Vroeg genoeg Saterdagoggend, 25 September by die Neelsie het die toer van springmielies, mondfluitjies en rotsboë begin. Die toerlys lewer die eerste opwinding op: sommige teken protes aan teen hulle portfeuljes, Remko v.W. besluit gelukkig nie om iemand “uit te haal” oor die onvanpaste EEN agter sy naam nie, … en toe groep 3 (of is dit nou groep 2?) hulle Middagbroodjie soek, kom hulle agter hoe ‘n groot verskil ‘n enkele “e” aan die naam Louis kan maak.
Dit is ‘n mooi rit oor Mitchelspas en Ceres. Op die grondpad na die Suurvlakte moet ons die bus op ‘n haarnaalddraai, waarom dit nie sonder ‘n knak in die middel sou kom nie, agterlaat. Uitpak, uitsorteer, inpak en indruk en daar vat ons 34 stuks die pad, maar sommer gou word die grondpad bossieveld en die helling al hoe steiler…en Teuns K. en Lidia R. stap voor. Bergklim is ‘n aerobiese sportsoort, of hoe, Thinus, daarom dat ‘n mens se asem so jaag. Aan die eerstetoeriste word verduidelik wat “ghwaffies” en “slee” is. Eersgenoemde is partikels in jou koeldrank/koffie wat beweeg en ‘n skaduwee gooi; laasgenoemde is ‘n ingewikkelder konsep.
Toe ons eindelik vir middagete halt roep, het die honger al geknaag. Daarna nog net so ‘n kort woepsie voor ons lekker vroeg kamp opslaan op ‘n pragtige rietvlakte soos ‘n piering met rotstorings al op die rand langs: Hamerkop, Katkop, Bloukop en Spinnekop en ander. Verskeie van hulle word sommer nog voor die middag om is bestyg deur ekspedisies vanuit die basiskamp.
Die aand om twee lampe (deesdae mos die “kampvuur” van bewaringsbewustes) speel die troeteldierreeks hom af. ‘n Skilpad met ‘n paar ekstra pote word ‘n moedswillige seekat en iewers was (‘n) Bergleeu ook in die prentjie. Gelukkig was daar ‘n kragonderbreking met die laaste paar besoeke aan Konrad Winkelier se Algemene Troeteldierhandelaar wat die moeite met die deurklokkie gespaar het. Pedro en Poncho ontaard byna in ‘n Plat Hond item toe die siëstaverversings geroof word.
Sondag 26 September: Opstaan sonder dat die tente hoef te val is heerlik rustig. Ons verlaat die basiskamp met dagstapsakke in ‘n suidoostelike rigting. Om elke draai wag daar verrassings: rietvlaktes, versteekte bergstrome en die rotsformasies van die Sederberge – boë, forte en dinosaurusse vir die wat “Jurassic Park” gekyk het. Met ons hoof en assistent gidse vooraan kruip ‘n slang van 34 mense deur skeure en klim skoorstene. Waar daar ‘n slag net gestap word het die slot probleme om al die aspirant-bobbejane uit die kranse te hou. Gamebreak by Sandfonteinpiek waar die wat wil die laaste entjie tot bo klouter en amper wegwaai. Daarvandaan is ons verder na Sandfonteinboog toe wat die gidse met verstommende akkuraatheid vind nadat die rekkie-ekspedisie met ‘n foutiewe kaart hulle morsdood gesoek het. Ons moes darem ook ‘n draai maak by die nuwe boog wat hulle in die proses ontdek het en heuninggrot wat regtig na heuning ruik.
Die namiddag besoek ons ‘n doolhof (“Ons noem dit die Maze” – amazing). Die verstandiges verken die gange op grondvlak. Ander klouter na die boonste verdieping so 15 m hoër en almal kom nie heel weer af nie – wonder bo wonder net nerf-af!
‘n Paar uur later sien ons weer die tentjies vanuit ‘n heel ander rigting as die oggend. Daar wag die laaste drie lede van die groep: Oom Bethel Müller, Tannie Elsabe Viljoen en Cailin Human ons in en daar word eers gegroet en gekoning. Die ywerige rotsklimmers gaan klim enigiets van F1 tot G1 in die omliggende koppies, berig Teuns, terwyl die eerstetoeriste heeltemal in beslag geneem word deur die beplanning van items. Weer ruik iets nogal baie na springmielies…
Die eerstetoeriste bring o.a. ‘n amperse huwelik op die planke waar die bruid in die kerk omkap en Hans S. wat as “bruidegom” ingesleep is (figuurlik) sê dit wys wonderwerke gebeur nog. Die aand van die WRAAK en nog nege BTKners word deel van die groep wat WEET.
Maandag 27 September: ‘n Pragtige oggend wat dit die moeite werd maak om selfs voor “““p-staaaaaaan al te roer. Ons vertrek sak en pak. Gamebreak word gehou by ‘n vr‚‚dsame stroompie tot Hans Tannie Miems Swanepoel se versoek van ‘n minuut gewyde stilte vir haar opper. Die toepaslikheid van die stilte-idee is egter sterk in twyfel getrek en gou was ‘n volskaalse wateroorlog tussen Stander, Steyns en kie. aan die gang. Die rugsakke wag onder terwyl ons Apexpiek gaan klim. Toe die groepfoto-sirkus: tussen die groep en die “driepoot” lê twee skeure en rowwe terrein. Die selftimer gee ambisieuse fotograwe soos Michael C. en Hans S. 10 sekondes om by die groep aan te sluit. Strategieë word beplan en oefenlopies gedoen. Prettig was dit in elk geval.
Die aand speel die Joe-gebroeders in Hillbrow af. Arme Nettie H. word deur gemaskerde boewe ontvoer en boonop gehekel daaroor. Ons kuier nog tot halftwaalf om die lampe en koffiebillies voor ‘n effe koue nag se slaap.
Dinsdag 28 September: ‘n Paar laatslapers het dit vanoggend berou. Carine S. laat vir Hans “rise and shine” – al gesien hoe lyk ‘n gesig met ‘n jong baard en met blinkers versier? Henk S. se tent is weer bo-op hom afgeslaan.
Om bo-op die kop van die een Breekkranstweeling te kom is ‘n stukkie rotsklim nodig as jy die amptelike leier volg. In die blik by die baken ontdek Schefflers en Steinmanns hulle ouers se handtekeninge op vervrommelde papiertjies waarby ‘n toerlys gevoeg word. By Gamebreak word die twee (pyp)stokers se bedryf deur sommige uitprobeer…maar dis sommer twak, sê Erika S..
Ons stap eintlik min en klouter baie rond. Jac beseer sy enkel. Teuns en Lidia word nou as toerleierspan aangestel en Hans as rem.
“Enige vrae?”
“Hoe rem ‘n mens vir Teuns en Lidia!?” van Hans se kant af.
Deel van die aand se spyskaart is gestoofde droë vrugte en ‘n pitspoegkompetisie is die onvermydelike – elkeen darem met sy eie pit. Oom Bethel vaar ook heel goed. Gerhard v.W. en kie. sê hulle rus vanaand wat toneelspeel betref, behalwe vir Captain Planet wie se grasieuse landing van bo van die rots af die middag al geoefen is. In elk geval word die amateurs vanaand gedwing om hul bydraes te maak. Anton B. besluit om deur te druk met die wedvaart van sy hoogs gedissiplineerde Harworth trapbootspan teen die Oxford roeiers wat onttrek het. Die amptelike persverklaring was dat hulle vliegtuig na S.A. geval het (of iets dergeliks.) Later volg ‘n Meneer BTK-Ystermankompetisie met die grootste voete en die droë perskerigste ore as kategorieë.
Woensdag 29 September: Aai, die laaste halwe daggie in die Sederberge!. Ons moet vir eers afskeid neem van ons Voorsitter, Toervader en Chaperone wat ter wille van die beseerde enkel ‘n meer gebruikersvriendelike roete na die eindpunt volg. Die res volg Teuns en Lidia met rugsakke en al teen Apex se hellings uit, maar die Apex-kruis waarna ons gaan kyk is die moeite werd. Heeltemal te gou is ons onder op die plaas. Toe volg nog net ‘n paar kilometer se padstap na waar die bus ons sou kry. Die entjie is verantwoordelik vir meer skade aan die tone as die hele res van die toer, maar nou ja, “blame it on the last long mile”.
‘n Verfrissende swemmetjie in die plaasdam en ‘n bus om uit die dik sand uit te kry voor ons kan vertrek, maar met so baie siviele ingenieurs om raad te gee en ‘n paar handlangers is dit ook nie ‘n probleem nie. Ons koning mekaar in die middel van Op die Berg se hoofstraat en kry nogtans Koue Bokkeveld-posstempels vir ons nekdoeke.
In stormsterk suidoostewind klim ons op Stellenbosch af met nog genoeg energie om die Spur op horings te gaan neem en met mooi herineringe aan die Sederberge – daardie wêreld wat jou, soos Christine Fourie gesê het, groot en klein laat voel: klein teen die magtige berge, maar groot…”want hierdie Skepper dink ook aan my.”
Christine Steinman