Sondag die 25ste
“Quote of the day”:
“Het jy ‘n swembroek nodig om te swem?” – André Vorster, in die verbyloop gehoor…
Daar is met groot opgewondenheid uitgesien na hierdie jaar se gala. ‘n Nuwe voorsitter, ‘n ou-gunsteling roete en ‘n rekordgetal toeriste, is daar net goeie dinge vir die gala voorspel. Die weer het net so lekker saamgespeel, met heerlike sonskyn toe die 120 galastappers 8:00 Sondagoggend, die 25ste November, byeenkom. Naarstiglik is daar gepak aan die bus, die lorrie, die sleepwaentjie, en ‘n paar karre. Petri du Plooy, Leida Heymann en Jean de Villiers het ‘n weddenskap aan oor waneer ons sou wegkom. Gelukkig wen Leida nie met haar 12:00 voorspelling nie, en is ons 9:40 (sekerlik een vir die rekordboeke) op die pad. Colyn Murray begin sommer vroeg-vroeg die toer lei, want hy bestuur die bus wat letterlik tot oorlopenstoe volgelaai is. Tot op die trappies by die deur is mense gepak wat hard aan die verlore kuier van die afgelope eksamen aan die opmaak is. Almal word net beveel om plat te val as daar enige teken van ‘n polisiekar is…
Die pad word sonder enige opskuddings afgelê, en teen 15:30 arriveer ons in Gourits. Vinnig word ‘n paar reëlings deurgegee, sodat almal in vrede kan tente opslaan, swem en kuier. Die nuwe tente-komitee is só entoesiasties dat hul die kostent twee maal opslaan! Die groot army-tente darem net een maal… Die koelerige windjie wat waai skrik nie die ywerige BTKners (in die vorm van Corné van Daalen) af nie: op ‘n gala moet daar mos natgegooi word, en Hannelie Morris word die eerste, maar definitief nie die laaste, slagoffer op die gala.
Aandete is ‘n heerlike affêre, met almal wat rondsit en ken-mekaar op die gras. Daarna word ‘n lekker bondelslee geprakseer. Die feit dat ons 120 mense is gee ‘n nuwe betekenis aan die woord “bondel” in “bondelslee”.
Toe almal rustig inge-“settle” is, begin die BTK-indoktrinasie: “Vandag is Sondag die 25ste. Môre is Donderdag die 26ste. Verstaan julle?” En almal het verstaan… Oor sommige goed is mens seker te bang om uit te vra! Daarna stel Colyn M. ons bekend aan die fynere kunsies van skiet en slee: hy, Karen van der Merwe en Mia Wessels lewer ‘n demonstrasie. Elke meisie verstaan daarna presies hoe om weg te hardloop dat hy jou wel vang, en hoe om rond te staan en “desperate” te lyk, sodat hy jou skiet! Almal is eintlik maar nog ‘n bietjie moeg na die eksamen, en met “nag dames” word daar vinnig verkas na die verskeie slaapplekke.
Donderdag/Maandag die 26ste
“Quote of the day”:
“Het julle dit dalk nodig?” – Riaan van den Dool, ná middagete (lees aan!).
Colyn M. het ons die vorige aand gewaarsku dat ons 6:00 wakkergemaak gaan word. Maar toe die kreatiewe, nuwe liedjie van ‘n BAIE entoesiatiese groepie wakkermakers gehoor op, was baie mense reeds op. Seker maar ‘n kombinasie van vroeg-lig, nog-nie-gewoond-aan-matras, en sien-baie-uit-na-dag. Al 120 BTKners moet omgery word na die punt waar ons kan begin stap, en terwyl daar vir die laaste oppakkery gewag word, word die eerste uitkyke gedoen. Met ampertjies 60 eerste toeriste is dit ‘n formedabele taak, en Petri d.P., as WRAAKKAPTEIN, stel ‘n 2de span uitkykers aan, o.l.v. Corné v.D..
‘n Bietjie reën val aan die begin van die dag se stap. Dit laat ons egter die wonderlike weer van die res van die dag waardeer. In heerlike sonskyn stap ons met die wit strande af na Stilbaai, en meer as een uitgebleikte student verbrand liederlik. Christa Gerber se kreefrooibene sal lank as ‘n waarskuwing teen die gevare van son in almal se gedagtes voortleef!
Middagete word oppad genuttig. ‘n Ramp tref egter die middagboordjiespan. Geen botter kan in enige van die middagbroodrugsakke gevind word nie, en ook amper niks konfyt nie! Maar hierdie groep meisies is IN BEHEER, en kry dit maklik reg om die hele groep te verkul, met hul toegeplakte broodjies en dik maaskaas. Niemand het die verskil agter gekom nie! Ná die heerlike middagete gemaak en geëet is, kom Riaan v.d.D. egter daar aan met ‘n middagete-rugsak oor sy skouer. “Ek het hierdie sak vandag gedra. Het julle dit dalk nodig?” Gelukkig was almal darem nog in ‘n goed genoeg bui om te kan insien dat dit eintlik gaaf was van hom om die rugsak nie te gee nie, want nou spaar ons botter en konfyt!
Omstreeks 15:30 stap ons Stilbaai se karavaanpark binne. Die WONDERLIKE badkamers, met die teëlvloere, glasdeure en heerlike warm water word deur ieder en elk gewaardeer, veral die wat staptoere soos die Drakensberge en Oorlogskloof vars in hul geheuens het. Net voor ‘n heerlike aandete word daar, getrou aan die vorige aand se demonstrasie, ywerig geskiet, want die aand het alle potensiaal vir ‘n GREAT slee. Die weer het egter ander planne. Toe die eerste druppels val het die goed-geoliede masjien wat die BTK is, onmiddellik in werking getree, en het elke lid sy spesifieke plig nagekom om te sorg dat geen toerusting nat word nie. Of eerder, die meisies het rondgestaan (uit die reën uit) en gekyk na die ouens wat sopnat word terwyl hul BTK-toerusting uit die reën uit skuif. Daar is nie net gekyk nie, maar ook heerlik gebespreek: elke ou wat verby die kostent geloop het is deur tientalle oë uitgekyk en deur reekse verskillende sisteme ge”rate”. Dit was “sweet revenge”: nou weet julle hoe meisies op die strand voel! Reën sal egter nooit ware BTKners afskrik nie, en daar word in die kostent, army-tente, bus en trok gekuier, gesing en kaart gespeel. Spesiale vermelding word hier gemaak van Koos, wat IN DIE REËN oopgemaak het, omdat ‘n paar BTKners lekkertjies nodig gehad het om die kuiery nog lekkerder te maak. Met die vooruitsig van ‘n oorstaandag na net een dag se stap, is almal lekker lui.
Vrydag/Dinsdag die 27ste
“Quote of the day”:
“Ons weet nie wat op ons wag nie, maar ons mag nie daaroor lag nie” – Madri, in ‘n “rap” wat sy gesing het vir eerstetoeris-items.
Ons eerste oorstaandag van die toer. Ons word eers halfagt wakkergeskree. Ná ‘n heerlike ontbyt word die eerstetoeriste verwittig dat hul die “entertainment” vir die aand is. Die gevreesde WRAAK sal vanaand plaasvind… Raelize Loubser & Co. leer vir die verwarde (en effens benoude!) groep nuwelinge “De Magtige Koning” aan, en dwarsdeur die dag kan gedempde “Konings” in allerhande (soms valse) stadiums aangehoor word.
Die dag word verwyl in allerhande vorms van sport. Dis ‘n koelerige dag, wat beteken dat jy heeltyd kan aanhou rondhardloop, wat ‘n marathon volleyball-sessie tot gevolg het. Touchies en jukskei kry ook ‘n beurt, en daar word natuurlik met oorgawe geswem. Baie van die BTKners haal ook verlore eksamenslaap in: daar is niks soos ‘n bed in ‘n tent op ‘n bewolkte dag nie.
Net te gou vir die eerstetoeriste is dit aand. Op ‘n benoude hoop sit die 55 aspirant-BTKners. Onder leiding van Andy Robyn lewer die “eerste ‘peanuts’” egter items wat die res van die BTK van histerie tot walging gehad het. Stefan Esterhuizen en Johann “Groottoon” van Zyl as die monster Fluffy, het almal in histeriese lagbuie gehad, veral die unieke optrede van die maag van die gedierte. Ripley’s Believe it or Not, aangebied deur “Dihaan Kaan” (Leon du Toit) het ook vele treffers gelewer: “De udder Woman” (“Beter as 6 van die bestes”), Rofti, die 5-been perd, die Super-duper-Biciflex (gedemonstreer deur “double-u-pee”) en die grootste sandkorrel ooit. In die gesamentlike eerstetoeritem was die held Kaptein Koos (Sybrand de Vaal), wat die Murray-De Villiers-Hendriks-sleeppilresep van die Taliban moet Gedurende hierdie reddingspoging is die wenner van die toer opgelewer: spattende bloed, in die vorm van ‘n baie entoesiastiese Christiaan Jordaan, in ‘n baie rooi baadjie.
Oor die WRAAK word daar niks gesê nie…Behalwe dat dit die eerste keer was wat ‘n eerstetoeris dit met ‘n swemkeppie aan tegemoetgegaan het…
Na die soetheid van die Wraak het almal as volwaardige BTKners terug in die slees geklim. Aangesien daar nie op Galas gehekel word nie, het Coos Diener die slim plan gekry om dit vervang met ‘n Spykertoekenning, vir die skerpste opmerking van die dag, en ‘n Dummietoekenning, vir die “blindste” opmerking van die dag. Colyn M. en Ilse Bruwer was, onderskeidelik, was die eerste ontvangers van hierdie gesogte toekennings.
Saterdag/Woensdag, die 28ste
‘Quote of the day’:
“Maak soos ‘n dame en lê” – Stefan Bothma (niemand weet werklik wat met hierdie bizarre opmerking bedoel is nie…)
Ons word 6:00 wakker gemaak, en dis ‘n heerlike, sonnige, windstil dag. Vandag moet daar die kort endjie Jongensfontein toe gestap word, en die dag se stap begin met ‘n keuse tussen deur die dorp stap, of oor die mond swem. Vervloeë BTK-dae word teruggebring deur Raelize&Co. wat rooi-en-wit rompe, en BTK khaki hemde aantrek. Hierdie kuise klere, wat wys dat BTK-meisies net so kuis, konserwatief en hubaar is soos van ouds, trek baie aandag onder die nie-BTKners verby wie daar gestap word.
Met Gamebreak word Evert Heyns se verjaarsdag gevier. Dis regtig sy verjaarsdag, en boonop sy 21ste een, en hy besluit om dit ordentlik te benut, want toe die meisies klaar gesing is, en kom om hom te soen, soen hy met oorgawe en mening terug! Dis nie aldag wat 67 meisies een en dieselfde man wil soen nie! Daar word daarna rustig aangestap, en hoe later in die dag, hoe beter raak die weer. Ons middagete op ‘n huis se grasperk, en kom net voor 15:00 by Jongens aan. Die hitte veroorsaak impromptu mini-watergeveg, en Koos se koeldranke verdwyn soos tentpenne in los sand.
Colyn M. moet die middag teruggaan om die bus te gaan haal. Hy voel hy moet egter die tradisie voortsit (laas Gala het hy ‘n parkeermeter met die trok omgery) en die keer ry hy ‘n nuutgeboude, pasgeverfde muur om! Gelukkig word net die bus se flikkerligbedekking beskadig.
Jean d.V. en haar kokke laat nie op hul wag nie, en aandete is al teen 18:00 gereed. Aankondiging van aandete gaan tepaard met ‘n baie entoesiastiese aankondinging van “Bring julle borde en kom que! Damesskiet vanaand!” deur die kosma. Juliana Groenewald sien hier haar kans, en stel haar visier op Johann van Niekerk, wat besluit hierdie is sy kans om in “demand” te wees, en vinnig weghol. Dit lyk nie asof Juliana ‘n kans sal hê teen Johann se lang bene nie, totdat die dames begin saam staan, en hom afkeer aan die een kant, wat Christine Fourie die kans gee om hom te trip. Juliana kry hom toe geskiet, en dit gee Johann die beste slee van sy lewe. Selfs al is daar ‘n minderheid van mans op die gala, doen BOM (Buro vir Onopgeisde Mans) goed besigheid, en loop Oom Jurgens ooral rond, besig om mans aan dames te verpand. En dit laat almal wonder: hoe presies hét hy vir Tannie Helen gekry..?
Vanaand is die mense opge”psych” vir slee, en 19:15, terwyl dit nog helder dag is, is almal in die slees, toegewoel onder slaapsakke, en hard aan die kou aan sleepille. Corné v.D. geniet heel duidelik sy nuutgevonde vryheid (hy is nou Algemene Oggend Assistant), en item net te lekker met sy melaatse kopkole. Frikkie die padda in die BTK poppekas maak ook sy opwagting: as daar enige 5-jariges daardie padda gesien het, sou hul nou ‘n absolute fobie vir paddas gehad het! Verder is daar hope nuwe items, waaroor die oud-toeriste maar net te bly is, want Koud-koud-koud en K-K-Kaptein is net snaaks tot op ‘n punt! Spattende bloed maak weer sy (haar?) opwagting, die keer in die vorm van ‘n erg entoesiastiese Mia W. en Christa G. Na 2 ure se harde itemry word daar halt geroep en godsdiens gehou. Flippie Jordaan wys dat daar meer in hom steek as net trokke rondry, en die twee tamaai groot visse wat hy die dag gevang het word gebraai, en is net reg toe “nag dames” aangekondig word. Die hele BTK smul net te lekker aan die “midnight snack”. Meeste mense is egter nie regtig moeg na die dag nie, en met die vooruitsig van nog ‘n oorstaandag die volgende dag, word daar weer gaan swem, stap en gesing op die strand, tot laat.
Sondag/Donderdag, die 29ste
“Quote of the day”:
“I give you the BTK virgin, ag, version…” – Johann Van Niekerk, toe hy ‘n item aankondig.
Dis Sondag in die BTK, en dus ‘n oorstaandag. Ons word 8:00 eers wakkergemaak deur die feetjies en kaboutertjies en stomende koppies koffie met net die regte hoeveelheid suiker. Ná oggendete het ons kerk, gelei deur Ilse Brand, en daar word gepreek deur Oom Jurgens. Onder die koeltebome kon ons sing, bid en getuienis lewer, in ‘n gewyde atmosfeer soos wat ‘n mens net in die natuur kry.
Na kerk word die Stap Nou! uitgedeel! Die BTK lyk meer intellektueel as wat dit nog ooit gelyk het, met ‘n 120 BTKners wat ooral op die gras rondlê en lees. Daar word ook rondgesit en gesels, gekuier en geswem, maar dit alles is net ‘n poging om die tyd vinniger te laat verbygaan tot SONDAGMIDDAGETE! Daar word heerlik geëet, en daarna vind die “annual” pitspoegkompetisie plaas. Johann v.N., die heersende kampioen, is in beheer van verrigtinge, en die baan word netjies afgemeet, sitplekke aan die kante word aangewys aan toeskouers, en die reëls word uitgelê en verduidelik soos nog nooit van te vore nie. Die deelnemers (spoegers?) is duidelik by die “peak” van hul oefenprogram (daar is vroeër die oggend met stukkies wortels geoefen) en die toeskouers “oe” en “a” op net die regte plekke. Johann v.N. wen verspoeg sonder ‘n hop, terwyl Dawie Malan eerste kom by verspoeg met ‘n hop. Maria Boucher wen by die dames.
Na die welkome verposing rondom die pitspoegbaan, voel almal reg vir Elsa. Corné v.D., Coos D. en Colyn Hendriks lei almal in Elsa-opwarmingsoefeninge, en kry dit reg om 115 mense soos idiote te laat lyk. Colyn M. stel nuwe reëls in: as die ouens “seconds” wil hê, moet hul by hul eerste skeppe ‘n Tarzankreet gee. Dit verskaf baie plesier, aan beide kreetgee-er, en kreetaanhoorders, en Pluto wen onoffisieël met die beste kreet, terwyl Johann v. N. spesiale vermelding kry vir kreatiwiteit. Na Elsa lê almal uigepaas rond, in verskillende grade van lyding na daar met oorgawe ge-ooreet is. Ralph van Niekerk ly duidelik na sy ontmoeting met die bekendste (berugste?) van alle BTK-meisies.
Die middag word verwyl in slaap, kuier en swem. Wagtend op aandete (hou die mense NOOIT op met eet nie???) maak ‘n massale streelperseel op, met ‘n rekord 47 insittendes. Aandete word gevolg deur bondelslee (?) waar daar weer bloed spat, slee-“waves” gemaak word en, soos gewoonlik, histeries gelag word. Die Spykertoekenning gaan die aand aan Colyn M. en Jean d.V., wat dit reggekry het om ‘n Donderdag soos ‘n regte egte Sondag te laat voel.
Maandag, Vrydag. die 30ste
“Quote of the day”:
“Hy’t ‘n sadistiese streep in hom. Hy hou daarvan om meisies te brand” – Oom Jurgens, oor Corné v.D., wat die papbakkies so vol skep dat dit mors, en die meisies se hande brand.
Die oggend is ons almal vroeg op, uitgerus na ‘n heerlike oorstaandag. Die walaaiers verrig wondere met die pak van die trok, en kry al die ekstra water ingepas (die aand se staanplek sal geen water hê nie). 8:30 is ons oppad, onder bewolkerige hemele, en met ‘n gevoel in die lug wat bedompigheid voorspel. Na ‘n uur se stap, kondig Colyn M. ‘n rus aan, en word die bamboese, wat in oorvloed rondlê nadergegryp . Met oorgawe en entoesiasme word daar getrompetter. Dit lyk asof Christa G. die beste is – die lawaai wat sy darem met ‘n dooie stuk plant kan maak – totdat Petra Treurnicht haar opwagting maak. Nie net stof sy vir Christa G. uit met hoe hard sy kan blaas nie, sy kry dit reg om verskillende note te produseer! Christa G. word egter getroos met die wete dat Petra T. franse horing speel, en dus voorsprong gehad het.
Die dag se stap is seker die mooiste van die hele toer. Wit strande, groot rotse, blougroen water en enorme, wit, sagskuim branders. Daar word gegamebreak by Die Spattende Rots, ‘n plek waar enorme groot branders breek oor rotsplaatte. Groottoon wil wys dat hy “tough” is, en gaan staan op die punt van die rots, waar die mis van die brekende branders hom keer op keer laat verdwyn. Hy lyk baie indrukkend, veral die dele waar dit lyk asof hy net verskyn, totdat hy van die rots afgeslaan word, en hy baie van sy maagvelle verloor in ‘n poging om droeë grond te bereik.
Daar word aangestap, oë meer op die utsig as op die pad, tot by middagete. Met middagete verontagsaam die natuur egter Red Cross reëls, en word ons immer gewillige verpleegster, Liesbet Rossouw, aangeval terwyl sy Tone oopmaak. ‘n Skerpioen knyp haar(ons sal maar nie se waar nie nie) en verseker dat sy in die vervolg ordentlik gaan kyk voor sy gaan sit!
Daar word moedig aangestap, alhoewel die laaste bult amper ‘n paar mense se moed breek. Kort voor die einde ruil Fillipe en WP van Zyl klere om, sal maar nie vra hoekom nie, en Jeanne-Marie Marais word amper daardeur ingeloop.
Ons slaap by Blombos, alhoewel baie mense dink dit moet eerder Duwweltjiebos genoem word, vir die hoeveelheid “killer” duwweltjies wat daar is, veral binne-in jou tent. Aandete is, soos altyd, heerlik, en die bondelslee vind plaas in die pad. Die items word ook beinvloed deur die duwweltjies. Klokkies wat gewoonlik “tiengeliengelieg” gemaak het, het skielik “tiengelienge-OU!” gelui. Kuala Lampur skilpaaie het ook snaakse gedaanteverwisselinge ondergaan, en onder Karen v.d.M. se invloed skielik Quakamali skilpaaie, en toe Kahlua Lampur skilpaaie geword. Nie dat enigiemand in elk geval die verskil sal weet nie..!
Dinsdag/Saterdag, die 1ste
“Quote of the day”:
“Ek’t hierdie paal nog nooit gesien nie.” – lid van tentespan, op die sewende dag wat hul dieselfde tent opslaan
Ons word 5:30 wakkergemaak vir die langste stap van die Gala: 19km Puntjie toe. Almal werk vinnig, en ons is 8:00 op die pad, sodat ons soveel moontlik harde sand.
Almal stap ERG vinnig: “rumour has it” dat ons in die eerste uur 7km gestap het. Of dit nou waar was of nie, is dit wel so dat ons ge-“move” het. Dit was ook maklik om te doen, want die pragtige lang, wit, egalige strande, met die sand nog hard, was‘n lekker loop. Oppad word interessante dierelewe gewaar: ‘n slang wat regtig baie soos ‘n swart mamba gelyk het, sommer daar in die middel van die strand waar ons loop; ‘n LEWENDIGE rob (die mense wat Agulhas Gala gestap het, het dit baie waardeer!); visse wat aan jou tone knibbel as jy in die water sit; en troppe voëls, wat net kort vlieg, om‘n entjie verder neer te stryk.
Ons middagete ‘n warm middagete op ‘n verdwaalde huisie se stoep, waar elkeen klein kolletjies skaduwee opsoek, want die verbrande velle van die vorige dae is sensitief vir die skerp son. Na middagete verlaat ons die strande, en stap bolangs tussen bossies, wat verbrande bene seer krap, tot by Puntjie. Daar moet ons oor die rivier kom. ‘n Boot is gehuur om die lui-es en verkroktes oor te help, maar ‘n groot klomp BTKners besluit dat ‘n “re-inactment” van die gebeure by die Rooi See nodig is, en hul swem oor. Baie onderskat egter die krag van die stroom, en ‘n klomp stemme was hees gegil voor Stephan Erasmus sy kop gelig het en gesien het dat hy besig is om terug te swem. Ná die rivier was daar omtrent net ‘n halfuur se stap oor, maar die water was hoog, die sand was los, en die stap was swaar. Meeste mense kry harder sand deur in die persoon voor hul se spore te stap, en besef dat regtig baie van die BTKners loop asof hul paddavoete aan het.
Ons kampplek is pragtig. Dis bo-op ‘n duin met die mooiste uitsig oor die see. Dameskamp is definitief die beste, en elke tent word opgeslaan met sy deur wat oor die see uitkyk. Na twee dae se geen-geriewe voel baie BTKners baie vuil, en die aand word daar ywerig gebad onder die een kraan. Daar word ook vir die tweede keer ‘n pouhok vir die dames gebou, op die rand van die duin, en met die mooiste uitsig oor die see.
Die aand is dit komiteeslee. Verskillende komitees word saamgegooi, en die walaaiers maak al die meisies jaloers met hoe mooi hul die groenteskillers uitnooi na hul slee bo-op die trok. Die aand word ‘n musikale aand, met verskeie koshuis-sergroepe wat hul opwagting maak, en ons word keer op keer beveel om te “kyk na die maan”. Meeste mense is egter maar moeg na die dag se lang stap (ons is immers gewoond aan reekse oorstaandae!), en is bly toe dit “nag dames” is.
Woensdag/Sondag, die 2de
“Quote of the day”:
“Hierdie is my ‘shoop-shoop girls’” – Johann v.N., as Elvis, terwyl hy wys na Petri d.P.
Ons staan laat op. Of eerder, laat in vergelyking met die vorige oggend, want ons word 6:00 eers wakkergesing. Met ontbyt wag daar ‘n verrassing: volstruiseier-roereier. Niemand kan sê ons het nie goed geëet nie!
Ons het ‘n korter stap vir die dag, net omtrent 10km tot by Witsand. Met die oppakkery maak die reën sy opwagting, maar dis van korte duur, en maak dat ons die son weer waardeer Dis ‘n mooi stap, al langs die see af, maar met meer rotsplaatte as sand. Die laaste stuk het ons ook ‘n sterk wind van voor gehad, vir die eerste keer op die toer. Maar tog, hoe nader ons aan Witsand kom, hoe vinniger stap almal, soos ‘n klomp perde (of is dit nou donkies?) wat water ruik. Nie eens die sterk wind keer ons dat ons reeds voor middagete by die karavaanpark is nie. Daar was ‘n paar baie onbeïndrukte middagbroodsakdraers…By die kampplek het die middagbroodjies vinnig die klomp brode verander in heerlike toebroodjies, en kon al die honger BTKners daaraan smul. Daar was ook ‘n ekstra verassing: ‘n sjokolade en koeldrank vir elkeen (sonder dat jy R5, 20 daarvoor hoef te betaal!).
Na middagete is daar met oorgawe gestort en hare gewas. BTK-tradisies is verbreek deurdat daar skoon na die (mini)terrasch by Suzie’s, die enigste restaurant op Witsand, gegaan is. Dis ‘n effense reënerige en koel aand, en almal sit rustig rond en kuier. Colyn M en Mia W. herleef hul kinderdae deur op die rondomtalies en klimrame, wat daar geplaas is vir KINDERS om op te speel, rond te klouter. Aandete is ‘n bietjie later as gewoonlik, siende dat 120 gemarineerde varktjops gebraai moet word! Dis egter nie al nie. Ons kry heerlke poeding in die vorm van sjokoladekoek en roomys.
Ons laaste aand is ‘n bondelslee. Die beste items van die gala word herhaal, sommige met interessante veranderinge. Sal die BTK ooit weer ‘n ‘shoop-shoop girl’ soos Petri d.P. hê? Kort voor lank se Colyn M. ons moet ons “bande torsel” en in die bed spring. Die wat egter voel daar moet nog met oorgawe gekuier word, kon die geselsery in die bus voortsit. Baie mense het dit gedoen!
Maandag, die 3de
Quote of the day:
“Die BTK is die beste” – ingevul op een van die evalueringsvorms
Laaste dae is altyd hartseer. Ons het egter omtrent nie tyd gehad om hartseer te wees nie, so haastig was ons om op te pak. Ons toerleier moes die volgende oggend 8:00 in Vanderbijlpark begin werk, so ons kon nie tyd mors nie. Ons was gou-gou op die pad, die bus en trok, waentjie en karre ge”load” met BTKners en hul pakkerasies. Op die bus was dit ‘n bietjie rustiger terug as wat dit oppad was, met meer mense het in verkillende stadiums van beswyming in die paadjies, teen vensters, of op vriende se skouers. Daar was natuurlik uitsonderinge: een groepie het iewers ‘n swart cokie in die hande gekry, en daar is op Stellenbosch afgeklim met die snaakse kunswerke op gesigte, arms, mae, en ore. Partykeer moet mens net nie vrae vra nie…
Net te gou was ons op Stellenbosch. Daar’s vinnig afgelaai, bagasie tussen al die hordes uitgegrawe, en “lift”reëlings georganiseer. ‘n Klomp sou nog gaan vir ‘n onoffisiële terrasch in die Spur, ander moes in karre spring om betyd te wees vir hul werk. Maar so tussen al die gejagery, tussen die baai sêery, en nommers uitruilery, was daar in elkeen se hart so ‘n weggesteekte hartseer. Dit was ‘n ongelooflike toer, met wonderlike mense. Nege dae lank was ons heeltyd saam, en het ons deur mekaar en vir mekaar gelewe. En nou spat ons uit mekaar uit. Maar saammet daardie versteekte hartseer, was daar ook ‘n versteekte troos. Dit gee nie om waar ons onsself hierna gaan bevind nie, in Vanderbijlpark of Hermanus, Switzerland of Ierland, daar is ‘n band wat ons almal saambind. Ons is almal vir altyd deel van ‘n ongelooflike familie, die BTK. En ons is almal vir altyd deel van die baie spesiale groep mense wat die 2001 Gourits-Witsand Gala gestap het.
Lisa Hendriks