03 – 06 Februarie 1981
Met die rampvloede nog vars in die geheue is ons enigste kwelling, of die weer gaan hou of nie. Oppad na die basishut ontleed Braam elke vuisgrootte wolkie en elkeen moet ‘n voorspelling waag. Die weer is nog vandag aan ons kant en ons hou lekker braaivleis. Toe Braam na aandgodsdiens dadelik wil bedtoe, onthou ons skielik dis Dallas-aand, en Braam wil net van die opblaas TV begin vertel toe Johan met ‘n blink gedagte te voorskyn kom: ‘n BTK-sangbundel. Nog twee boekies word uitgehaal en ons elf raak aan die sing. Braam laat die aap uit die mou: hy het ‘n opblaas helikopter saamgebring, en ons weerprobleme is op ‘n end. Ronell B., Hanlie en Mariëtte skrop nes op die solder en Ronell W. en Madelein verkies die ope hemel sodat hulle kan lê en sterre kyk.
As die manne gedink het hulle gaan ‘n voornag-slapie inkry, het hul dit mis, want Madelein was op die Matie-toer en het BAIE om te vertel. Die drie op die solder laat ook nie op hulle wag nie en dit gons soos vinke om die manne in die hut. Maar hulle lê tjoepstil sonder ‘n woord van aanmaning. ‘n Honger hond of ‘n ding het die oorskiet braaivleis se reuk gekry en kom stel ondersoek in. Ronell W. skrik wakker toe dit die rooster vlak langs haar omtrek en sy kruip dieper in haar slaapsak in eerder as om te loer. Piet kom kyk wat aangaan en wonder of Ronell doof is, of iets, en Madelein wonder wat vroetel Ronell so met die braaivleis asof sy honger is.
‘n Grou hemel begroet ons Woensdagoggend. Braam kyk berg op, en berg af, maar daar is nie eens ‘n blou spikkeltjie nie. Ons besluit om nietemin tot bo op die berg te stap – ons het mos die opblaashelikopter. Na ‘n karige ontbyt van koffie en beskuit pak ons die berg. ‘n Kwartier later kreun ons al, en sê dankie vir die bewolkte weer. Eers na ‘n uur roep Braam halt, en ons hou rustig oggendgodsdiens. Ernst vertel van ‘n roomysstalletjie met sjokolade en vanielje roomyse, bo-op die berg en ons is sommer weer lus vir verder stap.
Na Middelhut het ons die pad byster geraak, want dit zig-zag teen die steil hang uit, maar waar die paadjie gezig het, het ons gezag en soos wafferse padbrekers, baan ons ‘n weg deur bosse en om kranse. André kondig aan dat hy nou net sy laaste ontbytbeskuit se energie opgebruik het en net daar skuif die wolke weg voor die son – en ons sweet! Die vallei lé uitgestrek agter ons en dis ‘n heerlike verskoning om omte draai en die lappies-lappies landstreek te bewonder en gou-gou asem te skep.
Uiteindelik, na drie ure is ons bo. Die sonnetjie skyn nou so lekker dat Mariétte wat sjokolade uitdeel, haar deel van haar vingers aflek. Die opblaasroomysstalletjie is ‘n groot teleurstelling, hulle vanielje is uitverkoop en aangesien ons nie van sjokoladeroomys hou nie, steek ons maar verby.
Berg af gaan dit vinniger. Binne ‘n uur en ‘n kwart sak ons langs ‘n twee meter regaf rotsmuur af tot in Witelskloof. Plotseling is ons in ‘n ander wêreld van koelte, hoë regaf kranse en lokkende water. Na die middagbrood begin die “bly-droog-of-slaap-koud”-pakkery. Alle bagasie word sorgvuldig in drie-dubbele plastieksakkies gesit.
Na die rustydjie is die water nie meer so aanloklik nie, want die son se strale kom nie heeldag by die water in die nou kloof uit nie. Skaduwee en weerkaatsing van die kranse in die water laat dit onheilspellend KOUD lyk. Die kloof is asemrowend mooi en om elke draai wag ‘n verrassing. Hoog bo-aan ‘n groen mosbegroeide krans is twee helderrooi Disas. Langs ‘n waterval wat in ‘n ronde poel plons kon Jasper die versoeking nie weerstaan om agter die water-gordyn in te swem nie.
‘n Vlak poel waardeur ons moet stap dien as oefenlopie en ons bou solank ‘n kou-water weerstand op. Dis ‘n salige gevoel toe ons eindelik by die eerste deurswempoel kom om in die water in te plons. Die maklikste is om die rugsak vooruit te stoot en te skop. Die swemsnelheid deur so ‘n poel hang af van die mate waartoe die koue water ‘n mens geval. Veral die skraler manne sorg dat hulle so vinnig as moontlik op droë grond kom. By een poel het die rivier skuins van bo af ingekerf, miljoene jare gelede, sodat net ‘n dun ligstrepie vanuit die water sigbaar is. By ‘n ander weer, sit ‘n rotsblok bo tussen die twee kranse, weerskante van die kloof, vas.
Die oornagplek, ‘n gerieflike sandoopte, is ‘n welkome gesig. Druipnat en koud, word dadelik seker gemaak dat ons bagasie droog is. Toe verklee ons en maak kos. Die dag het sy tol geëis. Die wat Witels onkundig aangepak het, wonder wat hul besiel het om ‘n somervakansie so inspannend af te sluit. Piet kry dit nie eens reg om lewe in ons te blaas met ‘n hekeltyd nie.
Terug in die kloof pak gryswolke saam en Braam hoor by elkeen wat sy weervoorspelling is. Almal is dadelik bed toe met grond- en dekseile wat gereed lê. ‘n Paar druppels val dan ook – maar ons het darem nog die opblaas helikopter.
Steeds droog en sonder ‘n teken van wolke, kruip ons vroegdag uit ons slaapsakke. Party vinniger as ander, want ai! – sulke onfikse bene is darem styf na ‘n dag se oefening. Ontbyt is vanoggend ware pitkos vir padkos – muesli. Piet brom net dat hy nie ‘n hoender is nie.
Dis ‘n gesukkel om alles weer verpak te kry want sakkies waai rond en rekkies wat iewers, veilig gebêre is, is soek. Die kloof maak wydoop hier en vir ‘n lang ent loop ons in ‘n paadjie wat wissel van moeras tot digte doringbosse wat ons bene lelik krap.
Die meisies dra almal “joggers” behalwe Madelein wat net ‘n hemp oor haar swembroek aanhet. Die manne wonder wat om môre te verwag, want gister het sy darem nog haar “jogger” aangehad!
Na middagbrood se skof is lank. Teen sesuur namiddag is ons halfpad tussen die twee moontlike kampplekke. Die deel heet “Happy Valley”, maar ‘unhappy’ is meer gepas, want die boulder-hop paadjie strek nimmereindigend voor ons uit en ons is vodde! Net toe is daar twee oop kolle nabymekaar, waar ons elf sal inpas, en dis met verligting dat ons kan kamp inrig. Een nat-ongeval word aangemeld. Die rys uit Ernst se rugsak het solank geweek om die kookproses te verhaas.
Die twee eerste toeriste, Jasper en André is die fluksste. Hulle vorder van houtkappers na stokers binne een kooksessie. Die groep het tog meer lewe as gisteraand, want grappe word opgediep en vorige toere word herleef en met Witels vergelyk. Witels blyk een van die moeilikes te wees. Ernst verras ons met ‘dinner aints’ net so voor slaaptyd. Jasper en Braam word onder die sorg van die meisies geplaas en die res gaan slaap by die tweede oopkol – ‘n entjie stroomaf.
Vydagoggend breek pynlik aan. Elke spier en ook spiere op plekke waar voorheen geen plekke was nie, is styf. Die stap begin pragtig. Die kloof is wyd en rotsplate vergemaklik die stappery. Die vroeë son verhelder die kranstoppe en gladde rotse word omskep in afglybane want die water is heerlik. By boulderpoel word gesonbrand en geswem en ‘n groepfoto word geneem met die steeds onoorwonne boulder in die agtergrond. ‘n Entjie verder bevind ons ons ewe skielik op ‘n rooi stowwerige sandpaadjie en die Oranjerivier-toer kom lê vlak in die geheue. Ernst en Johan word die skrik op die lyf gejaag deur ‘n geel kobra wat bakkop langs die paadjie voor hulle opdoem.
By middagbrood misluk die meisies se staakpoging en hulle smeer vir oulaas koppelaarplate met marmite of aarbeikonfyt – nes die manne verkies. Die stofpaadjie word hervat en so op die hitte van die dag verlang ons na die deurswempoele wat almal reeds terug, kloof-op, lê. Maar daar is tog nog ‘n verrassing, want Bumolidepoel verskyn links van ons en ons laat spaander soontoe. Met seep en water word die rots gladder gemaak om lekker te kan afgly. Dit raak toe só glad dat André tweemaal onverhoeds begin gly en billy-vol water en al, afrol. Die laaste ent vleg ons deur digte bosse – ‘n ent weg van die rivier. Wat ‘n anti-klimaks na drie dae se boulderhop!
En so kom Witels ’81 op ‘n einde toe ons Dwarsstroom oorsteek waar Witels daarby invloei. Op ‘n vraag van Johan aan Hanlie waarom sy Witels vir ‘n tweede keer kom stap het, antwoord sy: “Vir die lekker poele natuurlik.”
Ronell Widd
(waarnemende Sketsskryfster)