Die land is vasgevang in ‘n koue, nat greep en dit sneeu en reën omtrent orals. Ek dink terug aan die woorde op die toer se plakkaat:
“Is jy lus vir ‘n bietjie son die winter?”. Wel, die sonnige wintersdae het ons toe gekry en soos enige BTK- toer betaam ook sommer baie meer!
SONDAG – 14 JULIE
Ons vertrek uit ‘n baie nat Stellenbosch in die donker ure van die oggend. Die reen bly met ons vir meeste van die pad, maar begin gelukkig rondom Springbok opklaar. Etienne van der Poel en Hildegard Steinmann-hulle het vroeer as ons vertrek met die Steinmanns se kombi aangesien hulle bang was dat dit hulle lank sou neem om die afstand te ry. Die kombi verras hulle egter en op die ou end moet hulle maar vir 2 ure in Springbok ronddwaal.
Stadig raak die plantegroei kariger, die kleure bleker en alles eenvoudig stowweriger tot in Pofadder. Daarna draai ons af op die stofpad na Onseepkans. Van daar af is die aanwysings ietwat vaag en die kombi bestuur deur Carel Cairns maak ‘n draai deur die boendoes nadat verkeerde aanwysings by die plaaslike inwoners verkry is. Daar beland hulle in die sand en die insittendes, Johan-Pieter Terblanche, Nina Kruger, Isak Nel, Theunis de Villiers, Benjamin Stehr en ekself moet maar uitspring en stoot.
Ons draai maar om en kry die Steinmanns by die plek waar ons moes gewees het. Terwyl ons die slaapplek verken vermaak die plaaslike kindertjies ons met ‘n konsert wat onder andere aaitems soos die haka, toi toi en Shosholoza insluit.
Yvonne Burger en ‘n ekstra stapper, Sidney Schonegevel, sluit by ons aan vanaf die Kalahari Gemsbok Park waar hulle onder andere die vakansie getoer het. Sidney het nie sy raamrugsak nie en tussen die twee van hulle moet hulle maar alles in ‘n rugsak en ‘n dagstapsak inkry. Nou wag ons net vir die Gauteng klomp en kyk vanaf ‘n koppie na die pragtige sonsondergang. Die kos wat gedra moet word, word geweeg en uitgedeel en ons leer solank mekaar ken.
Aandete word voorberei en almal is rasend honger. Ons eet massiewe rolletjies en moet groot strek om dit in die mond te kry. Nadat ons klaar geeet het daag Germien du Plessis, Christiaan Terblanche, Wim Kotze, Dawie van Wyk en Jean Hendriks op – al 5 van hulle plus hul stap bagasie plus ander Stellenbosch bagasie alles in een Conquest! Nou is net Marthinus Steyn uitstaande en ons begin spot oor hoe hy ons maar van agter sal moet inloop – min wetend dat hy dit reeds doen iewers op die 50km pad tussen Pofadder en Onseepkans!
Nico Holtzhausen heet almal welkom en hy en oom Dieter Steinmann spreek ‘n paar woorde oor die BTK. Oom Dieter sluit vir ons af en uiteindelik kan die moees gaan inkruip. Enkeles kuier nog ‘n rukkie om die vuur en ruil rit en vakansie stories uit!
MAANDAG – 15 JULIE
Ons staan 6h30 op want almal weet die eerste dag se pakkery neem lank. Oom Dieter voorspel minstens ‘n uur en ‘n half en ons kan wel eers na 2 ure begin dink aan stap! Deon van Niekerk en Joos van der Merwe laat ons weet dat hulle, ten spyte van wat op die toerlys staan, op hul voorname aangespreek moet word en dat die ouens nog kan se oom – maar tog net nie die meisies nie!
Die sonsopkoms is welkom en daar is nie ‘n wolkie in sig nie. Die son is egter skerp en die skadu min, maar ‘n koel luggie waai en dit raak nooit regtig warm nie – elke keer as ons stop moet die warm tops maar uitgehaal word.
Ons stap vandag weg van die rivier en dus is daar geen teken van water nie – ons dra almal reeds swaar aan die kos en tente ( gemiddeld 18kg ) en moet vandag ook nog water saampiekel.
Marthinus maak sy dramatiese verskyning toe ‘n bakkie in ‘n stofwolk agter ons aangejaag kom na ongeveer ‘n uur se stap van die begin af. Die mense van die grenspos was so vriendelik gewees om hom van Onseepkans af te bring. Hy het egter al heelwat kilometers agter die rug en sou hierdie dag meer afle as ons in die hele toer!
Die terrein is stadig opgaande en die sand ondervoet maak die stap van tyd tot tyd moeilik. Om ons le egter ‘n asemrowende uitsig : die wereld is hard, maar met ‘n ongelooflike bekoring van sy eie.
Daar is fantasties mooi klippe al langs die pad en ek voel heel dom as ek net kan se “ daar le nog ‘n mooi klip”. Joos is egter ‘n kenner op die gebied en deel menige interessanthede mee.
Ons hou middagete bo-op die hoogste punt vir die dag waarna die afgaan begin. Die muggies pla verskriklik en ons maak die ontdekking dat hulle ‘n bo-gemiddelde affiniteit vir die BTK se nuwe hoede het.
Iewers op pad af ontdek Eberhard Steinmann ‘n interessante ou erdekruik wat van nou af saamgedra moet word. Verder af kom ons ‘n lekker afgly plek tee en alhoewel sommiges eerder die vervelige opsie van langsaan afklim volg is daar tog tot groot vermaak van die wat reeds onder is ‘n hele klomp indrukwekkende glyvertonings gelewer. Die meisies het egter beslis uitgeblink bo die ouens ( dalk iets met ego’s te doen? )
Die plantegroei begin al hoe meer groen raak en ons weet ons is naby aan die rivier wanneer poele water om ons begin verskyn. Uiteindelik is die rivier in sig en almal is dankbaar – ‘n harde dag se stap met swaar rugsakke het sy tol geeis. Die kloof is egter al in die skadu en slegs ‘n paar brawe mense durf die koue rivierwater aan om te bad.
Nico, Hildegard en ek leer vir die eerstetoeriste lied 18 en Marnus Hattingh raak heel opgesweep as dirigent wat die groep aanpor tot groter gevoel en volume. Eric Vriends se hulp word ook ingeroep : hy is mos ‘n Nederlander en ken die lied reeds. ( selfs die ou BTKaners kan by hom ‘n ding of twee leer van die uitspraak! )
Die eerstetoeriste bied hulle konsert aan en Helmut Biesenbach staan beslis uit in sy rol as wolf. By die wraak is daar ietwat van ‘n deurmekaarspul wanneer Mariette Grobbelaar eers nie vir Theunis tussen die eerstetoeriste kan kry om sy nekdoekie vir hom te gee nie en hy maar seker gewonder het of hy oorgeslaan is.
Voordat Dawie vir ons afsluit sing ons nog ‘n rukkie om die vuur sodat die eerstetoeriste hul boekies kan uittoets.
DINSDAG – 16 JULIE
Ons staan 7h00 op en neem weer eens 2 ure om aan die gang te kom. Adele du Plessis het ‘n hak wat pla en Marthinus is nog bietjie moeg na die vorige aand se onsuksesvolle ryloop tussen Pofadder en Onseepkans, maar andersins verloop alles nog goed.
Ons bly vandag langs die rivier en loop by die indrukwekkende woning van die Lutttig’s verby. Die pad is effens eentonig en een ding is seker : die plaas is baie lank ( daar moet egter in ag geneem word dat slegs ‘n strook van 200m langs die rivier bewerkbaar is waar omtrent enige ding geplant word )
Ons hou gamebreak op die plaas en aanskou die skerp kontras tussen die groen landerye en die vaal, droe bulte wat dit omring. Ons hou aan vir nog ‘n ent deur die stof, dongas en doringtakke ( gelukkig nie muggies nie ) totdat ons middagete hou op heerlike klippe langs die rivier. Sommiges maak van die geleentheid gebruik om oor die rivier te swem en uiteindelik kan Johan-Pieter se hy was al in ‘n ander land!
Groep 3 soek drasties na hul 2 blikke vis en Hildegard dreig al om almal in die groep se rugsakke te kom omdop. Toe kom die vis by groep 1 uit : Carel en Joos het toe ewe gerieflik die ekstra massa gedra!
Verder stroom-op bereik ons ‘n punt waar dit blyk asof ons nie verder kan nie. Dadelik is daar verkenners in alle rigtings teen die kranse op, maar op die ou einde kan ons wel onderdeur. Rugsakke kan aangegee word en ‘n vinnige rotsklimles word ook ingewerk vir die onkundiges met Hildegard wat as offisiele instruktrise optree. Daar is tog ‘n paar bo-oor die bult, onder andere Nico en vir eens kom die slot amper voor die toerleier by ‘n rusplek aan. Daar moet eers na beserings gekyk word en Adele se knie is seer : Jean is in groot aanvraag vir haar fisioterapeutiese kundigheid!
Wat veronderstel was om ‘n kort dag te wees het toe op die ou einde net so lank gevat soos die vorige dag en ons het nie eens al die pad na Pelladrif gestap nie.
Groep 3 maak na aandete Gluhwein, maar een van die drie botteltjies rooiwyn het soek geraak. Die keer het groep 1 niks daarmee te doen nie – Joline Nel het dit al die tyd in die verkeerde sak gepak by die begin en dit het nooit saam gekom nie!
Na aandete slee ons om die vuur wat aangesteek is en toe eers geskuif is en weer aan die gang gekry is! Brand Wessels word lekker gehekel : iets te doen met lacy longjohns en uitsien na dameskiet waar Nico versigtig sal moet wees… Dalene Lordan sluit vir ons af.
WOENSDAG – 17 JULIE
Ons probeer nog steeds 8h00 loop, maar dit blyk te optimisties te wees. Die groep verdeel in twee en Heidi Vogel, Adele, Joline en Yvonne vertrek onder Sidney se wakende oog langs die rivier terug, terwyl die res van ons weer in die binneland ‘n draai gaan maak.
Na gamebreak vind ons ‘n oulike put met trappies, ‘n platvorm en drinkbak vir diere. Die pad raak hierna egter onduidelik en ons moet maar die kompas en die kaart nadersleep om te bepaal waarheen nou. ‘n Bokwagter langs die pad laat ons weet ons rigting is darem reg. Ons verkyk ons ook aan die prag van ‘n paar perde wat verby galop en die arme donkies van die area blyk in vergelyking beslis in ‘n
ander klas te wees.
Wim trap in ‘n pendoring wat dwarsdeur sy sool tot in sy voet steek en verduur pyn – daar is nie veel wat ons kan doen nadat die doring uit is nie, en ons hoop maar net daar is nie infeksie nie.
Na middagete is ons op en af oor heuwels voor ons die lang kloof af na die Oranjerivier aanpak. Daar is pragtige plekke vir watervalle en ons wonder hoe dit lyk wanneer dit die dag in die area reen!
Dan kom ‘n bekommerde Louis Klopper wat slot stap by ons aan en vertel dat Marthinus weg is. Christiaan draai om, om vir hom te gaan soek en die res van ons probeer maar so vinnig as moontlik by die kloof afkom want die dag begin lank raak en ons wil graag by die kamp aankom. By tye moet ons teen rotse afklouter en die knieprobleme wat nou al ‘n algemene verskynsel is maak dit maar moeilik – veral Deon kry swaar.
Nadat dit gevoel het asof die kloof nooit sal end kry nie kom ons by die rivier aan, maar die ander groep is nie daar nie en Joos gaan om hulle te soek by ons ou slaapplek van twee aande terug. Dit begin donker raak en ons groep is oral. Die boer se seun is baie vriendelik en kom bied vir ons slaapplek aan, maar omdat almal nog nie aangekom het nie besluit ons maar om te bly waar ons is langs die rivier. Teen 19h00 is ons almal gelukkig weer bymekaar nadat mense uit alle rigtings gekom het – selfs Marthinus wat in ‘n heel ander kloof af is. Christiaan moes blykbaar eers spoorsny om Marthinus te vind. Hulle het anderkant die plaas uitgekom en gelukkig vir ‘n gedeelte van die pad saam met een van die plaas se bakkies gery.
Almal is maar op en ons besluit om die aaitems en ‘n lang sleesessie te los en sing net om die vuur totdat oom Dieter besluit hy wil graag gaan slaap! By die hekel sessie vertel Christiaan sy storie en blykbaar slaap Marthinus al. Tannie Maretha hekel vir Jean : oor “slee” en “mense gebruik” en al wat ons weet is dat JP du Plessis betrokke is, maar dat Jean toe met Andries de Villiers geslee het en daar word gewonder of die hele situasie enigsins iets te doen het met die stofgeveg tussen JP en Andries vroeer die aand!!
DONDERDAG – 18 JULIE
Dit was ‘n koue nag reg langs die rivier, maar die feit dat die rivier skaars 10m weg was, was die blikwassers en waterdraers se droom.
Die boer se seun het aangebied om die beseerdes aan te ry na die eindpunt toe en die plaaswerkers kom by ons aan om hulle en enige rugsakke te haal. Adele, Deon en Wim gaan saam en Joline gee haar rugsak sodat sy daarsonder kan stap.
Isak verjaar regtig, maar nadat ons gesing het verras die meisies vir Schalk Smit deur eerder op hom af te storm. Daar staan hy toe vasgedruk teen die doringtakke en protesteer : “Maar ek verjaar nie!!!!” Hy kan egter nie weg kom nie en moet maar al die meisies soen wat daarna weer op Isak afstorm.
Toe ons by die slaapplek van die tweede aand verbyloop kry ek en Christine Steinmann die geleentheid om ons tentpaal te gaan haal wat ewe lastig daar agtergebly het!
Germien loop swaar met ‘n kleintoontjie wat stadig in ‘n groot blaas omvorm is en om die druk te verlig trek sy Andries se strops aan eerder as haar stapskoene.
JP en Marthinus hol soos mal diere deur die dongas en teen die duine uit. Nico besluit om vir ‘n slag nie voor te stap nie aangesien hy te min van die mense te sien kry en Carel neem tot gamebreak die voortou.
Na gamebreak loop almal terwyl groep 3 nog sit en tee drink. Ons neig ietwat binnelands. maar die geraas van stroomversnellings lok ons egter terug na die rivier. Ons vind ‘n heerlike middageteplek op groot wit rotse en daar waag enkeles dit weer in die rivier.
Ons moet meestal van klip tot klip spring wat nie so lekker vir die seer kniee is nie, maar ons word egter beloon met ‘n pragtige waterval. Die sonnetjie begin vel bak en skielik is die koel bries nie meer met ons nie! Die gemoedere begin maar laag daal want niemand weet hoe ver nog nie. Gelukkig rus ons vir ‘n strategiese 15min om te swem en in die rapids af te ry. Jean maak gebruik van ‘n tou as veiligheidslyn. Die water bly maar koud en nie almal gaan heeltemal in nie – dit lei tot watergevegte wat eindig met Brand en Christiaan wat mekaar pak totdat Christiaan in ‘n doringbos beland.
Almal voel beter, die terrein is vriendeliker en wanneer ons vir Wim langs die pad kry weet ons die bestemming is naby. Goeie nuus by die einde is dat die winkeltjie oop is en ons koop coke en skyfies en roomys. Daar doen ook ‘n paar biere die rondte : blykbaar met komplimente van Deon wat ons al reeds verlaat het. Die meisies kry die geleentheid om van die warm stort gebruik te maak, maar op ‘n manier spring Benjamin almal voor en kom eerste skoon.
Ons braai heelike wors en eet ‘n feesmaal kompleet met poeding en al! Ons slee in die saal en Christiaan en Andries organiseer ‘n ou rusbank van iewers af vir hulle slees. Heelwat aaitems word opgevoer en Etienne is die hoofkarakter in omtrent almal! Dis nie te laat wanneer Christine afsluit nie want daar le ‘n lang rit voor en die bestuurders moet rus.
VRYDAG – 19 JULIE
Ons is vroeg uit die vere en net soos met die sonsondergang van die eerste aand word die lug versier met ‘n besondere mooi sonsopkoms. Die blink morester skyn helder en dis hartseer om te besef dat ons tyd hier verstreke is.
Ons stempel die nekdoekies by die Onseepkans grenspos, maar ek kry die gevoel dat daar nie juis daagliks vele mense daar oor die grens stroom nie – hulle moes die stempel se datum eers so paar dae aanskuif, toe is die inkblok droog en nog ink moes iewers gesoek word, maar hulle was heel gewillig! Eric wil egter nie sy nekdoekie gee om te laat stempel nie – blykbaar voel hy dat hy nie die geleentheid gaan he om ‘n versameling stempels op te bou nie en dus maar eerder nie een wil he nie!
Op Springbok hou ons terash en neem die Springbok Lodge se restaurant op horings. Ons kry mekaar eers weer 19h00 in die Spur op Stellenbosch om die toer op die gebruiklike wyse af te sluit en die keer wals Jean en Wim begelei deur ons sang.
Aai, watter pret was dit nie. Net 6 dae weg, maar ons voel almal geestelik verfris
( alhoewel nie heeltemal fisies nie! ) en reg vir die tweede semester. Ek besef weer eens hoe gelukkig ons is om deel van die BTK te kan wees en hoeveel werelde dit binne ons bereik bring, hoeveel mense ons ontmoet en hoeveel ervarings ons deurmaak wat ons as mense vorm. Inderdaad, lewe lank, BTK!
Darienne Rossouw