Die Koeëlbaai Uitstappie 18 Maart 1935
Dit is die eerste uitstappie van 1935. ‘n Verbasende groot getal neem daaraan deel, ook Rosenhof en Denneoord kan ons in ons midde verwelkom. Dit lyk of die BTK vanjaar populêr sal wees! Byna kry die lorries nie almal by Steenbras nie, al het een seksie al sesuur voor die Uitspan staan bewe. Die lorrie was natuurlik laat. Van die hoogte aan Stellenbosch se kant van Somerset stap ‘n vrolike groep al aan solank hul maats op Stellenbosch gehaal word.
Na ontbyt by Steenbras rivier word almal aan mekaar voorgestel op die nuwe brug en toe verder Koeëlbaai toe! ‘n Paar wat verkeerde skoene aangehad het het baie swaar gestap, maar almal het darem veilig anderkant aangekom. Frans het glo te veel energie gehad en ‘n groot klomp volg hom verder af Rooi-Els toe en begin kamp op ‘n grasperk. Ons was al aan swem toe ons die blou rook van ‘n BTK-vuur by die grotte sien opstyg en Doktor ons laat haal.
Na ete het ons so gespeel dat dit gelyk het of daar ‘n ploeg deur die sand was. Omstreeks drie-uur het die eerste vrag begin stap en vieruur is die tweede vrag van Koeëlbaai weg. Hul moes solank wag by Steenbras dat hul wou koffie maak maar net toe die hout bymekaar was, het die lorrie aangekom. Dit was baie koud en eers negeuur het ‘n klomp stywe BT-Kaners voor die Uitspan afgeklim. Ons ou kaptein Koorts was die dag ook saam sodat ons ‘n klompie baie mooi kiekies daarop na gehou het.
Die Uitstappie Na Die Tweede Waterval 6 April 1935
Alweer is die getal wat saamgaan groot en ‘n vrolike klomp is die oggend van Stellenbosch weg. Nadat ons by die huisie anderkant die plaas ontbyt het is die tog na Eerste Waterval voortgesit.
Die wat dit vir die eerste keer gesien het het stil gestaan oor die skoonheid, die ander het weer opnuut die bewondering vir hul voel opkom en die herinneringsbeeld hernu. In die kom het ons ‘n klomp bobbejane gestoor en het hul vinnig die berg uitgeklim.
By Tweede Waterval was die vrolikheid uitbundig, en party kom daar katsnat van af. Na ete het ons uit die kloof gestap en het sommige ‘n ander klein klofie in gestap terwyl die ander by die riviertjie wag.
Met die opgaan het die agterstes bye gewaar en ‘n paar steke gekry maar verder as om daarmee te spot het dit nie gekom nie. Met die afgaan egter was dit nie te lank nie of ‘n hopelose paniek heers onder BT-Kaners wat met bye in die hare holders en bolster afrol en hardloop tot by die water. Een van die wat die affêre aanskou het, dig:
Dis ‘n vrolike klomp
In ‘n mooie kloof
Dis ‘n lekker uitstappie
Wat baie beloof.
Dis al.
Dis ‘n wilde gestrompel
‘n Onderaardse gemompel
Dis bossies wat breek –
Dis bye wat steek.
Dis al.
Dis ‘n jammergekla
Dis bye wat ja
Dis vas teen ‘n boom
Dis ‘n duik in die stroom.
Dis al.
Dis klere wat nat is
Dis hare wat glad is
Gekneusde gewrigte
Geswelde gesigte.
Dis al.
Ongelukkig was dit nie al nie. Haastig is ‘n motor uit Stellenbosch gehaal. Joos Naudé was so vriendelik om die siekste meisies op te laai. Hy moes egter sy brieke goed gebruik. Hy moes so baie – so haastig stop.
Drie meisies is hospitaal toe. Gelukkig was die buite geswelde kliere en jukplekke niks erg nie. Dr Eiselen wat gids was is ook baie gesteek, maar Maandag kon hy darem die geswelde gesiggies in die hospitaal gaan bekyk.
Le Ridge Peak 04 Mei 1935
Op 4 Mei is ’n uitstappie deur ses veterane van die mansgeslag gemaak na Le Ridge Peak. Onder andere was Einstein ook saam. Hulle het dit almal baie geniet. Dit was so nat dat hulle sê hul bly was daar was nie meisies saam nie.
Sonkop Uitstappie 06 Mei 1935
Op 6 Mei sou daar ’n uitstappie na Banhoek kloof wees. Weens reën in die vroeë môre moes dit op die uur geskraap word. ’n Klompie entoesiaste kon die wonderlike dag wat daarna deurgebreek het tog nie in hul kamers deurbring nie, met die gevolg dat van alle kante klompies bymekaar gekom het en Sonkop uitgeklim het. Die laaste groepie het eers omstreeks elfuur skoene en broeke genoeg geleen om saam te klim. Deur die natbedoude gras klim ’n groepie met hul gesigte na Sonkop gewend. Daar ver teen die gesigslyn sien hul die silhoëtte van hul maats wat van Helshoogte opklim. Hier voor hul moet hul stil staan om uit te roep oor die kleureprag van die doudruppels in die son, en dan weer verder op, na waar die son en vry lug en die BTK maats vir hul wag.
Met groot gesukkel is koffie gemaak waarna ons gesels het en toe is ons af om in die oerwoud in die klofie middag koffie te drink. Omstreeks vyfuur was ons weer in Stellenbosch.
Eerste Uitstappie na die Pieke na die ongeluk van verlede Jaar 3 Aug. 1935
In pragtige weer, met die berge nog in donker skaduwees, waarmee die wit skitterende besneeude berge ’n skerp kontras vorm, gaan ’n twintigtal BT-Kaners Pieke klim. Oral glinster die dou, die skoon koue oggendlug gee opgewondenheid.
By Langkloof begin dit warm word, en almal is bly om ’n bietjie te blaas by die ontbytplek. Hier eers kom die gids, Gert, hygend aan, hy moet bieg dat hy verslaap het. Sigarette word van hom geroof as straf.
By die rustige opstap in die kloof is ons net bewus van skoon kletterende water, ou bome, varings en bo alles van die oorweldigende stilte. Ons is in die berg.
As ons by die plek verby gaan waar Jannie Retief verongeluk het, word die stemming ernstig, maar as bo op die nek die eerste sneeu gevind word ken die uitgelatenheid geen perke nie. Nou is dit net een klimmery, dan in ’n strategiese vesting ander te bestook. Voor ons dit merk is ons in die vlei, waar Bey die kans waarneem om ongesensuurde stories te vertel.
Die gesig van bo-op die Pieke – wie nie weet hoe dit lyk nie, moet maar self gaan kyk. Dan weer af, hier is onbewuste vaart, swik-swik, skommel-skommel, bome kan nie meer nie, maar af gaan dit, met haas onbewus in onsself opneem van vergesigte, loodregte kranse en varingryke klowe.
Die aand het ek gaan bier op ’n vrek lekker dag.
Tweede Waterval Uitstappie 12 Oktober 1935
Na die Toervakansie is dit weer die eerste uitstappie van die kwartaal. Dit lyk of die kortheid van die kwartaal en die nabyheid van die eksamen die mense druk. Die enigste deelnemers was: Twee Grey Cockers, drie Monicaners en een privaat meisie, Reep, Einstein, Jannie Moolman en Dokter Eiselen wat gids was. Dit is alreeds die derde keer wat ‘n waterval uitstappie georganiseer word na die bye-voorval.
Hierdie keer het twee van die byehospitaal moed genoeg bymekaar geskraap om ook weer saam te gaan. Dit was ‘n besonder mooi dag en omdat ons so min was was ons vroeg al by die Tweede Waterval. Die Bosbou-departement het die paadjie hierheen onder hande geneem en hoewel dit baie vergemaklik is het myns insiens baie van die skoonheid verlore gegaan. Hierdie keer het ons ons middagete in die kom van die Tweede Waterval gaan maak. Die son was vol op die val en die sit skuim en damp was so helder dat mens byna nie daarna kon kyk nie. Aan die voet van die val was ‘n klein volmaakte reënboog; ongelukkig was dit te nat om na die bak goud aan die voet daarvan te soek. Ons het in die bos gebly totdat die son heeltemal weg was en dit te koud geword het.
Voordat ons weer ons terugweg begin het, is ons eers weer ‘n syklofie op. Gelukkig is dit ‘n bekende kloof en hoef ons nie bang vir bye te gewees het nie. Voor vyfuur was ons lekker nog, verbrand en gelukkig weer in Stellenbosch terug.
Uitstappie Met Die Wandervögel 29 November 1935
Vrydag
Die Wandervögel is uitgenooi en ons het met baie professoor karre tot by die Bosbouplaas gery. Dr Eiselen het as gids opgetree. Net vyf van die tien Duitsers kon saamgaan. Altesame was ons agt-en-twintig. Op Platklip is ontbyt geneem. Ons het taamlik laat begin en dit was reeds warm. Eenuur was ons alreeds op die middag eetplek. Die aftog het baie stadig sit-sit en gemaklik gegaan, siende dat die Duitsers ons wou “filmen” en ons elke keer moes sit en lekker rus en dan ewe elegant opstaan en verder wandel.
Teen sesuur was ons weer by die Bosbouplaas en terwyl sommige begin voetslaan huistoe het die karre een na die ander ons kom oplaai.
Ongelukkig het een van die Duitsers ‘n kosbare kamera verloor en hoewel die volgende dag daarna gesoek is wat dit nie weer gevind nie.
Dit was ‘n baie aangename dag soos dit gelyk het ook vir die Duitsers. Hulle het ons ook die hele dag laat voortsukkel in Duits terwyl hulle goed Engels kon praat.
Pieke-Uitstappie 2 Desember 1935
Die middag van die 2e Desember is ongeveer 35 Maties met vrolike harte op pad na Jonkershoek. Ons was eers soos skape sonder herder maar omtrent sewe-uur het dr Eiselen ook aangeland op sy fiets. Gou het die kampvuur gebrand en het die kring in komberse toegerol daarom vergader. Die mense was maar bietjie lui vir items en met die sing het dit so gegaan dat die boonste deel van die kring altyd so ‘n paar note agterna gekom het.
Omstreeks elfuur is ons bed toe en die volgende oggend met baie koudkry op en sesuur daar weg. Een seksie wat bietjie gekrok was is toe verder Watervalle toe terwyl vier-en-twintig Pieke op is. Dr Eiselen het hierdie groep gelei terwyl Gerard vir die eerste gids gespeel het.
Toe ons agter Ridge Peaks indraai het ‘n paar ou mannetjiesape ons met groot lawaai begroet. In die riviertjie voor die tweede Waterval wat also baie van ons lotgevalle gesien het, het ons ontbyt. Die windjie het skraal om die rand gewaai en die vuurtjie op die klippe het ons elke keer laat skrik as die klip onder hom bars.
Daarna het ons ‘n luilekker dag verdeel tussen die eetplek en die kom van die Tweede Waterval.
Teen vieruur was ons alreeds weer terug op die plaas. Sommige het gevoel hul verdien nie die rit terug nie en het toe maar gestap totdat die pieke groep met hul lorrie hul naby Stellenbosch opgelaai het.
Pieke toe: Na ons afskeid geneem het van Gerard en sy bende het ons ons weg gewend na die Pieke. Ons was ge-inspireer deurdat Dokter ons die goeie mense genoem het en ons dus regtig verhemel bo die Gerhardiete gevoel het.
Gou-gou egter was daar moeite. Die meisies, sewe in getal, wat gewoonlik so voorbeeldig Dokter se bevele uitvoer, het natuurlik die verkeerde pad geneem en teen die hange van die berg in die hoë gras rondgeval. Ilse het gelyk asof sy tenminste ‘n week in Abbesinië was.
Na Doker toe eindelik die klompie weer by nek oor gejaag het het ons begin klim. Asemloos het almal die vlei bereik waar ons geëet het. Daarna is ons die eerste pieke uit en nog ‘n slag het ‘n klomp Maties stil gestaan by die aanskouing van die wonderlike panorama.
So vroeg was dit dat ons tyd gehad het om ook die ander piek te bestyg. Toe het ons begin afklim. Elkeen het sy oë oopgespalk om te sien of hy of sy nie dalk die Duitser se kamera gewaar nie.
Die 3 pond beloning was die oorsaak dat menig een se ooglede vir altyd verrek is.
As bewys van sy wantroue in die meisies het Dokter by die koffie plek die mans vooruitgestuur.
Toe het ‘n klomp vloekende BT-Kaners deur die krappende bossies gegaan. Eindelik op die oop pad het ons weer littekens vergelyk.
Op Stellenbosch kon mens die volgende paar dae die Pieke klimmers uitken aan hul houterige bewegings en aanhoudende geklem aan stywe litte.
Tafelberg-Uitstappie 6 Desember 1935
Die oggend van Vrydag, 6 Desember het die stasie weer vol gestaan van khaki gekleedde Maties wat hul gesigte gerig het na Tafelberg.
Dr Eiselen was weer gids en vrolik het sy fluitjie die Maties onder die klok in Kaapstadstasie bymekaar geroep. In Adderlystraat het ons die Kloofnek darem gekry en dit eenvoudig toegepak onder ons komberse en kos. Van Kloofnek het ons so streep-streep met groot pakke op die rug ons goed na die kabelspoor stasie gedra. Toe het die tog met die voetpad begin.
By Blinkwater het ons middagete geneem en toe is ons verder om by Kasteelspoort die berg te bestyg. Dit was warm en onder ons lê die heerlike blou see net vir ‘n spring. By die damme gekom moes ons verder oor rante en deur vlei tot by die stasie waar moeg en dors klimmers hul kon verfris in die restaurant. As hul maar êrens geld te leen kon kry. Eindelik het ons weer ons beddegoed na die kampplek terugdra waar elkeen net moes soek vir ‘n gemaklike slaapplek tussen die klippe. Die plan was om so gou dit donker is die ligte van Kaapstad te gaan kyk van die rand van die berg.
Terwyl ons eet het dit al kouerig geword en gou was net nog ‘n paar mense onder die komberse uit te sien. ‘n Dik mis het by plekke oor ons heen getrek.
Skielik roep iemand – gou is ons almal die rand uit om die son in die water sy vorm te sien verander en verander totdat dit so fantasties was dat ons dit nie meer kon herken nie. Dan eindelik verdwyn die laaste stukke en vinnig word dit donkerder en donkerder.
Omtrent agtuur het die mis verdwyn en het ons die tog na die stasie begin. Daar was dit heerlik warm en stil. In groepies het ons die hele aand op die klippe gesit en Kaapstad wat nou niks as ‘n massa ligte was, sit en bekyk.
Die nag was daar ‘n opskudding. ‘n Geroep van BTK en ‘n naam wat ons taamlik onbekend was. Twee het toe by ons kom aansluit. Nog ‘n opskudding Dan en Reep en ‘n afgeblaasde matras. Daaroor trek ons liewer die sluier.
Die volgende oggend het ons met ‘n ander pad om die reservoirs geloop en by die Berg Klub se hut vir dr Bisheuwel ontmoet. Vandaar het hy ons gelei in ‘n feë land wat vir almal van ons nog onbekend was. Daar het ons Hellls Gates wat meer na Paradise Stairs gelyk het gesien op sagte mos getrap en ons gespieël in stil waters tussen rotse.
Op Constansia nek uitgekom. Naby Kirstenbos geëet en terug na Nuwelande stasie. In Kaapstad moes ‘n paar agterbly om die goed te bring en die ander is op die trein en terug na Stellenbosch.
Terug op Stellenbosch miskien vir die laaste keer maar nooit sal die Tafelberg uitstappie sterf nie altyd sal hy ewe lewendig voortleef in ons liefste herinneringe.
S H Wessels