Vrydag, 22 November:
Gala 1963 – die enigste ligkolletjie op ‘n horison vol donker eksamenwolke – breek eindelik aan. Khaki-en-rooi stippels dwaal nog vir oulaas in Stellenbosch se strate rond voordat hulle by die pakkamer bymekaar kom, en in goeie BTK-tyd – een uur laat – vertrek die moeg-geswottenes vir hul ruskuur (?) langs die kus.
Die busrit skep genoegsame geleentheid vir almal om die 15 eerste toeriste se name te leer ken.
Voor middagbrood word daar darem in alle erns begin BTK en 1½ myl na die winkeltjie bring almal in ‘n stap-en-sing-gees. Daar is toe ook tyd om besondere aandag aan die dames se hooftooisels te bestee. Elsa Rossouw se Meksikaanse skepping bied beslis goeie beskerming teen selfs verdwaalde sonstraaltjies, en Bea verkies die lila kleur van jakarandas op hare.
Peppie en Bea-hulle het ongelukkig hul kameras by die huis vergeet, maar gelukkig is hulle baie begaafde skilders.
Dis nog ‘n lekker tawwe stappie kampplek toe, en daar gekom, swem almal eers in die boonste 6dm warm (!) water van die dam, en daarna word ywerig jukskei gespeel, want dis mos Gala.
Botter, nuut op die job van stoker, is so gretig om die vuur te versorg, dat hy sy lieflike blonde ooghare afskroei. Die toontjies-dokter is gelukkig by, en belowe om vals ooghare van die naaste dorp te bestel.
Die aand daag Tielie en Madelein, wat weens misverstand van die lorrieryers op Stellenbosch agtergelaat is, op. Daar word fluks ge-item, onder andere die bestuurslee se gurgle-bloep-bloep-gurgle, en Toffie, wat Gala nooit kon laat verbygaan nie, waag dit sowaar om met 12 (!!) spinnies te slee. Ook is daar die proloog van die serial, Kellogg’s Corn Flakes, en Piet Hugo hou voorstellingsparade met “crip-notes”.
Saterdag, 23 November:
Die stappie af deur Palmietrivierkloof sorg dat die wit eksamengesigte gou-gou bloedrooi verkleur. By die “break” voor middagbrood word daar op die gebruiklike manier afgekoel met watergevegte, en daar is tot ‘n water-ballet-uitvoering.
Die middag by Palmietriviermond is daar baie toevoegsels tot die toergeledere – Eben (en Jeanne natuurlik!) Kobus en Trixie, Stoffie en Kombi met die ou goor koorspul en Tielie en Ernst. Vir ete daag ook Braam en Griet en Lettie en Kosie (hulle sien blykbaar om persoonlike redes nie kan vir ‘n volle toer nie) op.
Ronelle kom ook die aand van haar, ekskuus Hannes, se trou af, en daar is dadelik meer spasie(s).
Die serial word voortgesit, en beloof om baie interessant te word verder, jammer dat dit toe later blyk ook die laaste aflewering te gewees het.
As gevolg van Amerikaanse besoekers, word daar ook in Amerikaans ge-item, ook die gewilde Don Pedro.
P W van H Venter en W J Roos, Radio Suid-Afrika se verteenwoordigers op toer, lees om elfuur Die Nuus en weerberig. Hulle kon toe onder andere aan alle belangstellendes meedeel dat die slotsake ook haakspelde aanhou om broeke mee op te Pep(pie).
Sondag, 24 November:
Nadat die dwergies, Tielie en Ernst, almal gewek het, en na oggendbrood, stap almal in kerk toe na Kleinmond.
Die dominee preek baie anatomies, en veral vir die BT-kinnertjies wat die diens bygewoon het. ‘n Hele paar het die preek so ter harte geneem dat hulle eers lafenis vir hul tonge gaan soek het in die kafee, en toe laat gekom het vir ete – maar darem betyds vir die heerlike vrugteslaai en groen roomys.
Na ete rus almal eers mooi soet en daarna, aangesien Sondagswemmery so on-welkom is, word daar net ge-“was” en af en toe gegurgle-bloep-bloep-gurgle.
‘n Katastrofe oorval Kamp Palmietriviermond die aand. Alle lepels het spoorloos verdwyn, en arme Piet Venter en sy panmaats wat met kostent-lepels eet, moet dit ontgeld. Die werklik-hongeriges gee nie om nie, want met ‘n kook-lepel of beker kan mens tog meer op ‘n slag eet.
Arme Marié Malan word die aand oneindig gehekel oor die gevolge wat die sonstrale op haar gehad het op die vorige dag se stap (of was dit swem?).
Maandag, 25 Novmeber:
Oom Ockie daag ook op, net betyds om te gaan deelneem aan die Kaskenades by Kaskades.
Die wat te lui is daarvoor ry met die lorrie in Kleinmond toe om te gaan swem of sommer net ronddwaal.
‘n Mens sou dink dat toontjiesdokters darem goed opgelei is, maar Jeanne de Klerk besluit toe om liewers haar enkel te verstuit sodat sy kan sien watter mediese behandeling die Klinieksuster toepas.
Almal geniet Jan en Hildegard se sop baie, en daarna bied die swemplek by die brug weer lekker typlek vir lugmatrasse. Die Cascades-groep word ook vriendelik aange-cheer toe hulle bo-oor die brug teruggestap kom.
Dinsdag, 26 November:
Almal is op en wakker en die aangename sandstap na Hawston is gou verby met verdedigingspeel, in-en-uit-die-see-hardloop en swem. Ongelukkig is die Botrivier-mond toe, anders moes daar weer geswem word, en ook dalk volkspele gespeel word.
Die kafeetjie met klapper-ice-suckers is gou-gou ook gestroop van sy koeldranke, en die laaste stukkie warm teerpad Onrust toe word aangedurf. Bernard Scheffler en Hamlet moet al op die wit streep in die middel van die pad stap, want hulle stap kaalvoet – ek bedoel – kaalvoet.
Na die middagbrood met koeldrank by die kampplek, is daar ‘n paar dapperes wat die koel(?) seewater, waarin dit lyk of daar allerhande seemonsters hou, aan.
Die aand is dit komitee-items, en die gehalte is besonder hoog. Die kokke se rillerspookstorie wat baie effektief aangebied is, wen die kondens, maar ook aan die tente, wat ‘n ernstige Bybel-item opgevoer het, word ‘n spesiale kondens toegeken.
Die wat nog laat om die kampvuur vertoef het, kon sien hoe Sidney netjies ‘n aanval deur ‘n kwaai slang afweer. Hy het hom glo yskoud geskrik toe hy die slang gewaar, met die gevolg dat die slang gedink het hy’s reeds dood.
Leon se baaikostuum is die volgende oggend in die dameskamp gevind. Dit is seker as ‘n slang-afweermiddel gebruik.
Woensdag, 27 November:
Vir Hermanus is dit ‘n groot dag. Die melkery maak beter besigheid as die hele res van die jaar, want dit is mos al meer as tradisie dat elke BT-kaner langbeen op die sypaadjie gaan sit, en so lekker stadig ‘n pint melk deur ‘n strooitjie opsuig.
Waarom moet daardie lekker-gevoel dan verdryf word deur onvriendelike poskantoor-klerke wat niks wil weet van tjaps gee nie, of deur ‘n nors verkeerskonstabel wat almal ewe sarkasties uit die strate jaag? Dis seker maar wat hulle noem die soet en suur van die lewe.
In die hotel het ‘n vrolike groepie ontnugter geraak; en sou dit miskien die rede wees waarom party ‘n taxi moes ontbied om by Voëlklip te kom?
By die kampplek word gou kennis gemaak met die vriendelike bure -onder andere twee oulike knapies wat alles in die BTK-kamp met belangstelling gadeslaan. ‘n Nuwe vriend voeg hom ook by die geledere. Niemand is seker wat sy naam is nie – hy antwoord op Sleepil, Piet, Sam en andere – en waarvandaar hy kom nie, maar hy’s in elk geval gou-gou so tuis soos kan kom.
Donderdag, 28 November:
Dié spesifieke dag – Inlywingsdag, heet dit gou – is op die gewone oorstaandagmanier omgekry. Die wat nie op die oggend-uitstappie na Voëlgat was nie, het geroei, geswem, ge-waterski of sommer net gerus.
Die nuusberig die aand meld toe dat die Voëlgat-uitstappie onder andere iets interessants opgelewer het. ‘n Nuwe tipe baaibroek, ook goedgekeur deur die Kaapse Sinode van die NG-Kerk, is suksesvol op die proef gestel. Dit word glo in die kleinhandel vrygestel onder die handelsnaam “Kaalvoet”.
Die middag is daar ‘n grootskaalse swemmery by Grotto Beach. Die kokke wat vroeg terug moet wees om te kook, vind tot hul vreugde uit dat die kortste pad op die Hotelstoep verbyloop.
Behalwe die spanning, veroorsaak deur die naderende voltrekking van die wraak, was daar ook nog die damesskietspanning. Vroeg al is moontlike prooie uitgesoek en strategiese bewegings uitgevoer om hulle in die oog te hou. Tog het Eben se fluitjie party onverhoeds gevang, en onder andere Hettitia het ontpop as volbloed-atleet soos sy uit die dameskamp op ‘n arme man (maak nie saak wié nie) afgestorm het.
Die arme eerste toeriste moes regtig baie senuweeagtig gewees het, want hulle items was werklik buitengewoon flou. Mens verskoon hulle dit darem, want as jy terugdink, kan jy onthou hoe jyself daardie tyd gevoel het.
Die inlywing self het aan al die verwagtinge van die ou toeriste voldoen – natuurlik nie aan dié van die eerste toeriste nie. Dit was ook seker as gevolg van Lukie se passende agtergrond-geluide dat Thinus soos Lot se vrou van ouds absoluut in ‘n terugkykende soutpilaar verander het.
Vrydag, 29 November:
Voor die stap word daar vir oulaas bal gespeel, en Anna, wat reeds beenaf is, word toe nog hak-af ook. Gelukkig is dr Eben by om die nodige mediese behandeling toe te pas, maar arme Thinus moet toe maar alleen aanstap Kelders toe.
By die Kelders word ewe gesellig op die hotelstoep uitgespan, middagbrood gehou en druk bier gedrink. Die hotel-oom is egter glad nie gediend met so ‘n spul barbaarse wesens nie, en tot van die dames is oor die kole gehaal omdat hulle hul voete in die bad gewas het. Almal is toe maar gretig om die pad Gansbaai toe aan te durf; en natuurlik is daar ‘n paar luies wat saam met die krankes op die lorrie gery het.
By Uilenkraalsmond se kampplek word toe kennis gemaak met die ingewikkelde regstelsel wat betref kampering, en toe word ‘n nuwe kampplek in gebruik geneem – lekker verder van die raserige nagtelike Gansbaaiers-met-die-vaatjie-wyn en met nuwe krane en waterpype, waarvan die lorrie sommer sumier een afry.
Die hondevriend is nog steeds getrou by en verblaf al wat vreemde is van die kampplek.
Die aan daag daar weer party van die naweekbesoekers van weleer op, en die spinnies het vir Toffie en Stoffie om mee te slle, en hulle spark lekker met items.
Ongelukkig heers daar nog steeds ‘n Pepsi-Cola tekort in die ateljees van Radio Suid-Afrika en hul noodberig om hulp word nie eens gehoor nie, want die toervader moes Strand-toe gaan vir die aand.
Saterdag, 30 November:
Van die wonderlike sonnige weer wat die toer tot dusver gekenmerk het, is daar ineens geen teken meer nie. Grys wolke bedek die son, en hoewel die woord “reën” op BTK nie eintlik gebruik word nie, wonder elkeen tog by homself.
Die lorrie met passassiers is in Gansbaai toe en daar is onder andere ‘n besoek aan die hawe en vissersbote gebring, en een vistannie wou haar doodlag toe Ronelle ewe hups opsy moes spring uit die pad van ‘n skoongemaakte vis.
Op die terugrit het die dreigende reën ook begin val, en by die kampplek het die tente-komitee vir die eerste keer op toer aan die werk gespring en tente opgeslaan.
Die middag is ‘n interessante nuwe sportsoort – Skaats-in-die-modder – onder aanvoering van Toffie begin. Die toeskouers het entoesiasties saamgejuig terwyl die skaatsers rondval en allerhande toertjies uithaal en al swarter en swarter word.
Daarna is die groot rugby-wedstryd tussen die Noordelike- en Suidelike-dames gespeel. Dit was ‘n spannende wedstryd, en hoewel Marié en Tildeke uitgeblink het, het die Noordelikes 8-6 gewen.
Deurentyd reën-reën dit maar, en na die lang uitgerekte ete is daar ‘n kort “Gesellige Verkeer” (nuwe naam vir lamp-vuur) en na koffie het almal maar gaan inkruip.
Sondag, 1 Desember:
Die laaste werklike dag breek aan met ‘n waterige sonnetjie, maar wat in elk geval deur almal hartlik verwelkom word.
Oom Ockie hou die diens, en sorg vir iets nuuts op BTK, nl. “kys”-afkondigings – tot selfs groter verbasing vir die betrokkenes as vir die ander.
Die heerlike middagmaal volg. Die poeding is op ‘n nuwe manier afgekoel wat insluit dat ‘n deel daarvan op die gras en ‘n deel op Piet Hugo en Toffie se gesigte moet wees.
Die sonnetjie maak ook gelukkig die tente mooi droog, en Eben besluit om hulle nie weer op te slaan nie, want dan reën hulle net nat.
Gelukkig kon daar buite geslee word, want ‘n lampe-vuur op die laaste aand is amper ondenkbaar. Die paar reënvlagies wat nog manmoedig hul verskyning maak, word gou verjaag deur Peppie en Andries Lategan-hulle se afdakslees.
Die Prima Donna, Liesbet, en Hiccoughs-hulle voer weer die floperette “My regverdige dame” van die Obiqua-toer, onder groot ovasie op.
‘n Ou seremonie word toe weer na baie, baie jare terug ingevoer. Die vertrekkende BT-kaners vorm ‘n kring om die vuur – hul laaste kampvuur – en in doodse stilte speel Leon toe die treffende “Last Post” op ‘n see-bamboesbeuel. Eben lees toe elkeen se naam met sy eerste toer en aantal toere af waarop hulle iets kenmerkend waarmee hulle altyd getoer het, in die vuur gooi – ‘n laaste “offer” aan die BTK.
Daar was ‘n traain in menige oog en in elke hart by die besef van die afskeid van sulke dierbare BTK-vriende.
Tot laat het almal nog om die kampvuur gesit, gesing, gesels, of sommer net gedink aan alles wat die toer ingehou het. Na daar nog ‘n slag koffie gemaak is, het elkeen maar ‘n slaapplekkie gesoek terwyl die reëntjie elke nou en dan mistroostig neersif.
Gelukkig was dit dames-kampvuur, en Peppie se afdakkie is baie nuttig gebruik. ‘n Paar van die manne was so slim om die beskutting van die storte op te soek – dit het darem seker nie gelek nie!
Maandag, 2 Desember:
So het die laaste stap – terug na Gansbaai – ook aangebreek. Gelukkig het die reëntjie besef dat die BT-Kaners nie so maklik skrikgemaak word nie, en die wyk geneem, en almal kon vir oulaas lekker geskroei raak op die sandpad tot in Gansbaai.
Daar naby die hawe word die laaste middagbrood toe gehou, en almal is daarna net haastig om terug in Stellenbosch en by die uitslaeborde te wees.
By Voëlklip neem almal eers weer tederlik afskeid van Wat-sy-naam-nou-weer, Die Hond. Hy was net so treurig om die BT-Kaners te sien wegry, en het nog eers ‘n ent saamgedraf.
By die pakkamer aangekom, het nog net kiste-was oorgebly, en nadat “nog ‘n toer is verstreke” gesing is, is die toer dan ook werklik verby en bly net wonderlike herinneringe oor.
Marié Blignault
(Sketsskryfster)