Sederberge April 1965

Brood vorm so ‘n intergrale deel van ‘n BT-Kaner se dieet – so het ons nog aan die begin van die toer gedink – dat niemand juis omgegee het om so laat Donderdagmiddag te vertrek weens die oponthoud by die bakkery nie. Andries het minder gelukkig gevoel om die toer sonder skoene aan te pak.

Laataand word ons bo-op die Pakhuispas begroet deur rye groen tente onder die nat dennebome en ‘n paar druipstert vragmotorryers wat moes ontdek dat dit meer moeite kos om die water onder ‘n seil uit te skep as om dit sonder ‘n seil van jou lyf af weg te hou.

Voorheen het Marianne Nienaber maar soos almal van die vullisgat gepraat, maar na slegs een toer se kok-ondervinding merk sy nou op dat die kosgat gegrawe word.

Die tente blyk groen olifante te wees totdat die eerste reëntjie Vrydagoggend tydens die uitstappie na Leipoldt se graf begin uitsak. Terwyl ons gedwee voetslaan, moet ons sien hoe ‘n hoender op ‘n fiets verbyry. Eben se vertrek terug Stellenbosch toe met die bus beteken hoegenaamd nie dat ons laaste skakel met die beskawing verbreek is nie, want toe die eerste kerkfluitjie blaas, raak ons uiters bewus van die oorbeskawing wat uit die kamp van ons buurkampeerders ons tegemoet blêr. Op uitnodiging kom help hulle ons saam sing teen ds Andrag en beloon ons daarvoor met ‘n kreef. Terwyl ons die namiddag koulik met dennepitjies om ‘n vuurtjie deurbring, swaai Tarzan langsaan in sy swembroekie aan die bome rond.

Die baie nuwe kokke kry tog die kos gaar nadat Japie seker gemaak het dat sy effens klein kookbroek nie ‘n damesbroek kon wees nie. Die skietburo werk oortyd. Johan van Wyk gesels rustig voort nadat die fluitjie geblaas het – amper so erg soos Louisa wat verontwaardig vir Dieter nee sê toe hy haar skiet.

Tydens lampslee moet Lulu ontdek dat haar paaseier ‘n paaskoekie geword het. Stoffie se Royal-blik sleepille verdwyn uit sy en Koos se dwars slee. men Fifi dat hulle private ACVV in die “main straight” van Killarney lê. Daarop trek die twee die deur toe en bly stil.

Nadat dit so opgeklaar het dat ons buite onder sterlig kon afsluit, gaan slaap ‘n paar dames met hulle koppe kurkdroog onder ‘n boomstomp en die res tot hulle verbasing Saterdagoggend sopnat.

Met fraai klein 5/8 reënjassies en ‘n stomp Tone-skêr begaan ons ‘n misstap na die soetklinkende Heuningvlei en sy bitter steil en asemrowende (dit wil sê uitputtende en pragtige) Krakadouw. Dawie en Retha is daarvan oortuig dat ‘n mens die beste kuns-misfoto’s agter die slotte kan neem. Bernhard (Scheffler) neem dertig foto’s dat dit kraak in die dou op die Krakadouw.

In die donker aand kruip die Greenbird onder Ben se hand agter Pieter le Roux se flits aan soos ‘n vlieg teen ‘n muur af na Wuppterthal. Terwyl ons nesskop tussen die dennenaalde moet Johan en Bennie en Flip en Elsa eiehandig ons groentebestelling uit die grond gaan trek en aandra.

Onder misverstand besorg Bernhard vir Elmien Spies ‘n tweede skiet en in haar geveg om selfbenoud gaan klim sy in die slee met die uitverkore held terwyl Bernhard die hele bestuur in rep en roer het oor haar verdwyning uit die kamp. Tussen die klippe en bome van die Sederberge speel ‘n magtige drama hom af toe die Draak en die Held mekaar in die kampvuurarena ontmoet.

Met die 16 vaste kyse en die paar losses van hierdie toer gaan dit uitstekend. ‘n Snorkende Paul word in sy slee opgemerk; Marie Wietz nie wat om te sê as sy gehekel word nie, en Japie se bietske is alles behalwe surema. Dit skep egter ook dikwels groot skietprobleme, soos blyk uit die feit dat Johan van der Merwe self in sy eie skietburo kan beland.

Elke dag op Wupperthal is Sondag; maar te meer was ons bewus van die feit van die Opstandingsdag toe die helder tone van die blaasorkes in die vroeë oggend deur die vallei tot ons aangesweef kom. Ná ‘n voormiddagete van krummelpap word die pragtige omgewing verken of herbesoek, maar ‘n paar luiaards, soos die digter Stofjas dit stel:
“…………… wil nie saam loop
hulle stap net saam kerk toe
om te kyk na die doop.
Die vlieë was lastig,
die bank het gekraak;
die ete was laat, maar
het lekker gesmaak.”

Halfses se koeldrank dien sommer as skietgeleentheid. Hoe skrik Johan nie vir die onverwagse besoeker wat saam met hulle in Henry se tent kom koeldrank drink nie! Aandete is so iets in die vorm van sop in die slee en brood in die bed. Andreas kry die onmoontlike reg en wen die uitkenningsparade. Die vraag is nou of sy gids self altyd reg was.

Nadat Hans soos op elke toer nog steeds vergeefs die verskil tussen rolletjies en bolletjies probeer duidelik maak het, begin ons elkeen met ‘n groen lemoen in die sak stap aan die 21 myl. Die geheim van die klonkie se kreunende streepsak word opgelos toe die varksnoetjie te voorskyn kom. ‘n Grommende tier bespring vir Tildeke sodat sy hierdie eerste keer nog net amper flou word van skrik. Na die hele voormiddag se soektog na die paadjie deur die bosse en ook na die poele van Crystal Pool besluit Almero om alle gappe toe te hou toe ons uiteindelik op ‘n breë nasionale pad beland.

Met ‘n vroeë aandete van bymekaargeskraapte kwepers, pepermente, brood en glukose voel die lekker kêrels dat hulle ten spyte van die toenemende koue nog lank sal lewe in hulle harem, en word die laaste paar myl in die donker aangedurf na Welbedacht waar ons wel gedag het om die vragmotor te kry.

Aanvanklik sorg die “gallery” in die skuur nog vir ‘n program, en Piet word aan die stowwerige balke ryp, maar die gees sterf gou van koue en honger. Bennie suig so lank hy nog kan, maar nie dit en ook nie die swart bitter koffie kan die rook en koue uitdryf nie. Uit pure moedeloosheid open Almero en Stoffie maar die baan buite. Bernhard se moeë brein tower ‘n morbiede visioen op van tagtig mense wat weens gebrek aan suurstof op ‘n hoop in ‘n skuur doodgegaan het. Dis donker, donker middernag en ons is moeg en koud gewag. Deur ‘n vaal reënsluier merk ons op daardie oomblik die ligte van die naderende vragmotor. Klokslag om 1.15vm eet ons alweer brood.

Dit neem die tente-komitee heelwat langer om tot die opslaan van ‘n tent oor te gaan as wat dit die dames geneem het om uit te vind dat hulle net nie almal in die skuur kan inpas nie. Ná baie versoeke en dreigemente oor en weer van die een slaapsaal na die ander geslinger is, staan die tent tog bollend en kreunend in die loeiende stormwind en besorg aan ‘n tiental dames ‘n veelbewoë nagrussie totdat die papkokers ‘n skrale 3½ uur later met hulle sopkokery begin. Vir aandete is daar sop, pap en brood. Soos die liggaamskragte afneem, so neem die vleishonger toe. Ons vrees dat die sterkes die swakkes gaan begin opeet. Driesie se lewenskrag is boonop gedurende die nag uit hom uitgesuig deur 24 varkvlooie. Heeldag stap ons maar so honger deur die reën: liewers geen middagbrood as brood! Die meeste mense stap maar kaalvoet deur die rivier. So swem daar ook Ikeys ‘n entjie hoër op. Toe al die tente net mooi staan by Dwarsrivier, klaar die weer op, en nou begin die appelfees wat na die end van die toer nog byna sou oorgaan in ‘n appelvrees.

Ten spyte van die grusame verskyning van die draak Wrakasia sing die eerste toeriste nog moedig: “Ons het geen groot vrees nie.” In die nanag is dit Stoffie en Almero se serenade wat slegs die verontwaardigde reaksie van ‘n enkele ou damestoeris ontlok.

Die mense wat Woensdagoggend nie flink vuit die dou is nie, kry koffie in die bed. Dwarsrivier se berugte alles behalwe vars rivier dwing Werner en sy waterdraers daartoe om ‘n hele paar daguitstappies binne die toer in te pas. Guillaume voel as oud-waterdraer so sleg daaroor dat oggendbrood die kosbare water op slapende manne vermors dat hy sommer begin tentpenne uitruk. Hans het nog nooit op BTK misbruik gemaak van water nie, dus is dit te verstane dat toe hy by toontjiesdokters sy sokkie uittrek, hy haastig besluit om maar self sy voet reg te sien.

Op pad na die grotte skrik Tillie so groot vir ‘n slang dat sy flou neerval en Stoffie en Almero vir die eerste keer op die toer tot die erns van die lewe teruggeruk word. Gelukkig laat haar lagspiere haar gou weer bykom.

Aan die regterkantse Boesmantekeninge is dit duidelik dat ‘n paar van die Boesmans al hulle name kon skryf. Dis dus nie só onverstaanbaar dat hulle al draad ook gehad het om hulle huis mee af te kamp nie. Aan al die bokkies wat daar rondlê, lyk dit of hulle elke aand geslee het. Die orige vier myl na die Stadsaalgrot stap ons binne 20 minute.

Terwyl die “stew” al van drie-uur af op die vuur staan, verdwyn die manne stilletjies en groei die lysie van antiseptika aan die boom voor die kostent stadig maar seker aan. Afgesien van ‘n afkop-spyker of wat, is die “stew” heerlik, en daarna kan die pastorie-slee met die beste wil in die wêreld net nie ingepas kom nie. Tot Rula se siddering daag Eben op om te sien hoe sy sussie te gronde gaan. Die eerste toeriste-items skitter soos die koue, wraaklustige sterre van die Aprilnag. Die spanning laai op: Koos wil ‘n draai loop, maar Hanien “knows where he’s going”, en in haar opgewondenheid skop sy die arme onskuldige Ockie bloedneus.

Donderdagoggend word so traag begin in die lieflike sonskyn dat oom Theo ons die kamp uit Wolfberg toe moet jaag. Dawie en Ilse het vermoedelik resepte vir gestoofde appels bespreek en beland (soos sy ou streek maar is) weer agter die slotte.

Heerlik klim ons die Wolfberg om eindelik stomgeslaan en nietig onder die gewelf van die Katedraalgrot te staan in ‘n vreemde onaardse gloed wat êrens deur geel katedraalvensters insypel. Dan wurm ons verder deur die nou, donker skeur, en op ons rug deur die 90-gaatjie. Asof dit nie genoeg is nie, word daar bo nog onderdeur ‘n groot plat klip geseil. Hier ontdek Carlo tot sy vreugde dat sy bors breër as sy sitvlak is, en Etienne dat ‘n Engelsman in elk geval te dik vir sulke dinge is. Piet le Roux dop sy oë om soos die wolf van Wolfberg en vroulike gille van afgryse skeur die lug.

Die Boog ontwyk ons steeds soos ‘n verskuiwende gesigseinder maar as ons eindelik voor hom staan, word dit ‘n triomfboog, “‘n simbool van die krag, vuur en deursettingsvermoë van die Afrikanerdom. Ja, broeders en susters, landgenote, dit is ‘n groot boog, dis ‘n groot dag, en twee groot manne wat daar staan”, maar moet saam met Hans nie die “groot bek” miskyk nie. Aan die einde van die plegtigheid ter onthulling van die klip wat Stoffie in sy rugsak berg-op gedra het, het hy en Almero hulle tweeledige kenwysie van “Ons is lekker kêrels” en “Akkedissie tietamdie” uit volle bors aan.

Dié wat eerste onder is na die klipperige gly-gly-klofie, haal die vragmotor na Kromrivier. Na nog ‘n laat slee en komitee-items wat natuurlik deur Tente gewen is omdat hulle die fiksste komitee van die toer is, gaan die tentslaapsters nog ‘n winderige nag tegemoet. Toe die tent begin sweef, ontferm Driesie hom liefderyk oor hulle en verrig die dowe tente-komitee se werk.

Met ‘n ligte tikkie van die voet hier en ‘n “EttuBrute!” daar, woel die koning vroeg-vroeg die manskamp uit die vere. Niemand wil weet van vuurmaak by die Maltese Kruis nie; die koue reën dryf almal net vooruit kampplek toe. Hermien word +8 myl ver gedra deur ‘n paar dapper helde.

Ten einde ‘n volledige beeld van die toer te kan weergee, het die sketsskryfster liewer vragmotor gery. Met 14 mense agterop, kon oom Pollie se kunsmissiel nie die water uithou nie. Met groot behae is handevol ongewenste appels so in die ry argeloos weggeslinger, want ons begin nou al almal soos Ben voel:
“An apple a day keeps the doctor away;
Ten apples a day keep everybody away”

Op Citrusdal het Japie sy witvoetjie gaan soek by die dokter, en nadat die vuurtjie in die pastorietuin al die nat kolle drooggestroom het, word daar verder geslaap en “fudge” geëet en asemopgehou by bruggies wat skielik wegkalwer onder die Greenbird totdat ons eindelik afkom op drielingvuurtjies met ‘n gewese, sliertige groep asvaal figuurtjies met beteuterde traangesigte daaromheen.

Alleen in die rook en reën verdien die kokke hierdie laaste aand werklik hulle hoera’s soos nog nooit tevore nie. Terwyl die water al sterker by die bek van die lang manstent instroom, word die laaste groot afskeidspanpoedings geëet. Gelukkig word daar nie geslee nie, en nadat Hetta nog ‘n slag verdwaal en by die manstent beland het, gaan slaap ons. Natuurlik ruk die een damestent vir oulaas eenkant los, maar die dames het teen hierdie tyd geleer dat dit vergeefse moeite is om die tente-komitee te roep en slaap dus al 13 verder aan die ander kant.

Nadat almal Saterdagoggend ‘n flink entjie saamgestap het, word die skape en bokke geskei; die blêrende mak trop tou agter Stoffie aan deur die kloof af terwyl die ander nog eers ‘n berg, Sandfontein se berg, uitklim. Eindelik staan die twee busse sommer so daar voor ons. Ons is moeg, maar trots daarop dat die geskiedkundige Sederberge-toer van 1965 onvergeetlik deel van ons persoonlike BTK-herinnering kon word.

Ná middagbrood dwing ons dus terug Stellenbosch toe; elkeen met ‘n meer of minder goeie rede vir sy haas, maar Sondagaand by die kerk was dit tog duidelik dat Ben se rede die skitterendste was soos dit vorm aangeneem het aan Corrie se linkerhand.

Corrie la Grange
(Sketsskryfster)

Leave a Reply