Op pad van Stellenbosch na Grabouw het die BT-Kaners gesing, soos maar net BT-Kaners kan sing, en dit nogal na die eksamens. Tog was almal bly om net anderkant Grabouw weer hul litte te rek en te begin stap.
Sommer vroeg het ons gemiddagbrood en lekker onder die denne gelê en gesels. Een van die mans kon nie meer wag om by ‘n lekker swemplek te kom nie, en het ook sommer in die modderpoel in die pad geval. Hy het glo darem uitgevind die water is net vier duim diep.
Ons het lekker gestap en drie-uur toe kon die slotte ook al in Monteith se dam swem.
Daardie aand was daar in plaas van ‘n Spinsters’ Corner ‘n Harem met Tjaain as Sjeik of Sultan, wat mens ook al verkies om hom te noem. Ons het besluit dit is ‘n goeie idee dat Tjaain eers die meisies skiet vir die harem voor ete, sodat almal dan kans kry om te spin. Die eerste harem was ‘n geweldige sukses vir die vroue van die harem, want hul is bedien, deur Tjaain met ‘n skinkbord en ‘n doek oor die arm soos wafferse kelner. Die dinge wat nie alles in dié slee gebeur het nie, is nie die moeite werd om te noem nie. Hul het selfs die koningry in eie hande geneem en die paar diep-sleërs goed uitgesleep. Annatjie was ook verbaas om uit te vind dat die slee so gou end kry, na alles wat die Monicaners haar wysgemaak het.
Saterdag het almal die stap in Palmietkloof baie geniet. By middagbrood was daar die heerlikste swemplek. Elsa en Didi het tot groot vermaak van die meisies byna ‘n rare “pose” opgetel vor Stefanie se té gewillige kamera.
Na middagbrood het die voorsitter en so ‘n paar ander net vinnig begin aanstryk, want daar sou mos gaste opdaag vir die naweek. Dit was jammer, want Lucia en die ander gaste verras toe mos die slotte in plaas van die voorlopers.
By Palmiet het ons net so lekker gekamp soos altyd. Die items was sommer hoog want Lellie het ge-item, en boonop het Napoleon en Josephine ‘n deftige troue gehad. Die plegtigheid het in Amou-Amas-Amat-Latyn verloop.
Sondag was ons kerk toe op Kleinmond. Na die diens het almal ‘n draai gegooi by die kafees voor hul terug is na die kamp – en dit nogal op Matigheids-Sondag.
Middagete was koninklik, en Elsa se nuwe piesangjellie ‘n groot sukses. Die res van die dag het soos alle Sondae op BTK verloop. Net party mense wat Brian se bril, en soms so iets van hom, by sien afgaan het, het so ‘n bietjie meer as gewoonlik gelag.
Maandag is die effens berugte sandstap van Kleinmond na Hawston en dan verder na Onrust aangedurf. Sommige spiere het ook maar daardie dag ge”suffer”.
Behalwe vir die uitdruklike bevel, “no sods to be turned” het die kampplek geen redes vir klagtes gegee nie. Daar was nie eers die alomgevreesde sandvlooie nie. Daardie aand het nog ‘n Napoleon suksesvol geval. Hennie met sy strandstappie, het ook weer Krakadouw-moeilikheid opgedoen.
Dinsdag het ons lui-lui na die Rivierakampterrein aangeslenter. Op pad is natuurlik by alle kafees en sulke soorte geld-uitgee-plekke aangedoen.
Daardie aand het Eric begin “jubel en juig”. Dit was so aansteeklik, dat die kokke en stokers se trein ook glad gejubel en gejuig het. Die waterdraers het egter beter gesing en die kondens gekry.
Die nag het ook allerhande episodes opgelewer, want niemand was eintlik ingestel op die haastige en nat donderbui nie. Die volgende oggend het Elsa en Jansie met die koffie-uitdelery ook maar rare dinge gesien. Dié dag is daar met mening gespeel, geswem, geroei en gepomp vir damesskiet. “Julle weet nie”, het te oordeel na al die baaikostuums en reënjasse ook darem sy uitwerking gehad.
Die berg is Donderdag sommer uitgedraf en bo het Flip Oos vir ons oulike kafferstories vertel, voor ons weer terug is na die kampplek vir vroeë middagbrood. Die middag is ons orige energie verbruik met sagtebal en swem. Ander het weer lang roeitogte onderneem om na die flaminke te gaan kyk.
Vrydag is ons in ons baaikostuums deur die Mond. Die snelheidsrekord vir die sandstap van die Mond na die Kelders is geslaan deur die voorste klomp, en boonop nog die “voete-braai-rekord” ook. Christo het net uitgeroep, “As hier nie meisies was nie, het ek nou hardop getjank!” Die Kelders Hotel se sementstoep was lawend vir die voete, en die bier en koeldranke vir die dors.
Almal het afgekoel in die kelders en sommer nog geswem tydens middagbrood. Stokke het glad in Wilma se kostuum lafenis gesoek vir die brandende son. Met ons skoene weer aan, is ons voort deur Gansbaai tot by Uilkraals.
Saterdag het ons toe nie Vuurtoring toe gegaan nie, en maar gespeel en geswem by Uilkraals. Saterdagaand het die gekystes toe hul beurt gekry om te spin; en dit het sowaar amper moleste afgegee. Dié aand het Annatjie haar Bosveld-storie ge-item. Met tande wat dwing om uit te val, het sy begin, “Nou maar reg! Is ek reg, of is ek reg?”
Die nag het ons min geslaap, want ons het mos besoekers uit Gansbaai gekry. Die goeie vriende het darem weer verkas, na hul vir ‘n paar uur sonder ophou een ou deuntjie probeer speel het.
Sondag was daar weer BTK-kerk en ‘n middagmaal met broodpoeding. Vir die res van die dag het almal rondgelê. ‘n Hele klomp het die verbode voëleiland besoek – Theuns het toe teruggekeer met ‘n nat, gladde baard, wat later per ongeluk in die drinkwater beland het. Party mense het maar hartseer geslee daardie aand, vir oulaas!
Maandag het aangebreek. Ons moet afskeid neem. Koos het die verlore goedere opgeveil. Toe Koos Deon se Brylcream vir tandepasta aansien, het Deon luid geprotesteer dat hy nie hare op sy tande het nie.
Die vragmotor het vertrek en die oorblywendes het aangestap Gansbaai toe. Ons het daar gou die kafee leeggeëet, die stempel byna opgebruik en toe nog die hawe platgeloop, voor ons met die busse na Stellenbosch vertrek het.
Op Stellenbosch moes Elsa uitvind dat sy puur verniet ‘n skoon romp geleen het, want die besoekers vir Gradedag het bietjie laat opgedaag. So met die eksamenuitslae en Gradedag voor die deur, is ons vellerige klomp uitmekaar. Nog ‘n toer was verstreke!
Jansie Marais