02 – 07 Desember 1942
En toe ons oor die laaste nekkie van Helderberg kom, en die wind skep ons – ons moes keer vir rokke en hoede vir vastrap vir ‘n vale; en die lang gras het platgelê – het die spirit posgevat. Ons het vergeet dat Stellenbosch bestaan of eksamenuitslae dreig en die toer toe eers regtig begin geniet.
Langs ‘n skuins en klipperige bergpaadjie af, is ons deur die Lourensford vlaktes na ons eerste staanplek onder die bloekombome waar die middagbrood mense moes rondstaan om ‘n opregte BTK-eetlus te bevredig. Want ons het al ‘n mooi skoffie agter die rug gehad vandat ons Woensdagmôre helfnege van ds Louw se pastorie weg is en agter Coetzenburg om, met die Paradyskloofpaadjie langs die toer begin het.
Die middagpad na mnr Charles Louw se plaas, Dennegeur, was lank vir voete wat nie strawwe stap gewoond was nie. By Dennegeur het die res van die gemeenskap streepsgewys aangekom. Mnr Coertze, met die Klein Coertzetjies; Dr en mev Kleingawie Cilliers – met Simon; Die Hond wat Sarie Marais kan dans; en ‘n paar ander laatslapers wat nie kans gesien het om so vroeg al van Stellenbosch weg te kom nie.
Ons eerste kampvuur van die toer moes kortgesny word vanweë ‘n geweldige wind wat gedwing het om vonke in die rigting van die massas droë dennehout te waai.
Teen dieselfde stywe wind op was die Donderdagoggend se stap en ons en ons moes Sir Lowry’s pas oor. Plek-plek het dit bitter gegaan en ‘n mens het gevoel asof dit soms makliker agterstevoor-om sou gaan! Gelukkig het ons vir die laaste draai of twee darem die wind van agter gekry. Heel windverwaaid het ons klomp toeriste die kafeetjie bo-op die pas in beslag geneem. En daar het ons gesing, nie verniet het Phillip Maclachlan al die heel eerste dag so ywerig loop en rymwoorde soek vir “buite” en “spruite” nie en ons minderdigtelike probeerslae soos kluite en stuite en tuite beslis van die hand gewys nie: hy het met behulp veral van Hoffie vir ons ‘n reeks puik vertalings van ons verbode Duitse liedjies klaargehad; en daarby ‘n spirit so aansteeklik soos pampoentjies. G’n hond, voorwaar g’n orkaan kon hom demp nie. Terwyl ons daar aan die sing was het ‘n trein deur die tonnel gekom. Ons het dit met groot belangstelling dopgehou; temeer omdat twee van ons voorstappers Colyn en George Murray, toe hul die noordewind teen die pas uit te veel vir hulle tengere kragte gevind het, per trein, de Luxe, aangestoom gekom het. Hoe Het Zijn de helden gevallen!
By die kafeetjie is sommer geëet; terwyl ons nog besig was met inpak toe die weerprofete veelseggend na die lug begin kyk het -teen die wind weer, en in fyn motreëntjie is ons met die teerpad om Elgin en Grabouw na mnr Rawson se plaas waar ons al soveel keer tevore so salig onder die eike gekamp het. Pas was ons egter daar of dit het ernstiglik begin reënt. In Desembermaand. In Galaweek. Eenkeer se natreën word egter teen hierdie tyd al as absolute vereiste vir ‘n toerhonderd beskou: ons het net vir ‘n son in ‘n skuur ingetrek: ideaal – ruim met groot glasvensters in ‘n breë plankstoep. As dit vanweë die kunsmis en sulke sake ‘n ietwat ongewone klank gehad het – Dit ruikie sleg nie, nie te nie. Met ons tente is afskortings vir die dames gemaak. Toe kon dit gerus maar reën.
Die aand se Lampvuur was in die here se kwartiere – effens beknop, sodat dit nie reg kon laat geskied aan die items nie; dit egter as enigste nadeel – en het onder die hekeltyd ons tot insig gebring oor die kwessie van hoekom Gert le Roux kom toer het. Die stap, sê hul, is glo besonder verslankend vir die “waistline”. Colyn het stil belydenis gedoen. Is hy nie vandag so lank en slank van pure toer, en meer spesifiek van pure Hout- en Water nie? Van toe af was Gert nie te keer op die Hout- en Waterkomitee nie.
Vrydagoggend was die een vraag op almal se lippe en in almal se oë. Kamp ons vandag? Kyk die weer. Die papkokers het verkluim buite staan en roer aan pap wat in sy deur-reën-verdunde-staat maar nie wou kook nie. Ou Gert het dapper ten spyte van die elemente takkies nat hout aangedra. Ons het later al klaar geëet en Jantjies het begin roem dat dit die eerste keer in haar dag is dat sy met alles – ja selfs ook die gedugte kombersvol – klaar is voordat die stapfluitjie blaas, toe Dokter aankondig dat daar die dag gekamp sou word. Jantjie moes afpak.
Teen elfuur het dit begin oopklaar. Na die reën was die wêreld nuutgewas en fris. Deur dik wit wolke het die blou begin loer. Staplustiges het oorgestap Elgin toe. Nou gebeur dit so dat Colyn daar op die plek ‘n niggie het; en dit was nie honderd jaar nie of ons almal van ons wat Elgin gehaal het, was geskiet vir tee. En watter tee! Ons het die ouens by die kampplek op die plankstoep se monde laat water (terloops ook ons eie) met stories van Roomkoek, en “choclate”koek en groenvyekonfyt en aarbeie en room en wat kan ‘n mens nog byjok, Giel? Terwyl ons weg was, het Klein Piet Coetzer die wat agtergebly het vermaak en die potensiële en ontluikende pappa’s en mamma’s aangetoon.
Die middag was heerlik: Gesêls, stap, jukskei, items oefen – die aand sou ons eerste regte kampvuur wees. Die Hout- en Watermense het ‘n tamaai vuur opgepak wat hoog in die koel lug opgevlam het. Net so hoog was die gees van die groep.
Die “King Cole” wat onder leiding van Phillip opgevoer is, het ons laat lag dat die trane gerol het. Veral Klein Johan was ‘n pragfiguur, met ‘n waarlik koninklike voorkoms – nadat Desmi se ganse beddegoed oor sy persoon rond versteek is. Daarby het
Phillip en die twee Johanne – die “n”ne tussen die twee van hulle – gekom met hul knock-knock program. Die vrolikheid wat hierop gevolg het, is onderbreek deur ‘n bietjie water van bo wat ons na ons sleegoedjies laat gryp het en stoep-toe ja het.
Die een dag se uitrus, toe nou nie juis volgens plan nie, het ons lus gemaak vir die pad Vyeboom toe. Sing-sing is ons verby Elgin; sing-sing oor Viljoenspas, die mooie. Toe verby die Bosboustasie; oor nog ‘n nekkie; en dan lê ou Vyeboom se wêreld oop voor jou. Rondom blom die berge, maar op die lande onder die ryk bruin en goud en groen van ons somerkleurweelde. Die vorige Septembertoer het padlangs gekom, maar ons het kortpad oor die rivier en deur daardie bruinbiesies, met hier en daar ‘n lap heide of suurknol, gesteek Vyeboom toe, waar die swempoel met sy koel donker water gewag het.
Toe het dit weer begin reënt. Die Tentekomitee het manne werk verrig en sloteware besproeiingskanale – in die gesous gegrawe. Dit het gelyk asof dit weer lampvuur die aand sou wees – in oom Dirk se dood. Teen die aand het dit gelukkig oopgeklaar en ons het ‘n pragtige kampvuur gehou. Glanspunt daarop was ‘n dramatiese voorstelling van die Epiese Treinrit, van die gebroeders Murray.
Ons was net klaar met kampvuur en het om die vuur gestaan en wag vir die lekseltjie laaste koffie, toe ons ‘n gedruis, ‘n gefluit en gejubbel van veraf deur die nag hoor. Martin-hul. Martin het Vrydagoggend gou weggespring om ‘n Bybelkenniseksamentjie af te handel en sou oor Jonkershoekkloof na ons terugkom. Ons het hard terug geroep, en toe was die klomp – Barlo en Theunsie en Josh, en Martin en Hoffie Louw – in die kring van die vuur. Ons het hul vreugdevol bevlieg, kos aangedra; koffie gegee; gesêls.
Die nag het die mansserenade die dames baie teer, en liefdevol en romanties onder die sterre laat voel.
‘n BTK-Sondag staan alleen. Jy swem en stap en sing soos aldag, maar in die skaduwee van ‘n boom, wanneer jy die môrediens bywoon en Psalms sing, gaan dit dieper. Colyn het die oggenddiens waargeneem.
Laaste kampvuur – Sondagaand. Vir ‘n paar van ons, die heel laaste. Ons het ‘Müde bin ich’ gesing – in Duits. En toe was dit nag en dit was dag, ja die laaste dag. Vroeg-vroeg het ons geroer.
Ons het die môre pap gekry – pap honderd met die twee blikkies kondensmelk en die pond botter daarin, kon dit ook nie bra anders wees nie! Die lug was mistig. Ons het asemopgehou dat die son moes deurkom voor ons in die kloof kom. Dis sonskyn wat lewe aan klowe gee.
Die skof voor was straf – so het Barlo-hulle ons gewaarsku. Ter wille van seer voete is ons dus per vragmotor tot op Nuweberg wat toe ons vort is, teruggegaan het vir ons bagasie. Pragtige reëling; g’n haakplek. Maar nege-en-sewentig stuks in een vragmotor, die toe een. Ten spyte van veel gesteun en gekreun en gesmag na asem het almal tog ‘n behoue reis opgedoen.
Noudat ons weg was van Vyeboom kan bekend gemaak word dat ‘n waterslang in daardie geliefde swempoel deur Hoffie Retief gesien is. Andy Brulis is an honourable man!
Na die lorrierit het ons ons opgevoude stywe ledemate reggeruk vir die dagstap. Agtermekaar nou, het ons aangestap met Dokter aan die spits met die rooi pet; verby die bosboustasie die berge in. Die kus het oopgetrek. Bokant die grou rotse was die lug weer blou. Die een nekkie op, dan weer af. Die lang ou rooi-kol-wit nekdoekies het ver in die kloof opgestrek. Om ons was die geur van veld en boegoe.
By Warrelgat het ons middagete gehad – en geswem. En dis toe daar dat daar in die water geval is, grootskaals, met Colyn en Groot Johann as hooffigure. Maar omtrent hierdie historiese middagmaal …. Staan dit nie geskryf in die geskrif van Hoffie; seun van Louw nie? Dit, dit was die hoogtepunt van die toer. Toe moes ons weer aandruk totdat ons eindelik op Jonkershoeknekkie was, met die berge en die toer agter ons, en Stellenbosch, en eksamenuitslae voorkant toe.
Na koffie by Tweede Waterval (g’n suiker in swartkoffie; maar toemaar) is ons af na Kleinplaas. Vir oulaas nog lekker sing in die lorrie. Almal gelyk, is ‘n lekker stryk – Aartappels en Uiwe. Die aand is ‘n voorlopige reunie in die C.S.V. ruskamer gehou toe die beskawing nog maar net bo-op ons gesit het en die bruingesigte en sproetgesigte en vel-af-rooi-neuse gesê het: Dis BT-Kaners, die.
Hierdie Galaweek toer sal onthou word.
NS: Phillip soek nog steeds ‘n woord, ‘n mooi digterlike, wat rym met “buite” en “spruite”.
Rykie van Reenen
(Sketsskryfster)
Gelees by Reunie-kampvuur
Agter Industria 09/12/42
GALAWEEKTOER 07 Desember 1942
VAN VYEBOOM NA STELLENBOSCH OP MAANDAG, 7 DESEMBER 1942
Bill ou Maat,
‘n Mens hoef nie honderd jaar op die BTK te wees nie, dan het jy alweer boekevol om te vertel. Die tyd toe jy en ek saans saam in die vuur gesit en staar het tot die laaste kole tot koue as verkluim het, was dit nie nodig om veel te sê nie, want ons het albei aan dieselfde sakies gesit en dink. Maar soos wat ek moes teer op jou plesier van die Septembertoer, moet jy nou maar weer luister na wat alles gister gebeur het, en probeer om jou te verbeel dat jy saam gestap het.
Om jou voor te berei mag ek maar net vra wat jy nou dink ‘n mens kan verwag van ‘n dag wat begin met ‘n blik pap waarin nie net ‘n pond botter nie, maar ook etlike blikkies melk in verdwyn het. In die ou dae was ons tevrede met ‘n sokkie in die pap of almiskie ‘n verflenterde vadoek, maar deesdae moet dit botter en blikkiesmelk wees. Dis alles tekens van die tye – “Time marches on.”
Maar ten spyte van sulke klein dingetjies bly die BTK darem nog baie dieselfde. Jy hoef gladnie jou sosiale werk onder die kaffertjies te verlaat om dit te kom voort sit onder die BTK-nertjies nie. Jy moes gesien het hoe hulle nes altyd hals oor kop alles in die rugsakke stop as die vragmotor al begin rondtrap. En toe bondel almal daarin net asof hulle self somaar rugsakke is, totdat ‘n mens op die ou end maar in die chaos vir jouself twee bene uitkies as jou eie, en dit dan liefdevol dophou sodat niemand daarop gaan sit nie. Maar as jy uitklim is dit glad twee ander bene wat onder jou beweeg.
Die vragmotor het ons van Vyeboom geneem tot naby die bosboustasie in Viljoenspas. Die meeste van ons was ook nie jammer om uit te klim nie, want die gestamp in die stof het ‘n welriekende klank van kos en lampolie in die lorrie losgeskud. Maar sommige van die slagoffers van ontluikende liefde sou graag nog wou verkeer in die vriendelike atmosfeer van dowwe lig en min ruimte. Maar somaar gou het die vragmotor weer na die kamp verdwyn om die bagasie op te laai en is ons van die grootpad af die ruigtes in.
Jy het mos dikwels gesien hoe die streep rooi nekdoeke kan uitrek teen die hange van die klowe. En dan weet ‘n mens mos ongelukkig net wat rondom jou aangaan; dus sal ek nie van elkeen iets kan vertel nie – soms is dit ook maar goed. Maar so nou en dan by ‘n stroompie word daar mos gerus en dan sien jy darem weer fyn strategie. Ek bedoel hoe dat sekere mense sorg dat hulle by ander beland, en as Dokter weer die voetpad vat, dan het daar ‘n hele herskommeling plaasgevind, behalwe Dinks natuurlik. Die bly nog altyd op die voorpunt. Sy het nognie die kuns leer ken om stadig in die slot te slenter, of om eers ‘n stukkie te gaan sit en gesels en dan weer die res op te vang nie. En ou Moppie weer, die moet altyd in die bondel wees, gewapen met haar stewige stukkie besemstok waarmee sy soms iemand op sleeptou neem. Maar selfs dit sal haar nie stil laat word nie. Die woordjies rol maar gedurig nog voort.
Ek wens jy kon saam met my op ‘n rots gaan sit het om die streep so te sien verbystap – ja, van party moet ‘n mens so op die laaste dag liewer sê verby sukkel, met beblaarde voete, gaar kouse en stukkende skoene. Jy sou nie kon help om Crena se hotvoet raak te sien nie. Die geniepsige gaping so voor in die skoen is ter wille van die toonstampklippe vol gras gestop wat so skuins na vore wegstaan soos Colyn se snor.
Ja, en dan is daar nog weer Magriet wie se skoene gouer moeg geword het as sy self, sodat sy naderhand met haar fyn voetjies spoortjies getrap het in die sand, al wou die miere haar nie altyd toelaat om te lank op een plek te staan nie. En wat dan weer van die swaar erfstukke uit die geällieerde leër, waarmee meer as een gestap het. Selfs Desmi se chorusgirlvoetjies is in ‘n paar swaar stewels toegeryg. ‘n Mens sou waarlikwaar ‘n tesis kon skrywe met as titel “Die Veelvoudige Verskyningsvorme van Voetversorging”.
Of as ons nou van die aarde weer ons blik meer opwaarts sou werp, dit wil sê tot iets meer verhewe, dan is die verskeidenheid hoofbedeksels weer net so ‘n rare versameling. Voor in die ry begin Dokter met ‘n netjiese rooi pet, en agter hom is Martin en Dinks se kaalkoppe, maar in die bonte gevolg is daar alles en nog wat versprei. Barlo en Joan stap met strooisambrele, en Martie du Toit met iets dergliks; nie doodgeryp soos die ander twee nie. Klein Kiep se halfwas Franse beret lê op sy linkeroor, en Noeline Fourie se blou rand rondom het niks in die middel nie. Hellie Theron het weer ‘n rooi dotjie met ‘n stukkie BTK-toiing daaraan, wat in die wind waai soos ‘n voëlverskrikker vir die kloof se blindevlieë. En wat dan weer van Colyn se keil? Maar daarby kom ons later.
En tog – soos jy self weet – vergeet ‘n mens soms almal rondom jou wanneer die geweldigheid van die berge of die teerheid van ‘n enkele blom jou aandag trek. Gister was nou weer by uitstek so ‘n dag – ‘n dag waarop die natuur homself aan jou opdring deur die bossies in die ruigte wat teen verbrande bene krap; en ‘n dag waarop die lang streep BT-Kaners slinger oor die strome deur donker klowe en verby skadukolle vol weelderige varings.
Dit was op een van hierdie pragtige plekke waar ons uitgespan het vir middagete. Daar was iets van alles: van kos vir Marie Loenig tot prehistoriese paddas vir Phillip, en veral ook ‘n rusplekkie vir Gert en die ander oues van dae.
Daar was twee heerlike swemkuile – een vir die wat net iets saamneem om mee af te droog, maar niks om aan te trek nie, en een vir vertoonswem. Van laasgenoemde het veral Colyn gebruik gemaak. Ek bedoel nie die slag toe hy onder die waterval gaan staan het nie, maar die slag toe hy nie kon staan en in die water geval het. Vir ‘n besondere rede wou hy langs ‘n besondere weg die oorkant bereik, maar daar was iets anders heel besonders vir hom berei. Met ‘n geweldige sprong was sy bene in die lug, maar onder groot gelag was hy plat op sy rug. Hy het tot sy oorspronklike stellings teruggekeer, en wou met ‘n tweede sprong ‘n teenoffensief loods teen die oneerbiedige uitbundigheid. Maar die tweede dwaling was erger as die eerste. Sy bondgenote het hom te hulp gesnel: Groot Johann Pauw en nog so ‘n een en ‘n enkelte. Maar soos die skrywers van speurverhale sê: “There’s always a woman in it.” En toe Barlo op die toneel verskyn was dit nie honderd jaar of Johann trek deur die lug met sy gesig volmaak geplooi op die styl van “Wie ek? Ja jy.”
Die reaksie by die lange Coligny was opvallend. By sy eie val het hy gevoelvol sy heiligbeen gestreel, maar toe Johann in die water land het Colyn sy buik gestryk.
Die hoofkarakters in hierdie magtige drama het ingewillig om die moment in beeld te laat verewig. Maar Colyn se fondamente het gewankel. Soos ‘n Spaanse danseressie het hy wurmbewegings uitgevoer, tot hy met dof sware plof die water nogeens trof.
Hierdie was ‘n uitstekende kans vir die matematies deeglik onder legde Simon om sy suiwere onderskeiding van waardes aan die dag te lê. Hy het twee voorwerpe sien sink, en sy plig het hom geroep tot ‘n reddingsdaad. Maar “to be or not to be” – watter een sou hy red? Sy keuse is gedoen: Colyn mag sink; sy hoed moet liewer gered word.
Voordat iets erger gebeur is ons liewer weg, hoër op in die kloof, en uit langs die hellings vol blomme. Op ‘n nekkie het ons in ons spore gaan sit, terwyl die wat kaalvoet was maar bloots moes sit. Wel, soos jy weet sien ‘n mens gewoonlik meer en meer van iets wanneer jy oor ‘n nek kom, maar hierdie keer het daar altyd iets meer en meer van die “iets” self oor ‘n nekkie agter ons gekom. Dit was Danie Luckhoff, Johann en Colyn, oftewel King George met sy twee “companions of the Bath”, afgedroog voor ‘n vuur en uitgedos in nuwe gewaad.
Met middagkoffie was ons reeds by Tweede Waterval – ‘n plek wat self baie stories sou kon vertel. Die koffie was welkom, maar ongelukkig sonder melk. Net twee mense het melk in hulle koffie gehad, en dit het hulle nie goed gedoen nie. Dit het die twee sondaars (Philip McLachlan en ek) hul teenwoordigheid van gees laat verloor, en so onder die “damesstap” was die kat al uit die sak, en deur die gulsige gesuig van soveel getuite lippe is die begeerde blikkie deeglik drooggemelk. Die diplomatieke set om Dokter tot ‘n medepligtige te maak, het nie geslaag nie.
Wat was Dinks en Magriet se verontwaardiging groot toe hulle hoor van die tragiese uiteinde van die beloofde rantsoen.
Die laaste skof na Jonkershoek het almal gestap soos dors osse wat water geruik het. En skielik moes almal besef dat nog ‘n toer verby is. Maar sonder die afskeid by die Pastorie sou ‘n toer mos wees nes ‘n diens sonder ‘n slotsang. Daarom het ons eers weer “Totsiens geliefde BTK” gesing, voordat elkeen, belaai met sy rugsak, komberse en ‘n skat van herinneringe oor Stellenbosch versprei het.
Wel ou Bill, soos jy self weet is die BTK iets so heel besonders dat ‘n mens nie lus het om oor koeitjies en kalfies te skrywe as jy nog vol is van die toer nie. Die ander sakies moet maar liewer wag tot ‘n ander dag.
Als altoos
Hoffie Louw
(Sketsskrywer)