“Chuck” die boeke! is die slagkreet van sowat 80 Ebeniete onder aanvoering van Generaal Odendaal en hulle verlaat om 5nm. die vesting Stellenbosch, om weereens teen daardie geliefde ou vyand, die Natuur, op te trek. Hans die Skipper en sy manskappe het reeds die oggend om tienuur die anker gelig met die nodige voorrade en ammunisie aan boord.
Of die April-toer na Gamkaskloof ‘n mens nou aan ‘n slagveld laat dink, of dit jou aan lusernlande herinner, en of jy voel asof jy kort op Danie se hakke deur die Inferno beweeg het, feit bly, dit was ‘n toer wat diep in elkeen se geheue sal inslaan.
Na ‘n lang rit wat slegs in Robertson onderbreek is vir aandbrood by Mnr. en Mev. Barry, trek die twee busse om eenuur Vrydagoggend onder die Akkerbome van Amalienstein in. Bedaard beskou en befluister die maantjie die geskarrel en gebabbel van almal wat ‘n lêplekkie vir die nag soek. Gou word dit tjoepstil en net voordat die nagwindjie jou wegdra na droomland, dan lê jy ‘n rukkie en staar in die oneindighede en jy voel baie klein, maar baie gelukkig en tevrede …………
Twee flink kabouters is ‘n paar uur later op hulle pos en net na oggendbrood roep die kerkklok ons om die Paasdiens in die plaaslike kleurlingkerkie by te woon. Dennis van der Merwe bring die boodskap en al is sy kweekskool-proffies nie daar nie, is daar genoeg kritici onder die plaaslike gemeentelede, wat deurentyd luide kommentaar lewer! ‘n Misvloer is seker nie die ideale ding vir ons kerk nie, want die staalhakkies gaan diep gaatjies trap, maar Hans en Woenie loer darem baie afgunstig na die knap kollekte-sakkies. Met die uitkom hardloop almal baie vinnig van die kerk af weg, maar gelukkig kan dit aan reën toegeskryf word.
Gedurende die res van die dag word daar lustig gesing, ‘n wingerd word gestroop en die omgewing bespied. Natuurlik kan ‘n BT-Kaner nie ‘n donkiekar weerstaan nie en na middagbrood draf ‘n paar esels deur die modder met ‘n luidrugtige klomp passasiers. Ook Koning Bernard se koets beweeg tussen die Eikebome rond, maar teen ‘n baie beperkte spoed, want die meeste van sy perde ry saam.
Ons slee buite ten spyte daarvan dat die wolke ons elke nou en dan tergend natsprinkel. Ons ontvang besoek van die familie van die plaas, onder wie ‘n oud-BT-Kaner, Suria, wat op die vooraand van haar troudag saam met ons slee.
As die Saterdag-sonnetjie verskyn kan die BTK stewels nie meer stilstaan nie. Elsa lei ons en handhaaf ‘n flinke pas, terwyl almal deurentyd “op zoek” is na tjappies. As die middagbroders
se taak op dié dag met die brode verlig word, het hulle dit seker aan die produkte van ‘n afgeleë plasie te danke:
Appels en pruimedante
Die kom van alkante,
Elke sak is styfgestop,
Die maag leer ken sy “job”!
Na middagbrood in die populierbos sak ons af teen ‘n steil helling in die laagste versnelling (af teen ‘n steil helling) en by die rivier wag ons die bus en vragmotor in. Matjiesvlei se koeie staan gewilliglik hulle lusernlande aan ons af om kamp op te slaan, hoewel hulle dit nou nie vooraf ‘n “spring-cleaning” gegee het nie.
Al lyk die rivierwater soos koshuistee en al sak ‘n mens tot net onder jou ore in die modder in, is ‘n swem of ‘n bad op hierdie stadium baie verkwikkend. Aandete se maalvleis laat party mense dink aan die woorde: “Alles fleisch, es ist wie Gras!”
As die sonnetjie die volgende oggend die dou van ons slaapsakke kom afvee, spring almal in skoon Sondaghempies. Eben se fluitjie sorg vir die eerste en tweede gelui en ds Bernard en gemeentelede sit ingeryg in die yl koeltetjie van ‘n paar doringboompies.
Diegene wat dit waag om voor middagbrood te gaan swem, ontgeld dit wel deeglik – die bodem van die rivier het nie verniet sulke lekker gladde bruin modder nie. Hierna is die aptyte so goed dat Elsa se prima-poeding alle liggaamlike aktiwiteite vir die res van die dag uitskakel. Niemand het eers agtergekom dat hulle eintlik “poached” poeding geëet het nie, nadat die rou eiers gedurende die voorbereiding gaar geword het in die warm vla, in plaas van op te los!
Oom Theo se lamp kom eers laat die dag by die kostent aangestap en die verklaring hiervoor is: Oom Theo het ‘n pikswart lampglas wat hy gedurende die dag op die brandende lamp plaas – dan is dit mos lekker donker as hy wil slaap!
By die kampvuur word ons deur middel van ‘n item deur Eben en Flip versoek om liewer die benaming Gamkaskloof in plaas van Hel te gebruik. Aan hierdie versoek word (later) geredelik gehoor gegee soos later blyk uit die digterlike kreet: “Mabalêl, jou swarte Gamkaskloof!”
Met die aankoms van Dok en Dolf moet sowat tien naweekbesoekers baie teësinnig hulle rugsakke pak om terug te keer. Veral vir Christa Toontjies is die “indeed a sad and solemn occasion” as “Allah”-pasiënte so moet afskeid neem.
Ons roete langs die Gamkasrivier word gekenmerk deur “skone tone”, voortgebring enersyds met behulp van BTK-liedjies en
andersyds van die rivier, wat ons kort-kort moes oorsteek. Manhaftige ridders het nie geskroom om hulpelose jong dames op hulle skouers oor die strome te dra nie, al het Ridder Verwoerd nog meer nasionaal geword in die proses!
Almal is kapot as middagbrood ons uiteindelik by Gamkaskloof se skooltjie inwag. Die teëspoed van Piet se voet veroorsaak heelwat ontsteltenis, soveel so, dat die nuus vir Hans en Bongel feitlik in Oudtshoorn bereik. Daardie aand besoek Oom Lewies Nel ons en hy gesels oor die dae toe ‘n man van Gamkaskloof nie geskroom het om ‘n bietjie bokhael onder ‘n buurman se blad te bêre nie. Wikus probeer sy bes, maar shucks, as ‘n man vaak is …………. Oom Theo se: “Nag, Dames”, ruk hom terug na die werklikheid en met ‘n vervaarde “Nag, Oom Theo”, gryp hy sy kombers en laat spaander.
Dinsdag word daar deur ongeveer die helfte van die toeriste ‘n bietjie bespiedingswerk gedoen, met behulp van die vragmotor. By ‘n plaas word honderde sente ingeruil vir duisende rosyne en nadat ‘n paar aandeelhouers R 20,00 gestort het, is ook 100lb. gedroogde vye ryker.
Tydens die terugtog bespreek Kaptein Bernard aanvalspanne met sy seerowerbende. Met ‘n handgranaat en die kreet: “Bloed en Derms”, word Kaptein Lukie se eiland oorval en prinses Elsa ontvoer. Na ‘n bloedige twee-geveg kruip Kaptein Bernard in die as voor sy oorwinnaar, maar ‘n kooltjie brand toe ‘n hooltjie in sy sooltjie!
Woensdagoggend volg “ópstáááán” sommer kort op Oom Theo se “Nag Dames”, en ons roep vaarwel aan die Hél …………….. aan Gamkaskloof! Die pad na die Tolhuis op die Swartbergpas, rek soos ‘n stuk kougom voor ‘n mens uit, en jou voete kleef en klou aan die eindelose opdraendes. In die donkergroen dennewoud klink middagbrood se gesang, maar dis eers as ons die dennewoud met aandbrood se gesang bereik, dat veral ons Germaanse vriend, Michelle, baie bly voel.
Daardie aand se slee is so reg in almal se kraal, ook in die beeste s’n. Komitee-items word gelewer en Jan en die Kokke dra die blikkie “caramel” weg toe die hennetjie begin gaar eiers lê.
Wanneer ons Donderdagoggend die laaste skof aanpak, dan knaag menige stewel aan die voetsole. Kort na middagbrood bereik ons luilekkerland, waar almal behalwe die houtkappers gedurende die volgende dag of wat, sommer lekker lui is! Met die aankoms egter raak ons floppera-sterre in afsondering besig met die repeteer van arias en vervaardiging van kostuums vir die puikste aanbieding wat ‘n kampvuur nog herleef het.
Ons magtige pragtige koning en sy onderdane voer ons daardie aand weg na ‘n wêreld waar gallante edelmanne nog tot die dood toe veg om die hand van ‘n skone Donna Maria. Nog lank sal ons onthou hoe Don Lucritia op tragiese wyse “vrêhek” en hoe Don Pedro bly sit met die toom om die nek en die strop in die bek!
Vrydag besoek ons die Kango Grotte en of ‘n mens dit vir die eerste of die agste keer doen, vir elkeen is dit ‘n groot aardigheid. Elke rotsformasie waarop die gids ons aandag vestig, word met ‘n paslike liedjie geïllustreer. Die bruid begroet ons met: “Daar kom die bruid, soos ‘n boerbeskuit!” en die bottel by die bruilof ontlok “Eine Prosit!” ‘n Oorhangende rots langs die bottel lyk toe vir Piet Venter soos die “hangover”!
Tot almal se teleurstelling – en miskien party se verligting – kan ons nie deur die skoorsteen klouter nie. Ds Elsa Theron moet op aandrang van die “geliefde gemeinte” haar preek oor die “swagt kqaaise dgie gonde eiegs”, herhaal.
Gedurende die namiddag rol ‘n verlepte klomp BT-Kaners hulle elkeen in ‘n kombers toe en maak ‘n draai in droomland. ‘n Bietjie later daag Corrie, Lawrie en Steph op en in die loop van die aand, ook Ernst. Almal slee vir oulaas diep, hoewel mense in die omgewing van die Winkler-slee kraak daardie aand – hulle eet okkerneute vir sleepille. Bongel voel weer jammer vir Christa wat tevrede moet wees om M.J. se lampies te kou!
Voordat ons kans kry om ‘n paar liedjies om die kampvuur te sing, jaag die reën ons op en die tente-komitee wys ons wat daar in hulle steek. Op hierdie stadium, soos dikwels in die loop van die toer, klink daar nou en dan ‘n bloedstollende gil op, gewoonlik as gevolg van noue kontak tussen ‘n dame en ‘n spesie met meer as twee bene. Alet kry ‘n krap in die bed, ‘n padda spring in Tildeke se tande vas en ‘n lywige haarwurm wandel oor Elaine se maag, terwyl Bea nie eers ‘n vlieg nodig het om haar die horries te gee nie!
Saterdagoggend beteken net een ding: oppak en vertrek. Daar word middagbrood gehou in Kogmanskloof en net voordat ‘n groep verkluimde hongeriges op die brood toesak, raak ons ‘n oomblik stil. Peppie het die eerste sin van sy gebed voltooi. Dan klief dit meteens van ‘n afstand deur die stilte: “Julle oudjies, is daar al kôffie?” Peppie is totaal van stryk. As “Amen” uiteindelik volg, verander die onderdrukte proesgeluide in ‘n uitbundige skaterlag. Ronél kyk maar net dié kant toe …………….!
Wanneer ons negeuur daardie aand ons bondeltjies voor die pakkamer wegsleep, voel ons soos Vonkie wat stert-tussen-die-bene en met ‘n tjankgeluidjie agter sy baas aansuiker. ‘n Toer is verstreke, maar dit is sekerlik nie die laaste een nie, daarom sê ons:
“Cheers vir eers!”
Ina Malherbe
(Sketsskryfster)