Agtuur, Vrydagoggend 29 November het + 100 BTKaners aan die agterkant van die Neelsie rond geskarrel om hulle en hul bagasie in orde te kry. Die variasie van die bagasie het ver en wyd gestrek net soos die mense, bo van die ellelange Simon tot onder by ou Alleta’tjie.
Nadat Hessie en Koos en die res hul ERE plekke op die wa ingeneem het, kon die res van ons wat dit op die wa gewaag het, nesskop en ingrawe. ‘n Paar ou manne het heel bo-op stelling ingeneem -ek neem aan dit was vir die uitsig. Deurmekaar gewaai en bloedrooi gebrand het ons ons bestemming bereik. (Volgens betroubare bronne het die busrit baie rustig verloop.)
Joyce se heel eerste aandete het ons innerlike dubbel en dwars versterk en Phillip se sjokoladekoekies was ‘n treffer. Tannie Miems en haar begeleide het ook later die aand GEARRIVEER en ons almal deeglik laat besef dat ons volkspele dae nou weer voorlê.
Die son het nog skaars Saterdagoggend sy verskyning gemaak of ons almal moes roer, aangesien die tente oor tien minute sou val – dit het ons klomp meisies nogal vinnig aan’t beweeg gebring! Na ‘n stewige ontbyt is ons weg van Saasveld en dit was salig om sonder ‘n rugsak te stap! Middagbrood was ons by die see en almal, met Tannie Miems vooraan, het eers ‘n bietjie gaan afkoel. Ons het ‘n uitkenningsparade gehou en almal kon toe mooi sien wie is nou eintlik wie. Groot was ons teleurstelling toe ons ontdek dat die Wildekus Hotel nie voorsiening maak vir hooggeplaasde gaste soos die BTKaners nie. Fairy Know het gelukkig die regte fasiliteite – ‘n kroeg – gehad.
Sommer vroeg die middag het ons by Ebb and Flow aangekom waar ons die Sondag sou oorstaan. Tog te dankbaar vir die min werk, het die tentekomitee gou-gou ‘n tent of twee opgeslaan – min wetende wat vir hulle voorlê. Klaas nes geskrop het almal ontspan en elkeen het sy eie ding gedoen. Party het met die Tannie-Miems-aangedrewe-motorband in die rivier gespeel. Tone was nogal heel aktief aangesien daar dorings vir Afrika was. Na dese weet ek beslis hoe om ‘n doring uit te grawe, soos ‘n hele paar van die manne seker kan getuig!
Die aand het die eerste toeriste kennis gemaak met die aktiwiteite wat ons slee noem, vir party was dit seker ‘n vreemder gedoente as vir ander! Wat sal ek nou van die wraak sê, behalwe dat dit hierdie keer ‘n paar ouer slagoffers gehad het?
Die feetjies en kabouters het ons almal Sondagoggend heerlik bederf met koffie en beskuit in die bed en nadat Johan Taute ‘n erediens gehou het, kon almal uitrus vir die stappery. ‘n Nuwigheid was Joyce se poeding en ons het omtrént weggelê totdat ons later nie meer kon nie.
Net so voor aandete het die eerste bui reën geval en dit was ook net daar waar die tentemanne se harde werk begin het. Slee was buite die kwessie en onder leiding van Tannie Miems het almal in twee tente bymekaar gekom en gesing. Na nagdames het ons almal rondgeskarrel opsoek na ‘n droë plekkie om te slaap – ek is seker party het droër en gemakliker geslaap as ander.
Maandag moes ons maar so nat-nat oppak, want die weer het geen tekens van verbetering getoon nie. ‘n Grondpad wat al langs die vleie loop het ons tot by die see gebring. Die massa water was een te veel vir Tannie Miems – sy kón eenvoudig nie daaruit bly nie! Daar was ook ‘n paar ander brawes wat dit tot in die water gewaag het. Van droog bly was daar egter geen sprake nie, want net na ons weer begin stap het, het dit behoorlik begin reën. Dit was ‘n hele nuwe ervaring om so in die gietende reën te stap.
Gelukkig het ons nie te laat by Swartvlei aangekom nie en was daar ‘n kerkgeboutjie wat ons as bymekaarkom plek kon gebruik. Die middag het ons speletjies gespeel en sodoende mekaar beter leer ken.
As gevolg van die slegte weer het Barry-hulle besluit om die oorstaan dag te vervroeg na Dinsdag. Die mense het hulle self maar besig gehou met allerhande aktiwiteite onder andere sand-hand-bal – dit was nou Deon en sy gesellinne. Die aand het ons ‘n reuse slee in die kerkgeboutjie uitgepak – al te gesellig.
‘n Bietjie skepties het ons almal Woensdagoggend opgestaan, want die weer het nie te belowend gelyk nie. Dit moes egter Simon se “verjaarsdag” en die trompoppievertoning gewees het, wat die reën weggehou het.
Almal was nog nie eers behoorlik wakker nie of ons moes deur ‘n ou riviertjie swem – dit was nou vir jou koud-koud-koud! Gelukkig het ons nie ‘n lang stap gehad tot op Buffelsbaai nie. Almal was redelik uitgeput en die aand het ons ‘n, wat mens noem, vaak slee gehad.
Donderdag na alles opgeruim en die wa gelaai is, het ons Buffelsbaai binnegeval. Daar was nie ‘n tekort aan halfwegstasies nie en ons kon rus-rus stap. Middagbrood was egter uniek gewees, aangesien ons dit op die voorstoep van ‘n huis vol pofadders gehad het. ‘n Rugsak met koekies en koeldrank het nog boonop iewers vergete gebly – nogal ‘n ramp vir ‘n klomp honger manne.
Die bus het ons na middagbrood opgelaai en ons kon ‘n bietjie in Knysna rondloop en na al die mooi dinge kyk.
Harkerville was die volgende twee dae ons tuiste en was ons nie bly toe ons die beddens sien nie! ‘n Regte Transvaalse donderstorm het egter al ons planne in die wiele gery. Die arme tentemanne moes dit weereens ontgeld, want dit was hulle taak om alles wat omgewaai en nat was, binne toe te bring. Die ou “stormpie” het hulle geensins ondergekry nie, want toe ons weer sien was hulle aan’t volkspele speel buite in die reën. Die meisies het hulle oor die nat manne ontferm en goedgunstiglik van hul slaapplek afgestaan. Daardie nag het die meeste relatief droog geslaap.
Tot almal se vreugde was Vrydag ‘n lieflike dag. Die sirkel roete by Kranshoek was regtig ‘n onvergeetlike ondervinding en dit sou jammer wees as ons as gevolg van die weer dit nie kon doen nie. Tannie Miems en haar makkers het vir oulaas geswem – ‘n paar van hulle vrywillig verplig!
Die aand was ingrawe-tyd ‘n hele ander storie. Die ou BTKaners het hulle kisklere opgediep om ‘n bietjie “class” aan die okasie te gee. Die items was ook uit die boonste rakke, dink net aan Pieta met sy ossewa en Lukas met sy dinge. Ongelukkig moes ons ook totsiens sê aan ‘n hele paar vriende en ons hoop dat hulle altyd met groot vreugde sal terug dink aan hul dae in die BTK.
Saterdag was dit weereens vroeg opstaan en roer, want dit was ‘n lang pad wat voorgelê het Stellenbosch toe. Na Joyce se vetkoek was ons reg vir die ding!
Op Stellenbosch was dit ‘n groetery van ‘n ander wêreld – elkeen wou net vir oulaas baai sê!
‘n Baie groot dankie aan Barry, Joyce, Oom Tjiaan, Oom Bethel en Tannie Miems wat almal verantwoordelik was vir hierdie Aqua-Gala.
Madeleine Smit