liggies aan, wat ons van ver af kan sien glinster soos die donkerte van die nag agter die skemer aangehardloop kom. ‘n Paar honderd meter van die eindpunt af ontmoet Franci ons, waar ons wag vir die groep om te versamel. Nes die heks uit die storie van Hansie en Grietjie tower sy toe ‘n bottel (verdunde) Three Ships Whisky op, en sy skink ‘n blikbeker vol wat in die groep rondgestuur word. Toe die groep vergader is en die whisky slukkie die vlamme van opgewektheid stook, vertrek ons as een span. Maymarie sit in met ‘n weergawe van “I don’t know what I’ve been told,” en so bereik ons die einde van die dag se swoeg. Vier vure brand vurig, en ons vergader om die Here te dank vir die voorreg wat ons gehad het, en steeds het, om so te kan stap in die Karoo, en dat almal oorleef het. Ek dink dit was maar naelskraap op ‘n paar plekke.

 

Vir aandete is dit pap, wors, smoor, koolslaai en gestoofde appels met vla vir poeding. Met vol magies begin die mense se oë sommer baie vroeg al toeval, en met dit word “slee oor 10 minute!” aangekondig, en die slee word weer rondom die vure aanmekaargeslaan. Die slee, so op die laaste aand van ‘n toer, is ‘n hoogs emosionele saak. Trane stroom uit almal se oë, en die manne probeer hul bes om hul hartverskeurende snikke agter hoesies weg te steek. Dit kon seker ook die rook wees. Troepe word opgevoer, en dit was al weer belaglik lank. Soosin rerig. Of ek dink dit was, ek het geslaap so ek kan verkeerd wees.

 

Tot die vroeë oggendure item ons om die rokerige vuur, en toe is dit slaaptyd. Mense soek hul slaapsakke op, en oomblikke later loer die sterre deur die gordyn van die melkweg na ‘n verlate landskap waar 60 siele hul harte uitgeloop het, waar 60 siele die ervaring van ‘n leeftyd gehad het, waar 60 siele se geloof in God en in mekaar gelouter is in die vlamme van gedeelde struwing.

Dag 7 – 13km (Recommended song – Nothing I’ve Ever Known of Sound the Bugle deur Bryan Adams)

 

Die sagte lig van eerste-oggend tooi die horison in ligrooi toe ons vir oulaas wakker gesing word. Met die laaste eggos van SW en sy mede-stokers se krete wat oor die vlaktes weghardloop, word hierdie laaste oggend vasgevang in my geheue as die einde van ‘n lang, gelukkige storie. Ten spyte van ‘n algehele tekort aan vuurmaakhout die oggend, is die opgeruimdheid van die groep aansteeklik. Die kamp afslaan proses gaan maar traag aan, want niemand is regtig opgewonde om hierdie storie se epiloog te moet klaarskryf nie.

 

Ons vat ‘n breuk van afslaan om vir Jodie, Elmarie, Blake, Jacq en Karl maan toe te stuur. Wie weet, die maanbussie ry dalk weer. Tannie Celia laat ons tree gee vir die dinge wat ons het, en ons besef opnuut hoe ongelooflik bevoorreg ons is, nie net om in die Karoo te kon wees nie, maar ook net vir wat ons het, en Wie ons ken. Ons sing ‘n paar worship liedjies, en te gou is dit sakke op en stap nou. Hierdie keer is dit egter die normale “te gou”, nie die “voorsitter kry koud” te gou van twee dae gelede nie.

 

In ons koppe het ons reeds die vorige dag klaar gestap, en dit is dus ‘n absolute uitmergelende 13km se stap wat volg, ten spyte van ons ligte rugsakke en ligter gemoedere. Dit is egter nie ‘n probleem wat T-Swizzles nie kan oplos nie, en op 10km word daar uit volle bors gesing aan You Belong With Me, Blank Space, Love Story en Shake It Off. Die manne kan maar net hulle koppe skud en sug, maar diep, diep in hul harte is die waarheid ingeëts: hulle WENS hulle kon saamsing. Ons pak die laaste 3km aan, en uiteindelik, na 135km, 133 blase, 12 sleedates en 16 verkeerde afdraaie bereik ons weer die beginpunt. Of eerder, amper. Die gentlemen’s challenge volg, en dit is duidelik dat die manne nog meer as genoeg energie het om die toer weer te doen. Jian wen vir homself ‘n bier op die BTK se onkoste, en ek het lanklaas ‘n man so breed sien glimlag.

 

Die bus word gelaai, en die lang pad terug word aangedurf. In Laingsburg stop ons weer by die Shell garage, en die mense koop KOS. Pakke chips, bottels coke, garagepies, roomys en draairoomys word verslind. Petri is aanvanklink gekant teen al die tyd wat gemors word, maar na so ‘n tawwe toer is selfs Petri se hart sag. Ek dink oom Jan se omkoopkoffie het ook gehelp daarmee.

 

Op Worcester terrash ons by Dam Pub & Grill, waar Christoff net-net vir Graham wen met die burger challenge. Milkshakes en koeldranke verdwyn baie vinnig, en kort daarna die burgers ook. ‘n Absolute fees. Daarna is dit terug in die bus, terug in die bos. Ons sê dankie; dankie oom Jan en tannie Celia vir die toerouers wees, dankie aan Franci wat ons so ongelooflik bederf het, dankie aan Petri vir die leierskap, en dat hy die hart gehad het om ons die HELE Karoo te wys. En dankie aan God ons Vader, want sonder Hom sou niks van hierdie moontlik wees nie.

 

Hoe eindig mens af, na ‘n toer soos die? Ek wil nie ophou skryf nie, want dan is dit finaal verby. Ek sit hier met my boekie oop op die tweede laaste bladsy, want die laaste ene het net een sin op. Ek dagdroom gereeld van die toer, maar soos die tyd aanstap vervaag die herinneringe, en my verbeelding is te min om 59 ongelooflik unieke persoonlikhede die diepte te gee wat nodig is om ‘n toer soos hierdie te maak. Nog ‘n toer is verstreke van die ou BTK. Vaarwel, toermaters, my tyd is verby.

 

Lewe lank, lewe lank BTK.