Witsand-Gouritz Gala 1977

“We are the lucky ones, for we have felt the rain.” George Betts.

Toe die baie bekende “Nog ‘n toer is verstreke van die ou BTK’ eers huiwerig en toe weereens in sy volle glorie windlangs Stilbaai se see toe beur, word die volgende reël bevestig: “O, die dae gaan so snel verby.” Dit was bloubasie-dae propvol lewe en reën.

Vrydag:
Groot was die verrassing toe ons agterkom Du Preez het homself weereens oortref deur aan ons ‘n ten volle outomatiese wa te verhuur, want toe Marius die rem trap, toe loop die water uit! Vanaf sesuur dié oggend het opgewonde eerste-keer-wa-ryers Neelsie gepatroleer. Teen nege-uur was die wa gelaai en elkeen het vir hom ‘n plekkie uitgegaffel waar hy dink dit lekker snoesig sou wees. Om kwart-oor-nege vat die wa onder ‘n groot gejubel en gejuig en toe ry ons nie. Ou Vannie moes kom. Na sy gebruiklike towerwoorde kon die wa die versoeking nie weerstaan om darem maar te ry nie. Dit was voorwaar ‘n “happy-family” wat alle sorge op Stellenbosch agtergelaat het om ‘n fees van ‘n toer aan te pak. Ons kon nie wag om die wind deur ons hare en die reën op ons gesigte te voel nie! Miskien was die volgende ‘n berig in die Saterdag se “Roggevelder”: “ONPADWAARDIGE WA MET VREEMDE VOORWERPE OPGEMERK: Vrydagmiddag omstreeks half-vier is ‘n gevaarlike blou voertuig op ons paaie opgemerk. Inwoners word gewaarsku om versigtig te wees. Ons korrespondent berig dat artikels wat na voete gelyk het, elke nou en dan die lug ingeskiet het. Wanneer hulle weer grondwaarts getuimel het, het deurdringende gille die stil Roggeveldse lug deurklief. Dieselfde voorwerpe is later op Swellendam opgemerk. Inwoners word gevra om op die uitkyk te wees. Van ons bekommerde Redaksie.”

Op Swellendam kry ons geagte wa-ryer die unieke kans om sy kennis in verband met “kritiese” balletjies te vermeerder. Die ander kruip solank in ‘n omie se hart en gou-gou koop hy vir ons elkeen ‘n groot roomys. ‘n Interessante opmerking van ‘n wildvreemde drie weke daarna: “Ek kon nie glo dat die trappe so skoon was toe julle daar opstaan nie!”

Skemeraand en met ‘n lekker koppie koffie agter die blad, maak ons dit vir Witsand, al singende in die maanlig. Toe die bus aankom, word hy ten volle gekoning. BT-Kaners is altyd bly om mekaar te sien, al is hulle wildvreemd vir mekaar. So tussen opgewonde gesels deur kry ons ‘n voorsmakie van ma Marie se uithangdisse: worsies en broodjies en koffietjies. Ons had nog ‘n voorsmakie van wat vir ons wag toe Adriaan sommer vroeg-vroeg die volgende oggend reeds op sy naam val nadat hy aan die kortste end van die tou of te wel stok (Anne) getrek het. Na ontbyt vat ons oom Tjaain se spoor. Oom Gys se kleinhond Boel, doen wat menigeen van ons seker wou. Toe hy die see sien, hardloop hy holderste-bolder die bult af. Hy het egter gou agtergekom dat rotse nie motorwiele is nie en dat seewater sout is. ‘n Ent weg hou ons voorstelling. Nic en Magriet ontvang hul eerste besem en lyk net danig in hul noppies. Dieselfde besem sou later baie handig te pas kom toe Tobie sy hoed begin soek.

Na die gebruiklike ordentlikheidspraatjies, wil die meisies ewe ordentlik die ouens koning, maar laasgenoemde kies wyslik die hasepad. Ons het baie gewonder of dit nie dalk was as gevolg van die feit dat ons so goed geolie was toe ons opgestaan het nie.

Reeds nou al begin ons kennis maak met die besondere soort mooi van hierdie wêreld, asook die besondere manier waarop die natuur hier met ‘n mens werk. Soos Schalk dit gestel het: “Dis so lekker, want ‘n mens loop en dink niks.” Nou ja, diesulkes sal ons altyd onder ons hê. Middag se kant sien ons die klein huisies van Puntjie. Tannie Magriet kies ‘n bootjie uit om middagbroodjies in te prakseer, terwyl die eerste episode van ‘n volwaardige vervolgverhaal hom voor ons oë afspeel. Tobie soek sy hoed.

Episode I: Almal waarsku Adriaan om nie op Sapa se voete te gaan sit nie, want dis vol modder. Toe gaan sit hy daarop. Toe Tobie se hoed sink, dink hy dit goed om die bodem vuil te vee met Magriet se besem. Na ‘n paar geniale duikpogings kry hulle die hoed. Dit was wit.

Episode II: Bastia Bouy, wat nou reeds byna in die water gelê het, dien nog ‘n doel. Met ‘n “G A T-Enjin” en ‘n Napoleon met helm en besem kompleet, seil hy vreesbevange oor die water. En waar die water te vlak word, tree die enjin hakskene-oor-kop in werking en voort gaan die legendariese driemanskap.

Hierna jaag Eugene ons kraal toe. Terwyl die ouens wa stoot, verken die meisies die wêreld en vang ‘n swempie. Toe ons terugkom, word ons ergste vermoedens bevestig: ONS KAMP HIER. Hier is tussen skaapbos en beesmis. Van die meisies het ‘n hele tydjie geneem om hegte vriendskapsbande te smee met ons bulkende broeders. Dit was ook nie voor hulle Riana die windpomp opgejaag het en oom Tjaain haar te hulp gesnel het met ‘n woordjie of twee na die beeste se kant toe nie, dat sy die gediertes kon aanvaar nie. Later sou dieselfde gillende Riana heerlik hare was en bad in haar vriende se badkamer. Dit was in elk geval die enigste plek waar ons ‘n natuurlike koue, asook windaangedrewe stort kon geniet.

Laatmiddag begin die ouens lelik ingrawe en ons wonder oor oom Gys se ordentlikheidspraatjies. Kort-kort klim die bekende ingrawe-deuntjie die lug in met woorde soos: Pierre se lampe gaan yt, hy wil die kat in die donker knyp. Evelyn, die kultuurbewuste onder die klomp, probeer sy mede-landsburgers aanspoor tot volkspele, alias stofskoppery. Die ander sit en eet stof in hul slees. Iewers voel iemand ‘n sagte druppeltjie reën op sy neus se punt en blaker dit hardop uit. Pessimiste word gewoonlik geïgnoreer. Gedurende die aaitems moes nuwelinge soos Hendie hard kennis maak met gesogte opvoerings soos Napoleon. Karin en Rotjie het gesorg dat Boutjie sy ereplek behou. Met hekeltyd moes Sassie verantwoording doen aan André oor haar definisie van ‘n “ohoo-hempie”, en Nico moes vertel wat sy baard nog alles doen behalwe saam eet. Magriet se giggeltjie het die vraer volkome tevrede gestel. En toe voel ons die reën op ons gesigte.

Sondag:
Dit was verbasend koel. Onder die bakkrans verneem ons die woorde: “Kyk, dit het alles nuut geword.” Lettie het die hele kerkdiens lank sit en bloos. Dis maar net ‘n ou geheimpie tussen haar en Schalk.

Vraag: Hoekom dra Schalk hakspelde met hom saam?
Antwoord: Stilbly is ook een.

Hierna is kokke soos Lieschen en Sassie ingelyf in die geheimenisse van Elsa-maak. Japie kon die duwweltjies nie meer vát nie en prakseer toe ‘n paar “ready-made sandals” met chinese houtblokke, kartonne en toue as deel van die beslag. Soos alle “ready-made” goeters, was dit gou op. Na ete sluit Karel, Doortjie en Vera hulle by ons aan. Ook net betyds vir ‘n paar strawwe oefeninge.

Dit het behoorlik gevoel of ons in ‘n konsentrasiekamp was en veral Rotjie wat die lyding (lang y) geneem het, was die ene konsentrasie. Daar was die maagoefeninge: mond oop en weer toe. Dan was daar die mangeloefeninge, die keeloefeninge en andere. Die aartsrebel onder die lot, genaamd Hendrik, het hoog in die takke begin betoog. En toe maak die blink bak sy verskyning. Teen hierdie tyd het die spanning al so hoog geloop, dat veral die eerste toeriste dit gemaak het vir die bak. Die pedagogiese Lieb vat toe die bak en sit dit agter in die ry. “Moral of the story …” Die middag het ons verwyl met swem, hare was en bad. Na ete het die kerkkoor geoefen en die flukste tentekomitee in tien jaar (‘Gene) kon nie wag om die tente op te slaan nie. Wat daarna gebeur het, word tentslee, alias chaos, genoem.

Uit Pendoring, Beperk het Karen, Marius, Evelyn en Rotjie ‘n pittige hoorspel gelewer. Rotjie het sy kennis in verband met vroumense en boeke met ons gedeel, terwyl hy soos ‘n beroepsbobbejaantjie al om die tentpaal gedraai het. Voor ons oë het ‘n uitmuntende tegniek vorm aangeneem. Adriaan het die blink gedagte gekry om die spinnies met ‘n grote gogga uit sy slee te jaag. Die kerkkoor het afgesluit en “Stille Nag, Heilige Nag” het by elkeen van ons ander herinneringe gewek. Uitkenning, en die eerste toeriste kwyt hulle soos gewoonlik sleg van hul taak. Ken sowaar nie een van die ou veterane nie. Hulle sal moet reggesien word.

Maandag:
Vroeg-vroeg en met rugsakke gepak, verlaat ons ons bulkende broeders, en selfs die natuur treur saam. Maar ons het ons nie so erg bekommer oor die laat sleëry van verlede nag nie, want op Blombos gaan ons tog heerlik uitrus. Met dié gerusstellende wete vat ons die pad. Die wêreld is mooi en plek-plek lyk dit byna onwerklik. Strandlangs lê die meeste van ons se spore vir die heel eerste keer, net om direk daarna weer weggewas te word. Die sand werk hard met ‘n stapper se kuite, en die rugsak is vir veral die eerste toeriste maar ‘n gewigtige saak. Aan die ander kant word die eerste toeriste verwelkom met ‘n onheilspellende galg. Na ete probeer ‘n powerige groepie eerste toeriste die oud-veterane vermaak. Katrien en Ina ontpop in komponiste met die volgende:
By die eerste toervergadering het ons daarvan verneem:
Hul het gesê hul gaan ons wraak.
Ons het van skrik versteen
maar ons wou ons nie besin
En het in die bus geklim;
en nou’s ons hier en weet nog steeds nie wat op ons wag nie.

Reeds voor die eerste Sondagmaal het ons van haar gehoor:
Haar naam was Elsa sonder van,
haar inhoud moes bekoor.
Toe kom Rotjie met ‘n ding, nee, ons moes oefening;
Die doel daarvan dat Elsa nie ons mae sou verdring.

Hier sit ons slagoffers nou
Jul dink ons item flou
Maar ons sal julle wys, die flou is net “show”
Jul sal ons maar moet verskoon
Ons is tog beter as jul ooit kan droom
Hou op met jou en kyk wat ons jul nog sal toon.

Die aandjie se koffie het vir ‘Gene ‘n besondere ekstra geurtjie gehad. Die rede: ‘n veter op die bodem van sy beker. Ons geliefde voorsitter had wraakgedagtes en dit was eers heelwat later dat ‘n uitgeputte groepie om die vuur bymekaar gekom het. Ná ‘n wilde verwelkoming in die BTK het ons gaan slaap.

Dinsdagoggend – half-drie:
“We are the lucky ones! For we have felt”, nee, “We feel the rain.”

Vir die meisies was dit die ene jolyt
Drie-uur in die nag is mos Huppelkindtyd
Ma-Marie kwyt haar goed van haar taak
al is haar ou kindertjies tog so vaak
Ons kon dit net nie langer vat
Want ons was skaars droog, toe
reën ons weer nat.
Hier van bo af kon ons egter sien
Hoe flitsligte rondskarrel ‘n stuk of tien
Wat maak jy? was die algemene vraag
die antwoorde hierop was maar traag.
Hier en daar lê iemand droog en slaap,
onbewus dat die ander hom verlangend aangaap.
Hendrik, Eddie en Deon sit slegs met hul koppe onderdak
Die res van hul was glad nie op sy gemak
Met skemer om die vuur
is daar met leepoë na mekaar getuur
Maar kort voor lank is daar geskater
ten spyte van die baie, baie water.

Tobie: “Hoe’t jy geslaap?”
Japie: “Op my hande en knieë.”

Rotjie het dié nag niks geslaap nie; hy’t gevloei. Slegs Tobie het ‘n koninklike slapie agter die rug gehad: Op die troon.

Dié keer was ons rugsakke dubbeld so swaar want ons moes reën saamdra. Dit was maar ‘n baie knieserige groepie wat teen ‘n swiepende buitjie in, seelangs gehou het. Ons het egter gou-gou een van die grootste wonders van die natuur beleef, want dit wat jy om jou gesien het was so mooi, dat jy van jouself vergeet het. Nadat ons diep spore op die hoë sandduine getrap het, was dit ‘n heel gemoedelike klompie wat in die bek van die Groot Gat ‘n blaaskansie gevat het. Hierna het ‘n interessante stukkie rotsklim gevolg. Die reën was bysaak. Ons het hom leer ken. Baie moeg en op die maat van “Pack up your troubles in your old Kitbag”, het ons Jongensfontein binnemarsjeer. Intussen het die walaaiers hulle eie avonture beleef en met die weersiens het hulle mense soos Deon en Winnie se hartsnare geroer.

Woensdag:
Met die singery wat die stap voorafgaan, was die Duitskenners onder ons verbaas oor die byna korrekte Duitse uitspraak van BT-Kaners wat vanaf Wiskunde tot Ingenieurswese swot. Dié dag se stap was mooi en dit was interessant om al die tegnieke te sien wat met die loop van die tyd ontwikkel is – om die sand te fnuik. Die meeste het gou ‘n oog ontwikkel vir waar die sand hard is. Ander het sommer goedsmoeds in hul makkers se spore geloop. Teen elfuur was die volkspele-saamtrek te Stilbaai-hawe reeds in volle swang, tot groot vermaak van die vissers. Ná middagbrood op oom Tjaain se strandhuisstoep, kon ons kies: deur die rivier swem, of nog ‘n uur of wat stap. Teen vieruur het Neels en sy komitee net betyds die tente opgeslaan om ons te vrywaar van ‘n verwoede donderstorm wat oor ons trek. Hierna blink die wêreld asof hy splinternuut is. ‘Gene en Marius se ma en pa kom kuier en ons kry ‘n telegram van Tienie wat onder andere sê: “Lekker slee.” Wonder wat dink die poskantoorklerk.

As gevolg van die reën is die worsies teen tienuur se kant nog rou, en deur op hulle te sit kon Adriaan hulle nie warm hou nie. Terwyl oom Gys vir ons ‘n woordjie by die hotel gaan doen, stel ons solank ‘n nuwe rekord op met minstens sestig BT-Kaners in die kostent. Terwyl die hotelstoof alles uithaal en kreun onder die groot bakke, kyk die kokke televisie. Dit was nie voor Rotjie ‘n keer of wat op sy hande voor die TV-stel verbygeloop het, dat hy onder ‘n stoel loop lê en slaap het nie.

Dié nag het van die meisies dit goedgedink om maar liewer die beskerming van die badkamer op te soek. Die meeste het egter gou uitgevind dat ‘n bad nie die ideale slaapplek is nie.

Donderdag:
Die dag vat ons vir onsself en maak daarmee net wat ons wil. Teen vyfuur gaan ons om ‘n totaal uit-die-veld-geslane hotelbaas te koning. Hy nooi ons vriendelik na binne waar Sapa dadelik begin “waiter” speel. Dit was nie voordat ten minste twee glase gebreek het en ‘n geweldige storm die hotel getref het, dat ons padgegee het nie. Die aand is dit stew en tentslee en komitee-items. Die papkokers draf met die kondensie weg.

Vrydag:
Ons laaste skof het voorgelê. Met ‘n uitsoekdag tot ons beskikking, vat ons pad. Ons weet bo alles dit: BT-Kaners is ‘n uitgesoekte klompie, uitgesoek om baie mooi dinge te ervaar. Stuk-stuk was daar rotsstap en vir sommige was dit ‘n heel eerste ondervinding. Tannie Magriet se BTK-sielkunde het goed te pas gekom vir dié wat met wonde daarvan afgekom het. By ‘n riviertjie drink ons soet-soet water en vat toe die rooimier-pad bus toe.

Dié aand slee ons lank en deeglik. Party het natuurlik weer heeltemal onskuldiglik en sonder enige pretensie in hul slees aan die slaap geraak. Die volgende oggend was dit vir oppak, groepfoto’s en ou toeriste maan toe stuur. Op die bus is heerlik nabetragting gehou en op Swellendam kon die mense wat grade moes kry, hulself gerusstel.

Terug op Stellenbosch is gewas en die tente op die J.S. Marais-plein opgeslaan. Sondagoggend het ons finaal uitmekaargespat. Tot die reünie. Want BT-Kaners ontmoet altyd weer.

Betsie Slabbert
(Sketsskryfster)

Van die tentekomitee aan Deon: Wat presies het jy bedoel met daardie “We are the lucky ones, for we have felt the rain”, bo-aan die Gala-toerprogram?

Leave a Reply