Donderdagmiddag, 3 April om 5.30 nm skommel twee vol BTK busse Birdstraat af. Volgens program is ons toe reeds ‘n uur en ‘n half op pad. In Robertson pak ons by die huis van Elmary se broer af en word met ‘n reuse pot sop en koffie begroet. Na ‘n groot ‘vuurpyl’ vertrek die twee busse weer en keer die dorp na sy rustigheid terug. In die bus heers nou die regte gemoedstemming vir ‘n slapie – dit word dan ook gedoen – sowel bo as onder die banke. Met die twaalf-uur tydsein vanaf die agterste sitplekke is almal wat nie doof is nie, wakker. Moet egter nie ‘n kloppende hoofpyn verduur nie – neem net ‘n aspro hoofpyntablet en ………………. aitsa! – dis weg. Die laaste ent pad word aan ‘n suwwe gehoor elke produk op die mark, met die nodige byklanke, bekend gestel. Moeg in gees, maar heelwat luidrugtig in gees begroet ons om half-een voormiddag Amalienstein. Na afsluiting word daar ietwat deur- en tussen die mis gou ‘n lêplekkie uitgeskop. Gedurende die nag sou dit blyk dat óf die dames óf Polla se “omgekrapte koei” wat toe ‘n bul uitdraai, gebied oortree het, of dalk net van die geriewe gebruik wou maak? Slegs ‘n kwessie van met die deur in die hok val – een geweldige slag en die ruïnes van ‘n eertydse spogwerk van die tente-komitee is al wat oorbly om die storie te vertel.
‘n Effens tamheid veroorsaak dat die spiere geensins wil ko-ordineer met die ‘opstaan!’ wekroep Vrydagoggend nie. Die manne stel die sakie gou-gou reg met ‘n beker koue water – veral die hulpvaardige Tokkelokkie en Jurgens – laasgenoemde is die onskuld self met Bybel in die hand toe sy beurt kom.
Na oggendbrood gaan almal kerk toe – met ‘n unieke kleurskema van binne-en-buite – dis nou die kerkie! Die kerkie het by die instap ‘n atmosfeer van sy eie – so vreedsaam dat selfs ‘n voëltjie dit veilig ag om ons vanaf die doopfont uit te kyk.
Die paadjie vanaf die kerk na die kamp gaan by die parsplek verby – party broeders het danig vinnig bekertjies te voorskyn gebring – hoe het hulle geweet die kerk en bar is langs mekaar?
Die middag spring die dames vervaard van hul beddens op toe twee bulle die skoner geslag aan die anderkant van die draad gewaar. Rooi by kakie is voorwaar ongelukkig – vinnige berekeninge oor die naaste boom en die hoogte van die laagste tak word gedoen.
Uys wys die ou manne hoe om in te grawe voor skiettyd. Die buro is amper werkloos.
Bok sluk by kampvuur ‘n karretjie in en Tannie Jurgens kry amper gryshare. Intussen het die eerste-toeriste se groentetuin grootliks aangekweek – dalk die vrugbare kampgrond? Estie leer op BTK die natuur liefkry, sou Coert nou ‘n natuurfrats of natuurverskynsel wees?
Die volgende oggend kon die perd toe net nie langer Maretha se ‘cosmetics’ weerstaan nie – die appels ook nie. Die ‘Coral Pienk’ lipstiffie vertoon toe tog te mooi, al het die spieëltjie dan ook gebreek. Met ‘n appel in die kies word in die pad geval en gestap tot by ‘Bergplaas’! Op die grasperk word die afkoelingsproses verhaas met water en toe met water. Paul en Cecile daag in ‘n motor op, die slotstap is darem te veeleisend! Appels, broodjies en tee laat die wêreld sommer nog mooier uitsien. Ongelukkig vir party was in sommige appels inwoners en nog meer ongelukkig vir ander dat hulle nou juis die teikens moes wees.
Gesels-gesels kom ons in die populierbos aan vir middagbrood. Daar leer oom Theo vir ons die vergete ‘pap-liedjie’ wat die oorspronklike komiteepan dan ook summier as hul panlied sien.
Vanaf die bos gaan die paadjie al met ‘n ‘luisie’ langs – een korter been sou die saak beslis vergemaklik het. Vanaf ‘n verbysterende hoogte word sonder veel moeite tot onder geskiet.
Met twee rye spore al deur die wingerde kom ons op Matjiesvlei af waar Dinkie se Sias ook net voor ‘n groot stofwolk stilgehou het. Dit blyk weer ‘n ‘bulperd’ van ‘n kamp te wees.
Die ingrawery die toer neem ernstige afmetings of opmetings aan. Bok spit met die graaf dat die kluite waai!
Feetjies en ‘n ontnugterde kabouter dra koffie en beskuit aan in die bed. Later die oggend lewer Johan Theron vir ons ‘n kort en kragtige boodskap onder ‘n koelteboom langs ‘n stroompie. Die universiteitskoorlede tree ook by die geleentheid op.
Heelwat later vind ‘n gebiedsverskuiwing plaas na die aangrensende vyebome en wingerdlande. Die omie stel dit heeltemal tot ons beskikking – “die een se dood is die ander se brood” geld ook hier. Die rustigheid van die okkasie word versteur deur pap druiwekorrels wat leer vlieg het.
‘n Bus wat rustig op die oorkantse oewer staan en herkou verstik byna van verbasing by die aanskoue van oprukkende stiervegters. Selfs Flippie se rooi hemp help nie en Neels verskaf toe maar die nodige aksie voor die blasende gevaarte sodat Stephan ‘n indrukwekkende snêppie kan kiek.
Die kookspan glo blykbaar dat die beste kok se naam’Honger’ is, en dit is toe ook so. Elsa-du-Lux is die enigste raad vir moë bene – plat op die rug.
George ontferm hom oor die koffie en beskuitjies – sonder die beskuitjies. Die res van die middag bring almal – met uitsondering van die haarsalon – in ‘n onderstebo perspektief deur. Die haarsalon is langs die rivier geleë en lewer ‘n buite-lug demonstrasie van hare-was. Mans sowel as dames is welkom.
Coert blaas die fluitjie ontydig en die eerste toeriste is so manhaftig om die dameskamp in te vaar, nogtans werk die buro oortyd.
Die kysformulier word met sleetyd met groot smaak voorgedra. Die dames sal dit plegtig “voor immer en immer” handhaaf. Ou Sias wil hom nog bedink met “solank het duren willen können.”
Bok en Elkje was met hekeltyd lelik benoud want hulle het onder die belt getrap en elke keer weer daar geeindig.
Die gekysdes vertoef ietwat lank in die pastorie en die versaakte sleemaats is verplig en gaan hulle opeis. Hoekom is Coert se mond dan so rooi, is die Estie of dalk die perd met die Coral Pienk lippe?
Maandag breek helder blou aan. Coert mors geen asem nie – die “opstaan, tente-val, swart-soet, wit-bitter kom queue en bagasie”-roep, loop aaneen. Die dames moet net spring, óf hulle bagasie die dag self dra. Sias en Dinkie vertrek op hulle ‘kysmoon’ en Estie slaag daarin om Dinkie se kousband raak te duik. Die Gamkasrivier is om elke draai opnuut mooi met sy kronkels en kranse. Die vorige week het die rivier afgekom en ‘n nagedagtenis gelaat in die vorm van ‘n modder-klei wat ‘n vinnige hulpmiddel vorentoe is, indien daarop getrap word, en soms ‘n verrassinkie lewer as dit onder ‘n sandlagie gekamoefleer is. Op die dorre vlakte groei pragtige Ceylonsrose – is dit dalk die rede agter die herhaalde verskynsel van roei-soet in die slee?
Met middagbrood steek ‘n lelike ding sy kop uit en blaas stof en sand uit volle mag aan. Die middagbrode spring die keer die blaam van sandbroodjies vry.
Al singende gly die pad onder ons voete deur – die pas word aansienlik verhaas vanaf die agterhoedes met behulp van bessies wat seer kan tref.
Teen “smoke-break” smoke ons omtrent warm dampe uit, en nie te lank daarna nie stap ons die ‘Siool’ soos die Hel van nou heet, binne. Die bottelverskansing voor die eerste huis laat onwillekeurig aan Nuwejaar se dae terugdink.
Die Bird se aangesig was lanklaas so mooi soos dié middag. Voetseer, het dit vir ons gelyk asof die koppie waaronder die kamp lê in dieselfde rigting as ons stap.
Die watervoorraad is beperk. Die dames mag darem uit blikke was. Bok los die manne se probleem op deur aan die hand te doen dat hulle in die lug spoeg en daaronder shower.
‘n Gerug doen die rondte dat dit damesskiet is en die blikke ratel die hoogtetjie uit. Al die goed ge-organiseerde ingrawery ly skipbreuk toe die manne hulle almal na die sleeplek onttrek. Die dames lyk baie dapper en vasberade waar aanporring van die kokke help darem. Ma Retha en Retief ontgeld dit albei en toe die fluitjie blaas kry die fikste dame voorkeur.
Die eerste toeriste ontpop ewe skielik in eersteklas toneelspelers maar dit versag nogtans nie die omstandighede nie. Hulle besef dan ook dat die trappe van vergelyking van terror in terro-ris en eerste-toeris oorgaan. Dit sal steeds as ‘n ‘sioolse’ wraak onthou word – dit was bitter en ook ‘doepa-soet’.
Vroeg-oggend bring die tente-komitee vreeslik ywerig bymekaar sodat hulle ‘n ogie oor die volunteers se werk kan hou. Met die inslaan van die laaste tentpen, val ook die laaste druppel reën.
Half-drie voormiddag heers daar ‘n redelike stilte behalwe vir ‘n paar donkies wat verseg om in hul slaapsakke te klim.
Dinsdag en oorstaandag. Amper ook oorslaandag wat oggendbrood betref. Na oggendbrood bestyg ons die ‘bird’ vir ‘n kop hoog deur die takke rit- en meesal doringtakke. Amper eindig dit rampspoedig toe Johan Muller ‘n geskende gesig opdoen deur ‘n uiters gepoetste tak wat hom net lelik in die gesig vat. Met die wilde ‘siooling’ van die wa het die een wa-reling ook laat los. ‘n Ge-organiseerde oorlaaiery verskaf aan party ‘n sitplek terwyl ander ‘n sitposisie in die lug inneem.
Aan die einde van die paadjie loop party in die klofie op, ander al om die huisie en die res drink ywerig water onder die vyeboom met die snaakse verskynsel van vyeskille wat in die stroompie afdryf.
Die terug-reis verloop voorspoedig – ‘tone’ moet nogtans ywerig aand ie werk spring, vir bloukolle het hulle geen medisyne nie.
Na middagbrood steek net hier en daar ‘n neus onder ‘n kombers uit. Estie, Elkje, Sias en Hoffie neem amper geruisloos afskeid. Al die geliefdes daarby betrokke volg hulle tog die pas uit met die verkyker. Willem staan en kyk maar vir Hoffie – hy moet ook darem ‘n geliefde hê.
‘n Storm trek letterlik los toe die stew net gaar is. Die damestent dreig om op sy fondamente te dryf – maar die tente komitee red die situasie deur iets wat aan ‘n donga grens, rondom te grawe.
‘n Uiters chaotiese rusversteurende lampeslee, waarin slee mus-gryp hoogty vier, vind die aand plaas. Oom Theo speel knock-knock met Elmary. “El-mar-rie-tee is warm!” Uit die telefoongesprekke sou dit toe blyk dat ouma dood is van musiek op die brein – maar wat van die arme klavier?
Woensdag blyk toe ‘n ‘klaargereënde’ dag te wees. Daar word volunteers vereis om te “queue vir nog stew”.
Die dames ad-hocce ondergaan ook ‘n verandering van lang-vlak na kort-diep? Almal is blykbaar haastig.
Coert draf so ‘n styl bergie uit – selfs die bird moet ‘n “smoke-break” neem, maar die ander maak dit darem so stew-stew tot bo. ‘n Entjie verder kom Hendrik en Johan verkeerde kant toe aangestap. Ons sou toe die treurige tyding verneem dat die wa sy ‘bearings’ geslaan en sommer gaan staan het. By die wa aangekom dink almal aan hulle reënjasse diep in die toksakke, toe die weer begin dreun. Gou-gou was ons waternat, oom Theo sê darem as hy Bok van agter sien “I take heart again.”
Die sonnetjie protesteer so floutjies met middagbrood, dit keer darem dat die ‘floppies’ in ‘sloppies’ verander.
Twee myl verder “in donkergroen dennwoud” word ‘n reuse vuur van dennebolle gestook en ‘n groot ‘dry-in’ gehou. Die yellow-bird maak sy opwagting in al sy blink glorie.
Die wolke is geensins suinig nie en binne in die tente is dit amper natter as buite.
Die manne kom in die damestent sing. Hulle is egter heeltemal allergies vir “het gewonen in den silveren vloot” en moet tot vyftig keer probeer om by die punt verby te kom.
Met lampeslee het Theo, die langste plathond van die BTK geskiedenis, maar gesukkel om plat te bly, en Jackie (Willem) was nog nie behoorlik bo die belt gehap nie – toe skop hy al bene in die lug. Telefoonoproepe hou die plaaslyne druk besig – ook die wat inluister.
Donderdagoggend half-tien met oggendbrood hoor ons dis ‘n oorstaandag. Die arme bird is heeltemal ‘blue’! Die hoofmaaltyd word vir die middag gekook, waar die manne besig is om weg te kwyn. Bok trap nie oor die tou nie, maar oor die wors, die worsspringery verskaf hom sy “early morning excersises.”
‘n Uitstappie word gereël maar ‘n skielike reënvlaag verminder die getal entoesiaste tot omtrent sewe. Coert verleen grasie aan die kokke nadat hulle hewig teen skiettyd met middagete geprotesteer het. Half-vier is die panne leeggekrap – die afwesigheid van panpoedings word erg betreur maar die kaai van kondensies, vergoed vir enige poeding verlies.
‘n Baie ‘toe’ bird van Stellenbosch het opgedaag – dit grens meer aan ‘n Duens broodwa. Daar is selfs twee vertrekke – een vir die rolletjies en een vir die bolletjies.
Die ‘geen-sleepille’ pleidooi val op dowe ore en die dames knoop onge-erg ‘n geselsie met hulle slagoffers aan. Die kompetisie is egter straf en die spanning laai hoog – g’n wonder dus dat Polla se piesang lieflik paw-paw toe Coert die fluitjie blaas nie.
Dis heerlik om weer buite te slee – die army vertrap die boswêreld om die kampvuur en Jurgens word met sy 22½ste verjaardag geserenade.
Vrydagoggend word nog in die donker opgestaan. ‘Opstaan!’ het nog skaars weggesterf of die tente-maniake storm al aan. Die manne word darem gerusgestel dat hulle s’n oor so ‘n kwartier val. ‘n Groepfoto word geneem voordat ons in die pad val. Sommige probeer dassie-dassie teen die gladde klip speel – maar slaag nie.
Teen die pas wat ingesit word, lyk dit al of ons die verlore stappie van die vorige dag sowel as dié dag s’n tot by die Grotte voor middagbrood gaan maak. “Smoke-break” is darem gehou nadat daar so ‘n flou suggie van die slotte se kant gekom het. Vanaf die Otto du Plessis pas spoed ons tot bo-op die Swartbergpas vanwaar die uitsig al die stap dubbel werd was. Half-pad teen die berg af is middagbrood gehou en daar het die ‘broodwa’ ons kom oplaai om Grotte toe te vervoer. Die kattebak-passasiers klop hulself op die skouer oor die fantastiese uitsig wat deur die oop deure te sien is. Ongelukkig kom daar toe stof tussen hulle en die uitsig – daar was darem ‘n plekkie om ‘n naam op hulle te skryf toe hulle by die Grotte maar taamlik vaal om die kiewe daar uit sien.
‘n Uur se wag vir ‘n gids, is in die restaurant deurgebring, met so dan en wan ‘n brul tussen-in. Met ‘n “skuimpie anderhalf duimpie” veilig weggebêre, sak ons in die Grotte af. ‘Engel’ se vlerk sit toe glad teen die dak vas en Maroeti Bok betreur die familiebybel wat so toe onder die stof lê. Bok herken dadelik een beroemde gesig as dié van dr H B Thom met ‘n pruik op. Die ‘drie grotes’ vind toe geen haakplek by die ‘skoorsteen’ nie en ‘Lnag Theo’ was al bo-uit toe staan sy voete nog onder. Die Grotte lewer behalwe ‘African Mirror’ tromme ook nog donkies en honde op.
Ons kamp die aand by Schoemanspoort. Die wasgeriewe is weer luuks en die BTK tan is toe heel weg na ‘n herverskyning uit die badkamers.
Blink van skoonheid en skoongeid vaar ons tussen die blikke en kiste in om hulle dieselfde behandeling te gee en weer hulle voorkoms aan te neem.
Tien oor elf queue die mense aandete, oftewel middernagfees. Polla en Stoffie moet uit hul beddens gewek word vir die pan – nadat aan die opvallende stilte die afwesigheid bespeur is.
Die kookvuur dien sommer as kampvuur en daar word vroeg-vroeg gaan slaap – die oggend. Vanaf iewers weerklink daar om half-drie ‘n serenade vir die wat met oop ore slaap.
Saterdagoggend word haastig gepak. George speel Jood en geld vir reeds vergete panpoedings word ge-eis.
Die vorige nag het egter nie ongebeurtenisvol verbygegaan nie. Bettie se oë blink ewe veel as die ring op die een vinger. Christof verjaar toe ook ontydig om deel te hê aan die ‘quequery’! Hoe almal in een bus gekom het, is ‘n raaisel. Elmary se gasvrye familie onthaal ons op Calitzdorp met ‘n tuinparty wat die toer net die nodige ‘soet nasmakie’ afronding gee. St’Bosch verwelkom ons met koue nat weer. Maar wie voel dit nou?, die nat is mos al deel van ons.
Ja, ou broer, dit was voorwaar ‘n lekker toer!
Gina Steinmann
Bettie Fourie
(vir Sketsskryfster)