GALA 2023
Arniston – Gansbaai
(oftewel Uilkraalsmond; ons het net met ’n bus deur Gansbaai gery!)
Skets deur Martine Odendal
Dag 1: Gebreekte bus en so
Met genoeg tyd om nog die oggend te pak, sleelekkers te koop, ’n laaste Neelsie-ontbyt in te werk, en vir die voorsitter om sy fluitjie te vergeet, is daar ’n ordentlike vakansiegevoel in die Neelsie parkeerarea. Omtrent 100 BTKners trek saam rondom die twee groot busse en bestudeer onderlangs hulle Gala-rolle op die uitgedeelde papiere. Na die kringetjie en gebed trek die busse weg uit Stellenbosch, en die eerste stop is om nog twee stappers op te tel by Peregrine. Die tweede stop was bietjie onverwags in die middel van nêrens en met niemand om op te tel nie. In die voorste, volste, nie-aircon-bus het party net gehoor dis omdat die busdrywer warm kry, ai, as dit nou maar net so was, né. Die nuus is toe gebreek dat dit die bús is wat warm kry, só warm dat hy nie meer verder gaan ry nie. Na LT se “bus-hopping” het een bus solank Caledon toe gery om solank vir arme Geooffrey langs die pad te kry en sodat klomp studente basies die Fresh Stop oorneem. Die werkende bus het toe teruggery en die ander verlorenes langs die pad opgetel sodat húlle die Fresh Stop ’n tweede keer kan oorneem. Middagbroodjies word solank op die gras gemaak en die geriewe van badkamers, gekoopte koffie en snacks word waardeer. Die groep van die aircon-bus het in tussentyd gelam by Waenhuiskrans se kampterrein en middagete daar gemaak terwyl daar gewag was vir die eerste bus om aan te sluit. Met almal toe bymekaar het Matthys en Renee gedemonstreer hoe skiet werk, en stof is opgeskop soos wat hoede by mekaar gegryp word. Party het met sonsondergang gaan ‘dip’ in die warm see, en die geel volmaan het soos ’n gloeilamp bo ons gehang vir die res van die aand. Vir aandete moes die stokers daar veeeer gaan snoek braai, en die kokke het besluit húlle gaan die stokerspakkies aantrek. Na die heerlike snoek, patats en knoffelbrood, het almal reggemaak vir die eerste slee van die toer. Die eerste toeriste lag so effe vreemd vir LT se diep gedig as sterwende bok. Mario en Luigi het ook te verskyn gekom op die rivier, en De Wet en Petri was in ’n bar in Prieska. Met PF, Inge, Ruvé, Franna, Attie, Jacobus en ’n hond soos Wian op ’n vliegtuig, kan jy net die chaos indink. Die ouens se aand sluit wel nie af na die Magaliesburgse aandlied nie, want teen 2-uur die oggend is daar ’n security guard in volle uniform en sy geweer wat vir hulle staan en kyk. Waenhuiskrans is seker maar nie gewoond nie.
Dag 2: Waenhuiskrans
Almal was heel verlig toe daar so onder mekaar uitgevind word dat dag 2 wel nie die 22 km gaan wees waarvoor almal gevrees het nie.
Na die stokers se “opstaaaan, dis ’n heeeerlike dag!” begin die eerste stapdag op Waenhuiskrans. Sommige mense het toe al teruggekom van hulle vroeë swemsessie af, en teen oppaktyd breek ’n onverwagse reënbui uit. Herculine is ons verjaarsdagmaatjie, en reën of te not, sy moet gepos word.
Ons begin die stap na Waenhuiskrans se bekende grot toe, en staan daar omtrent in ’n ry om een vir een in te gaan. Binne neem ons ’n groepfoto en is weer op pad uit om die res van die dag se stap af te lê. Ons loop seelangs terug teen die strand en aan die gesels. Met game break is die weer nog nie té lekker dat mense al swem nie, maar wie het dit nodig as jy Rosa se kuns kan bewonder en soos ’n koor “oeeh en aaaahh”?
Middagbroodjies was op Arniston se hoofstrand – en hier word geswem. Baie eerste toeriste word bewus gemaak van die uitkykkring, en stap dan terug met ’n afkyk grond toe, ’n senuweeagtige laggie, of met ’n kyk van ongeloof – waarin het ek nou net myself bevind?
In die bus het die stappie sy tol geëis en meeste mense vat ’n middagslapie totdat daar by Struisbaai se kampterrein ingedraai word. Met ’n STUK wind is die tente opgeslaan en meisies wat in dié tyd rustig probeer lê en slaap op hul sakke is so 3 keer weggejaag deur hooftentopslaner PF. Met die wind wat effens beter raak en die son wat agter die wolke kop uitsteek, was dit tyd vir die BTK om te wys hoe fiks ons nou eintlik is met 2 afsonderlike drafgroepe – I mean die BTK Tinder moet darem aktief gehou word. Die res het gaan draairoomys soek in Struisbaai en party het winkels toe gestap. By die kamp is daar gelam en sokker, kaartspeletjies, Spikeball en frisbee gespeel, en ’n paar brawe swemmers het die see aangedurf. Aandete was heerlike nachos, en vermaak verskaf deur Wesley wat op Attie se skiet-poging intercept. Om aaitems te begin het Petri en Drian het gesorg dat ons plat lê van die lag aangesien Frikkie akrobatiese pote gehad het wat nie mooi kant toe kon strek nie. Drian het meer gelyk asof hy gaan duik eerder as wurg met sy manier van ’n olifant opklim. Dankie tog vir die slee wat namens Frikkie kon eggo want Frikkie het maar gesukkel om sy samewerking daar ook te gee. In die dokter se spreekkamer het Wian ’n kopseer, Attie ’n hoesaanval met ietsie soos ’n twerk daarby, Jeandre ’n ruk en pluk en stamp-van-die-stoel-af aanval, en PF het ’n hoendersiekte. Wian het omtrent geskop, skrop, en twerk-hoes van siekwees. LT het vir Stefan, oftewel Stefani, gehad om te sê Pappie gaan nêrens nie, Pappie bly net hier. Na ’n goeie aand se lag, kom die “nag, dames” van oom Francois.
Dag 3: Die eintlike stap van Gala
Dit het bietjie bewolk begin, en toe trek dit oop op Struisbaai. Dit was ’n lang stapdag wat voorlê so na Weet-Bix en oggendbroodjies was dit vinnig tente afslaan en bus pak voor ons Agulhas toe ry, en natuurlik eers vroegoggend-swem vir sommiges. Daar is begin stap by die ligtoring, met mense wat hier en daar opbring “ek dink ek was al hier, soos in die laerskool?” Ons kom by die Suidelikste punt van Afrika waar dit natuurlik weer tyd is vir ’n fotosessie. PF vrywillig homself om te kyk of jy wel ’n ou is indien daar onsekerheid is of jy in die ouens se foto hoort. Vinnig word die fluitjie weer geblaas vir Stapnou!, want die hele roete lê nog eintlik voor. Kort-kort in die stap sit iemand sonroom aan of haal ’n waterbottel uit soos die somerson begin bak. Op die klipstrand sit die kaalvoet stappers maar moeilik voete neer, tot Game-break langs die strand gehou word. ’n Sokkerbal word benut tussen die ouens, en twee uitkykkringe werk vlot soos wat eerste toeriste probeer inbeur en weer uitgespoeg word. Franna kry ’n lucky shot waar selfs Faf se eers lewende en toe dooie vis handig gepas gekom het. Na die lekker luiword het ons verder aangestap verby die moooiste klein strande, waarby Jacobus sommer gou duik in die een baai. Party kies die roete teen die rotse om ’n paar skulpies op te tel, soos opgewonde Maya en Carmen wat teen die einde van die toer steeds hul skulpe kon wys. Middagete-tyd langs die see breek aan, en party stap eina-eina die klipstrand af na ’n lekker rowwe see met baie sand en malende klippe. Op ander stappe in die bos kry jy krapmerke op jou bene as battlescar-bewyse – op gala kry jy bloukolle op jou bene van die klippe wat teen jou vasslaan in die see. Stuk vir stuk daag die wat geswem het op langs die middagbroodjiesirkel, want ja, hongerte is beslis teen die tyd ’n faktor. Met gevulde mae en luilekker gelê in die son, word stap oor 7 minute aangekondig (altyd sulke vreemde hoeveelhede, nooit ’n 10 minute nie!). Met almal reg om te begin stap, word skiet oopgemaak en sand word opgeskop soos wat daar af in die jeep track gehardloop word – die klippe word so ver moontlik vermy. En dan die klassieke verskynsels na skiet: Roné is nog op soek na ’n plakkie wat gevlieg het, en almal kyk en cheer soos wat Tanya en Wesley net ewe skielik begin hardloop.
Die stap begin en ons draai weg van die see af binneland toe met ’n sanderige jeep track waar 100 rye BTK-spore gelos word. Die sandveld is mooi, maar die somerson is warm. Beskawing word uiteindelik opgelet en ons stap weer tussen die huise deur totdat die twee groot busse gewaar word. Almal maak waterbottels vol by die badkamer, en toe word die busse weer volgemaak vir die pad Uilkraalsmond toe. Op die aircon, nie-stukkende bus was daar redelik geslaap en gerus na die dag se stap. Op die nie-aircon, reggemaakte bus, was die sangbundels uitgepluk en ’n Afrikaans classics sing-off is gehou tussen onder andere LT en PF aan die een kant van die bus teenoor Franna, Mareli, Mila en almal wat agter gesit het! Attie was so bietjie van ’n draadsitter tussen die twee kante 🙂
Aangekom op Uilkraalsmond, word tente opgeslaan om die minste wind moontlik te vang, en eerste toeriste kom bymekaar, want vanaand is die aand. Ou toeriste is vermaak deur Barbie en Kenough op tv in die konsert, met advertensiebreuke wat omtrent iets van alles wys. LT mis die beste lyn en ou toeriste frons, maar die res word verwelkom en is net dankbaar hulle het dit oorleef. In verdere aaitems word Frederick sonder klere gelos as Mr Price, en Stefan word onverwags hárd ge-blou yskas deur Franna. Nag, dames.
Dag 4: BTK-Sondag
Oftewel, die Spikeball-dag. Dit is weer tyd vir die jaarlike gala Open en na ’n laat en rustige oggend kan spanne gemaak word vir die toernooi. Die stof staan soos Spikeball gespeel word met toeskouers onder die bome ingepak op die heerlike somersdag. Die semi’s breek aan waar LT & Jacobus vir PF & Faf wen; Franna & Frederick wen vir Stefan &Attie. So die finaal is die Diepsleekonings vs Spykerbal. Dit was eers gelykop met 1 set elk, totdat die Diepsleekonings die laaste set 11-9 wen, en LT se lewenslange droom waar word.
Na die spikeball word alles-in-een-dis-dis geëet vir middagete, en “nee, Marlize sal nie nou skiet oopmaak nie, want daar is mos nog goed wat die middag moet gebeur” hahaha. Dames hardloop wyd en syd, want die ouens is nou nie juis volop nie.
Die Voorsitter praat al heeldag van BTK “verrigtinge” en tradisies wat die middag gaan plaasvind, maar niemand het gedink dit gaan pushups insluit om by ’n poeding uit te kom nie. Die instrukteur het ook nie dit saam gedoen nie, en dit was meer oefening as strek om plek te maak in die maag. O en dankie aan Retief wat die klaende meisies gou-gou stilgemaak het met ’n one-handed pushup. Lizé staan baie trots heel voor in die poedingry, met De Wet wat net staan en glimlag langsaan toe die tafel omgevat word agtertoe. Na poeding is die mae vol en ’n paar maak ogies toe onder die skaduwee; die res is af see toe. En die Spikeball word weer saamgedra, glad nie asof ’n hele toernooi die oggend plaasgevind het nie. Almal wat netjies uitgevat is word stuk-stuk afgeneem voor sonsondergang. Want net mooi as Oskar reg is om die groepfoto te neem, kom nog iemand aangedrentel in BTK-tyd.
Die aand het Oom Francois vir ons ’n stukkie uit die Bybel gelees, waarna Graham met kitaar worship gelei het. Die saamsing onder die sterre en die voorreg om die Here se naam saam te prys was spesiaal om net weer te besef hoe geseënd ons is. Met aaitems is Frikkie en Sarel sommer by die see om ’n walvis te kry vir die kolonie. Troepe is lank en interessant, waar Jacobus in sy slaapsak gaan wegkruip en Wian sommer inkom as ’n prop. ’n Nuwe aaitem van ’n groepie swemmers en hulle gekoördineerde tonepunt-bewegings beindruk almal. Nog ’n dag is verstreke.
Dag 5: Uilkraalsmond – Pearly Beach
Op ons laaste stapdag loop ons al langs die see tot in Pearly Beach. Party se tekkies word sommer al in Uilkraals uitgetrek toe ons begin met ’n lagoon wat deurgestap moet word. Dis ’n mooi stap langs die strand, en ons middagbroodjie in ’n winderige Pearly Beach. Die wat broodjies gemaak het neem die lifeguards se hokkie oor en vir die van julle wat nie weet nie, die brood is met skulpe of met die hand gesmeer, maar heerlik soos altyd, dankie Middagbroodjies! En toe is skiet ook nog oopgemaak toe al die middagbroodjie girls in ’n kringetjie sit op ’n baie onideale hardloopplek, dankie LT.
Met die wind swem niemand swem eers nie. Behalwe Cat wat tydens skiet besluit hardloop is nie genoeg nie – sy is lus vir duik. Dit moet die ouderdom wees – sy’t daardie dag 20 geword in goeie BTK-styl.
Ons het gou weer by kamp aangekom, en toe is alles windverwaaid. Ouens help tente weer opslaan en res lam net onder ’n boom uit die son en wind uit. Die moegheid het gehang oor die kampterrein en meeste het koers gesoek na ’n boom toe, met matras of slaapsak in die hand, reg vir ’n middagslapie na 5 dae. Voorsitter het roomys aangebring, en met die dat meeste geslaap het kon ’n paar gelukkiges sommer 2 kry. Franna se kontakte het gesorg vir 3 toevallige biere vir 3 toevallige ouens toe hulle gaan vleis optel by ’n tannie se huis. Die BTK het gesorg dat Uilkraals se coffee shop ’n behoorlike boost gekry het, want ten alle tye was daar ’n groep wat ordentlike koffie wou hê, koek wou eet of net daar sit by die ander, want FOMO is nogal ’n ding.
Teen laatmiddag het die wind bietjie gaan lê en ’n intense volleyball game was aan die gang – Taylor, Franna, Marietjie, Jacobus en Attie was soos last man standing en basies almal wat opkom se kompetisie.
Die aand eet ons flippen lekker pasta en slaai – Roné was op haar stukke en het met krag daai pak maalvleis in ’n pot gekry.
Dit was kosbaar om te sien hoe die BTk oor jare gemis en gekoester word, met Fred en Martin wat by ons aansluit tydens die sokkie. Almal het fone uitgepluk om die insanely mooi sonsondergang af te neem wanneer ’n blaaskans nodig is, en dan sokkie jy maar weer aan! Toe die son sak en niemand meer kan sien waar om te dans nie, trek Faf sy kar nader – en die setup is soos Catwalk, net buite.
In slee is Fred en LT Vriendinne wat ontsteld is oor daar nie ’n Plato is nie en “blykbaar is die BTK nou net Burnt” want soos Fred sê “I mean Vriendin, ek was mos heeltyd op die toer”. Die vriendin gaan omtrent aan oor die voorsitter, “as hy daai fluitjie so swaai en blaas”, en die sekuriteit wat verbyry kyk snaaks na dié twee in hulle wifeys. Booi soek ’n nooi word aangebied deur Drian, met ’n hele paar baie spesifieke kandidate wat Burnt klere moet wys en eers by ’n ander universiteit moes swot. Drian en Wian doen rondte 3 van Sarel & Frikkie, en gaan nog groter as die walvis die vorige aand – en natuurlik, wie is dan so groot soos die Voorsitter – “wurg hom, Frikkie, wurg hom!”Nog ’n oud-BTKner, Marguerite, het by ons aangesluit en die tradisionele BTK konkoksie vir die brawe siele laat proe. Mmm, niks so lekker as om Pieter se groottoon voor jou te sien as jy die blinddoek afhaal nie. En natuurlik word daar ge-kkkaptein om die aand mee af te sluit.
Dag 6 – Kostent-skuiling
Die oggend is nat en die reën hou aan drup. Deur die nag het die reën gesorg dat party meisies bietjie nader aan mekaar skuif en ander maar bus toe hol. Die stokers sing dié wat nog snoesig in tente lê vir oulaas wakker met ‘Country Roads’. En oggendprosedure: hardloop kostent toe. Op ’n slag was daar 45 mense in die arme kostent wat uit die reën staan om op die laaste oggend saam ontbyt te eet. Ons wag en wag en wag vir die reën om op te hou, en begin toe eventually tasse laai en tente afslaan, alhoewel alles klaar nat is. Die met hulle eie karre begin stuk vir stuk ry en gegroet, almal nou op hulle eie paaie vir vakansie.
’n Kring word vir oulaas gemaak, en Thalia, Wesley, Henco, Kerryn, Anais en Arenda wat maan toe gaan, deel hulle kosbaarste tye saam met die BTK. Henco sê van ál sy toere was gala beslis sy lekkerste!
Ons stop by Hermanus se mall vir terrash, en na bietjie stoele bymekaarmaak en almal insettle was die roeiers nie juis baie lus om te roei nie. Henco en Frederick het sommer slow-mo afgeskop – wou hulle miskien hê ons moet hulle dop hou soos die aaitem?
So die ouens was biejie shocking, maar Anwar was nog steeds die wenner en reg vir sy tweede burger. Stuk vir stuk het die kos en koeldranke aangekom, soos selfs die oom in die pad geskree het “Ek’t nog nie koeldrank gekry nie!”
Na die wag vir tipiese studente wat eers McDonald’s roomys gaan koop of Christmas shopping in Checkers en Food Lovers doen, vertrek die twee busse uit Hermanus op pad Stellenbosch toe, waar almal koebaai sê voor die lang somervakansie wat voorlê. Die vakansie is wel op ’n baie goeie noot afgeskop. Nog ’n toer is verstreke van die ou BTK!