“Men who are happy and free” en stewig leerskoentjies wat op Wupperthal gemaak is, kan miskien simbolies beskou word van die Sederbergtoer van 1962. En dit was ‘n toer met lede “happy and free” ten spyte van koue en reën en moeilike stappe, want die gees was so erg soos die skoentjies.
Ses-en-tagtig mense het kans gesien om vir tien dae sonder “swot” klaar te kom en saam die Sederberge met ons te klim en vieruur en half-vyf het die drie-uur- en half-vier-busse uit Stellenbosch uit weggetrek. Net toe dit mooi donker was, het die eerste bus by die lemoenboorde van Hexrivier aangekom. Gou is daar slaapplek gesoek – die kosmoeder en -dogter s’n wel so strategies dat hulle Danie se wekker die volgende môre kon hoor afgaan – die wors is gebak en die leier het ‘n boodskap van die vorige jaar se leier voorgelees.
Die nag het menige se drome waarskynlik en sommige se slaapsakke werklik paddas ingehad. Wanneer die volume nie soms te sterk was nie, was die gekwaak nogal mooi nagmusiek.
Die volgende oggend het ganse die prentjie van die dam en weerkaatsings voltooi.
Saterdag was ‘n dag van goud en geel. Die son het geskyn, daar was lemoene in oorvloed en gousblomme oral onder mens se voete. Langs die stroom en oor die stroom en langs die berge en oor die berge het die kronkelpad gegaan. In al die kronkelinge was ook die skerp geur van die gousblomme aanwesig.
By Algerië moes die arme meisies natuurlik eers met hul bagasie oor die rivier gehelp word – Kobus Kellerman het darem nie te veel omgegee nie. Hy het ook belangrike werk gedoen in verband met die oprigting van ‘n brug.
Die eerste aand se kampvuur het ‘n groot kwantiteit “items” opgelewer van die tipe wat op mekaar volg en soms nie eers aangekondig word nie totdat die tema uitgeput is.
Sondag was oorstaandag en daar is ten volle “oorgestaan”, want almal was maar te bewus daarvan dat dit die laaste offisiële oorstaan sou wees. Danie Mentz het die kerkdiens gelei waartydens ‘n gesangversie op Oom Theo se voorstel ‘n ander wysie gekry het. Die middag het ‘n groot ete en poeding en alles wat dit insluit, opgelewer en mens kan net meld dat ‘n baie klein getal kans gesien het om na ete te gaan stap.
Niemand het verwag om so gou ná middagete weer geroep te word om te kom eet nie en “bring julle borde en kom queue” het paniek en chaos veroorsaak die aand. Trixie, Marietta, Piet Venter, Paultjie le Roux en Kiewiet van Huysteen was almal nuwe aankomelinge by die laer en Marietta se ouers was die aandete-gaste van haar pan.
Die aand het vier wenners by die uitkenningsparade – ten spyte van baie goeie vermommings – en ook stemmige “items” van ‘n goeie gehalte opgelewer.
Die volgende oggend was twee mense ontsteld: Bernhard, omdat hy uitgevind het dat dit koeldrank was waarin hy sy hande die vorige middag gewas het en Dan Dup, omdat hy van die koeldrank weer gedrink het.
Met 64 kronkels – Paffie en Katinka was die enigste wat altyd gekronkel het, is die spoor geslaan na Welbedacht. Die BT-Kaners wat die vorige Sederbergtoer meegemaak het, het onwillekeurig die vorige Maandagstap vergeleyk met hierdie keer s’n en dankie gesê vir die pragtige dag. Die pad het oor berg en dal verby interessante verdraaide bome en groot skurwe rotse gegaan. Soms was die pad bestrooi met sederhoutkerwe wat die heerlike houtreuk versprei het.
By Welbedacht was die bagasie nog nie daar nie. Verskeie mense het berou gehad dat hulle Andries se vriendelike uitnodiging aangeneem het en langs hom gaan sit het – op ‘n miernes. Later het ‘n BT-kar wat deur meisies getrek is, afleiding verskaf. Komitee-“items” het nie besonderse hoogtepunte opgelewer nie – die Kokke het miskien op die gebied van kok “items” ‘n laagtepunt bereik – en die kondens is deur die walaaiers-komitee gebuit.
Tafelberg wat nog altyd met die oppervlakte van die maan vergelyk is, het hierdie keer sy koue kant gedraai en die laaste drie op die berg het sneeu ook gekry.
By Dwarsrivier het Kosie spoedig by die winkeldame in die moeilikheid gekom toe hy vir haar – “aangesien sy tog getroud was” – “tannie” genoem het.
Woensdagoggend het daar ‘n groot verrassing vir die BT-Kaners gewag toe mnr Wiesner van die rolprentmaatskappy vir hulle uitgenooi het om gratis in sy rolprent op te tree met ramkies en rugsakkies.
Daarna is almal weg Wolfskeure toe wat lyk of dit die werkswinkel van die Skepper kan wees soos Ina dit beskrywe het. Die uitstappie sou verder aan Boog toe gegaan het as die boog nie op daardie oomblik ‘n reënboog was nie. Almal is toe maar dadelik terug.
By die kamp wou dit net begin reën en die tente-komitee is net opgekommandeer toe die berig kom dat Oom Pallie Niewoudt sy skuur en kamers tot beskikking van die BT-Kaners stel. Die halfgeskilde groentes is net so boontoe vervoer en die half-opgeslane tente is dadelik afgeslaan. By die skuur is alles voortgesit soos dit begin is.
En toe kom daar nog ‘n verrassing vir die BT-Kaners – ‘n heerlike verrassing: ‘n bus vol agtergeblewe lede het die aand kom besoek aflê op Dwarsrivier. Is daar gekuier!
‘n Derde verrassing het op die veelbewoë dag op die BT-Kaners gewag toe die stew klaar was: dit sou nie damesskiet wees nie. Die dames se plannetjies netjies in die war gestuur.
Daar is in die skuur geslee en die groot geweldigheid het ook daar plaasgevind. Daar kon egter geen “items” gelewer word nie -almal was nog lewendig – maar dit was al te laat.
‘n Kokkewiet het vroeg die volgende oggend gefluit. Die plaasklok het eers opstaan geskree en daarna het Danie geroep. Tafelberg en die ander omliggende berge was wit van die sneeu en dit kon na regte waardeer word omdat mens uit ‘n warm bed uit opgestaan het danksy Oom Pallie.
Oom Pallie het verder ook nog sy vragmotor en sleepwa tot beskikking van die BT-Kaners gestel en almal is in een slag vervoer na Matjiesfontein om die pad wat nog steeds lank sou wees, te vergemaklik. Danie het die dag ‘n pas gestap wat herinner het aan die berugte laaste dag se stap van die vorige jaar se Ceres-Tulbagh toer. Mettertyd het die pad mooier en mooier geword tot mens nie meer gevoel het dat jy moeg is nie en net die blomme en blomme raakgesien het.
By middagbrood is uitgevind dat messe die dag vergete gebly het. Knipmesse werk net so goed as dit moet en Corrie het by die “oom” in die huisie – wat later ‘n kleurling geblyk het te wees – een broodmes geleen. Een waterblik het ook gelek en die probleem is opgelos deur twee blikke koffie na mekaar te maak.
Van middagbrood tot Wupperthal het die blomme weer mens se asem weggeslaan. As jy stilgestaan het, het dit gelyk of die klein geel gansogies om jou dans; Namakwalandse madeliefies van alle kleure het met hul plat oop gesiggies die wêreld toegelag; soms was die pers en geel blommetjies deurmekaar en dan weer het die geel oorheers en mens wou nie wegkyk nie. Kort by Wupperthal het dit gelyk of die wolke op die aarde lê soos die sagte wit blomme die wêreld vol gestaan het. En toe was mens tussen die vrugtebloeisels in Wupperthal.
Die Wupperthal Instituut Algemene handelaar is natuurlik die eerste plek wat opgesoek is en net “ei wie Wupperthal wie Wupperthal wie Wupperthal mein herz” het Almero-hulle ‘n goeie gesindheid verkry van die vriendelike Duitse dame agter die toonbank wat noodsaaklik was in toekomstige onderhandelings.
Die kampplek – nog sonder bagasie – is aangewys en terwyl die mans hulle gaan afspoel het, het die dames die dorpie verken. Die aandklok het helder geklink by die kampplek. Later is daar vuurgemaak en almal het rustig om die vuur sit en sing tot laat in die nag voor die bagasie gekom het.
Corrie en Ingrid het laaste by die kamp aangekom. Hulle het eers by die kerkie gaan ondersoek instel. Corrie het begin orrel speel – die Skeppingslied – en toe het hulle op die sagte banke gaan lê en rus en aan die slaap geraak. Toe hulle wakker word was die dorpie verlate van BT-Kaners en hulle het geen idee waar die kampplek is nie. Die twee verlore dogters het maar voor een van die huise langs die pad gaan sit en wag tot iemand hulle sou kom soek. Gelukkig het Hans Büthner besoek afgelê by die huis waarvoor hulle gesit het en toe hy uitkom, het hy hulle weer op die regte pad gebring.
Eindelik het ‘n moeë Bernhard en Flip opgedaag. Die pad was te veel in die vragmotor en hy moes kort-kort met klippe gekeer word om nie terug te ry nie. Flip het die laaste deel van die reis op die modderskerm deurgebring om die verkoeler te help met sy werk.
Die gesellige verkeer het voor ete plaasgevind en omdat die ete ook so laat was, was daar geen sleëry die aand nie. Piet Conradie en Hennie Aucamp en die dames het kom besoek aflê en in die laat ete ook gedeel.
‘n Welkome wysiging van roete is toe aangekondig: Vrydag sou ‘n oorstaandag wees met ‘n uitstappie na Krakadouw. Die uitstappie was toe in werklikheid nie baie lank nie, want die vragmotor wou weer nie werk nie, maar Wupperthal sal vir baie meer as een dag ontspanning kan bied en die dag is deurgebring met swem, stap, winkel toe gaan en die leerlooiery en skoenfabriek besoek. Danie het vir hom ‘n paar nr 1 simlbooltjies van Sederbergtoer-1962-en-BTK-oor-die-algemeen aangeskaf en baie persone het sy voorbeeld gevolg.
Toe dit lyk asof die mense die aand te veel op hulle gemak is, is hulle gou amptelik in kennis gestel dat dit die vorige aand reeds damesskiet was. Dit was toe gewone skiet en slee met duisende “items”. Die S O D’s het selfs ook iets op hulle maniertjie probeer doen.
Saterdag het vir sommige begin met ‘n vragmotorryery – baie van hulle moes ook maar gou eers af en eers die pas uitstap; ander het eers oral langs die pad stelling ingeneem om die BTK-vragmotor oor die steilste dele te help as dit nodig sou wees en toe gestap tot die Wupperthalvragmotor hulle sou kry. Na die ryery het daar ‘n heerlike afdraende ent al langs die rivier af gevolg tot by middagbrood.
By middagbrood het die eerste tekens van die einde van die toer verskyn. Oom Theo en Tannie Rita en ‘n klomp ander het met die eerste bus teruggekeer Stellenbosch toe.
Die meerderheid het kort daarna met die tweede bus aangery Citrusdal toe om die aand na die universiteitskoor te gaan luister. By Clanwilliam is die vragmotor wat vroeg die oggend al terug is Stellenbosch toe, ook eers weer teëgekom.
Citrusdal was gou rooi gekleur. Almal en veral die koorlede in die geselskap was baie opgewonde. Voor die uitvoering is daar eers langs die herhaal in aandbrood vergader. Francois het by die sersant van die dorp hout gekry en ‘n heerlike vuur is gemaak. Aandbrood is gesmeer en nadat Bongel vir almal oortuig het dat daar niks mee verkeerd is om die koffie in te gooi voor die water gekook het nie, is koffie vir oulaas geniet. Dit was ‘n heerlike gevoel om die BTK-lede van die toergeselskap te sien.
Tydens die uitvoering het die BTK-gehoor hul toegangskaartjies verdien met hulle entoesiastiese erkenning. Sommige lede was amper te entoesiasties en Oom Philip moes waarlik van die verhoog af vir Piesang stilmaak.
Die pragtige uitvoering na so ‘n wonderlike toer het mens onwaardig laat voel.
Met die terugryery het Danie amper daarin geslaag om almal die heel pad wakker te hou, maar nie heeltemal nie.
Om twee-uur Sondagoggend was nog ‘n toer werklik verstreke. Almal was terug in Stellenbosch.
Idil Gerryts
(vir Sketsskryfster)