Vrydag, 13 Julie:
So om en by eenuur versamel verskeie Maties, ‘n Kovsie en ‘n ex-Tukkie rondom die bus van die Hoërskool Marquard by die polisiestasie in Betlehem. Party kloek saam, ander dwaal so rond tussen die groepies. Vir baie van ons is die ander op dié stadium net gesigte en lywe ….
Na ongeveer ‘n uur se ry kom ons by Witsieshoek in Qua-Qua aan. Ons word vriendelik ontvang deur ds Van Velden en weldra het ons nes geskop in die kweekskool. (Ons wonder nou nog of die Grieks/Hebreeus op die bord “Welkom hier” beteken het – dit was net in die dames-“klas”).
Na ‘n sop-en-broodjie-aandete het ons kennis gemaak met sleetyd. Vir party was dit ‘n heel vreemde ontmoeting. Ons het maar stillerig aan die oop kant van die kring gelê terwyl die ou mense daar oorkant teen die muur ingeryg het. Piet en Barry het na Braam en Neels geroep en Anneke en Priscilla na Piet en Barry. Van al die geroepery het ons maar min verstaan, maar later het ons gesien hier’s baie onverstaanbare dinge ….; grootmense wat konsert – lawwe konsert hou, ongemaklike vrae vir mekaar vra, en so aan.
Die nagrus se vredevolheid het afgehang van hoe diep ‘n mens kon slaap en hoe gewoond jy aan plankvloere was. Aan die ander kant het ‘n moeë lyf ook maar net ‘n gelykte nodig as hy nie meer kan regop bly nie.
Saterdagoggend staan ons vrolik op. Almal lag en gesels deurmekaar en sien uit na die eerste ontmoeting met die Drakensberge en wel Mount aux Sources. Oom Bethel en familie word langs die pad opgetel en met groot vreugde begroet.
Wessie storm die steil grondpad met die bus uit en na vele probeerslae bereik ons darem die voet van die berg.
Ons begin ons moeisame tog teen die berg uit, ‘n Snerpende koue laat ons oë pop-pop en ons ore maak so zoeii-zoeii. In ‘n sonkolletjie hou ons ‘n voorstellingsparade. Die skare raak mal oor die spitsvondigheid vanaf die “peanut gallery”.
In die bitter koue bereik ons die kettingleer. Die manhaftiges klim met ‘n vaart daarteen op. Ons bereik die bopunt sonder enige ongevalle. Hoe nou gemaak om die koue uit te hou? Met Priscilla as voorpunt bou ons ‘n treintjie. Dit werk soos ‘n bom.
Speeltyd vir die kleuters breek aan. Siembamba se tannie besluit om sneeuballe vir die oggend te bou. Sulke lekker harde, rondes word gebou. Gretige hande grype groot hompe sneeu en spoedig is dit net sneeuballe wat rondvlieg. Almal baljaar nou al te lekker en steur hulle nie eers aan die oom wat daar voor al hoe verder wegstap nie. Hy is sommer ‘n ou “spoil-sport”.
Annie se voete begin haar te keil. Hoe hoër ons gaan, hoe kouer raak dit en hoe stadiger vorder ons. Ons bereik die kruin iewers op die grens van Lesotho en die OVS en steek ons ‘n vlaggie in, sodat almal kan weet ons was daar. Oom Tjaain met sy stofie bring so ‘n bietjie nuwe lewe in ons bene.
Op pad terug besluit ons om ‘n opvoering in die Amfiteater te gaan bywoon. ‘n Asemrowende gesig begroet ons. Met stille bewondering bekyk ons die toneel. Al die moegheid was die moeite werd.
Ons strompel voort deur redelike dik sneeu. As dit nie was vir al die aanmoediging van die mede-toeskouers nie, sou ‘n paar doodmoeës dit nooit gemaak het nie. ‘n Sug van verligting ontsnap ons as ons die leer bereik. Nou is dit nie meer baie ver nie.
By die bus is ons almal half traag om terug te ry Witsieshoek toe. Die skemer daal saggies oor ons neer. Wessie begin al hoe vinniger te ry. Die klomp agter in die bus duik met elke draai onder die banke in. Gelukkig haal ons die huis, maar net nie betyds vir die verrassing wat Priscilla vir ons beloof het nie.
Die Versters sluit by ons aan. Ek kon nie help om te hoor hoe tannie Leoni uitroep “doen julle dit nog steeds?!” toe ons hulle met ‘n koning begroet nie. Sleetyd loop uit op die aand van die “Long Johns”. Wonder nou nog wat in Priscilla en Willem se slee aangegaan het …. Dit laat julle dink, nè!
Dit is die aand van die Groot Wraak. Die arme ET’s is heel verskrik. Fluisterstemme vertel hulle vreeslike snaakse goed. Heel verskrik wil hulle glad nie hulle vingers by die deur uitsteek nie.
Die items volg mekaar op en Niel maak sy droomdebuut. Hy was skreeusnaaks en verdere optredes word aanbeveel.
Miskien raak ‘n ou maar so as jy op die eerste dag van die toer verjaar en “jy weet (boonop) nie wat op jou wag nie …., jy weet nie ….”
Sondagoggend begin rustig met koffie en beskuit in die slaapsak. Later begin ons kriewelrig raak en pak haastig ons rugsakke. Ons gaan vandag verder ry. Hendrik en Anna-Linda is reeds reg vir die pad na Cathedral Peak toe die res van ons in die bus klim. Ons groet die Van Veldens gepas en daar trek die konvooi. Die Versters, die rooi bakkie en die “Universiteit” Marquard (ook genoem die kweekskool Marquard).
Op Bergville neem almal vir oulaas “kêffie-swiets” in. Nee, ek jok, die “Family Pack” pienk pille van Danie Craven is die berge in! Wat ‘n konsternasie sou dit nie nog veroorsaak nie!
By Mike’s Pass Karavaanpark span ons uit. Na middagete verrys die tente een vir een en almal gebruik die kans om warm te stort wel deeglik. Die kosma’s begin met operasie kosdeel. Hoe later hoe kwater. Die koshope word al groter. Selfs manne soos Ernst en Willem de Wet het net stil-stil staan en toekyk. Toe dit begin donker word, begin ons vinnig deel. Die ROGBRODE (wat later die toer se wagwoord geword het) maak die dragte swaar, maar ewe gedwee loop elk om sy pak kos in sy/haar reeds vol rugsak te probeer kry.
Piet Kriel is die prediker by die erediens. Hy staan agter sy kartonpreekstoel met ‘n lig en al.
Na kerk eet ons al bibberend en is maar te bly toe dit sleetyd word. Dáár is dit darem warmer. Ten spyte van die koue is daar tog ‘n paar brawes wat “item”. ‘n Mens wonder wat die res van die kampeerders gedink het na aanleiding van geluide soos “c-c-c-captain!”
Dis met gemengde gevoelens dat ons dié aand gaan slaap. Opgewondenheid en onsekerheid wissel mekaar af, sodat dit maar ‘n rukkie duur voor die slaap kom.
Maandagoggend kry ons +4 minute om op te staan. Wessie se wysheid van “julle beter genoeg eet, julle gaan dit nog nodig hê”, word kort voor lank besef as ons negeuur in die pad val. Ons moet in groepe stap, en Piet en Kie vat die pad. Danie, as ‘n regte papbroek volgens tannie Leoni, is ook by.
Toe ons halfelf ‘n knie-knakkertjie by die stroom hou, is groepe vier en vyf net weg! Ons besluit om maar aan te gaan. Skoene en kouse waai en kaalvoet word in die koue water aangedurf. Hans is òf bang òf slim, want hy ontdek ‘n klip-brug waaroor hy ‘n groepie lei. Aan die ander kant van die rivier word Ernst se groepie met twee lede vergroot, en Marianne en Annie se rugsakke op hulle afgelaai.
By “Game-break” word daar baie gespekuleer oor die aand se sleetyd. Wie gaan “batch”, want die groep het dan nou twee dames GROTER geword? Intussen is Piet, Barry en Hans besig om vir Riaan en sy groep hier van onder af te skree hoe om af te kom, want sien, hulle het die pad byster geraak. Tussen bosse deur en strompel-strompel kom die spulletjie darem ook uiteindelik by ons aan.
Kort voor lank vat ons weer die pad, en boeta, op en op en op!
En warm! Net toe dit té erg wil word, kom ons by ‘n motorfiets onder bome. Dit word middagbroodplek. Na ete vind die ordentlikheidspraatjie plaas. (?!)
Tobie Beukes word die BTK se tweede gat. (Ek verwys u graag na die vorige “Stap Nou” se toerskets). Oom Bethel oorhandig ‘n erewapen aan hom. ‘n Heel aandoenlike toneeltjie speel hom af ….; Kameras flits. Na middagete strompel ons voort. Nóg op. Kort-kort moet ons egter stop om net weer asem te skep, en gelukkig het ‘n mens ‘n verskoning: daar is só baie om te sien. Selfs Niel ontdek hier dat hy ‘n familie-stapper sal kan word. Piet haal kort-kort die kaart uit en as hy ons “geplot” het, moet hy net bontstaan om al die vrae te beantwoord. “Piet, watter berg is daar?” “Piet, watter rivier loop daar?” Gelukkig word dit ook laat en almal is bly om te kan uitspan. Dit was ‘n lang dag.
Dié aand ontstaan ‘n nuwe tradisie. Ons sing liedjies na aandete en ‘n mens moet jou bord bring om te kom “queue” voor sleetyd. As ek reg onthou, het Priscilla NIE sleepille uitgedeel nie, so ek verstaan nie so lekker nie! Nee, dis darem minder ingewikkeld – ons het net ná aandete geskiet, want die groepies se kos was nie altyd gelyk gaar nie.
Wessie en Piet het baie ge-“item”, want Piet het Wessie nou al vir die soveelste maal laat “batch”. Toe ons opstaan, was alles rondom ons spierwit geryp en vasgevries. Toe oom Tjaain en Ninkie-hulle tent wou afslaan, het dit na ‘n mini-sneeustormpie gelyk soos die ryp afgeskiet het.
Priscilla het ook warmte gaan soek en dit by Danie in sy broek gekry. Sy móét ‘n groot liefde vir mansbroeke hê. (Haar reputasie strek al ver terug: Kougatoer – Hendrik se sweetpakbroek se rek skiet; dié toer – Willem en sy “long John” én Danie en sy broek). Wees dus gewaarsku vir ‘n volgende toer, manne!
Dinsdagoggend is met ‘n steil bult begin, en hier het die Drakensbergvirus sy tol begin eis. Griep en opdraend en rugsakstap loop definitief NIE langs mekaar nie. (Gun my sommer die kans om vir ALMAL baie dankie te sê vir al die dra en belangstelling: BAIE dankie!).
Bo-op die kop het ons die veelbesproke “jeep-track” gekry. Hier het ons pas aansienlik versnel, en kon ons baie makliker stap. Sang het natuurlik ook baie bygedra tot die ligter gees.
“Game-break” was weereens ‘n welkome blaaskansie. Groep twee en vier eet ‘n snytjie rogbrood saam met die “Game”, en ‘n mens wonder of dit uit hongerte is, en of hul maar net hul sakke wou ligter hê.
Ons val weer al singende in die pad. Daar lê nog ongeveer nege kilometer voor vir die dag. Al is dit op ‘n motorbreedte pad, bly dit tog lank en warm. As ons ‘n slag rus, lê almal onder die naaste bos. Dis ook met verlangende oë wat ons na die bakkies (leës!) kyk wat al stofopskoppend verbykom. Dis ook verbasend hoe baie mense van ander groepe ons raakloop.
Middagbrood word weerskante van ‘n stroompie gehou. Ernst en Excel (maak asseblief seker van die spelling) is braaf (óf laf) genoeg om in te duik (‘n mens sou dit kon verstaan as Jaap getoer het ….).
Nou is almal weer versadig en verkwik en dus vol moed vir die laaste skof van die dag, maar o wee, daar loop ons voorsitter verkeerd. By die omdraaislag skei die skape en bokke paadjies. Die arme voorlopers doen toe maar “bundu bashing” met net één doel voor oë, en dit is om ONDER te kom! Die ander helfte van die groep gaan klim toe weer berg en watter steilte!!
Die kampplek is toe nou nie die beste van “gesitueerd” nie, maar almal het darem ‘n “gelykte” gekry waar daar tent opgeslaan kon word. Omdat dit al laat was, is daar góú kos gemaak. Van Slee was daar nie eintlik sprake nie, maar daar is wel deeglik voete gedokter. Selfs ou manne, soos Riaan, en groot manne, soos Tobie, het blase gehad. Van Annie praat ‘n mens nie eers nie! Gerda met haar “spierekennis” moes ook net lelik bontstaan, want Niel en Priscilla se enkels het soos tennisballe gestaan. Daar is nog grappies gemaak en gelag, maar kort voor lank was almal stil. ‘n Lang dag eis sy tol.
‘n Dag van rus, of veronderstel om een te wees: Woensdag. Ons besluit om Cleff Peak aan te durf. ‘n Paar ongelukkiges, die met gebreekte bene (harte?) voete en enkels en die grieperiges besluit om die dag eerder rustiger deur te bring. Hulle word bn paar minute van spanning begin ons die weg deur digte bosse te baan.
Skielik bereik ons die rivierloop. Ons huppel hier en ons huppel daar oor die ronde rivierklippies en skielik om die draai staan ons voor ‘n steil opdraande. ‘n Veelseggende stilte daal oor die menigte neer. Die wedloop van die jaar sal binne enkele oomblikke begin. Watter span sal die beste presteer? Die sweet begin die manne af te tap. Die afstand tussen voorlopers en slotte vergroot ….
By die eerste “Game break” besluit Ninkie en kie dat dit tyd is vir een van hulle heerlike sjokoladetjies, ‘n hele honderd gram swaar. Dit word met gulsige oë aangestaan en vinnig weggesluk. Nou is groep drie weer reg om die res van die wedloop met ywer aan te pak. Veral span een het ‘n geweldige atleet wat vroeg reeds al die voortou geneem het. Hy sal beslis met arendsoë dopgehou moet word.
Plek-plek begin sneeu nou ook ons pad te versper. Naby die eindpunt kry ons skielik aanmoediging vanuit ‘n onverwagte oord. ‘n Paar deelnemers raak mal as hulle van hulle familielede hoog teen die kranse gewaar. Ons strompel met nuwe krag teen die steilte uit. Ninkie, Christine, Lize, Dempsey en Anna-Linda besluit om hulle familie se voorbeeld te volg. Handeviervoet blyk die oplossing te wees. Die kompetisie van klip tot klip word met gejaagde asems afgehandel, maar elke slag kom die vyf gelyk by die wenstreep aan. Dit laat jou dink, né!?
Uiteindelik bereik die laastes ook die kruin. Soos ‘n klomp deurmekaar malles klim ons nog hoër om die uitsig te gaan bewonder …. ‘n Onvergeetlike gesig strek voor ons uit.
Na ‘n heerlike. nou reeds bekende middagete, besluit Piet dat ons maar dadelik moet begin stap. Almal se oë wil egter net toeval.
Die stappie begin baie rustig, en die sneeu raak al hoe meer opvallend. Dit lyk so lekker sag en aanloklik dat die manne besluit om ‘n pragtige sneeuman te bou. Dit word die middelpunt van vermaak. Annelize besluit om so lank by hom in te grawe vir dames skiet. ‘n Lekker koue slee lê vir haar voor.
Hier skei ons paadjies ook in twee groepe. Die manmoediges aan die voorpunt, met die meer ervare manne wat die agterhoede teen gevare beskerm.
Boetie Ernst besluit toe ook om sy eie slee uit te oefen, met amperse nadelige gevolge. Hy vind dit so ‘n aangename ondervinding dat hy dit sommer nog ‘n paar keer aanpak.
Die afdraendes kou aan ‘n man se knieë, maar nogtans geniet ons dit. Ewe skielik verskyn die kampplek in ons gesigsveld. Dit lyk so naby, maar gou-gou vind ons uit dat dit ‘n baie misleidende prentjie was.
Soos die skemer stadig oor ons begin toesak, raak ons ook al hoe stiller. Skielik skiet Frikkie met ‘n geweldige vaart en ‘n paar huppelsprongetjies by ons verby, al teen die hang af. Hy lyk kompleet soos ‘n perd wat die huis geruik het.
Dit gaan so gly-gly en val-val teen die skuinste af, totdat ons die voetpaadjie na ons kampplek bereik. Die donkerte kruip al hoe nader en almal raak haastig.
Maar intussen (op Priscilla se wysie) gaan dit alte jollie op die slagveld. Ons was miskien te “swak” om te stap, maar glád nie te swak vir ander dinge nie ….
Die vroulike geslag blyk sterker as die manne te wees, want “die sterkstes” het tot drie ure gebad, terwyl Niel en Hendrik net so woerts-warts deur die water is. Na ‘n smaaklike middagete het die reeds bekende kliniek weer geopen. Priscilla en Gerda se ondersteuner was dié keer Riaan wat drukkies op gepaste tye uitgedeel het.
Kort-kort kyk ons of ons nie die Kloutergeselskap kan sien nie, maar nee, die hele dag nog niks. Toe, skielik, merk ons hulle op. Ons jil en gil, maar natúúrlik sal hulle ons nie kan hoor nie.
Die partytjie word vrolik, en Priscilla se kloklag weerklink soos sy haarself geniet. Theuns, wat kort na die begin vanoggend omgedraai het, begin ook weer mens word. Die Drakensbergvirus het hom ook aan die keel beet.
Laatmiddag begin die kosmakery, sodat die moeës vinniger kan eet as hulle eers onder is. Dit begin ook vinnig koel word. ‘n Mens kan amper nie dink dat ons “gesonbraai” het vroeër die dag nie.
Doodmoeg, met seer voete, val die res die kamp binne. Niemand is egter te moeg om nog vir oulaas ‘n pragtige lied te sing nie. Die agtergeblewenes het gesorg vir ‘n heerlike maaltyd. Hulle het geweet dat dit ‘n lang dag sou word.
Nadat almal gewas en “skoon aangetrek” het vir die res van die aand, besluit almal om na aandete weereens by die “junction” te gaan sit. Oom Bethel was, soos gewoonlik, die middelpunt van belangstelling, en almal het Jakkals-en-Wolf-stories lê en verkoop.
Na aandgodsdiens het die “hande-; knieë-; elmboë- en hakke” (veral!) kliniek weer geopen. Die noodhulpdiens word tot laat in die nag benut. ‘n Lang ry gesneuweldes het hulle beurt lê en afwag. Die slagveld het verskeie gesneuwelde voete ontbloot. In die helder maanskyn word elkeen se wonde haarfyn deur Priscilla en Gerda bekyk.
Gewillige toeskouers het die lyding van menigeen heelwat verlig. Veral Wessie met sy aanloklike voorstelle het almal se aandag van die pyn af weggetrek. Mnr Barry de Wet van Brothers Beperk besluit toe ook dat dit hoog tyd was vir die volgende episode van Dallas. Wat ‘n vermaaklike aand sou dit toe nou nie op die ou end blyk te wees nie. Einde ten laaste kon almal rustig in hulle slaapsakke gaan inkruip.
‘n Skril stem kondig opstaantyd die volgende dag aan. Moeë, vaak mense kruip stadig by hulle tente uit. Die enigste persoon wat kon laatslaap is Anneke met haar grieplyf (Gelukkige duiwel!).
Christo is vandag se verjaarsdagmaatjie. Nogal 21! Ons sing en “queue” vir die tweede maal die toer. Die vreugde is egter van korte duur, want die erg gesneuweldes sou vandag die terugtog moes aanpak.
Na ‘n baie stemmige ontbyt word daar opgepak en afskeid geneem, terwyl ‘n laaste traantjie nog weggepink word. Dis ‘n heel hartseer oomblik as ons finaal skei.
Ons sukkel oor die rivier met ons swaar rugsakke en Anneke, Hans, Priscilla, Hendrik, Annie en Niel word al hoe kleiner hoe verder ons wegstap.
‘n Knop in die keel word weggesluk, want, haai siestog, party van hulle het dan nou nie eers meer skoene om mee te loop nie.
Gou-gou word hulle egter vergeet, want die pad is lank en die osse sukkel maar deur die stowwe. Verskeie gevare lê voor hulle deur. Mannetjies met ronde rugsakkies en pankoppe trek pyle, sodat die agterhoede ‘n verkeerde paadjie volg. Ou Frikkie was al amper by die hotel toe hy wreed ontnugter word.
Doodmoeg sluit ons by die res aan. Groot was die vreugde toe daar besluit word om hier te oornag.
Net voor skiettyd begin die manne in te grawe – wat ‘n stryd! Vir manne soos Barry is dit egter glad nie ‘n probleem nie.
Ons duik soos een man in ons familie-slee. Barry, Gerda, Ninkie, Anna-Linda, Gawie en Elfie sukkel om ‘n gaatjie vir hulle bene te kry. Frikkie sukkel ook om vir hom ‘n gaatjie reg te skoffel. Dit begin ‘n heel prettige en snoesige slee te word. Sommiges lê dan glad omgekeerd en slee in Leatitia s’n. Dit laat jou nou regtig dink, né.
‘n Liefdesdriehoek ontwikkel. Christine besluit om by Ninkie aan te sluit. Arme Anna-Linda moet maar tevrede wees met sy rug.
Piet ly seker ook aan bomskok van al die stap, want die aand sien jy ook net arms en bene trek soos wat hy “item”.
Die res van die familie moes baie lekker geslee het, want mens kon hulle skaars hoor of sien.
Net die chaperone het so af en toe haar stem verhef om seker te maak dat dit nog goed gaan met haar kroos. Sy het ook geen rus vir haar siel voordat almal nie stil en onskuldig in hulle bedjies lê en slaap nie.
“Meanwhile, back at the ranch” gaan alles tog te lekker.
Die terugstap hotel toe verloop heeltemal vlot, gemeet aan die vier kreupelvoetiges. Hans, wat veronderstel is om die gesonde onder ons te wees, ontwikkel egter ‘n koors en voel regtig nie goed nie. Ons kom ook op ‘n bergadder af, maar kry vinnig ‘n ompad om hom liefs ongesteurd te laat.
Ten spyte van ‘n taalprobleem kry ons darem ‘n staanplek in die karavaanpark. Hendrik en Niel gaan kry die bakkie (was hy rooi?) en kom met vars tamaties en uie ook terug, o ja, en COKE!! Hans is so uit soos ‘n kers, maar ons skop nes en is kort voor lank skoon ook. Priscilla en Annie het omtrent weer drie ure geneem om skoon te kom.
Annelie en Niel neem die kosmakery op hulle, en onder laasgenoemde se perfeksionistiese leiding smaak die sopperige vleis vorentoe. Om agtuur is ons in die bed.
Vrydagoggend is ons, (goed gekondisioneer) half sewe wakker. Koffie en, was dit rogbrood?, word in die bed bedien. ‘n “Gesellige uurtjie” breek aan vir die gesondes. Hans is nog steeds omge-ellie.
Na ‘n reinigingsessie hou ons ‘n kinderpartytjie met ‘n koek en kersies en al. Vir die res van die oggend kuier ons in ‘n newel van rook, want hulle brand in die omgewing. Terwyl ons later middagete maak, sing ons lekker, en dis net toe Hendrik en Priscilla vir ‘n wals opstaan dat Riaan en Sydney daar aankom. Ons koning mekaar; só bly om mekaar weer te sien. Middagete is skoon vergete. Hendrik is met die bus vort om die res van die groep by die hotel te gaan haal.
Wat ‘n gesellige prentjie word daar aangetref! Die spul “vuiles” sit ewe “grênd” op die stoele met “koeldranke ….”
Die hereniging van die groep is half aandoenlik. Anneke word (deur sommiges) op ‘n regte BTK-manier gelukgewens met haar verjaarsdag. Drie verjaarsdae op één toer! Nie sleg nie!
Na middagete begin operasie uitpak en skoonmaak. Tone is, soos nou al ‘n gewoonte is, hewig besoek. Party mense het blase op plekke waar ek nie eens geweet het ‘n mens plekke hét nie!
En so loop die middag oor in die aand. Na aandete begin die ingrawery in alle erns. Lekker liedjies word so tussen-in opgemaak, want kyk, party dinge is so duidelik soos daglig daar in die donker!
Die wa-laaiers het min moeite om almal in hul slees te kry, en kort voor lank val die mense oor hul voete om te “item”. Selfs ‘n Engelse buitestaander neem deel. Arme Annelize maak haar naam pampoen en Fifi die van sy ma én sielkundige! Dempsey word al die héle toer gelek om vir “Sêra” te doen, en toe hy uiteindelik sover kom, reën hy uit. Ons spring almal in die bus, en daar sit Wessie en Anna-Linda die aand voort met ‘n “life-show”. Ons lê soos ons lag.
Hekeltyd is maar flouerig – almal is seker maar moeg. Vir die eerste maal slaap ons dié aand in die reën, baie dankbaar dat ons tot nou toe sulke wonderlike weer gehad het.
Vir oulaas “blaas” Piet ons wakker. Ons eet reënpap en pak op. Na die neem van die groepfoto hou oom Bethel oggendgodsdiens. Hy sê hoe wonderlik ons vir God kon sien in die natuurskoon, maar nóg beter in mekaar en hoe kosbaar vriendskappe is. Ons is God se mooiste skeppings.
Met dié gedagte neem ons afskeid van oom Theuns, tannie Leoni (en die orige rogbrode!), Leon, Mariaan en Erik. Ons koning mekaar vir oulaas. Die rooi bakkie, die Passat en die bus vat elk die pad. ‘n FEES van ‘n toer is weereens iets van die verlede.
Anna-Linda de Wet, en
Anneke Pansegrouw
(Sketsskryfsters)
Toerlede
Groep I
Pieter Kriel (Toerleier)
Oom Theuns Verster (P)
Tannie Leonie Verster (Chaperone)
Priscilla Botha (Kosma)
Jan Bester (S+Wa)
Dempsey Müller (H+W)
Niël de Villiers (1) (H+W)
Lindie Strauss (1) (M)
Leatitia de Waal (1) (B)
Danie Craven (1) (B)
Groep II
Gawie de la Bat (L+Wa+K)
Wessie van der Westhuizen (P)
Hans Müller (S+Wa)
Anneke Pansegrouw (Kok) (Tone)
Annelize Vlok (M)
Gerda Schoombee (1) (M)
Frikkie Steynberg (1) (H+W)
Lize de Villiers (1) (B)
Groep III
Ernst Conradie (L+S+Wa)
Oom Bethel Müller (Toervader + P)
Anna-Linda de Wet (Kosdogter)
Nelius Smith (S+Wa) (Lampeman)
Annie Bester (M)
Kobus Stoeder (H+W)
Elsje Bakkes (1) (B)
Janetta Punt (1) (M)
Axcel Jooste (1) (H+W)
Christo Fourie (1) (B)
Groep IV
Riaan Cloete (1+S+Wa)
Tobie Beukes (P)
Elfie Toerien (Kok)
Willem de Wet (S+Wa)
Chris van den Heever (H+W) (K)
Petro Roos (1) (M)
Gerda van der Merwe (1) (B)
Sydney Diedericks (1) (B) (K)
Hendrik Pansegrouw
Marianne Verster (B)
Groep V
Barry de Wet (L+S+Wa)
Oom Tjaain Smith (P)
Cecile Thom (M)
Graham Durrheim (S)
Christine Louw (1) (B)
Fanie du Plessis (1) (H+W)
Theuns Verster (1) (B)
Erik en Leon Verster (B)
Sleutel
(1) – Eerste toeris
(L+S+Wa) – Leier – stoker – Walaaier
(P) – Papkoker
(K) – Konvenor
(H+W) – Houtkappers en waterdraer
(B) – Blikwasser
(M) – middagbrode