Weskusgala November 1994

Jy verdien ’n vakansie! het heelwat studente in die November-eksamen bo-aan ’n advertensie gelees. Uiteindelik het 90 besluit om agt dae saam met die BTK deur te bring: te voet langs die Weskus, vanaf Saldanha tot by Dwarskersbos.

Vrydagmiddag, 2 Desember, het ons nog bleek en effe bedees na Saldanha vertrek. Geleidelik het die name op die lys met werkverdeling, gesigte begin kry. En die gesigte ’n studierigting, ’n huis, ’n hoed bo-op en selfs ’n vreemde aksent (Afrikaans met ’n Amerikaanse aksent). Teen ses-uur was selfs die wa afgelaai en die tente-kommitee het hul eerste oefensessie gehad. Die res van die vriendelike Steinmanns het opgedaag en saam met hulle was……

Die M-faktor,
die volkspelis,
die watergooier,
die rob vir ’n lekker bedryf,
die altyd laggende tannie Miems.

Saterdag was die BTKaners, gewapen met ’n hoed, sonbrandroom, ’n waterbottel en Super C of twee gereed vir die eerste dagstap. Oom Jan, Karina se pa, het die aand diegene wat nog getwyfel het, oortuig dat hulle saam met die regte organisasie kom vakansie hou het. Hy het 3 skape gespitbraai op so ’n manier dat niemand duskant die Sahara hom kan ewenaar nie. Eerste toeriste het waarskynlik voor die Gala ’94 gedink dat slee beperk is tot die sneeubedekte hange van die Himalayas en ander sneeubedekte hange. Pieter het egter die aand verduidelik hoe die sleëry werk en wat die doel daarvan is. Tot verligting van diegene wat benouderig begin voel, wys hy daarop dat slee nie verpligtend is nie. Die eerste toeriste, wat skaars gewoond was aan titels soos Waterdraer, word gekonfronteer met die titel ”Spinnie”. En net om hul horisonne nog meer te verbreed, word hul aan die term “hekel” bekend gestel. “Hekel”, nie soos wat ouma met vlytige vingers doen nie, maar soos wat skerpsinnige studente met fyn ore doen.

Sondagoggend 2:15 word ek wakker in my tent en dink dofweg: dit klink amper asof dit reën. 2:30 word ek met dieselfde gedagte wakker. Met een vinger druk-druk ek slaperig teen die tentmuur bo my en soos dit ’n tent in die reën betaam, syfer dar onmiddelik ’n stroompie deur die seil. Nadat almal wat nat geword het deur die nag, weer droog was, en almal iets geëet en gedrink het, is ons, soos dikwels die geval met ’n groot gesin is, effe laat vir kerk. Maar die dominee verwelkom die gaste vriendelik.

Terug by die kamp sorg Johanci, soos dit ’n goeie kosma betaam, dat daar tee en koekies vir almal is. Diegene wat nie help met die voorbereidings vir middagete nie, verdwyn in hul tente, en kom te voorskyn met tydskrifte, tennisballe, swembroeke, frisbee’s en jukskeie. (Ons is nie verniet deel van die oudste Afrikaanse universiteit in die land nie). Die Miems-faktor tree ook in werking en vermaak ’n paar mense met speletjies wat die deelnemers se intelligensie vermoei.

Die koekies en tee verteer gou en toe iemand roep “Kom queue! Bring julle borde!” verskyn 90 leë mae met 90 leë borde vir die volgende feesmaal. Met die uitdeel van die poeding kry die spreuk, “die wat eerste is sal laaste wees” toe nuwe waarde. Die res van die dag verloop slaperig, swemmerig, geselserig en spelerig.

Maadagoggend baie vroeg vertrek die Steinmann-toerouers en die M-faktor na Stellenbosch. Eberhard Steinmann moes betyds terug wees om ’n eksamen by die skool af te handel. Soos ’n bont duisendpoot, met Pieter as die brein, het ons die strandtog aangepak. Nadat ons die vlootbasis gebied uit is, kon ons soos mossels op die rotse by die see gaan sit en bak terwyl die Middagbrode ywerig smeer en Fransie, ons plaaslike meermin, grasieus in the water plons. Eers by Jacobsbaai het die res van die duisendpoot ook die water aangedurf. Dit was eers nadat almal met kameras hulle eeste rolletjie film volgelaai het met indrukke van die baaitjie. Met deurskynende blou see en lug, ’n klein hout kaatjie, ’n kreefskuit of twee en gras teen die duine het die Weskus ons bekoor.

By Swartriet, ons volgende kampplek, het Andries met sy vragmotor ons ingewag. Later het tannie Miems met Roland, ’n Duitse vriend, asook oom Bethel weer by ons aangesluit. Roland het die % manlike aantreklikheid op die toer ’n stewige hupstoot gegee.

Maar by Swartriet was ook die Wwwwraaakk wat die Eerste Toeriste nog moes ssmmaaakkk….

’n Klam grys mistigheid het ons Dinsdagoggend uit die kooi gejaag. Terwyl Tielman en kie die wa laai, het die Groot Volkspelis almal se bloedsomloop aan die hardloop gekry met ’n paar vroegoggend volkspele- en ander prettige dansnommertjies. Soos mis betaam, het dit voor die son verdwyn. ’n Lang dag se strandstap het voorgelê, wat afgewissel is met waaghalsige swemme. Diegene wat deur die dag gewonder het waar ons eindbestemming aan sy naam gekom het, kon twee en twee bymekaar tel toe ons oor die laaste heuwel stap en Tietiesbaai voor ons lê.

Die gerugte oor die Weskus se koue water is toe al die tyd waar. Tietiesbaai se water het selfs die armhare en wenkbroue laat regopstaan van die koue. Toe is die kaf van die strooi onder die swemmers geskei.

Woensdagoggend het die meeste stappers hulle faktor-5 rome weggebêre en die total blockout aangesmeer. By Paternoster moes die Coke-en-sjoko-liste eers die duisendpoot verbrokkel om by die Winkel wat “oep vi’ koep” is, ’n draai te maak.

Soos ’n spul nuwe leerlinge by ’n vreemde skoolterrein het ons almal in ’n hoop by die kampterrein op Brittaniabaai neergesak. Moeg en versigting vir die troppe dubbeltjiesdorings en skeef-skeef teen die sterk suidoostewind. Nadat Andries ’n ekstra draai langs die pad gemaak het, het Koos (nie rooi van die son nie, maar rooi van die verf) met Zanne se hulp bykomende dinge soos bier en roomys te koop gehad – nie eers ’n dubbeltjie in die voet kon toe die gemoedere demp nie. Viva vir ’n maand lank!

Aangesien die kreef/snoek die week geloop het, moes ons die Donderdagoggend hoor dat die boot wat ons oor St. Helenabaai na Laaiplek sou neem, nie meer beskikbaar is nie. Dan maar kuslangs stap tot by Laaiplek.

Almal is spyt dat watergooier/M-faktor ons die oggend moes verlaat. In plaas daarvan om ’n entjie land-in oor die Bergrivier te stap besluit die BTKaners om oor die rivier duim te gooi. Ook nie lank nie, of twee visserskuite bied ons ’n free ride aan. Net voor aandete is ’n lywige bace-ball spel aangepak. Met die kommitee-slee die aand is kreatiewe en oorspronklike items gelewer en oom Dieter en tannie Maretha moes kopkrap om die wenners te bepaal. En om die spanning verder te verhoog is episode twee van The Ice Rink Manager opgevoer.

Vrydag

TERRASJ is die hoofletterwoord vir die middag. Pieter laai ons almal agter op die wa en Andries neem ons na ’n hotel by …. Later sjing onsj ’n paar liediesj, oor ou eikebome op die Bos, ’n leeu en ’n mighty jungle, streamline poppies en sulke klas van dinge.

Vir sommige was die Gala ’95 hulle laaste toer en daarom moes hierdie mense die vuur-seremonie meemaak. Die OU toeriste was werklik spyt dat tannie Miems nie ook by die seremonie kon wees nie. Menigeen moes ’n knop wegsluk toe ou en lojale BTKaners soos Tielman du Toit, Louis Uys, Jacques Hayter, Johan Dif, Christine Fourie en Gerhard van Wyngaardt (die veteraan) vir oulaas ’n draai by die kampvuur maak.

Saterdagoggend was ’n mengelmoes van pak, skrop, skuur en (afdop)velle, aftrek. Tussendeur is die Stap Nou!’s uitgedeel en het mense op die agterblad adresse versamel. Net voor ons vertrek het almal vir oulaas in ’n kring bymekaargekom om die Liewe Heer dankie te sê vir ’n salige toer en die ou toeriste maan toe te blaas.

Nog lank nadat ek die Weskussand uit my broeksakke en sokkies geskud het, het die BTK-liedjie in my ko bly draai: Nog ’n toer is verstreke van die ou BTK, met sy heerlike dae. En ’n duisend herinneringe daarby. Vaarwel toermaters. Vaarwel, ons tyd is verby. Lewe lank, BTK. Lewe lank.

Christine Fourie (Namens Sketsskrywer)