Donderdag, 28 November: Die bus vertrek met 60 eksamenmoeë BTKaners na Steenbrasriviermond, want gala-tyd het uiteindelik weer aangebreek. Van Steenbrasrivier stap ons tot by Koelbaai en word daar begroet deur ‘n sterk wind wat die kostentopslaners baie moeilike tye laat belewe. Die kokke het dié aand ook maar gehoes en geproes om die vure.
Tydens pantyd gee Dan se “illium” moeilikheid, veral toe dit in die pan lê. Die onopgeloste vraagstuk is of ‘n illium manlik of vroulik is.
Vrydag het die son lekker gebak met opstaantyd. Ons stap padlangs tot by Rooi-els en hou ‘n “smoke-break” daar, grootliks vanweë die feit dat Johan Maccie ‘n fragiele vierde toon opgedoen het.
Daar moes egter deur die Rooi See by Rooi-els gewaad word. Party is droogvoets deur (egter op ‘n ander wyse as die ou Israeliete) en ander minder droog.
Hierna stap ons met ‘n grondpad en beweeg darem vorentoe alhoewel mens twee keer oor dieselfde klip moes trap om verby te kom.
Ons hou middagbrood tussen ‘n tannie van die plaas se plantjies en kom ook tot die besluit dat haar hond ‘n kruis tussen ‘n “bulldog” en ‘n vark moet wees.
Was ooit so ‘n stem so welkom en ‘n gesig so mooi soos ons Tokkelokkie s’n toe hy ons met die Bird kom haal het voor die Cascades.
By die kampvuur los Polla haar “mistige” probleme op deur dit kunsmis te noem. En Mimmie was ‘n baie mooi pô-pô en Thysie ‘n groot pampoen.
Saterdag is ons Kleinmond toe met die Bird en sak soos gewoonlik eers die eetplekke toe – asof die BTKaners altyd honger ly!
Die arme houthalers het so warm gekry dat hulle maar die wurms trotseer het deur saam met hulle te swem, en dit kaalvoet – nie die wurms nie.
Na middagete is omtrent almal kuil toe om te gaan swem en speel naderhand verdediging met ‘n bierblikkie – ‘n leë een. Peet en Riana het net voor swemtyd opgedaag, en die stilte van die kamp was vir goed versteur. Riana het egter weer die aand uitgeblink met haar berugte Sabie-Manieps se papegaai-“item”. Sy het ongelukkig haar een woord vergeet.
‘n Groepie koorlede daag op en Coert en Rhona slee weer van vooraf, nie met mekaar nie.
Sondag was almal op voor die feëtjies hulle opwagting gemaak het. Die hitte het ons uitgedryf en die koue storte was verfrissend.
Terwyl Coert met sy fluitjie kerkklok speel, probeer almal hulle mooimaak vir kerk op Kleinmond. Ge-die en ge-daai, ge-koller en getaai bestyg ons uiteindelik die Bird. Maar ons moeite ten spyt – toe ons voor die kerk by ‘n tannie verbyry laat sy hoor: “Wragtig, gaan hulle tog nie só kerk toe nie?”
Die diens word ‘n aaneenskakeling van sangsolo’s, bekfluitjies, en jaagduiwels wat met slaapduiwels baklei, terwyl die studente met maatstokke gate deur die aarde druk dat hy soos ‘n sif lyk, nou wetende hoekom al die Bolandse berge so platgetrap is.
Thysie het blykbaar gevoel dat hy betaling benodig het vir die moeisame taak om ‘n uur lank wakker te bly, en gooi ‘n randnoot in die kollektebordjie – hy het egter so lank kleingeld uitgehaal dat ons wonder of die “fair exchange no robbery” was met die voordeel aan sy kant. Die koeldrank by ds Du Plessis-hulle na die tyd was ‘n lafenis op dié warm dag.
Met die terugreis het Tokkelokkie blykbaar besluit om die las van die duiwels te verlig en self jaagduiwel te wees. Sjoe! Allerhande duiwels steek egter nou kop uit – die ergste seker die hitte-duiwel in die damestent.
Na ete het ons weer langs die see gaan stap na ‘n sleep-resies teen die sandduin af. Tokkelokkie het egter intussen moeilikheid opgetel deur sy toon met ‘n tentpen te laat kennis maak.
Polla se “soft spots” was nie voldoende tydens sleetyd nie, en sy het baie gekla oor die harde sit.
Maandagoggend weer Kleinmond toe, dié keer te voet. Oom Bethel sê nadat Polla daar was, is dié rustige stranddorpie herdoop na Grootmond.
Op Hawston aangekom was daar tot groot verdriet geen meebos om ons te verwelkom nie, maar wel ander lekkernye en “Sonbrilletjies” en “Yummy, yummy, yummy”. Wie het nou ooit gedink oom Bethel kan voordanser wees.
Die kampplek op Onrustrivier was net die regte plek vir die wraak wat moes kom. Die blikwassers kom haal dié aand die panne sonder teëstribbeling en met vrees in hulle harte. Geoffrey het egter gedink hy kan wegkom om die kostent maar na ‘n pan se gil: “Geoffrey waar sneak jy heen?” moes hy maar te vooskyn kom.
Snaaks, maar ‘n mens het die hele aand ‘n sagte huilerige refrein gehoor: “Ek wonder wat my hinder, daar’s onrus in my hart…………..”
Wraakitems het na ete gevolg en weens die afsterwe van Thysie kon die eerste item nie voltooi word nie. Ma Erica ontwaak en ‘n Spieëltjie, spieëltjie aan die tak, wie’s die mooiste op die rak?” volg.
Oor die res van die aand word ‘n sluier getrek, ook oor party van die oorlewende eerste toeriste.
Dinsdag se inval in Hermanus was welbekend en die melkery en bakkery moes net regstaan. Dié aand moes twee kokke naamlik Stoffie en Susan blikke was vanweë die ryloop-duiwel wat weer kop uitgesteek het.
Volgens Susan moes ‘n mens sleepille op ‘n man se stert gooi om hom te vang, maar die manne antwoord net “Dis die blos van onskuld op die wang, wat die hart van die minnaars vang.”
Op al die rympies uit die boekie het die aangesprokenes gewoonlik net laat hoor: “Die antwoord is ja.” Cleopatra het gelyk asof sy met die helm gebore is, maar ten spyte daarvan moes Mark Anthony uitroep: “Cleopatra (snuif) what have thou done?” Laataand is wors om die vuur gebraai, koffie gedrink en tot in die vroeë môre ure gesit en gesels.
Woensdag is die dames wreed gewek deur manne met water aangesien hulle nog nie mooi wakker was op “the morning after the night before” nie.
Almal gaan later per Bird by Grotto Beach swem, en speel sagtebal op die strand en bakleibal in die water. Erica was egter meer onder die water as bo.
Middagbrood was welkom na al die oefening en heerlike dik bonesop het ons by die kamp begroet. Tokkelokkie-hulle met ‘n tuisvervaardigde bootjie kon vinnig windaf seil alhoewel hulle eintlik in die ander rigting wou vaar. Toe hulle egter die boot wou omdraai om terug te kom, was hulle rigting nog steeds dieselfde. Die ongelukkige lede van die bemanning word toe op ‘n eiland afgelaai en moes deur die ‘spira-jira’ terugworstel.
Na navrae word uitgevind dat Maccie sy stookbroek bo oopgeknoop los omdat dit sy bors groter laat lyk. Die sleëry is baie lewendig en Maccie en Tokkelokkie laat Fiefie die vlooi net lelik bontspring nadat hy eenkeer in die gehoor weggeraak het. Dis nou nog twyfelagtig of hulle die regte een herwin het. Oom Bethel tjop ook af en moet die warmplek op ‘n driewiel binnery.
Donderdagoggend is in die halfdonker opgestaan om springgety mis te sneak. Dit was toegetrek en bitter vroeg. Die tente-komitee was vreeslik teleurgesteld toe hulle die damestent bestorm en geen slagoffers kry nie.
Agtuur val ons in die pad en stap heerlik op die harde sand langs die see. Met behulp van die bal trek of hardloop die voorstes ver vooruit en die ander moet net uithaal om by te kom.
Langs die weg lê ‘n seeleeu en Coert verneem van hom “What have thou done?” By “Die Paradys”, ‘smoke-break’ kiek Dan die S.O.D.’s en ‘n Harmonie groepfoto.
Na nog ‘n “smoke-break” en swaar ploeg deur die sandpaaie laat net die gedagte aan ‘n hotel om die draai (elke draai) ons volhard, en uiteindelik loop ons dié einddoel storm. Ons hou by Die Kelders middagbrood en swem in ‘n bootjie.
Naastenby twintig groepfoto’s word by die trap geneem en Polla is bevrees sy sal klem in die kaak kry van al die “smile”.
Grootskaalse onderhandse sneakery met duimgooi na middagbrood werf vir die blikwassers baie helpers. By Gansbaai word tjappies gekry en die tannie by die kafee kry dit kortagter met die bediening van 3c “ice-suckers”.
Ons stap deur Franskraal en kom uitgeput op Uilkraalsmond aan. Die wa-ryery het goed gegaan, veral nadat die insittendes en uit-sittendes die nodige “rus” by Stanford gehad het. Dan word net wild met die kamera, veral in die dameskamp. ‘n Mens moes net koes om hom te ontduik.
Die wasgeriewe is nie meer wat dit was nie, en die skoon dames is slegs te danke aan die onoortreflike spansamewerking by die storte.
Ons sing voor die tyd om die kookvuur en klim ¼ voor elf in die slees. Dis volmaan – agter die wolke. Die Wilgenhoffers naamlik Dan, Neil en Deon moes hulle eer herstel nadat Sias en sy harem vir Deon ge”bekfluitjie” het. Die resultaat was ‘n wrak van ‘n slee. Met die Napoleon-item kry die arme niksvermoedende Martin ‘n goeie stortbad.
Vrydag: Die son wek ons in ons kooie en die oggendbroders wek die lappie-side van die kamp. Hulle boet onder die krane. Dit was een hittige dag. Die dames se Noord- en Suid-rugbyspanne begin al spangees opbou vir die middag se kragmeting dat die sandduine antwoord gee. Ons gaan daarna af see toe om af te koel.
Op die sand word Stellenbosch herbou. Voor Wilgenhof word ‘n paar meisies gevang omrede ‘n woord wat hulle te vrylik gebruik en maak kennis met die seewater.
Die BTKaners onderneem ook ‘n daguitstappie na Simonsberg. Party slaag daarin om vir oulaas die gala”tan” te handhaaf desnieteenstaande die stryd om nie begrawe te word onder die aankomende sandvlae nie.
By middagbrood laai die spanning van die rugbywedstryd reeds baie hoog op, en dis die onderwerp van die etensuur. Direk na middagbrood sit die twee spanne gewapen tot die tand af strand toe. Die spanne en toeskouers is so ywerig dat hulle sonder skroom die grag rondom die rugbystadion deurstap alhoewel die water reeds tot die hals reik.
Na heelwat organisasie, fotonemery en tamboernooientjie-optogte draf die twee spanne op die veld. Die wedstryd was uiters aanskoulik en party ou veterane sou seker op hul neus gekyk het by die aanskoue daarvan. Die Suide draf toe skoon weg met die spel en wen 9 – 0.
Die manne se Noord- en Suidspanne hoef toe geensins vir die dames agteruit te staan nie, en die Noordspan bou ‘n Telling van 12 – 3 op.
Met skiettyd grawe die mans hulle deeglik in, veral ou Neil aan wie die volgende van Maccie, Sias en Natie oorgedra word: “Eenie, meanie, mynie mo. Bettie, Biffie yes or no?”
Die meisies kla dat hulle “soft spots” deurgesit is. Coert slaan egter min ag op die “konsternasie op die stasie, en die fluitjie willie blaas nie!” Tokkelokkie en Thysie daag met ons bus op net betyds vir skiettyd. Eindelik blaas die fluitjie toe die kos dreig om van die droogkookstadium oor te gaan na die brandstadium.
Die kondensie gaan aan Sias, Maccie en Tokkelokkie vir die beste items. Vir oulaas item hulle dan een uit die boonste rakke. Die probleem blyk toe te wees dat Maccie se nek te groot, of sy boordjie te nou is.
Die gebruiklike afskeid van die laaste toeriste volg en menige BTKaner se hart voel loodswaar. Trouens die hele atmosfeer dié aand was een van groot hartseer.
Baie sleërs slee deur, dalk die rugby wat so uitputtend was, party selfs sonder hulle sleemaatjies.
Saterdag: Die wolke hang swaar oor ons koppe toe ons opstaan. Dis stof tot groot dankbaarheid – die groot skrop geskied darem toe in die koelte.
Ons neem afskeid van die ou toeriste na blikwas. Met swaar harte en vol gemoedere klim een klompie op die wa en die ander op die bus. By Gansbaai drink ons koffie en koeldrank by ds Louw en vertrek daarvandaan in ‘n baie ligter luim.
Ons sing ons kele droog tot op Stellenbosch. Van slaap is daar geen sprake nie, die arme deursleëry moet maar hul oë oopgesper hou; die WAH-duiwels op die bus kyk wie se stembande die beste ontwikkel is.
Van Koos van der Merwe alias Thysie: “Dit was voorwaar een seer genietlike toer vriende en kennisse des te meer die rede ons nie een aand onder die seiledak beskutting op te soek hoef te het nie.”
Marietjie Heyns
(Sketsskryfster)
Gina Steinmann &
Bettie Fourie