Saterdagoggend, 29 September, vertrek drie-en-dertig BTKaners (sommige met nou slegs die potensiaal om te word) sonder voorsitter en kosma, maar onder die bekwame leiding van Hans en Anine na OORLOGSKLOOF. Langs die pad het Theresa, haar ma, Ann “-everybody’s fan” (‘n oud BTKaner) en Gerrit by ons aangesluit. Aan die eerste toeriste is geen genade betoon nie; die “final countdown” het reeds op die bus begin en benoude oë het rondgesoek na andere in dieselfde verknorsing. Naby Citrusdal het ons onsself met lemoene bewapen en was ons reg vir die oorlog in die kloof.
En was daar oorlog!! Dit was lere wat gemaak is vir lang persone, skeure geskik vir maer persone, toue teen rotse af en blase op elke moontlike plek op jou voete.
Sondag se twaalf kilometer was veels te kort vir Hans en hy laat ons sowaar nog ‘n ekstra paar kilometer loop. Gelukkig het oom Jurgens gevoel mens mag nie so ver op ‘n Sondag stap nie en red ons toe van verdere uitputting.
Maandag was ‘n lang, warm sewentien kilometer met weinig water. Vir Thelma (en vele ander) se voete was dit ‘n blou Maandag. Dit was net alkoholdeppers, spuitnaalde, Merthiolate en krete van pyn.
Dinsdagoggend was almal vol moed vir die dag. Slegs 8,5km het tussen ons en die volgende kamp gelê …. min het ons geweet wat nog sou voorlê! Met middagbrood kondig Hans aan dat daar nog net twee kilometer is om te stap, maar dat dit veel meer is as die “effense op-en-af” waarvan Tienie gepraat het. Dit was toe op in die tonnels, af in die skeure en weereens lere en toue. Almal was opgewonde oor hierdie roete, want niemand het so-iets verwag nie. Die van ons wat agter tannie Helen geloop het, was nog meer opgewonde, want sy het ‘n alternatiewe, veel makliker roete ontdek.
Dit was die laaste aand en vele van die ou tradisies het weer hul opwagting gemaak. Borde is gespin, pitte is gespoeg (Johan van der Merwe het almal benoud gehad met sy “skyfwerp-aanslag”, maar nie eers dit kon help om Roelie se poging te oortref nie), blikke is met geweld platgetrap deur blikwassers en ‘n heerlike kampvuur is gehou. Johan T het ons baie welkom laat voel by die kampvuur en het ons ernstig gemaan tot waaksaamheid. Die suikerkrisis is ook hier tot ‘n spits gedryf deur “Prinsessie-Eerstetoerissie”, Willie het een keer te veel probeer en die miskruier het sy misnoeë teen hedendaagse snelweë en motors uitgespreek. Die kampvuur is afgesluit deur heerlike Hot Chocolate.
Woensdagoggend moes ons EKSTRA vroeg opstaan, want die terrash het geroep. Roelie het verjaar, maar Johan T het die pret gehad. Die dag se stap was deur die mooiste plantegroei, oor die grootste rotse en verby die koelste swemgate. Middagbrood is gehou by ‘n waterval – wat baie welkom was na ‘n stewige klim in warm son – en almal het die “stort” verkwikkend gevind. Na nog ‘n paar lere was ons bo en het al die klowe agter ons gelê. Nadat ons ‘n paar lemoene langs die dam geëet het, was ons op pad na Niewhoutdville en die terrash. Hier moes ons afskeid neem van Theresa, Ann en Mattie; daarna het ons in die pad geval terug Stellenbosch toe.
Nog ‘n heerlike BTK-toer is verby! Hoewel sommige verwond teruggekom het, het elkeen die oorlog oorwin en almal sal altyd aan hierdie toer terugdink as die toer van vele verrassings en baie opwinding.
Sophia van Heerden