‘n Skets van gebeure deur Jacomien Hauman, vir oulaas
Saterdag, 7 September
Thousands of tired, nerve-shaken, over-civilized people are beginning to find out going to the mountains is going home; that wilderness is a necessity…
Dis die einde van die sogenoemde sosiale kwartaal. Dit was ‘n kwartaal van huisdanse, ser-kyk, HK-verkiesings, baie reën en sneeu op die berge. Die kwartaal was vol dinge, toetse, koffiedates, laataandkuiers en sperdatums, en maak nie saak hoeveel plakkate of e-posse daar was nie, jy’t nog steeds vergeet om kwota op te laai voor die 30ste Augustus.
Die klem natuurlik, in hierdie paar sinne, val op die woordjie was, want ja, die kwartaal is verby en dis weer tyd om te gaan ontlaai en herlaai in ‘n stukkie van God se geskenk aan ons. Sakke en kiste word vroegoggend by die Neelsie gelaai en plekkies in bus word uitgekies vir verder slaap. Nadat toerleier, MD ‘Klaar-daar’ Greyling, almal verwelkom het, sy naam in engels probeer verduidelik het en ons vir ‘n uur plus gewag het vir verlore toerlid, Paul Saaiman, word daar besluit dat daar in die pad geval gaan word. Daar word laer in die banke geskuif en die eerste post-toetsweek of post-kwartaal slapie word ingewerk.
Lyk my daar is net iets anders aan die lug by Piketberg, want soos soveel kere vantevore, word die bus wakker en kry toerlede bietjie meer volume soos wat ons deur die dorpie ry. Dis ook duidelik dat dit nie meer winter is nie, met temperature wat styg in die bus. Jy’t al stories gehoor dat Vanrhynsdorp klein is, maar nadat ons al verby twee drankwinkels en ‘n hele paar koffiewinkels gery het, begin jy wonder, totdat die storie van voor kom en jy besef dat ons net al twee keer om die dorp gery het. Ons kry uiteindelik weer rigting en ry met ‘n grondpad tot waar ons gaan begin stap. Sakke word gepak, verstellings word gemaak en in die warm son gewag vir die bakkie wat ons toerouers en kossakke bring.
Die geleentheid word sommer gebruik om ‘n paar goed te verduidelik. Peter ‘Mülste’ Müller en Madilien ‘Kleinrosie’ Roos verduidelik hoe skiet werk, gevolg deur Johannes ‘Oupa’ Rabie, Charl Ellis, Gustav Wiid en Gerhard ‘Waar’s-my-boekie’ Rossouw wat ‘n item verduidelik.
Johan Wiid en toerouers Hans ‘Mül’ en Anneke ‘Müller’ Müller kom ook uiteindelik aangery met die wit bakkie en dis nie lank nie, of ons val in die pad met rugsakke en wandelstok. Kyk, die BTK is vir seker ‘n plek wat jy opnuut dankbaar word vir die mense rondom jou en hoe hulle jou help, selfs al is dit nou net Engela van Schalkwyk wat sê: “Dit is warm”, vir ingeval jy nog nie self agter gekom het nie.
Met ‘n ritme wat net begin werk, word daar weer gestop vir middagete. Groepies kamp uit onder verlate bosse en geniet heerlike middagbroodjies, terwyl waterdraers met groot moeite by water probeer uitkom. Een so ‘n waterdraer is Jaco Delport en toe hy uiteindelik terug is kan slot Gustav en sy sleutel, Heleen Malan, ook by die res van die toergroep aansluit wat al begin styg het, dankbaar vir die windjie vir ‘n bietjie afkoeling. Naude van der Merwe bewys dat man is man deur Christine Rozema se sak vir haar te dra, terwyl Christine en Rensa Pronk vinnig reggedokter word met ‘n rehydrate teen die lighoofdigheid. Anchen ‘Angen’ van Dyk wil ook net seker maak dat ek verstaan dat sy nie ‘n foto van my gaan neem met haar onderwaterkamera nie, iets waarop ek nog steeds nie seker is hoe om te reageer nie.
Mens wil begin in jou skik raak oor die feit dat jy gaan terugkeer na Stellenbosch met bruingebrande bene, maar met bosse wat digter raak, is dit maar ‘n pynlike ervaring. Oom Dave sluit by ons aan en ons hou aan met styg, want een klim in ‘n dag is mos nie genoeg nie. Gelukkig is Johan se voet daar om aan te hang met Rainer Graefe se uitgestrekte hand om jou op te help by van die moeilike plekke. Na nog ‘n paar optrekke en strekke kom ons ook uiteindelik bo aan, waar tannie Anneke erken dat sy vir Magriet ‘Kosouma’ Muller en haar nonsens praat mis. Met herinneringe wat klaar vasgelê is, kan mens net saamstem met Greg Child as hy sê: Somewhere between the bottom of the climb and the summit is the answer to the mystery why we climb.
Ons moet ‘n rivier oorsteek en die geleentheid word gebruik om sommer vinnig in te spring, af te koel en die stof van die dag af te spoel. Met verfrisde gemoedere stap ons verder tot waar die bakkie in die grondpad staan en wag. Dis ook met groot vreugde wat daar verneem word dat Paul by ons aangesluit het, en sommer nog ‘n toermaat, Sebastiaan le Roux saamgebring het – hoe meer siele, hoe meer vreugde!
Van hier af word daar met ‘n stewige pas gestap tot by die kampterrein onder die hange wat uitkyk op die mooi vallei. Dit het sterk gereën in hierdie wêreld en plan moet gemaak word vir die nie-waterdig-skoene om oor die water te kom, Anton ‘guess who’s back’ Kraemer help graag. Ja, deur te probeer om ‘n paadjie te maak om droogvoets te kan oorkom… maar meer deur die vermaak wat hy verskaf toe hy nie een, nie twee maar drié keer op dieselfde plek gly. Rensa Pronk se skoen begin ook sommer saam lag en gesels.
Nadat ‘n modderbad ook oorgesteek is, kom ons by die kampterrein en elke hoekie word eers verken om vas te stel waar wat gaan gebeur. Toe reëlings deurgegee word, verduidelik MD sommer ook hoe stortverdeling gaan werk, met ‘n praktiese les en arms wat rondwaai vir mans links en dames regs, net sodat dit op die ou end in elkgeval omgeruil word! Mens sal ook nie dink dit is ‘n rugsaktoer met almal wat in ‘n ry gaan staan vir stort nie, wat nog te sê wárm stort nie!
Die dag word gegroet en terwyl dit donker word, word kitare en stofies uitgehaal. Ag, daar heers sommer net ‘n spesiale atmosfeer van sing, gesels en lag. Net jammer dat Groepie 3, of die ‘beste vla’ shakergroepie, Johan, Katrien, Rainer, Peter Kempton-Jones, Silja Kiessling, Anneke ‘Müller’ Müller, Katelyn Mullon, Melinda Loubser en Hans ‘Mül’ Müller, se geskree die rustigheid so versteur. Ek lê maar terug en luister en skryf verder, net om deur Sebastiaan gevra te word of ek besig is met Sudoku, want blykbaar konsentreer ek baie hard. Ons sit aan vir ‘n lekker spekgereg, afgerond met warm vla.
Dit vat maar lank om in die slee te kom en net toe almal rustig lê en gesels, word die rus versteur deur die oorlogskrete van ninja, Jacomien en samurai, Anna-Marie “Making history” Müller wat sommer die kloof ook wakker skree. Dit word gevolg deur ‘n minder interessante insetsel van 50/50 se veldfokus oor een of ander insek in die amasone, en iets wat meer relatief, ag relevant is – die pou se vliegpatrone afhangende van waar die son is. Jacomien en Magriet begin ook met ‘n eerste rondte van Wallie, net om gegroet te word deur ‘n hele paar uitroepe van frustasie. Ons beweeg na die paradegrond waar troepe, Anton, Naude, Gustav, Johan en Peter, wie se identiteite êrens tussen Captain Morgan en can-can danse gekry word, wag om nuus van generaal MD via sersant Hendrik ‘Singalong’ Smith te kry. Laastens word daar bietjie vermaak verskaf deur die hond wat hier tussen ons kom snuffel en aandag soek.
MD probeer met sy engels-vermoë verduidelik wat hekels is, met die volgende: “We encounter quite a few funny stuff”, baie waar. Soos byvoorbeeld, Anchen wat by middagete gesê het dat hulle mekaar maar in die slee gaan moet ondersoek, Johan wat vir Madilien gesê het sy kan maar enige plek vat. Anton vra ook vir Katrien hoekom sy sou vra: “Is ek te geklee?”, en Paul wat so opgewonde was met sy nuus aan Sebastian: “Dude, I found the perfect place for slee!”. Hendrik hekel vir Anton oor sy besorgdheid oor grotskiet wat ‘n gevaar in die donker is, en Katrien wat vir Katelyn vra oor haar opmerking: “Can somebody feed Johan, cause I want his hands free.”
Ons sing die Magaliesbergse aandlied en dan word daar nes geskrop vir ‘n slaapplekkie vir die aand.
Die kamp word vinnig stil, en soos wat ek teruglê, my slaapsak hoër optrek, luister na Hendrik wat speel op sy kitaar en opkyk na die hemelruim en ‘n verskietende ster of twee, kan ek voel hoe die eerste bietjie spanning van die kwartaal begin verdamp en wil ek sommer uitroep: nou toer ons!
Nag dames.
Sondag, 8 September
Ons word wakker met die bekende gesing van die son verrys met helder glans en alles voel heel normaal totdat iemand êrens op ‘n blokfluit begin speel. Die vreemdheid word net meer omdat daar nie die gewone skarrel is om ‘n rugsak gepak te kry nie. Nadat daar lekker gesing is terwyl ons uitkyk oor die vallei, lees MD vir ons uit Jakobus 1.
Daar word seker gemaak dat al die middagbroodjie en ekstra baadjies êrens in ‘n sak is en ons val met ‘n ekstra huppel in ons stap in die pad. Die eerste groepfoto word geneem, wat ook maar net die begin van hierdie foto-mal dag is. Ek was nogals redelik seker dat ons op die hoogste punt is, maar nee, daar word nog óp beweeg met die rivier. Die eerste keer wat daar gestop word, gebruik wraakkaptein, Johan, sommer die geleentheid om ‘n paar eerste toeriste uit te kyk. Daar is vir seker meer energie sonder die sakke, en daar word lekker gesing en sommer baie nonsens gepraat.
Game break word geniet in een van die skeure, nadat almal eers ‘n foto by die boom geneem het. Die uitkykkring se skree weergalm teen die rotse, waarna Paul sy kommer uitspreek oor die glimlagte en glinsterende oë van die ou toeriste. Ons stap met groot verwondering, en so ‘n bietjie verwarring vir die wie se rigting nie so goed is nie, weer verby die boom wat so in die skeur groei, om verder te gaan verken.
Terwyl ons verder stap, tussendeur of bo-oor die fynste fyn blommetjies en verby kranse wat in goud en glans getooi is, besef mens: Climbing (of seker hiking ook) is one of the few sports in which the arena (the cliffs, the mountains and their specific routes) acquire a notoriety that outpopulates, outshines and outlives the actual athletes, soos wat Jonathan Waterman sê.
Ons stap ‘n hele stuk langs ‘n afgrond en geleenthede word ook gebruik om groepiefoto’s te neem. Middagete word dan ook geniet op ‘n punt wat uitkyk oor die vallei en ons word bederf met agtergrond musiek van die eerstetoeriste wat hulle liedjies oefen o.l.v. Katrien Smut en eerstetoeris konvenor, Caru ‘Artikel 37’ Coetzee.
En so staan die dag ook einde se kant toe, en kry ons weer koers na die kampterrein in ordelike enkelgelid. Ons volg oom Dave oor fyn plantjies, tussen deur bosse en onderdeur klippe en stap ook ‘n hele stukkie weer langs ‘n riviertjie – en natuurlik word die kans aangegryp om te swem ook. Dit laat my dink aan ‘n Checkers advertensie – better and bettaaaa. Ons is weer terug op die vlaktes, en MD kies ook hierdie oomblik om skiet oop te maak, net sodat ons kuite ook getoets kan word soos wat almal laat spaander oor die sand.
Ons val weer in die pad en dit voel of ons skaars aandie gang is of ons is skielik weer by die kampterrein waar oom Hans en tannie Anneke ons verwelkom. ‘n Hele paar van die meisies besluit sommer hulle is eerstens lus om ‘n regte BTK-bad te gaan vat in die rivier, en tweedens, seker ook nie lus om te wag vir die stort wat verstel moet word nie. Met die terugkeer na die kampterrein word mens begroet deur ‘n vrolike deuntjie op kitare, stemme wat saamsing en skaterlag.
Dit word goed gedink om ‘n vanaand ‘n kookkompetisie te hou, potte val om en tannie Anneke probeer haar bes om ander groepies te saboteur, maar dis groepie Uno Einz, met Jessica Alderman en Imke Bekker as kokke, stoker Johannes en hulle geheime wapen wat wegstap met die louere.
Nadat almal se wonde gelek is, en ons so bietjie bedreig is deur ‘n paar reëndruppels, word daar in die slees geklim en kan ons teruglê en kyk na die eerstetoeriste konsert. Caru begin deur ons te verwelkom in die hel, wat my heel positief maak oor dit wat kom. Sebastiaan is die aanbieder van die BTK powerrangers kompetisie, in gebroke Engels en Afrikaans, met Patricia Lewis, Katelyn en Maatje Pienaar as beoordelaars. Christine is rooikappie en Paul die wolf wat haar jaag. Vervolgens bied Saskia ‘I-found-my-twin’ Thomas ‘n pilates klas aan, Peter Kempton-Jones is ‘n bobbejaan, en die Nataniël Tineke du Plessis wil net laat hoor dat dit swak teater etiket is. Remert Erasmus is ‘n two stroke lawnmower, en Saskia en Katelyn, of eerder Saslyn sing in die reën. Katelyn se Afrikaans laat haar ook in die steek as sy praat van elmboge. Paul wys vaardighede met gogel en dan is dit ‘n klomp dappermuise, met Janneke Hofmeyer wat voorvat. Met die sing val Peter Müller hulle in die rede met Nkosi Sikilela. En daarmee is die eerste toeris vertoning, vir eers verby en word hulle gewraak.
Die soetheid word geniet en ons keer terug na die slee. Johan en Hendrik probeer ‘n storie stilhou, terwyl Naude, Janneman Geicke, Peter en Hendrik vir vuurtoring Heleen aan die brand steek.
Die eerste toeris groentetuin bestaan uit:
Caru the cool carrot, saskia die skitterende spanspek, Sebastian spinasie, paul die portly potato, Maatje die moerse mango en Tineke die tawwe tamatie. Remert is ook die kop wat verkoop word wat nog nooit gebruik is nie.
Peter hekel vir Gerhard oor sy haas om te hardloop om by die groep te kom vir skiet. Marnelia het ook vandag opgemerk dat sy nou al haar klere moet uittrek, en Hendrik vra haar hieroor uit. Melinda vra vir Saskia wat haar bedoeling was toe sy vir Katelyn sou sê: “Jy is dan my nooi!”, dit was na afloop van hulle afrikaanse lessie. Laaste wil Anton ook net uitklaar hoekom Peter nie sou hou van die klim en stop, klim en stop nie, aangesien dit maar is hoe ons rol by die BTK.
Ons skuif bed se kant toe, party sterk manne is onder ‘n grand gespande seil tent, en ander BTK-meisies sommer net styf onder ‘n opslaantafel vir weerstand teen die dou.
Nag dames.
Maandag, 9 September
Ek het al ‘n hele paar keer op toere begin twyfel oor stokers se intelligensie, en vanoggend se “Daar kom die Alibama” bring ook nie sekerheid nie, want ek wil net weet: waar sien julle die see?! Nietemin, ons is wakker en die oppakkery begin.
Ons kyk weer oor die vallei uit met vanoggend se lofprysing, en volgende pas vir my so mooi: Mountains are not Stadiums where I satisfy my ambition to achieve; they are the cathedrals where I practise my religion. ― Anatoli Boukreev
Klara van Zyl lees vanoggend vir ons uit Romeine 8.
Kyk, die mense van die BTK hou daarvan om flink en vinnig te stap, maar gee nou vir ons ‘n tweespoorpad, en jy sien ons nie sommer weer nie. Ons moet omtrent vandag remme vasdraai om te keer dat ons nie teen game break by ons volgende slaapplek is nie. Maar die gemaklike stap met baie stoppe gee ook kans om mekaar beter te kan leer ken en vuurmaakhout vir die eendag se onthou bymekaar te maak.
Ons hou game break op klipbanke, met fruit danties en allerhande lekkernye wat uitgedeel word. Reg om weer te begin stap, is helfte van die groep so opgewonde, dat hulle sommer in die verkeerde rigting begin stap. MD en die res van die toergroep lag maar net saggies in hulle mou en roep die mense terug. Met so ‘n gestap-stop, stap-stoppery is daar baie tyd om foto’s te kan neem in die verskillende blombosse en om nonsens te praat voordat ons begin afsak in die kloof. Na ‘n stuk stap op die voetpaadjie, kom ons by die rivier aan. Dit is ook ons kampplek vir die aand. Almal ondersoek eers die interessante maalgate, terwyl ‘n middagete plek vasgestel word. Tente word eers opgeslaan en dan beweeg ons af met die rivier tot by ‘n swemgat.
Daar word geswem en van plekke afgespring, maar daar word nou nie sommer baljaar in die water nie. Johan neem ‘n groep op met die rivier van waar hulle weer afswem, terwyl die res êrens op die sand of rotse uitkamp, ‘n middagslapie inwerk en ‘n bietjie van ‘n rooi skynsel kry. Party gebruik sommer die geleentheid om te bad voordat ons laatmiddag terugkeer na die kampterrein.
Terug by die kamp word die kitare oudergewoonte uitgehaal, terwyl stofies aangesteek word om pannekoek te bak. Anja Smit maak sommer namens Madilien damesskiet oop. Janneman Gericke weet nie wat hom tref toe Engela, Katelyn en Saskia hom begin jaag nie, hy kies sommer koers op by die rotse. Maar Saskia sien sy plan en dis sy wat hom aan die hemp gryp. Melinda en Hendrik kry sommer hulle oefensessie vir die dag ook in en na ‘n lang ge-jagerige, kan Melinda met haar voet op Hendrik ook haar sleedate vir die aand eis.
Die son sak in ‘n skouspel van rooi, oranje, pienk en pers en mens kan net terugsit met ‘n lekker sug terwyl die stokery begin. Dis ‘n yskoue wind wat waai vanaand, maar gelukkig is ons mos nie skaam om styf te sit totdat die tuna gereg gereed is.
Ons staan lekker naby mekaar en sing ‘n paar lofliedere waarna Johannes vertel dat ons met groot afwagting moet wag vir die dag wat Jesus gaan terugkeer, net soos wat ‘n bruid wag vir haar groot dag.
Items begin vanaand met spinnies Kara Muller, Jacomien, Christelle ‘Op-die-nippertjie’ Leuvenink, Rensa, Magriet, Karen van der Linde en Anna-Marie in haar afwesigheid wat die BTK-meisie item doen. Dis egter nie die gewone prentjie van ‘n item wat voor jou afspeel nie, aangesien hulle almal geklee is in rokkies en hakskoene – ook maar lekker laf om so rond te loop in hierdie koue.
Dit word gevolg deur Jacomien en Gerhard wat ‘n liedjie sing van twee klein bytjies in ‘n tuin. Blonde Jacomien, mal gloeilamp Christelle en kwaai Magriet werk in ‘n fabriek, waarna Magriet haar dogter Karen waarsku oor slee en skandes wat op die huis se naam gesit kan word. Natuurlik swem Wallie ook weer verby. Jaco en Katelyn vermaak ons met ‘n stukkie skadu-spel op die oorkantse wal en Caru en Johannes bespreek ‘n stout kind se lot. Kara vat haar seuntjie, Pokkeltjie-MD om ‘n skilpad te koop in ‘n dierewinkel wat nagapies, hadida’s, katte en hase verkoop – ja nee kyk, BTK-items maak min sin. ‘n Blondine soek burger en tjips in ‘n biblioteek, terwyl Anton-Mario en Gustav-Louigi betrap word in ‘n hambush. Ons is terug in die tuin met Janneman en Gustav wat die blommetjie en bytjie item doen en laastens roei Anton en Gustav rivier-af en vra vir mekaar: Isn’t that your wife’s, Maria, arm driving down the river? … Wat?
Hekels begin met Johan wat vir Hendrik uitvra oor die beste slee wat hy in ‘n lang tyd gehad het, terwyl Hendrik by Janneman wil hoor hoekom hy vir Marnelia Scribante sou sê dat sy enigiets kan wees, solank sy net in sy groepie is. Jacomien wil by Kara hoor hoekom sy vir haar sou sê dat sy (Jacomien) haar oor die rant se kant lei. Charl vra vir Anton uit oor sy vraag of dit trouringe is, wat gevolg word deur MD wat ook vir Anton vra hoekom hy sê dat mens niks anders as trouringe op ‘n BTK-toer sal bring nie… Sjoe.
Hiermee is hekels ook toe en die planne vir môre word deurgegee.
Met die koue wind wat waai, vat dit nie lank nie voordat die kamp stil raak en mens rustig aan die slaap kan raak met die gedruis van die rivier in jou ore.
Nag dames.
Dinsdag, 10 September
Ek lê en luister na die stokers wat Jan Pierewiet sing en dit wil my voorkom asof die wakkersing in die oggende net meer belaglik word… Maar kyk, dis nog steeds beter as om te moet wakker word met die elektroniese deuntjies van selfone – dankie julle!
Ons tree omtrent soos dassies op en soek sonkolletjies uit om lekker te kan sit en koffie drink. Daar word met baie asemsnakke en kommentaar toegekyk hoe Johannes sy koppie uitvis en dan spoor Paul en Sebastian mekaar aan om nie net een keer nie, maar sommer twee keer in te spring vir ‘n vroegoggend swemmetjie.
Terwyl daar rustig opgepak word, breek daar weereens chaos uit by Groepie 4 wat mekaar probeer besmeer met kondensmelk – dat mens nou die kondensmelk so sal mors! En bo op die klippe sit Naude en Melinda rustig en sing terwyl die toneel daar onder afspeel. Die dgeselskap bo-op die klip raak stadigaan groter soos meer hul stem kom byvoeg tot die lofprysing. Kara lees vir ons uit 1 Johannes 4 en spoor ons aan om die liefde wat nou tussen ons is, ook tussen ons en ons medemens te laat bly wanneer ons terugkeer Stellenbosch toe.
En dan, dan word daar ‘n kringetjie gemaak rondom die wie se laaste toer dit is. Ons groet vandag vir Johannes, Hendrik, Gerhard, Kara, Anna-Marie, Rensa, Jacomien, Christelle, Johan, Anton en Magriet. Of, dalk vir Anton net tot die volgende toer. Almal spreek hulle dankbaarheid uit oor dit wat die BTK vir hulle beteken het, en probeer met woorde vasvang wat dit is wat mens terugbring – selfs 17 keer soos vir Magriet wat nie een toer gemis het vanaf haar eerstejaar nie. Hulle moedig toerlede aan om betrokke te raak by die BTK, baie te toer, te sing, stil te word, maar ook te item en nog avonture aan te pak. Hulle word die ruimte ingestuur, gevolg deur ‘n Koning. ‘n Klipstapel word ook gemaak om die plek te merk, met die boodskap van Genesis 31:49 : Mag die Here wag hou tussen my en jou as ons mekaar nie meer sien nie. Tot die volgende reünie natuurlik.
Ons val in die pad en begin met die rivier afstap. Dis ook nie lank nie, of almal se skoene hang agterop hulle rugsakke. Ons is weereens nie haastig om êrens te kom nie en stap teen ‘n rustige, gemaklike pas. Voordat daar afgesak word in ‘n kloof, staan ons eers op die afgrond om die uitsig te geniet, en natuurlik word die geleentheid aangegryp om ‘n toerfoto en meer te neem. Ons stap al geselsend af met ‘n wye verskeidenheid van aksente en los sommer ons rugsakke in die paadjie om af te draai na die waterval toe vir middagete.
Kyk, jy het al baie van watervalle gehoor, en dalk ‘n mooi prentjie êrens in Windows se Sample Pictures gesien, maar as jy by die voet van hierdie 140m waterval staan, staan jy stil, in verwondering. Soos wat Albert Einstein sê: He who can no longer pause to wonder and stand rapt in awe, is as good as dead; his eyes are closed.
Ons geniet provitas terwyl die sonkolle al hoe minder word. Die brawes onder ons durf ook die koue water aan. Toe daar nêrens meer ‘n bietjie son is om te kan warm word nie, stap ons die laaste stukkie sommer tjoef-tjaf tot by die kampterrein. Daar gekom, word sakke omtrent net neergegooi en uitgespan op die groot grasperk. Daar word gestort, geslackline en ‘n poging tot ‘n massage garage word aangewend.
Daar’s groot planne vir vuurmaak vanaand en die ouens sleep net takke en dalk selfs halwe bome, nader. Peter is selfs oor die rivier om hout te gaan soek met sy eie ontwerp van ‘n draagbaar. Rem word geluk gewens met sy verjaarsdag en in die chaos word skiet sommer ook oopgemaak. Na die opwinding word die drinkgoedjies wat Johan geborg het, verder geniet en vier ons – met kitare wat uitgehaal word – sommer Rem se verjaarsdag en nog ‘n toer wat op sy einde staan.
Mens sou ook nie sê dat daar ‘n groot grasperk is as jy kyk hoe almal so op mekaar begin stook, behalwe dalk vir Groepie 4, Hugo Minnaar, Anchen, Charl, Paul, Caro Nel, Karen, Tineke, Janneke, Anna-Marie en Anton wat daar doeeeer sit. Met al die pannekoek wat weer gebak en uitgedeel word, is dit moeilik om vanaand se rysgereg op te kry. Terwyl koffie en tee geniet word, sing ons weer lekker verder met ‘n hele paar FAK-treffers.
Dis omtrent chaos om in die slee te kom, dalk omdat die sleekring sommer in die stookarea is. Dis in die middel van hierdie geskarrel wat ek vir Johannes sê: “Ontspan jy net jou boude” waarop hy reageer: “My liewe vriendin, as hulle enigsins meer ontspanne is, sal hulle begin hande klap,” – ek onthou dit maar vir later se hekels.
Soos wat dit die laaste aand betaam, loop itemgees weer hoog. Die aand word begin deur Wallie en haar agtervolger wat verbyswem, sommer terwyl MD nog sy reëlings vir môre deurgee. Net om deur nog meer uitroepe van “Julle twee!” of “Ek vang dit nie!” gegroet te word vanuit die gehoor. Hendrik en Gustav doen die vry in die donker item, met Caru wat hulle slagoffer is. Paul, Sebastian, Katelyn en Saskia dra The Cup song op aan al die maangangers, gevolg deur Saslyn se meer verspotte The Musicman met hulle verskillende aksente en gereelde onderbrekings van Johan en Hendrik. Heleen sing ‘n liedjie van wasgoed was, en dan skuif ons na die klaskamer waar Jacomien, Anna-Marie, Katrien, Marnelia, Gustav, Janneman en Anchen wag vir Klippies, of Anton. Rensa en Kara probeer visvang op die ysskaatsbaan en dan probeer Peter om sy woepsie wapsie, boeksie woeksie Jacomien te help met haar Kellog’s legkaart.
Johan, Caru, Gustav, Anton en Hendrik is volgende aan die beurt. Uhm, ek het probeer byhou, maar met Gustav se phi phi pho phum as ‘n wolf, en Kara se skaterlag hier langs my, is dit bietjie moeilik. Heleen, Johannes en Magriet kry oproepe van die man met die bloederige vingers, Jess. Johannes bly sommer op die verhoog en roep vir Katrien nader om hom te help met sy vertoning van The King, wat groot vermaak verskaf. Peter is ‘n kroegman agter die Marnelia-en-Maatje-deur wat gepla word deur ‘n eend, Jacomien, en hasie, MD, wat onderskeidelik ‘n hamer en wortels soek. Rensa en MD is die besorgde ouers van Paul en Madilien wat op trou staan, en gee raad oor stink voete en asem.
Ons bly by troues, en Heleen en Gustav is ‘n nuutgetroude paartjie wat ontvang deur Johannes ontvang word by die hotel. Anchen en Johannes, wat probeer sexy lyk, doen ‘n uitbeelding van ‘n eerste date. Anna-Marie, Rensa, Kara en Jacomien ry in die woestyn en moet dan uitmekaar uit spat as die kar breek. Die items word afgesluit met Jacomien en Magriet wat vir oulaas verby swem en uiteindelik die punch line gee.
Hekels is maar dun gesaai en begin met Hendrik wat vir Imke vra wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Jy kan enigiets speel, solank jy net nie ‘n vrou speel nie,” en hy vra sommer ook vir Johan van wie hy praat as hy sê gladde lippe. Heleen wil weet wat Johannes se bedoeling was toe hy vir fisio Jess sê dat sy plesier kan verskaf, en mense funksioneel maak. Anja wil by Jacomien hoor hoe haar saugage popped out on the other side en Christelle vra vir Caru oor haar opmerking dat Paul se verjaarsdag nie te ver is nie.
En dan is hekels toe, die aandlied word gesing en daar word terug gelê in die slees. Die groot planne vir vuur maak realiseer toe en almal kuier sommer verder so in die slees met Peter en sy kitaar wat die atmosfeer ekstra spesiaal maak.
Nag Dames.
Woensdag, 11 September
Ons word wakker met die son wat opkom in die mooiste kleure, en mens kan net saamstem met Donald Miller as hy sê: And if these mountains had eyes, they would wake to find two strangers in their fences, standing in admiration as a breathing red pours its tinge upon earth’s shore. These mountains, which have seen untold sunrises, long to thunder praise but stand reverent, silent so that man’s weak praise should be given God’s attention.
Soos wat dit ook gepas is vir die laaste dag, word The Rose gesing om die wat nog lê, wakker te kry. Ons stook vir oulaas water vir koffie en muesli, terwyl daar wéér pannekoek gebak word.
Al die goed word opgepak, en die BTK-toerusting word terug besorg. Ons kom weer bymekaar met die kitare en sing lekker saam. Maatje lees vir ons Romeine 14:7&8 en Jacomien lees Psalm 91 uit dankbaarheid vir ‘n veilige toer, en dan ook Kolosense 3:12-17 as seëngebed vir die nuwe kwartaal wat kom.
Ons stap op na die tweede waterval met die vriendelike bemoediging van Anchen, Anja en Madilien wat wil hê dat ons die blommetjies langs die pad moet ruik. Bo gekom word die koue weereens deur die ekstreme avontuurlustiges onder ons trotseer, daar word uitgeswem na die waterval, vinnig stilgestaan vir ‘n foo en dan jaag hulle weer terug om ook ‘n plekkie in die son te kry.
Terug by die kampterrein word die son verder geniet terwyl ons wag vir die bus. Daar word rondgelê, kitaar en sokker gespeel en nadat die reels vir omtrent ‘n halfuur lank bespreek is, word daar darem ‘n rondetjie of twee kaart ook gespeel. As mens nie van beter geweet het nie, sou jy regtig kon begin dink dat ons op ‘n Gala is.
Toe die bus uiteindelik opdaag, vat dit ook maar ‘n rukkie om aan die gang te kom. En natuurlik, moes ons wag totdat die bus hier is, voordat gentlemen’s challenge gehou kan word. Hulle probeer vasstel tot waar hulle nou gaan hardloop … en ek dink ‘n paar van hulle was self nog onseker hiervan toe die resies begin. Almal behalwe Johannes, wat nie op hom laat wag nie en met ‘n stink spoed die resies lag-lag wen – sy sak moes omtrent lig gewees het!
Ons klim op die bus en besef dat ons dalk ons waterbottels by ons moes gehou het. Ons ry verby ‘n skouspel van blommetjies wat die lente en nuwe lewe aankondig, en raak eintnlik ook so ‘n bietjie negatief omdat daar nie gestop kan word vir ‘n fotosessie of twee nie. Maar kyk, daar’s ook ‘n Spur burger wat wag, en vanoggend se muesli lê ver.
Ons groet vir Sebastian en Paul by Vanrhynsdorp en dan ook vir Maatje by Klawer. En dan is dit voet in die hoek tot op Piketberg, waar ons oudergewoonte die Spur oorneem. Dit is ‘n paar brawe ouens wat aansit vir die burger challenge, maar toe Anton eers begin, besef hulle hul staan geen kans nie, en dit is dan ook hy wat die eer wen.
Met magies vol, klim ons weer op die bus, ons is al amper uit by Piketberg toe Marnelia aangehardloop kom met haar koppie koffie, vele dank aan die “Kyk of jou maatjie hier is”-oefening. Met die toergroep weer volledig, mae wat gelukkig is, loop die gees weer hoog soos wat daar aan die agterkant van die bus begin sing word. Dit sukkel maar met die tekort aan boekies, maar ons kry dit gedoen so met ‘n geneurie of ‘n uit volle bors saamsing.
En, soos gewoonlik is die pad tussen Piketberg en Stellenbosch heeltemal te kort en kry ek sommer ‘n hol kol op my maag. Ons sing vir oulaas Cotton fields en Ons travel in staail, en dan is ons by die Neelsie.
Sakke word afgelaai en ons staan nader om af te sluit. Dankies word gesê, Nog ‘n toer is verstreke en Koning word met groot heimwee gesing.
Hiermee is dit ook die einde van nog ‘n toer en nog ‘n skets. Die dae en jare het vir seker snel verbygegaan, maar die soet herinneringe sal steeds bly. Ek het opnuut die waarde van vriendskap, die natuur, die saamwees en God se mooiheid en ongelooflike seën besef.
The greatest gift of life on the mountain is time. Time to think or not think, read or not read, scribble or not scribble — to sleep and cook and walk in the woods, to sit and stare at the shapes of the hills. I produce nothing but words; I consume nothing but food, a little propane, a little firewood. By being utterly useless in the calculations of the culture at large I become useful, at last, to myself.
Ons het saam gelag, gefilosofeer, gedroom, lawwe oomblikke beleef, treffer liedjies en mooi uitsigte gedeel en geniet. Vaarwel toermaters, vaarwel, sien julle eendag weer.