Cederberg April 1941

Wie wil saam die Cederberg met ons klim,
Wie wil ook ons liedjies saam met ons sing.
Hoor hoe die kranse antwoord gee,
Roep jul hom nou mee.

Ja, die derde Cederberg toer is ook nou al agter die rug en as ons so terugdink aan die toer dan kan ons nie help om daaraan te dink as een met baie wedervaringe en tog een wat ons lank sal onthou.

Dis nog soos gister dat ons sak en pak almal stasie toe gestroom het. Op die stasie is die goed die trein ingegooi en die eerste van die reis het begin. Op Bellville het almal met mekaar kennis gemaak en is daar heerlik saam speletjies gespeel.

Op Malmesbury na ‘n heerlike beker BTK-koffie is almal bedtoe om ‘n baie rustelose nag op die trein deur te bring.

Die volgende môre het almal met lang gesigte uit die trein geklim want die toer het met reën begin. Op die bus is egter gou met sing en grappies begin en dit was nie lank nie of almal was aan die lag.

Van Pakhuispas het die eerste skof begin. Ons het maar vyf myl gestap maar dit was nietemin genoeg om ons papnat te laat reën.

Op die plaas Pakhuis moes die tante haar klerekas omkeer om sommige meisies droë klere te gee, en die vuurherd in die kombuis was baie welkom vir al die nat skoene en koulike mense. Na ons die aand lampvuur gehou het is almal bed toe en dit was die “trippie” dat die klein Abraham in sy nagtelike rus gestoor het.

Saterdagmôre het ons vroeg geroer want ons moet die lang stap na Wupperthal begin. Die weer was lekker koel en die stap aangenaam maar lank en menige sug van verligting is ge-uit toe Wupperthal in die gesig kom. Baie knieë en voete het “uitgepass” en oom Dirk moes sy toontjieswerk begin.

Almal was die aand moeg en was bly toe Dokter opstaan met die woorde “Ons gaan nou sluit”. Veral Ankel was bly want hy het alleen geslee. Die boom was ongelukkig te ver anders kon hy met die geslee het.

Sondagoggend was net die papkokers vroeg op. Omtrent halfagt is ons onder uit ons drome gewek deur ‘n harde geroep: “Oggendbrrrood!”

Die oggend is stil deurgebring en na ‘n diens, deur Theo gelei, het die hongerige wolwe die heerlike ete bestorm. Die vrugte wat mev Strassberger ons gestuur het en die “prize” vla van die kosmoeders het veral baie byval gevind.

Net na die ete is ons na die sendingkerkie om die diens by te woon. Dr Francie het die eer gehad om in die ouderlingsbank te sit. Die koor van die kleurlinge het ons laat nadink oor waarheen ons met ons sang op toere moet mik.

Na die diens het ons almal in die koue water gaan swem. Die bestuur het die aand ‘n heerlike ete by die Strassbergers geniet en na ‘n stemmige program is almal bed toe.

Toe Dokter die volgende môre om kwart-oor-sewe die fluitjie blaas moes Ka net gryp om haar kledingstukke aan te kry want nou val die tente mos. Wat was ons nie verbaas toe Dokter sê dat ons die dag oorbly nie. Dit het toe ook die hele dag gereën.

Die Wupperthal skoenfabriek het ons die môre tot teetyd besig gehou. Baie skoene is gekoop en Piet Enslin moes net naar soek om ‘n nommer 11 paar te kry.

Die grootste deel van die middag is in oom Dirk se dood deurgebring. Die rukkies wat dit nie gereën het nie is daar “tenniqoit uitpass” gespeel. Die spel het die res van die toer baie aftrek gekry.

So teen die aand het die dames verkas na ‘n solder waar daar die aand ‘n baie geslaagde lampvuur gehou het.

Dinsdag is die langste skof van die toer afgelê. Nadat ons mev Strassberger by die skool gegroet het is die tog begin. Dit was sekerlik die mooiste stap wat ons die toer gehad het – om maar net Eselbank te noem – dit is seker een van die mooiste natuurtonele in ons land.

Vir middagete het ons by ‘n lieflike stroompie gestop en daar moes Ka se voete “gepetch” word. Nadat nege brode soos een verdwyn het is die middagstap begin met die vooruitsig dat daar +4 myl te gaan is, maar wat was die verbasing groot toe ons vind dat dit die vier verdubbel moes word. Tot bo-op die berg was die natuurtonele lieflik en ons het soos ‘n slang langs die berghelling opgekronkel. Moeg maar vol lewe het ons oom Swart Andries se plaas bereik. Die heerlike kwepers wat so aanloklik in die lanings gehang het het dan ook gedien om die honger te stil totdat die kokke die ete klaar gehad het. Die vleis het uitgepass en almal het langtand aan die groente geëet. Daar is baie laat begin met die slee sodat die woorde “nag dames” gou die aand beëindig het.

Woensdagmôre was die weer weer dreigend en is daar besluit dat ons daar sal oorbly. Die oggend is deurgebring deur jukskei en tenniqoit te speel. ‘n Paar het dit gewaag om in die koue water te gaan swem en nog ander het oom Adries se vyebome stormgeloop.

Die middag het al die mans besonder bedrywig geword. Van heinde en verre is bosse aangesleep om sleë te bou en die aand is daar somar regtig geslee. Witlies was ook daar om ‘n bietjie die lagspiere te prikkel.

Vroeg die volgende môre het die stap begin en nadat sowat vyf myl afgelê is het die lorries ons opgetel en oor Uitkyk-pas tot by Kredauwkrantz gery. Daar het ons die middag geëet en dit was daar dat Piet Spek sy nuwe amp naamlik om varke te jaag aanvaar het.

Vandaar was die stap na Hex-rivier al langs die groot pad. Dit was baie warm maar die entjie was kort en almal was vrolik toe ons die plaas bereik het. So hier en daar het een die wet oortree en die lemoenboord binnegegaan.

Terwyl die kokke die kos klaargemaak het is daar heerlik saamgesing. By die kampvuur is die gewilde hofsitting opgevoer. Die Tweeling moes deurloop omdat hulle ons almal, maar veral vir Leon, skoon in verwarring gebring het. Die nag het die dames “geserenade”.

Die tentekomitee wat nog maar min op die toer gewerk het was die Vrydagoggend besonder ywerig om die tente gou te laat val. Ongelukkig het hulle niemand meer binne gevang nie. Ou Owen en Van Wollenheps moes die môre ontgeld. Hulle het albei wakkergeskrik in die “Fishpond” waternat.

Die lang stap na Citrusdal is begin ongeveer half nege en ongeveer twaalfuur toe ons daar aangeland het is Citrusdal se akkervoorraad verminder aangesien die lus vir lekkers al groot was en almal gevolglik gekoop het.

En praat van briewe! Oral was iemand met ‘n brief te bespeur en jy moes maar net die gesigte dopgehou het om die vreugde daarop te lees.

Onder “Greys pass” het ons die middag geëet en na ete die pas oorgestap. Die gesig van bo die berg was besonder mooi. By “The Rest” het die spoorweglorrie ons opgelaai en ons by Eendekuil die Eindpunt van die toer weer afgelaai.

Na ‘n heerlike stortbad en ete is daar vir oulaas geslee. Die hout was nie te waffers nie en die windjie maar koud en skraal.

Elkeen het toe in sy lêplek in die kompartement ingeskud. Die mans het kom “serenade” en daarna het ‘n paar dames vir “cheppie” met haar verjaardag gaan “serenade”.

Na vele gestampe en gestote het ons die môre weer wakkergeskrik met die laaste geroep van “Oggendbrrrood!”. Om tienuur het ons die Eikestad binnegestoom elkeen singende:

“Al val die reën ook,
O, dit traak ons tog nie,
Die BTK stap-toer, hoerah!”

Dinks Roos
(Sketsskryfster)

Leave a Reply