Onthou jy nog daardie
Bloulug, blinkwater, witklip dae van Witels?
Die steil voetpad, die Middelhut
– daar mag ’n mens ’n oomblik sit;
Die helder maan, die sterrenag
die aanbreek van die nuwe dag;
Die wit misgolf oor kloof en kamp
en hoe dit voor ons oë verdamp
om vir ons te laat ’n paradys
om te geniet in die deurreis.
Onthou jy nog die tonnelswemme
die donker dieptes van dié poel;
Onthou jy die sonwarm rotse
en die water skoon en koel;
Die onseker soek na elke klip
waaroor en om die water glip;
Die verbasing en die sug geslaak:
ek het sowaar die sprong gemaak!
Die inpakgedoente met sakkies en rekkies,
die sopnat sokkies en Witels-wit tekkies.
Ruik jy die rivier, die salami wat braai,
sien jy die skaam forel onder draai?
Onthou jy die Boulder
en die triomf wat bo wag;
Onthou jy die Bumslide
se gly en skaterlag?
As jy dit onthou, dan sal jy ook weet
dat jy Witels se son-dae
vir niks sal verruil, ja,
en nooit sal vergeet.
Opgedra aan my Witels maats van die Witels toer Desember 1997
toe ek amper nie van die gradeplegtigheid ontkom het nie.
Christine Steinman