09 – 18 Julie 1982
Vrydag/ Saterdag:
As gevolg van die gebruiklike betroubaarheid van die plaaslike openbare vervoermaatskappy, vertrek die toer in ekstra BTK-tyd vanaf Stellenbosch. Sommige oorywerige eerste toeriste was reeds twaalfuur gestewel en gespoor, reg om te gaan, terwyl Ronél Wiid-nie-hoe-latie-bus-vertrekkie haar gebruiklike wyle na die ander arriveer. Ons vertrek toe darem net twee ure laat.
By Beaufort-Wes klim oom Pampoentjie en twee van sy skorsies op (baie pittige mense dié), terwyl Barry op Cradock by ons aansluit. Hier wag ons toe ook ‘n uur vir niemand nie en vat die pad Queenstown toe, waar ons vir Deon-hulle en die V.S.V. (Vreeslike Swanepoel Vlindertjies) se op-en-wakker oom ‘n uur of wat te vroeg verras.
Na ‘n lekker koppie sop (gawe mense dié Swanepoels – gee altyd nat kos) verlaat ons Suid-Afrika en betree die onafhanklike Republiek van Transkei.
Op Umtata word die bus met diesel, Francois Louw, verskeie pakke aartappelskyfies, ‘n paar liter koeldrank en ‘n handvol lekkergoed gevul. Met die rit na Port St Johns word ons ons eerste voorsmakie gegee van die asemrowende natuurskoon van hierdie gebied.
Die Transkei-polisie het egter gemeen ons is ‘n gevaarlike klomp maniakke bymekaar (Hy was doodreg!), want met ‘n ferm hand word die bus gestop vir nadere ondervraging. Nadat die uniform ons gadegeslaan het (gelukkig nie vuurwarm nie) en hy by navraag vasgestel het dat daar geen “dangerous weapons” in ons besit was nie (Alet het die Chili-toppers weggesteek) is ons met rus gelaat.
Sondag: Port St Johns – Second Beach:
Ongeveer halfagt: Die rustige, soel Sabbatsmôre se stilte word om halfag verbreek deur hoëfrekwensie piepgeluide vanuit ‘n Casio Sports 100, skreeu-oranje elektroniese, chronograaf, stop en alarmhorlosies, met verskeie ander duistere funksies.
Dit is ‘n helder dag met ‘n anderse soort sagtheid in die lug. Die geruis van branders op die strand en die skreeu van hadidas laat ons besef: ons is hier, by die Wildekus.
Na oggendbrood word die bus gelaai sodat Wessie hom kan omvat na Koffiebaai. Die res van die tyd word gebruik om óf Port St Johns te besoek óf om ‘n draai by die “Gap” te gooi. By die aanskoue van laasgenoemde dink sommige van ons terug aan Retief en sy horisontale vlugte van die vorige jaar. Ons keer terug na die kampplek, waar oom Bethal op sy unieke manier ons elkeen se siele verfris uit Die Woord. Selfs ons Duitse vriende het in oom Bethal se Duits gehoor dat, net soos ons almal deel is van die BTK-gesin, ons so ook deel is van die Here se familie.
Ilse, Pierre, Alet en haar moeder, arriveer respektiewelik stil, stil, taamlik stil en met ‘n bose gejuig. Almal weet onmiddellik wie tannie Miems is en waar sy haarself op enige tydstip bevind.
Met verskeie “Oe, maar dis baaaie” word kos uitgedeel in groepies. “Daai rugsakke lyk dan nou al hoe swaarder!”
Na aandete is dit wraak-aand. Die eerste toeriste kwyt hulle maar soos gewoonlik van hulle taak en word met gewende kniekoppe aan die duistere inlywingseremonie van die BTK bekendgestel. Jane Maree dag hekeltyd is in die Britse taal “hickle time”.
Met ‘n vroeë “nag dames” keer ons almal bed toe, effens onseker oor wat die nuwe dag gaan inhou.
Maandag: Port St Johns – Umngazanimond:
Nou ja toe, wie sou nou kon dink dat ‘n student R75 sou betaal om ‘n swaar rugsak te dra en daarby kwart oor ses in die oggend op te staan?!
Maar nou ja, dit is soos dinge gebeur. Voor die slaap nog lekker uit ons oë gevee was, was dit oggendbrood en net daarna weergalm “Ons stap nou!”
Vroegoggend gaan dit maar hyg-hyg, want ‘n mens is mos nie gewoond aan rugsak dra nie, veral nie sulke swares met ‘n klomp geborgde sjokolade in nie.
By so ‘n vlakfloors stroompie kry sommige van ons alreeds te doen met die tegniese probleme verbonde aan die kruising van waters wat net die diepte van ‘n tekkie of stewel oorskry. Party vat ‘n kans, andere trek stewels uit en sommige spring maar so eenbeentjie oor.
Na ‘n wyle se stap en sing met ‘n kwetterende tannie Miems voor in die geraas-departement, tref ons toe ook die eerste van vele bulte aan, die spesialiteit van hierdie staptog. Deon belowe ons egter dat vandag s’n die steilstes is (ha-ha).
Bo-op die kruine word ons elke keer gegroet deur ‘n gesig van groen, golwende heuwels wat met digbegroeide klowe belyn word. In die klowe is kiaat-, geelhout- en menige ander subtropiese bome te sien. Geen beskrywing kan reg laat geskied aan die prag van die lowergroen omgewing nie.
Met die afsak na die strand van die UnMgazi-mond besluit ons om die hotel ‘n “flet ighnôr” te kap vanweë die knorrigheid van die hotelbaas. Ons sukkel nie met ouens wat suinig is met hulle water nie.
Na middagbrood se sandstap tot by Umgazana-mond maak die kuite net lekker lam vir ‘n volkspeletjie terwyl die plaaslike “Trading Company” se bootdiens kompeteer met ‘n privaat entrepeneur wat ‘n nuwer en groter boot tot sy beskikking gehad het. ‘n Paar van die plaaslike dames, gekleed in die lokale swemdrag, vind ‘n Koning ‘n amusante bedreiging en retireer haastig die water in.
Hierdie is seker een van die mooiste kampeerplekke waar die BTK nog gekampeer het. Van die oewer kyk ‘n mens deur die stamme en lugwortels van ‘n mangrove-moeras, wat die verste suid in Afrika is, op ‘n spieëlgladde see-meer uit.
Na ‘n dag se stap bring die sakkende rooi son ‘n rustigheid in ‘n mens wat ‘n mens net kan ervaar as jy self daar was.
Nadat die plaaslike twee sardienblik- tien jêblik- 5 teesakkies- een sak suiker- sewe koekies Lifebouy- nege liter Coke-kêffie onthef is van sy hele voorraad Coke, sorg ta’ Miems dat die sleekring totaal onrustig is. Tipiese Swanepoel items word opgevoer, met ‘n stowwerige gejaag om die kampvuur. Pierre en sy Malawi-trawante demonstreer hulle ervaringe in daardie veraf warm hartland, terwyl Heila se stewels en Heléne se sleepille stilletjies deur “sneakers” weggesneak word. Grootogig vang tannie Miems skrik, maak haar kroos en andere bymekaar en trek na ‘n meer sentrale gedeelte van die kampplek.
Dinsdag: Umngazana – Mpande:
Sensasioneel: Vrou van onderwysinspekteur slaap in dieselfde tent as bekende kweekskool-hoogleraar. Nou ja, wat ‘n reënbuitjie ook nie aan ‘n ma en dogter kan doen nie ….
Na die gebruiklike rondgeskarrel tussen oggendbrood en “Stap nou!” kom ons weereens skuins voor ag weg, voorwaar ‘n BTK-rekord!
Vandag is nie Jan se dag nie, of was dit? Na enkele minute se balansering op ‘n rots besluit hy om Neptinus van naderby te leer ken en duik terstond, rugsak, stewels en al in die seewater in. Hy het sommer by voorbaat gebad vir wat gaan volg.
Kort daarna tref ons Deon se volgende steilste opdraand van die toer.
Mpande se kampeerders slaan die lang ry rugsakke met mense aan gade, maar wat, ons is daaraan al gewoond.
‘n Lekker sagte gras-sleekring dryf tannie Miems tot nuwe laagtes waarin sy tot vir oom Tjiaan en oom Bethal laat saam-aaitem.
Woensdag: Mpande – Hluleka:
Vroegoggend soek tannie Miems skoor. ‘n Kondensie wat skielik te swaar geword het, word aan al haar naastes afgesmeer. So letterlik vind dit plaas dat Joos dadelik ‘n meisie soek om sy snor af te lek. ‘n Gebrek aan belangstelling laat hom egter besluit om swart, bitter koffie deur sy snor te drink.
Met die dag se verbygaan word ons net weereens bewus van die uniekheid van hierdie stukkie wêreld. ‘n Rustige groen heuwellandskap word gebreek deur diep klowe. Die Xhosa-hutte lyk soos swart kersies op groen roomyse. Orals by die klein swartetjies wat grootoog en reeds baie bedrewe vra vir “sweet, sweet” of “ten cents”. ‘n Foto kos maklik ‘n handvol lekkergoed of “twenty cents”, afhangende van die ouderdom en status van die onderwerp.
Nou ja, vandag word toe ou Jan Bester se dag. Hierdie dag sal onthou word as die dag toe Jan ‘n baie mislike plek uitgekies het om te gaan sit. Sy misvormige, raamlose rugsak lyk na dese nog meer misdeeld en dit alles omdat hy ‘n mislukte poging aangewend het om ‘n galante heer te wees en die lewe vir Heila gemakliker te maak. Alhoewel dit heeltemal misgeloop het, het Heila darem nie sy poging misken nie en het so aangedaan geraak dat sy ‘n mistigheidjie in die oog gekry het. Die hele voorval het Jan baie mismoedig gelaat.
Op die Hluleka-reservaat se strandgebied word ons deur ‘n armswaaiende geelreënpak geklede “boswagter” voorgekeer. Dié beduie dat ons met die heining langs moet stap, die binneland in. Hierdie gedwonge patrollie van die heining laat ‘n bietjie grommerigheid opstyg, maar as die wet so sê, dan is dit so.
Na ‘n mooi wandeltog in die reservaat kom ons by ons rusplek uit. Nog nooit het die BTK sulke luuksheid van onderdak en meegaande geriewe in die middel van ‘n rugsakstap beleef nie. Om die waarheid te sê, die dames gryp die geleentheid met sovele hande aan dat weinig manne kans kry vir die gebruik van die geriewe. ‘n Paar van hulle besluit toe om maar hulleself te gaan baai in die rivier. Op die vraag tydens hekeltyd aan Pieter Müller oor wat die Xhosa-moeder geuiter het toe sy hom in ‘n mindergeklede toestand gewaar het, was sy antwoord: “Oh, brother”.
Nadat die plaaslike kafee se Coke-voorraad weereens gestroop is, is aandete fluks voorberei. Ernst was so haastig om kos te maak dat hy sommer rondom sy stofie begin vuurmaak het.
Vir sleetyd druk almal in ‘n ronde hut in, gepak soos sardientjies. Items word dan ook vanuit ‘n sittende posisie gedoen. Jan Bester kom agter sy algemene gewildheid is nie te hoog nie en slee saam met die spinnies. Johan van der Merwe en sy vrinne kom agter hulle het mekaar nie op plekke ontmoet waar hulle nog nie was nie.
Donderdag: Hluleka – Tshane:
Effens meer bekommerd oor die dag wat voorlê, vertrek ons weereens vroeg, want vandag se stap is lank. Willem Roos kom uiteindelik agter dat die kierie wat hy heelpad binne-in sy rugsak saamgedra het, ‘n lekker staphulpmiddel is.
Na ‘n paar woerts-wartse oor klippe en heuwels (laasgenoemde al hoe minder moeilik) vaar ons ‘n moeras binne. Met suigende stewels in die pap modder, met telkens die wilde windmeulswaai van ‘n paar arms in ‘n poging om slegs jou paar skoene vol modder te laat bly, word daar deur ‘n opregte moeras gestap.
Die Mtagage-rivier (spreek uit Umtaghatjie) is ‘n smaraggroen, deursigtige rivier waarin tropiese vissies tot op ‘n groot diepte gesien kan word. Dié rivier lê en wag vir ons, ongeveer drie honderd meter breed! Ook net ons geluk om hier aan te kom tydens hoogwater.
Deon doen egter verkenningswerk en stel vas dat ons net ‘n sowat twintig meter breë kanaal het om oor te swem, daarna kan so kniediepte of middellyfdiepte, afhangende van die lengte van die wandelaar, gestap word tot aan die oorkantste oewer.
Die ouer garde in die toergeselskap “grawe die idee nie so kranksinnig nie” (vir die oningeligtes: “They don’t dit it crazy”). Willem Roos is egter die held van die dag toe hy sy blaasoppie te voorskyn bring. Hiermee kan die manne toe, deur ‘n ketting oor die kanaal te vorm, vinniger die rugsakke oor die kanaal laat dryf. Die hele proses was egter stadig en het ons amper twee ure geneem. Deon se ongeërgde opmerking dat hierdie rivier ‘n goeie haaivangplek is, het sake darem versnel.
Die weer begin dreigend te lyk na middagbrood se kant toe. Dit plaas toe gelukkig ‘n demper op die meeste dames se oorywerige skulpe-optellery, tot groot verligting van die manne.
By middagbrood sluit ‘n swart fiksheidsmaniak by ons aan. Die ou se oefeninge het hom egter so moeg gemaak dat hy tydens die namiddag nie die pas kon vat nie. Die koue wind en bewolkte weer het ekstra woema in Deon ingepomp, want hy het net eenvoudig hakke in die sand, gras, klippe, skulpe en beesmis ingekap en laat waai.
‘n Stewel-uittrek-diepte riviertjie breek die snelle pas effens en die laaste paar honderd meter na Tshane word rustiger afgelê.
Ons kommunikasieprobleem kom duidelik na vore by Tshane toe ons soek na MBele wat die hutte en saal moes kom oopsluit. Die saaltjie se deure word egter met ‘n bietjie vernuftigheid oopgekry. MBele wonder nou nog hoe.
Met ‘n donderstorm in die agtergrond wat die aarde laat dreun, slee ons rustig in die rietdak-saaltjie op lekker klapperhaar matrasse. Voor die items egter kan begin, kom hou Mbele vir ons aandgodsdiens in Xhosa, met ‘n kort, maar lewendige prekie daarby.
Met die items is tannie Miems weereens doenig. Haar vrees om van die ou-toeriste mans te gebruik vir ‘n item, boemerang toe van die eerste toeriste die item heel per ongeluk laat “flop”. Die ou manne se kans het egter ook gekom toe hulle die kans gekry het om tydens die olifantwas buite te gaan opwarm.
Vrydag: Tshane – Koffiebaai:
Met die blye vooruitsig van ‘n koue bier en/of koeldrank met middagete word daar vandag fluks gestap. Selfs die kruising, per boot hierdie keer, van nog ‘n diep rivier is nie ‘n groot struikelblok nie.
By die hotel aangekom, nou ja, wat kan ‘n man dan nou meer sê? Dis lekker, dis lekker, dis tog te lekker hier, skuim op my radio, musiek op my bier.
Een ding van hierdie tannie Miems, as sy moeilikheid soek, dan word sy dubbeld terugbetaal. Na aanleiding van Joos se ontydige verjaarsdag op Hluleka word sy summier deur Joos en Chris te water gelaat.
Danksy die vriendelikheid van die hotelbestuur word die warm stort- en badgeriewe baie goed benut, want vanaand gaan die BTK mos uiteet.
En wat ‘n fees was dit nie! Met die manne en die dames opgetof sit ons aan by die vyfgang noenmaal en ooreet ons heeltemal. ‘n Lekker lied of wat word gesing oor ‘n glas of wat wyn. Die ete is met ‘n verbysterende vaart bedien en afgehandel, waarna die laaste aand se slee begin.
Saterdag en Sondag: Koffiebaai – Stellenbosch:
Om darem foutvry deur so ‘n lang reis te gaan, sou onse vervoermiddel se goeie naam darem net skade aandoen. Net anderkant Umtata breek die uitlaatpyp digby die masjien af en ons word die res van die rit ryklik getrakteer op motorwedrenbyklanke.
Alles verloop egter verder voorspoedig en ons kom net effens doof op Stellenbosch aan.
Die toer word op ‘n hoë noot afgesluit met ‘n pizza wat deur +veertig mense bygewoon word.
Gustav Sahlertz
(Sketsskryfster)