Knysna-Grootrivier September 1940

Betreffende hierdie ou toersaak van ons, het hy op ons neergedaal Vrydagmiddag in September so skuins voor vieruur, toe die trein met ons nege-en-sestig stuks, goed ingeprop, uit Stellenbosch stasie wegstoom. Dit moes eintlik half-vier vertrek het, maar daar was ‘n vertraginkie met die inlaai van Piet Roos se voete.

Op Wellington moes ons wag vir ons trein Knysna toe. Terwyl Annie Goosen en Daantjie Franzen met die oog op die toekoms druk besig was om kennis te maak, het die minder behoeftiges hulself met speletjies vermaak. Net mooi skemerdonker is ons daar weg, behoorlik gehuisves in ons eie twee waens. En dit was nie honderjaar daarna nie, of die koffieblik en broodskinkborde maak hul rondte. Na nog so ‘n bietjie ge-chat oor en weer en ‘n sing-sakie hier en daar is ons bed toe, en toe Bettie Malan vir Frans sê hy moet ook saam slaap, het die eerste dag op ‘n end gekom. Daardie dag het niemand uitgepaas nie.

Die tweede dag het begin op Riversdal stasie, waar Dial Rabie se suster die grootgedagte gehad het om ‘n yslike kan vroegkoffie trein toe te bring. Van hier af is die een stasie na die ander op horings geneem. Mosselbaai was die toneel van die eerste groot uitpaas toe Bettie en Letta besluit om hul bed op die perron oop te rol sonder om eers na te gaan wat nog alles in die bed is. ‘n Ander groot saak wat hier gebeur het, is die bord treinkos wat elke toeris gebêre het.

Van hier af is die reis voor die venstertjies of op die bruggies afgelê, want van hier af het die terein begin waardeur ons die volgende week sou stap. Op George is ons waens aan die Knysna-trein oorgehak en singend en laggend het ons aangery tussen see en berg en bos. Die reën wat heeldag al gedreig het, het ons die middag om vieruur op Knysna verwelkom. Maar die nat pêre se harte was nie seer nie en in ‘n jis het ons kamp aan die oospunt van die dorp gestaan. So met die een en die ander, en al die blikke wat gewas moet word, het dit te laat vir ‘n kampvuur geword en ‘n elk en iegelik het maar die plekkie opgesoek wat hy die droogste geag het. Maar dit het nie verhinder dat daar ‘n aansienlike middernatgelike eksodus na ‘n leë huis op die kampterrein was nie. By hierdie huisparty het die hele kamp hom die volgende môre gevoeg, want die reën was nog steeds in ons midde. Alles het daar Sondag binnenshuis gebeur behalwe die blikwas. Bossie het sy diens in die appelsaal gehou, en daarna het mej Kobra die klomp geleer hoe beurtsange gesing kan word. Na die middag is gekoffiepot en langstories gesels totdat niemand meer kon lag nie. En die aand is die reën ewereens gespite met ‘n deeglike ou sing-saak. Ons het vroeg gaan slaap, want vyf-en-twintig myl na Keurbooms was ons voorland vir Maandag. Dit was die nag toe Bossie uitgepaas het, want hy het met ‘n padda gaan slaap.

Maandag het mooiweer begin en die tien myl na die Hof van Eden is op ‘n galop afgestap. Nadat ons die natuurskoon mooi goedgekeur het, was ons weg op ons sewemyl skof na ons eetplek by The Outspan. Hier het Bossie sy slagswaarde en ander moordtuie met mening tevoorskyn gebring, want die uitpassery onder die toonsakies was geweldig. Ons leier, dr Coertze, was tot sy eie ergernis een van die lyers. Hier het ons ook ons eerste kans vir ‘n pot jukskei gekry en Pavis Viljee het sy span tot hul eerste neerlaag van vele gelei.

Die voete was maar danig steeks met die wegspring op die laaste agt myl skof na Keurbooms. Die pad was oninteressant, die middag was warm, en die stuk reguit Nasionale Pad van Plettenbergbaai af, het nasionalisme danig ongewild gemaak. Die twee Knysna-vragmotors moes lelik byspring onder die krankes en melankoliekes. Selfs Piet Roos het, kompleet soos ‘n amateur ‘n blaar opgetel. Maar aan alles kom ‘n end en hierdie tog het ge-eindig op die oorkantse wal. Na Keurbooms, van waar die toeriste een vir een soos hul aangesukkel gekom het, sonder veel seremonie in die water getuimel het om weer mens te word. Dit was ‘n uitreinende saak. Hierna eers het die omgewing kans gekry om indruk op ons te maak. Die breë stroom water tussen die ruie rante, en die groen kweek waar ons kamp gestaan het, het die rus gegee wat ons nodig gehad het. En namate dit aand geword het, het die branding van die see hoorbaarder en hoorbaarder geword. Dit was die agtergrond van die eerste kampvuur van die toer. Sulke sake het Vatpaas (?) die durf gegee om sy stryd teen die lampe te volstry, sodat hulle voortaan nie binnekant, maar buitekant die slee-kring gestaan het.

Dinsdagmôre vroeg-vroeg het ons in die pad geval vir die twintig myl na Grootrivier. Bossie se oortyd werk van die vorige aand het geblyk voete van klei te hê, want sommer die lang hoogte by die wegspring het die vragmotors al hul eerste passasiers besorg. Dit was ‘n lekker pad om te stap, vol draaie en deur wisselende landskap. Maar voetseer was ons beslis. Dit was hier dat ons chaperone, Hettie Odendaal, soos ‘n reddende engel gekom het met die groot raad dat ons ons moet verbeel ons loop op wolke. Die meeste van ons het egter net die silwerrante raakgetrap.

Na twaalf myl het ons langs die pad onder die bome geëet. Die middagstap was vir die helfde die lang afdraend na die mond van die Grootrivier. Dit is ‘n indrukwekkende wandeling. Aan die een kant die weggekapte berging, en aan die ander kant ‘n diepte waarin reusebome in die loop van die eeue opgegroei het uit die struikgewas aan hul voete tot waar hul geweldige kruine die vrye sonlig vang. En onder in die gelykte werp maagdelike woud van alkant skaduwee oor die pad wat lei na die kampplek van alle kampplekke aan die Grootrivier. Hierdié lushof het ons met dankbare voete betree, en dit was nie duisend jaar nie of ons sit plat in die waters van Grootrivier, besig om deur negatiewe die groot uitpaas van die son te betrag.

‘n Kampvuur in hierdie wêreld kan nie anders as goed wees nie. En ons s’n was beter. George Murray en sy manskappe het met behoorlike boomstamme vuurgemaak, en liedjies en grappe het aan die voorwêreldlike bosse verkondig dat die BTK op besoek is. Woensdag het ons laat geslaap en daarna die dag deurgebring soos elkeen dit verkies het. Pavis by voorbeeld het verkies om lady Duncan style te gaan swem; Kolyn, Bossie, Hettie, Antooi, Piet Roos, Dail, Flip en Jozua Theron het verkies om ‘n opera in te studeer, wat die aand geblyk het ‘n flopera te wees; ander weer het die see kom besigtig; nog ander het somaar gesit; en almal was hoogs voldaan met hulself. Dit was ‘n goeie ou dag-saak. Soos reeds gesê, het die aandprogram uitgepaas. Dieselfde aand het Kolyn die blikwassers se handewater vir koffiewater aangesien. Die gevolg was ‘n algemene uitpassery.

Donderdag is ons dieselfde pad terug Keurbooms toe. Ons eetplek was The Gags, ‘n twaalf myl stap. Dit was ontsaglik warm. Elke huis wat dit gewaag het om aan die pad te staan, is vir drinkwater bestorm met die stille hoop dat dit dalk koffie ook kan word. Dieselfde ou rivier en dieselfde ou kampplek van Maandag is met dieselfde blydskap begroet. Almal was naastenby poot uit. Daardie aand het ons somaar ‘n bielie van ‘n kampvuur gehad. Reynald Hofmeyr se digkisnatuur het ontluik, sultan Kolyn met sy Arabure het ‘n drama saak met ‘n moraal opgevoer, maar die moraal het verdwaal; Piet en Flip het vir die vales geboom-boom; die dames het ‘n treinspel op die hart gehad; almal het ‘n liedjie in die kop gehad; en sulke dinge meer.

Nadat Johan Bell die volgende môre in sy slaapsak gaan swem het, is ons die rivier op per motorskuit. Die kranse alkant het die BTK-liedjies na ons teruggewerp, die bome het in die water weerspieël, Hoffie Louw het nog ‘n stappie op die weg van die liefde gedoen en almal het die spirit gehad. Bo tussen die bosse het ons geëet, rondgestap, bobbejaantou geswaai en geswem totdat ons vreugde oorgeloop het. En weg was ons op die vyf myl stappie na Wittedrift, waar Daantjie Franzen die aand sou sorg dat die sotte-toeriste die nodige vermaak verskaf. Al die groothane van die omgewing was teenwoordig, en Daantjie was “awfully upset”, maar op die ou ent het hy tog die aand oorlewe.

So om die middernagtelike uurtjie het ‘n reëntjie die buiteslapers, insluitende mnr Graham ingeja. Dit het hom so ontsteld dat hy met beestelike geweld twee krekels teen die tentmuur verpletter het. Al wat die dag uitgepaas het was die krekels.

Die laaste dag se stap was onder ‘n bewolkte hemel, maar die reën het genadiglik uitgebly. Die eerste dertien myl was sonder vragmotors deur die bospad oor Kafferkop. Dit is ‘n pragtige wandeling. By die motorkamp net anderkant Bracken Hill het die krankes gesorg dat die ete klaar was toe die stappers kom. Die agt myl die middag het ‘n ompad van ‘n myl na die waterval ingesluit. Niemand was spyt oor die ompad nie. Op Knysna is met die oog op die weer weer intrek geneem in dieselfde huis van die week tevore. Ete was daardie aand om die een of ander rede om tienuur, sodat daar volop kans was om ‘n warmbad in die dorp te gaan soek. Ten spyte van die korte duur van die lampvuur is ‘n paar skitterende items gelewer waaronder ‘n voorstelling van hoe sekere groot hane van die BTK oor twintig jaar daar sal uitsien.

Ten spyte van die dames se serenade het die nag sonder ongeval afgeloop. Die oggenddiens is deur Johan Bell waargeneem. Die namiddag het ons met behulp van een van die vragmotors gaan kyk hoe Knysna se “Heads” lyk. Dit was vyf myl van ons kampplek.

Onder ons gaste die aand by die kampvuur was mnr en mev Roode van die Ambagskool wat daardie môre warm baddens verskaf het aan almal wat wou hê. Die kampvuur was skitterend – ‘n waardige einde aan ‘n toer wat nog lank in ons gedagtes sal leef. Ons het met ‘n leë gevoel om die hart geluister na dr. se afskeidswoorde en na sy laaste “nag almal!”

Dou-voor-dag die volgende môre is ons daaruit en die pakwerk was betyds klaar om nog ‘n besoek af te lê by die “met verlof gesê” stinkhout fabriek van gebrs Jonker. Nat van die reën het ons om half-tien die modder van Knysna van ons voete geskud, en weg was ons.

Die treinrit was ‘n allamensige goeie saak, want die spirit was nog met ons. Op die perron van George stasie het die heelal om ons vergader om te sien hoe ons eet, om te hoor hoe ons sing. Al ongeval van daardie nag was Theuns Badenhorst se nek, wat hy verrek het om behoorlik na Pavis en Schalk se skinderpraatjies te kan luister.

Stellenbosch het daar maar sieklik uitgesien toe ons Dinsdagmôre om tienuur hier aankom. Ons het ons bes gedoen om met ‘n paar liedjies deur die strate die plek ‘n beter aansien te gee, maar op die ou end is ons toe maar voor die pastorie uitmekaar met die gevoel dat die Knysna-wêreld op stuk van sake tog maar die meer beterste wêreld is en bly. “And so say all of us. Sela!”

Marius de Villiers
(Sketsskrywer)

(Geskryf deur Schalk Pienaar)

**************************************

Herfswens

Weer was ek in die akkerwoud
En die blare was geel met môre-goud,
Die stamme met mos van die jare beslaan
Waar die wêreld in herfsbruin staan.

Vanmôre is alles soos ‘n roesgeel vlam
Wat uitklim bo blare en stam…
O kon ek my oog dié ligglans gee
En gister soos hope ou blae wegvee.

Jan Rabie – Apriltoer 1940

Leave a Reply