Sederberg Oktober 1969

“As ek saam met my maats oor die berge stap
en ek hoor hoe ons voete op die voetpad klap,
dan’s ek bly, dan’s ek bly, soos ‘n voël so vry
en ek sing by myself oor ek lekker kry.”

Ongelukkig het die toer nie so begin nie. Dit het wagtende begin – sittende, standende. Vyf-uur die Vrydagmiddag, ag ekskuus, ek bedoel half-ses – of was dit nou agtuur? Om te dink dat daar ‘n busmaatskappy is wie se tyd later is as BTK-tyd.

Maar op tipiese BTK-manier is die wagtyd nuttig deur gebring. So byvoorbeeld het ‘n elftal Kakie-kleuriges Eendrag tot in sy eetsaal geskok; so byvoorbeeld is daar in ‘n sekere woonstel stew gemaak; so byvoorbeeld het Pieter le Roux solank vir Lerina die vrymaker in hulle huis gaan wys; so byvoorbeeld het Ilse Gericke haar liggaamsopvoeding-onderwys “tan” vir die BTKaners kom wys.

Gelukkig vir Pieter en Lin kom die bus tot hul redding en moet die tugkomitee sy optrede teen hulle laat vaar. Maar Natie se rugsak besef wat die konsekwensies van sodanige vrykamer-wysery kan wees, en onderweg op die bus val die rugsak dus op eie houtjie op Pieter se kop, op die deeltjie met die hare – nou dus nog kleiner.

Onder begeleiding van die maan bereik ons uiteindelik die Pakhuispas waar ‘n “stil” Erica ons verwelkom. Sou dit die skool of die boertjie wees wat die dempende invloed het?

Na ‘n ysige nag met min slaap en baie bewe vind ons uit dat die water ook die nag koud gekry het. Daarom was die meeste van ons liewer nie dié môre nie, behalwe Tielman natuurlik. Die gedagte aan die wraak het hom reeds so vroeg op die toer aangetas dat hy roekeloos sy hemp uittrek en aan die was raak. Die res van die klomp was egter normaal en het hard probeer om hulle om die as van die kookvuur warm te sing.

Gedurende die oggend se stap begin Natie met argeologiese opgrawings. Die bottel lyk baie belowend, maar daar was niks in nie, nie eers ‘n briefie nie, en Natie kon dus nie sy dors les nie.

Tussen die klippe van die Sederberge hou ons “smoke-break”. Geleidelik kry ons almal die geleentheid om ons aan te pas by die kenmerkende eienaardighede van die Sederbergse natuur, en om bewus te word van die grootheid van God wat dit gemaak het.

Net na die “smoke-break” kom Dan agter hoe gevaarlik klein hierdie ou wêreld van ons is. In ‘n gesprek met ‘n ou kleurling van Heuningvlei vind Dan uit dat hy die ou se dogter goed ken.

Met groot verwagting kom ons by Heuningvlei aan – volgens prof Versfeld ‘n skilderagtige plekkie – maar moet dan teleurgesteld uitvind dat die bome afgekap is. Heuningvlei maar ‘n regte Kalahari-indruk: leeg, vaal en warm.

Middagbrood word hier in die kamp gehou. Dit word so geesdriftig geniet dat Wilna die BTKaner op die bagasie vergelyk met ‘n rotstuin vol vet-plante. Die spinnekop wat by die waterstroompie op dié vetplante wou klim, moes uitvind dat sy vriendelikheid nie stilswygendeaanvaar word nie.

Terwyl die tente-komitee werksaam is, kon die res van die toergroep geamuseerd die begin van vele mislukkings gadeslaan. Oral waar ons gekom het, het hulle pogings die pale volgehang.

Die middag is Groot Krakedouw uitgeklim. Dis reeds laat wanneer teruggekeer word, maar dit bied geen wettige verskoning vir enige een – allermins nog die voorsitter – om ‘n meisie in die bad te skiet nie. Met reg voel die tugkomitee hom diep besorg oor die sedelike toestand.

Of dit die Tugkomitee of die rugsak op die kop is; Pieter gedra hom deesdae eiewaardig. Met skiettyd grawe hy hom in met ‘n spinnie aan sy regterhand en die buro aan sy linkerhand. Red nou ‘n volk met sulke regsverteenwoordigers.

Op hierdie toer steek ‘n nuwigheid sy kop in die panne uit – ek bedoel, in die trôe in. Ter ere van die nuwigheid word daar voortaan ook oor wetenskaplike probleme diepgaande besin. Byvoorbeeld die volgende – dit word bevind dat die Duitsers uitgevind het om ‘n dermpie met vleis te stop en dit wors te noem. Hulle het eers die vleis in repe neergesit en die dermpies omgedraai – wat Efraim al kouende laat opmerk: net jammer dat ‘n mens so sukkel om dit weer terug in ‘n derm te kry!

Omdat daar so laat geëet is, is die sleetyd kort. Teen twaalfuur sing die kokke vir Dan toe wat verjaar. As beloning kry al die meisies ‘n bosvryf. George, met ‘n sleemus op, kry ook ‘n soen en bosvryf. Die skop daarna, van Dan af, was amper raak.

Sondag verloop stil en rustig. Na die kerkdiens (gelei deur Koosie) word daar lank in die son gelê om gereed te maak vir die groot ete en Elsa de Lux.

By die uitkenningsparade die aand bewys Ilse dat sy vir Rudolf maklik sal kan kul – hy herken haar nie as sy vermom is nie.

Die nag heers daar onrus in die kamp – die beer in oom Tjaain se tent – sou hy nie dalk vir oom Tjaain gevang het nie.

Maandagoggend staan ons vroeg op om rugsakke te pak. Dis ‘n lang pad wat voorlê, maar die stappers word verkwik deur vir Wilma te ‘queue’ omdat sy verjaar. Blykbaar dink Johan Matthee die verkwikking is daaglikse roetine by die BTK, want hy is heel verbaas toe hy by middagbrood uitvind hóékom hy vir Wilma gesoen het.

Iemand probeer Coert help om so min as moontlik goed saam te dra deur ‘n groot rots in sy rugsak te sit. Ongelukkig ontdek hy die weldaad voor ons stap en is toe verplig om die rots uit te haal en voorrade in te pak.

Ons stap met ‘n kronkelende sandpad onder die vuurwarm son tot by ‘n skadukolletjie waar ons “smoke-break” hou. Of dit die gebrek aan skaduwee was, of wat ookal, oom Tjaain word dringend versoek om Boom-boom te sing. Maar oom Tjaain verkies die son en gee pad.

Tot by Boontjiekloof se hut stap ons gelykpad. Hier hou ons weer “smoke-break”, en dan begin die lang tog middagbrood toe. Ons gaan op in ‘n kloof (Skeurkloof) en op en op, sodat ons nie anders kan as om te dink dis Klein Hartseer hierdie nie. Natie verskil egter. Hy is oortuig dis Groot Uitputting. Gert Vrey dink egter nie so nie, en vertoon net voor middagbrood verbasend baie energie. Die algemene opinie is dat hy met al die energie definitief gaan ‘aftjop’ met die wraak.

Na middagbrood word die vrede wreed verstoor deur Tokkelokkie wat alles en almal begin natmaak.

Die middag se stap is lank, die “smoke-breaks” aangenaam. By elke “smoke-break” word kort-kort vermaan – “moenie op die brood gaan sit nie.”

Uiteindelik kom ons by die kampplek aan – moeg maar tevrede. Om te wys dat hulle baie beskaafd en baie netjies is, al is hulle bo in die berg, gaan bad die meeste meisies.

Na baie struwelinge tussen die kokke en die papkokers ensovoorts slaag die verkeerde kookspan uiteindelik daarin om die sop met belle en spagetti en al gaar te kry. Toe Hannes iets verdags in die sop raakbyt wil hy baie benoud weet of daar wel vleis in die sop gegooi is.

Na ete begin ons slee. Die kampvuur is ‘n warm voorreg wat nie lig vergeet kan word nie. Dis ‘n besondere voorreg om die skaars Sederhout in hope te verbrand. Vir die meeste van ons is dit die eerste ondervinding van ‘n Sederhoutvuur.

Oom Tjaain is nou gewillig om vir ons te sing, maar nie Boom-boom nie, nee, ‘n ander liedjie oor die oujongkêrel se seun. Dit kom daarvan as meisies nie in die dou bly slaap nie.

En toe, soos Thysie sê, begin die moeilikheid – nie met die dou nie; met die aardbewing. As die sederhoutvuur ‘n onvergeetlike ondervinding was – hier was iets nog veel meer en veel groter.

Vir die mens om die aarde onder hom te voel beef asof dit maar net ‘n dun dop is, en om die aarde te hoor beef asof die berge self aan die rol gaan, is genoeg om homself baie baie nietig te laat voel. In die donkerte van die nag kon selfs die sederhoutvuur nie lig in bevreesde gemoedere verskaf nie, en ons is gedurig om te besef dat ons volkome van God afhanklik is – Hy is ons enigste Lig.

Hierna was daar van item en slee nie meer veel sprake nie. Wie kan item as die aarde kort-kort tril. Die meisies wou nie meer eenkant alleen slaap nie en oom Tjaain laat hulle toe om by die vuur te kom slaap, maar waarsku die manne om nie die meisies uit die dou te help nie. Ansa los die probleem op deur die heel nag wakker te bly.

Saam-saam ontwaak ons die volgende oggend en eet daarna pap terwyl Springbok-radio en Radio Bantu vol oop is.

Nadat die eerste toeriste bymekaar geroep is om te besin oor die wraak begin ons stap. Gou is Crystal Pools verbygesteek en toe pak ons eers Klein- en toe Groot Hartseer aan – gelukkig vir ons áfdraand – die hartseer lê anderkant toe.

By die volgende “smoke-break” maak oom Tjaain en Johan hul nou reeds gebruiklike tee. By middagbrood sorg Andrew vir ‘n verandering op die gewone prosedure, deur sy voet oop te sny. Later by die kamp sit dr George en dr Dan sewe steke in die voet. Andrew hou goed, alhoewel Gustav se verdowingsmiddel nie gebruik word nie. Soos hy sê: Andrew moes sommer met ‘n klip doodged……… word. Wilma dink blykbaar dis Duits, want sy weier om weer met Gustav Duits te praat.

Die aand breek die wraak aan. Die kampvuur is onder beheer van Gert Vrey. Gert Vrey wie? Hoe moet ek weet?

Woensdagoggend stap ons die steiltes van Tafelberg uit. Neels raas so baie dat ‘n groep van ons die wonderlike ontdekking maak dat Tafelberg ‘n eggo het. Die laaste draai voor die skeur uit vergaap ons ons aan die mooi gesig. Bo-op Tafelberg is dit ook ‘n grootse ondervinding. Ongelukkig hang daar so ‘n digte rookwolk dat ons uitsig kwaai belemmer is.

Met die afkomslag pak Uys, Katie en Gerrit vir Erna en Anna Bernard toe in ‘n skeur en vergeet hulle daar. As dit nie vir die ridderlikheid van Gert Gratis was nie, het hulle dalk nou nog daar gesit.

Van middagbrood af lyk die pad só lank dat daar op drastiese safari-maatreëls besluit word. Maar op Sanddrif lyk dit asof die tevergeefs was – die Bird het nog nie opgedaag nie.

Ewe gesellig lê ons dus maar en wag, totdat oom Pollie se seun die kos van die Bird af bring. Saam hiermee bring hy ook koerante, en vir die eerste keer hoor die BTK wat presies die aardbewing alles ingehou het.

Die gewag word hoe later hoe kouer en al hoe minder gesellig. Die kookvure maak ons wel van voor warm, maar van agter gaan dit maar sleg. Net na tien, toe die kos net gaar is, bring Tokkelokkie en Sam die Bird die kamp in. Ons slee nie dié aand nie, want dis te laat.

Donderdagoggend word die Wolfbergskeure uitgeklim. Die grootsheid en die bekoring van die skeure bly iets unieks. En wanneer Die Stem dan nog daarbo in die katedraalagtige saal gesing word, dan kon jy nie help om hoendervleis te kry nie.

Die middag verloop baie slap behalwe vir die stew-kokers, en die tjappies wat by oom Pollie gehaal moet word.

By die kampvuur die aand bars die items oor die kampvuur los. George McGregor laat die ‘army’ voor ons gestalte aanneem. Of hoe sê julle, julle dom, dik en difficult donkieees? Of P.J. van der Merwe?

In ‘n item val Thysie hom byna te pletter. Maretha is baie bekommerd, sy het gedink die val is so erg dat hy nie weer na die slee sal terugkom nie. Thysie voel dat so ‘n bekommernis definitief die eerste tekens van liefde is.

Nols en Gerda item ook, maar hulle is bietjie baie “dangerous” met die item. Later die aand kom klop Rudolf veel betekenend aan die verkeerde deur. Japie en Natie herhaal ook die vorige Sederberge se “Gaaits aantie!”

Vrydag word vroeg geroer om ver te stap, verby die Maltese Kruis na Algerië-bosboustasie. Die stap begin met ‘n vragmotorrit van 3½ myl. Vir die walaaiers beteken dit dat hulle ‘n uur-en-‘n -half laat wegtrek. Die natuurskoon en blomme maak dit ‘n onvergeetlike stap.

Vir Japie Williams is dit een van die groot dae in sy lewe. By middagbrood val die eer hom te beurt dat hy as Ridder van die Orde van die Knoop geslaan word. Ons beste wense aan hom en Dorie.

Die namiddag laat kom die eerstes in die kamp aan. Maar oor hulle aankoms hang ‘n donker wolk asook ‘n vraagteken. Hoe het hulle naamlik in die kamp aangekom? Met voete of met wiele? Dalk sal oom Tjaain op hierdie vrae kan antwoord.

Voor aandete word die kiste gewas. Hulle kom gouer as gewoonlik skoon – dalk omdat die wassery in die donker geskied.

By die kampvuur ontvang Uys Theron ‘n kondens vir sy liedjie, en George McGregor een vir die brandweerwa-item.

Nadat ons Saterdagoggend blikke geskuur het, neem ons vir eers afskeid van die Sederberge. Die toer eindig op ‘n ander noot as wat hy begin het – ons vertrek naamlik stiptelik op die bestemde tyd – uur.

Ja, ou broer dit was ‘n lekker toer. ‘n Toer wat die BTK nooit sal vergeet nie, ‘n toer waarin ons van die almal van God bewus geword het. Ons dank aan Hom wat ons op die toer bewaar het.

Koosie Delport
(Geskryf in die Sinodesaal(!)
vanaf sketsskryfster se
aantekeninge)

Leave a Reply