Berghutkamp Junie 1978

Vrydag, 16 Junie
Dis ‘n grys dag met Victoriastraat se laaste verdroogde blare net ‘n herinnering aan ‘n amper-eksotiese warm herfs van baie mense en baie kleure. Nou’s die Kampus leeg, dolleeg soos ‘n konsertsaal na ‘n vertoning; maar onder in Neelsie by die stoor hang ‘n paar rooi nekdoekies rond – dis Berghut vir ons!

Ons vertrek met ‘n beproefde SR-Kombi met sy uitsitplek. Praat maar liewer nie van al die rugsakke én kos én kougoed én Briëtte én Hannatjie én Karien én Engela én Francie én Ilse én Louise én Tobie én Hendrik én Joos én John én Eugene wat ingelaai is nie! Maarten, Reenen en Sapa is agterna in Maarten se gesoute bergklim-Volksie.

Neels en amper-skemer en ‘n “technicolour”-reënboog wag ons in, maar eers moet daar ‘n ongeluk gebeur: Briëtte verloor haar kontaklens op pad boontoe.

Bo aangekom, eet ons eers en maak van die sinkhokkie ‘n half-leefbare skuiling. ‘n Orige dakplank bo-op ‘n stapel vuurmaakhout is die meisies se kermisbed – én die algemene sleeplek voor slaaptyd. Die manne moet met vier tweemanstentjies tevrede wees teryl die vlae reën buitekant op die sink grrrrts en die wind sy denneboomhuil waai. As jy by die deur uitloer, sliert die mis triestig om swart boomstamme; en ámper glo jy Wessie se fluitmanstorie, maar die feit dat dit BTK-deuntjies is, maar die affêre darem baie ongeloofbaar.

Saterdag, 17 Junie:
Reën en reën en reën … Staan nege-uur op en verwonder jou aan die snoesigheid van so ‘n plakkershutjie met sy ligogies en die anderkant wat afgebreek kan word vir iets tussen ‘n agterdeur en ‘n venster.

Al die ouens suiker bergaf – saam met die reën – om te gaan boumateriaal en kos haal, en ons sewe meisies ruk ons woonplek so ‘n bietjie reg en dink ‘n regte stroois-patent uit om ons vuur droog te hou: ‘n paraffienblik vol gate – en dit werk! Toe die eerste manne druipnat bo kom, rook die vuurtjie al en ma Hanna staan reg om hulle met warm koffie en komberse uit hul nat klere te raas.

Die res van die dag word omgekry deur kosmaak, eet en slee. Ons pragtige woonplek word oor-ontwerp en ‘n selfaangestelde spensman, Hendrik, pak die spens so om en by die vyf maal oor – spesiale verskoning om in kosma se guns te kom! Maarten verslind een van Ilse se Wille Martin-boeke en die res van die geselskap gaan die aand so slee-slee tegemoet. O ja, Hendrik dink weer een van sy berugte Le Roux-planne uit om die lekkende hut se waterdruppels op te vang. Eugene noem dit sy kopstamppatent, oftewel die guillotine-wat-na-‘n-galg-lyk.

Ná aandete sit Hannatjie môre se hoender op die gasstoof. Alles begin heel rustig totdat Neels mos besluit dat Eugene en Wessie se sleemaatjie eintlik in sy hoek hoort. Op die ou end word die dag se opgekropte energie gebruik om ‘n rekord op die gebied van hopies te slaan en Ilse self moet kopkrap oor haar oorspronklike sleemaatjies: is dit nou die voorsitter en die fluitman, of dalk Hendrik en Neels? Uiteindelik, met ‘n laaste paar “knock-knock’s” ná die Milo, kry almal so teen twaalfuur se kant koers slaapsakke toe.

Sondag, 18 Junie:
Vroeg-oggend al roer Maarten, Tobie, Briëtte, Louise en Reenen en is hulle berg-af nog voordat ons behoorlik kon vasstel dat nóg ‘n lekker ou sleedag met misreën wat jou wil-wil hartseer maak, voor die sinkhokke se deur wasem.

So teen half-tien onderneem ons meisies ‘n uittog uit ons kermiskooi, en raai, Wessie kook vir ons water op ons blikvuur vir ‘n lekker warm bad op dié gryskoue oggend.

Ná die fynhoender en semi-Elsa maak almal reg vir ‘n lekker rustige Sondagmiddag in ons plakkershutjie. Maar ai! Iemand het vergeet om vir Wessie ‘n plekkie te los, en dit eindig met Eugene en Wessie wat mekaar buitekant tussen die paddavissies gaan afkoel.

Teen vyfuur se kant is die mis nie meer so ‘n digte wegsteekkombers dat ‘n mens skaars die Berghut van ons skuilhoekie af kan sien nie en die vier malstes onder ons besluit om mekaar die kop te was. Ilse kry vir Neels beet en Hannatjie vir Hendrik, en dis op dié toneeltjie wat Hendie en Jacques en later ook Reenen afkom.

Aandkos gaan so saam met die radiokerk en daarna: nóg ‘n hopie-aand vol lag en rondspring totdat jy voel dat die ou sinkhokkie se nate nou-nou gaan oopryg, nes ‘n oorvrete brulpadda s’n.

Maandag, 19 Junie:
Amper-amper wil ons begin moed skep dat die helikopter ons boumateriaal sal kan bring toe die son so mistig-vaal kom môre-sê, en die ouens beplan om solank pilaartjies te begin bou. Terwyl daar buitekant in die koue allerhande mal dinge geskied, soos dagha meng en klippe aandra, haal Karien-hulle hul kookkunstoertjies uit en middagete is, onder andere, ‘n spesiale bederfdis – Berghutvetkoek, amper iets soos stokbroodskons.

Ná middagbrood breek die manne die hokkie af en Reenen restoureer ons geagte Erna. Daar word selfs ‘n hoofweg oopgespit na dié belangrike plekkie toe, sodat ‘n mens nie meer kaalvoet hoef te loop deur die nat gras nie. O ja, en moenie die twee meisies se skoonheidsbehandeling – wat ampertjies rampspoedig afgeloop het -uitlaat nie. Sien, hulle vergeet toe mos dat die agtervenster-deur wawyd oopstaan toe die ouens ‘n aanval op die “badkamer” loods.

Eers so teen nege-uur se kant daag Eugene-hulle vir aandete op. Dis net na skottelgoedwas wat almal binne-toe gaan vir slee. Maar net eers, vir rekorddoeleindes, almal wat teenwoordig is: Hannetjie, Karien, Ilse en Eugene, Hendrik, Neels, Hendie, Reenen, Jacques, Wessie en John.

Sleetyd is weer chaos op chaos, met ‘n baba-poeierbom en sleemaatjies wat ontvoer word.

Dié nag kan jy vir die eerste keer buitekant sterretjies sien; en miskien het die byna-volmaan kop toe gegaan, want net na die aandgesang (omtrent twaalfuur) durf vier dapper helde die paadjie ondertoe aan – om sement te gaan haal, verbeel jou! Sommer lekker laf, ons klomp maltrap-studente bo-op die berg. Dis ‘n aand van slee en sing, van sweet en swaarkry, ‘n aand van twee-uur-tee en slaaptydbrood.

Dinsdag, 20 Junie:
Dinsdag-dansdag, oopgetrekte herfsdag. En almal skarrel vroeg-vroeg rond, want vandag is dit die dag wat ons naaldekoker sy eiers kom lê.

Onder by La Motte en bo by die Hut is daar miernes-opgewondenheid oor die geel woer-woer wat twaalfuur jou hare kom deurmekaarkrap en jou asem skoon wegslaan met sy dwarrel-suidooster. Dis planke en generator en planke en rookkap en planke en ruite totdat die laaste pak oor die berg vlieg met ‘n blink skoorsteen wat tol-tol-tol, so asof hy nou-nou gaan nesmaak in die plantasie doerrr onder.

Net Hannetjie, Hendrik, Neels, Hendie, Reenen en Wessie het bo agtergebly, en nou moet die bougoed nader gedra en die vuurmaakplek gekonstrueer word, maar eers nadat Eugene, Pierre en Adriaan gou-gou opgedraf het om die tou en goed te gaan haal. Van laasgenoemde vent was dit egter laaste sien ten spyte van ‘n “net-my-rugsak-gaan-haal”-belofte. (Hy moes glo sy “suster in die Kaap gaan besorg” – so hoor ons agterna). Pierre bly agter om te help stry oor die vuurherd, en ‘n baie verligte Hendrik vind uit dat hy nie eens een ruit hoef op te dra nie.

Die aand vyfuur BTK-tyd, met ander woorde so half-nege, kom Eugene, enne … Minette, enne … Mariëtte, enne … Jeanie, enne … Ilse, enne … Hannelie, enne … Gustav, enne … Jacques, enne … ag, ek bedoel dis al, bo aan. Dis kortslee, want môre is dit inspring. Die vermaak is ‘n Skeeloog-Berghut-item en Mariëtte wat gehekel word totdat sy kop onnerie kombers haar bloos moet wegsteek.

Woensdag, 21 Junie:
‘n Vroegopstaan as jou asem nog rook word in die oggendlug en jou slaapsak kreun van nog-‘n-bietjie-lê. Die reëndae is verby en dis ‘n werkkamp nou!

Die eerste hoera van die oggend is die skoorsteen en rookkap in posisie, en ons handewerk word gekoning: sommer net van pure kristaldag-lekkerte. Verder word die skoorsteen geverf, ruite ingesit (teen nagenoeg drie uur per ruit!) en die tweemanskap, Gustav en Wessie, timmer nog ‘n bietjie houtwerk klaar.

Met middagbrood net verby, kom Lize, André en Jacolien aan. Ma Hanna en assistent Minette bederf ons met kaneelpannekoek wat jy so tussen die “putty”-hande deur moet proe. Ja, teen dié tyd word daar darem al stopverf gebrei, ruite gesmeer, ruite ingesit en ruite afgewerk dat dit net nie snaaks is nie.

Lize en André maak vroeg-vroeg al company, en Brownbuilt die eerste stukkie, net voordat Japie, Anzette en Helmien so nege-uur aankom.

Die mooi ou volmaan word maar min benut – hy moes sy knipoog spaar vir Vrydagaand, want ons werk tot half-twaalf by ons sukkellamplig, en net na Milo soek elkeen sy kooi op.

Donderdag, 22 Junie:
Raai, raai, raai: wat is pikswart, baie dun, kry twee eetlepels sout by en word as pap aangespreek? Hannatjie se Matabele-koffie!

Ná oggendbrood groet Jeanie, Hannelie en Minette ons om saam met Hendie te vertrek. Die putty-breiers en aanvoerders gaan met die onderste voorruite aan en die voorste Brownbuilt word klaargemaak. Die twee laatslaper Tygerbergers was die ontbytskottelgoed terwyl moeder Hanna onder die bergwaterstort gaan staan en verkluim.

Deon en sy wit hoedjie en sy rugsakkie (sonder sy Betsietjie) kom om ons te verras – hy kom maar net help bou vir die dag, wat! Met middagbrood kan ons vir oom Tjaain koning en tussen-in gaan die vensters en die Brownbuilt en die dagha maar aan en aan en aan, nes outydse donkies wat ál innie rondte, ál innie rondte loop om die watermeul te laat werk.

Nog ‘n aankomeling is Tekkies wat sy naam Adriaan maak toe hy nie vir ons nie, maar vir die grond koning.

Deon vertrek, en vyfuur kom Hendie terug van sy inkopiedag af. Hy en Helmien onderneem hul veelbesproke tog Kombi toe, en word deur Hendrik en Neels gevolg; dis nou om allerhande boubenodigdhede en kos te gaan haal.

Wessie-hulle leer sand sif op die maat van die laaste wals; en weereens moet die rondewangmaan teleurgesteld gaan slaap, want dis naby middernag toe die dagha op is en die aandgesang wegsterf.

Vrydag, 23 Junie:
‘n Amper-somer oggend is die voorspel tot hierdie heelspesiale uitknipdag – ‘n dag wat ‘n mens wil pars, soos ‘n ekstra-rooi herfsblaar, vir altyd-se-hou. Alles begin maar so op die gewone stryk; behalwe dat Tekkies met oggendbrood nogal wonder hoekom Eugene nou eintlik so graag “dorp toe” gaan. Ons benodig mos niks nie! Die moontlikheid dat dit dalk iets te doen kon hê met die skole wat sluit, word bespiegel, maar … vir die oomblik is Brownbuilt vasslaan en Cellseal eerste op die lys.

En so gaan ons maar aan tot middagete – met ‘n boor wat vonke spoeg van swaarkry, gecellseallingetjies.

Ná middagete blaas Pierre ook die aftog, net te vroeg vir nóg een van ons kosmamma se spesialiteite. Sien, dis net by ‘n berghut waar ‘n mens ses meisies om ‘n oop vuur kan sien: – koffie-emmer oppie vuur, met ‘n klein bietjie olie onder in en popcorn wat woeps-woeps groei – klein oorywerige padda-stoeletjies – en ‘n skooldogtertjie-opgewondenheid verwek.

Weereens werk, werk, werk tot aandbrood, en net betyds vir ete kom Tobie en Maarten aan. Hier moet ons noem: amper het die liewe Hendrik sy rieme styfgeloop met die dosyn kokke toe hy alwéér die lappe kritiseer. Hulle jaag hom halfpad teen die berg uit en eers toe hy help potteskuur die aand vergewe hulle hom.

Tobie en oom Tjaain vertrek; en toe, so teen halftien se kant kom die bêre-stukkie van die dag so saam met amper-volmaan toe Géne en Sarina kuier-kuier aangestap kom. Skielik: algemene chaos! Die fluitjie skril al met die paadjie af tot by die hut, want sien: die blink in haar het ‘n klippie geword. Natuurlik hou almal op met werk; ons sing “Ein Prosit” met lekker sterk ou Bossietee, en ‘n fudgebak doen die rondte, so al met die gelukwensing saam.

‘n Heel rustige slee-aand, vol liedjies en stories en allerhande interessante gebeurtenisse rek tot drie-uur uit – maar wat, dis laaste aand, dis Junie, dis amper-volmaan en dis Berghut!

Saterdag, 24 Junie:
Hartseerdag, weggaandag en saam met die papiere frommel jy ‘n hele week se saamwees op, want almal moet inpak. Laaste vensters, laaste Brownbuilt, laaste vuilgoed wat verbrand moet word – ag, sommer net ‘n laaste dag.

Hendrik en Maarten vertrek net na middagete – fluit BTK-liedjies rugsakke tussen die bome weg saam met die paadjie.

Potteskuur, vuurtjie doodgooi met ‘n laaste emmer water en ons plakkershutjie net ‘n hol balkhok met planke en kruiwaens en gereedskap.

Toe ons regstaan vir gaan, met rugsakke propvol klaar-weer-verlang, lyk die hut darem al ‘n week se werk verder, en met ‘n groot trotsbly kan ons al amper sê:

“Oi, oi, oi, dis ‘n selfbouhut
Elkeen wat wil, kan hier kom dut
Dosyn ou gaatjies waar die wind deur suis,
Twee slaapsale en ‘n slee-kombuis!”

Ilse Krige
(Sketsskryfster)

Leave a Reply