Visrivier Canyon Julie 1978

‘n Ou “adorable” groepie BT-Kaners was dit wat dié Sondagmiddag voor die HF vertrek het. Adriaan, die urk, loop lê toe siek aan griep en stuur slegs sy suster saam, asook ‘n sampel van sy beker wat hy sou saamvat op die toer. Vir die res van die toer was daar ‘n gat in (uit) die geselskap – Adriaan.

Dit was “Who stole the cooky from the cooky-cup?” en “Here are two names” die heel pad lank tot by die kameel. Toe ons van Noordoewer af wegtrek, het dit begin lig word. Die nagwolwe onder ons het nou ‘n uiltjie begin knip en die mooiste mooi gemis. (Martin se kleintongetjie was ‘n groot attraksie vir baie.) Die Suidwes-veld het begin wakker word. Die son het anders en rooi opgekom, ‘n effense vroe-oggend-stof-windjie het die duisend-en-tien graspolletjies huiwerig laat roer. Hier en daar het ‘n swart klipkoppie gelê, iewers uit die hemel vandaan geval. Dis Suidwes in al sy glorie. Toe sien ons die Ai-Ais-berge blou en ons weet daar voor lê ‘n lekker stukkie mooi en “madness” en “A man needs a little madness …”

Dit was ‘n lang en hobbelrige stofpad wat ons by die uitkykpunt aangebring het. Daar staan ons verslae maar ook opgewonde, want ons gaan dié stuk grootheid voor ons aanpak en deel van ons maak. Ná middagbrood word daar ge-af met die steil kliptrappies langs. Rugsak hang swaar en bene bewe. (Ons sou nie kon glo dat dieselfde rugsak later só deel van jou word dat jy onaangetrek voel sonder hom nie).

Ver oorkant teen ‘n sandwal hou ons die eerste van ‘n beroemde reeks Game-breaks. Dis ook nie lank nie of ‘n hele paar is in die water. Daarna vat ons die pad met mening. Gene swik sy enkel, en ons roep halt op ons eerste Canyon-kampplek: sand, rotse en water hier by jou en helder-helder Suidwes-sterre bo jou. Voor ete sluit Gerhard en Rotjie, wat eers die bus omgevat het Ai-Ais toe, by ons aan: vodde gestap. Die groepe skree hulle roepe en ons eet. Hierna klim ons in ons SSe (Sandslees).

Reeds met die eerste hekeltyd leer ken ons oom Martin as ‘n uitmuntende hekel-omie.

Dinsdag:
Deon kies koers al op die rivierwal langs. Ons kom gou agter dat die persoon voor jou se hakskene veel minder interessant is as die geweldigheid van die kranse rondom jou. Met die stilstaan en opkyk voel ‘n mens minder as mens … Toe kry ons die blymaak-voetpaadjies. Mens voel eintlik jammer om die blink stukkie gras in die paadjie stukkend te trap – dis soos Bethlehem-strooi so mooi.

Middagbrood is ons by die Swawelbronne. Hier tref ons nog ‘n “adorable” groepie aan: oom Kruger en sy trawante. Shame. Tydens die laaste Game-break voor die kampplek, word die eerste toeriste deeglik uitgekyk. Hulle weet nie, hulle weet nie … By die kamp aangekom probeer Jeanne haar vreugde (misnoeë) te kenne gee deur kop in die grond te steek. So ‘n muid van ‘n swaar rugsak darem! Stiaan moes die petalje mooi dopgehou het, want net die volgende middag herhaal hy dié aksie met grasie.

Die eerste toeriste is dié aand verantwoordelik vir die items en daar is soveel Flies in hulle soups dat ‘n knorrige paar ou veterane hulle moes toeroep: “Van ons aan die eerste toeriste: die sop is nou op.” Joos, die urk met sy kop so plat soos ‘n Minora-blade, besluit om dié aand af te sonder om sy bul te melk. Die inhoud van die emmer word net so op die eerste toeriste uitgegooi. Terwyl die eerste toeriste hulle ding doen rondom die vuur, en ons ‘n oomblik stilte het, hoor ons hulle roep: naguiltjies? Hulle roep eers ver en dan al nader en dan weer ver. Die volgende oggend word ‘n groep meisies daarvan beskuldig dat hulle die manspouhokke uitgesoek het om te gaan slaap – en dit met voorbedagte rade! Dink hulle miskien ons is muide?

Woensdag:
Woensdag stap ons gesels-gesels verder. Teen hierdie tyd is jou rugsak tuis op jou rug en jyself tuis in die Canyon. Hier en daar kry ons weer paadjies waar ons kortpad steek deur die veld. Ons loop sommer en dink of praat of kyk: ‘n spikkeltjie wit en rooi in ‘n oorweldigende skepping. Nou en dan loop ons in poeierstof waaraan ons maar net gou gewoond moes raak. Dis egter alles die moeite werd wanneer jy met net die nodigste aan (of nie aan nie) in die helder rivierwater vir jou was en die frisste fris voel in ‘n lang tyd. Tobie besluit op ‘n stadium om af te stig, maar die Game trek hom en hy aanvaar die oortog oor die rivier met “My bonnie lies over the ocean” as inspirasie van die groep. Stiaan speel beredderaar en gaan haal hom in die helfte.

Ons kampplek is weer eens regoor ‘n groot rotsberg. Dié aand snork-snork Lukie al om die kampvuur soos hy bul speel.

Donderdag:
Donderdagoggend word die pad kortgeknip deur heftige besprekings van groep-items vir die aand. Tillo von Trotha, die urk, word ‘n groot inspirasie vir menige itemer. By laasgenoemde se graf oor die nekkie vertoef ons ‘n wyle. Rotjie voel hoe dit sal wees om op sulke punterige klippe te lê, maar Von Trotha hou niks van die idee nie en steek hom geniepsig in die ribbes. Sêra en ek sit blommetjies op sy graf – van die mooi rooi poffer-blommetjies. ‘n Groepfoto word geneem en Hendie burn dit groep-toe voor die knoppie afgaan. Dit was nie voor Joos ons die hele Von Trotha-verhaal vertel het, dat ons weer koers gekry het nie.

Middagbrood word gehou op die groot-groot klippe in die rivier. Wanneer Oom en sy trawante uiteindelik ook aankom, deel Joos mee dat ons hulle iewers, iewers in Hell’s Bend, soetjies verbygesteek het. Nog nooit was ‘n “WAAR” so oorbluf en so verbaas nie! Ons eet weer eens buns en guns en kaas en konfyt en worsies – die wat wil. Gelukkig wou almal nie, anders het groep een dié aand geheel en al sonder kos gesit. Ons loop agter die spore aan aandkampplek toe. Laat-middag bad die meisies hulle in ‘n groot-groot poel en die bobbejane gee hul misnoeë hieroor te kenne. Iemand sien die oom en sy seuntjies in hul vier spore vassteek en omdraai. Dié aand sien ons hulle nie weer nie. Altans die dames se eerste verdere kennismaking met hulle was toe Sêra die volgende oggend donker vra: “Wie storm nou hier oor die klippe?”.

Met ete dié aand word die lang-saamgedraagde blikkies mince te voorskyn gehaal. Verskeie effekte word op die proef gestel: die min water-effek, die baie water-effek en die lampolie effek. Die flinke optrede van die skuldige toe sy die blik van die vuur af gryp, verhoed dat die Canyon sy top blaas. Wanneer groep vier ons van ondankbaarheid beskuldig oor die blikkie worsies wat hulle ons geskenk het, noem hulle ons varkasems. Ons korrigeer hulle egter met lampolie-asems. Hierna klim elkeen opgewonde in sy SSS (Sagte Sandslee). Nie te lank nie, of Mevrou koud en donker Von Trotha en Steve, gestorwe se boesemvriend, doen hul rondtes om die vuur met grasie. Joggem Tieties van Riebeeck, uitgeweke baster van die Kaap, doen ook sy intog. Agter hom aan tou sy vier muide met hulle lekka lywe. Hoofintrige: Sêra Meintjies raak verlief op die Duitse offisier, Goebels Goebels von Göringen, met sy Pruisiese agterryer, Wolfgang Schmidt. Die offisier moet haar egter van voor af leer loop, dat sy vallende siekte het, en elke nou en dan grond toe duik. Hy bemeester egter elke keer die situasie met ‘n “Nein, kommen herunter!” Eerste van alles sê Joggem aan sy muide om hom te “adore”. Daarna stuur hy hulle om die boer se bulle te gaan melk en sy klippe weg te dra en sy sand vol spore te stap. Die eindgeveg word voltrek tussen Joggem Tieties van Riebeeck en die Duitse Offisier. Moral of the story? “Make luv, not war!”

Met hekeltyd word daar vrae gevra deur oom Martin, wat nie sommer tevrede is met enige antwoord nie, en Joos gebied om sy “guts” te wys as hy daarna gevra word. In die laat slee-ure raak Alta en Marius verloof en ons verstaan heel goed toe laasgenoemde die volgende oggend baie sukkel om die geweldige groot en spesiale SS toe te kry. Die BT-Kaners deel in dié twee se groot-groot vreugde wat sommer so dwarsoor hul gesigte geskryf staan.

Vrydag:
Vrydag stap ons Ai-Ais toe. Dis ‘n stofpad met geen Game-break en geen water nie. Gerard loop en brom aan die een kant van die paadjie en Gawie stap sy gewoonlike en gemaklike pas alleen aan die ander kant. Ons kry ‘n spookkaravaan en ‘n stukkie padstap. Ai-Ais se blou berge het bruin verkleur en ons weet ons is naby. Dan tref ons die plek, maar word sommer nog sonder dat ons eers iets gedoen het, gevra om ons rugsakke van die gras af te verwyder. Dit doen ons gedwee. Oom Martin skiet ons elkeen vir ‘n bier en heel gou prosit ons dat die klein valleitjie weergalm en die mense niks oor die telefoon kan hoor nie. Jurgens Hendriks en sy gesin sluit hom ook by ons aan om weer ‘n slag lekker saam te sing. Na so ‘n skuimpie anderhalfduimpie bo-op ‘n glasie skuimende bier, begin die manne item, en dit is Joggem en sy band wat die voortou neem met hartbrekers soos Delila – Toedeldoedoe Toedeldoe! En “ek sê, ‘n man needs a little madness ek sê!” Zorba word gedans dat die sweet loop. Ons word stilgemaak en die weg gewys; ons mag nie buite die kampterrein nie – wat ons op hierdie stadium graag sou wou – en ons mag nie in die swembad voor ons nie gestort het nie. Na die biertjie wou niemand juis eet nie, en daar word meestal net Game gedrink. Hierna begeef ons ons na die swembad waar ons oorvat en piramides bou dat die berge weergalm. Ons word toegelaat om onder op die sand kampvuur te hou. Dis laaste-aand slee en Joggem en sy muide sing: “Mama Tembo’s gedding married here tonight, all the basters gonna item weer tonight!” En toe hou Jean ‘n muide-party dat selfs die adorable Joggem verstom staan. Die kampopsigter blaas so elke nou en dan sy top met vier koeldrankblikkies. Sêra Meintjies het intussen by die BTK aangesluit. Met groot geduld help Deon haar telkens maar weer herunter. Na hekeltyd en aandgodsdiens, gaan ‘n groepie om vir Jurgens-hulle te serenade. Daar word tot laat gesels en geslee.

Die volgende oggend laat ons ‘n verslae Ai-Ais agter en vat weer die stofpad. Dié keer is Brug en Poker aan die orde van die dag. Daar word vir vuurhoutjies gespeel en dié kom in die mond al is dit by die veertig!

So teen elfuur hou ‘n vaak en “unadorable” groepie BT-Kaners voor die HF stil. Hiermee was die toer nog lank nie verby nie, want ‘n stuk of twintig van ons het nog eers die volgende dag afgesit berghut toe en daar langs die vuur al dié vars en mooi herinnerings opgediep. Ons het Lukie vir oulaas gekoning en agternagekyk: ‘n groot man met ‘n groot hartseer in hom. Nouja, die urk, ons is darem op sy moviese movie.

Betsie Slabbert
(Sketsskryfster)

Leave a Reply