Steenbras – Koeëlbaai – Uitstappie 12 Maart 1932
Oefeningsuitstappie van die BTK
Oor die sewentig mense het die Saterdagoggend voor die Uitspan hul verskyning gemaak. Die meeste van hulle – onbekend maar nogtans nie onbemind nie – sou vir die eerste keer met die BTK kennis maak. En hulle sou nie teleurgesteld wees nie.
Want hoewel die Suidooster sy ou naam van stowwerigheid en woestheid hooggehou het, wat kon hy doen aan die moedige klompie stappers wat somar gou na hul aankoms per lorrie in Gordonsbaai in die gees van die uitstappie geraak het? Nogtans was die brekfis by Steenbrasmond om die minste te sê baie welkom, want die vroeë môrestappie langs die see gee ‘n mens somar ‘n geweldige eetlus, en is die beker lekker koffie aan die end van die eerste skof nie genoeg om elke ware BT-Kaner se mond te laat water nie?
Na brekfis is die grootste klomp deur Koeëlbaai toe. Die uitstaande persoonlikhede hier was dr Bobbie met sy kruppelpoot, Lukas met sy bril, en Irenié met sy plank. Ongelukkig het die wind ons op Koeëlbaai amper ‘n lelike streep getrek deurdat hy die see sodanig omgewoel het, dat ons vriend Lukas, om sy eie bewoording te gebruik, amper om die laaste draai geseil het.
Die van ons wat by die mond gebly het, het ten volle gebruik gemaak van die heerlike groot seewaterdam – dit inderdaad is die beste beskrywing wat van die mond gegee kan word. Die meeste van ons het nie weer ons klere voor die algemene vertrek aangetrek nie, waar gedurig ingespring en uitgeklim, natgeword en drooggeword ensovoorts ad infinitum.
Teen eenuur word weer koffiewater opgesit, en werklik, hier kom die Koeëlbaai-span op ‘n streep aangestap. Laaste van almal Ireneé met sy plank – die branders was tog te lekker gewees. Almal wag nou ongeduldig vir die water om te kook – ‘n uiters moeilike proses, want die wind doen sy bes om die vuur enige pad te waai, net nie bliktoer nie. Met moeite en nood kry ons dit toe darem sover dat die water net begin borrel, daar val die blik om en die kokende water stort gedeeltelik in die vuur en gedeeltelik oor Einstein se poot. Soe, maar het hy nie rondgespring nie!
Gelukkig het die tweede seksie water gouer die atmosferiese druk behaal, sodat ons geduld op die ou end darem beloon is met die lekker drankie. Selfs ‘n groot deel van die koffie-aftreksel het sy weg gevind deur die donkere, kronkelende gange en kanale van menige BT-kaner se spysverterende organe.
Hierna is ons almal weer terug Gordonsbaai toe. Lukas se tong en kakebene het gou-gou weer hul gewone lewensvuur teruggekry, nieteenstaande die feit dat twee uur tevore dit amper laaste sien van die blikkantien was. Dit was tog te snaaks om hom vir so ‘n lang ruk niks te hoor praat nie. Menigeen het die nag seker spyt en berou gekry dat hy of sy so lank in die son gelê en bak het, maar jammer wees omdat ons saamgegaan het? Nog nooit!
T Scheffler
Langkloof, Jonkershoek – Uitstappie 26 Maart 1932
Paasnaweek
Toe die fluitjie vir die vertrek van die Uitspan omtrent sewe-uur blaas – die kennisgewings het glo gesê halfsewe, maar dit is nou maar ons manier – was dit ‘n groep van amper vyftig wat hulle bene in beweging gebring het. Een het egter nog makeer, maar toe ons by dr Curt se huis verbystap, was hy reg vir ons, met sy hoedjie en al sy ander “ornamente”.
Die mis wou maar nie wegtrek nie. Die vae, donker gestaltes van die berge rondom daag kort-kort voor ons op en smelt dan weer weg. Wonderlik, die effekte wat partykeer op hierdie manier geskep is.
By die swart brug anderkant die plaas het ons koffie gemaak en gebrekfis. Teen hierdie tyd het die sonnetjie net mooi warm al begin word. Toe is ons verder deur die veld met die ou voetpaadjie wat vir ons veterane al taamlik bekend is, want die kloof waarheen ons vandag sou stap is dieselfde waarlangs die gewone gala-week uitstappie na die Tweelingkoppe plaasvind.
Omtrent elfuur kom ons by ‘n lekker plek in die kloof aan, waar ons die res van ons tyd deurgebring het. Sommiges het amper dadelik hoër uit gestap om die wêreld verder te bekyk – dit was bepaald die moeite werd – andere het eers ‘n paar gesellige uurtjies deurgebring met sing en lag en sing van toerliedjies.
Lank voordat die koffiewater gekook het, kom die mense al aan en staan die hele plek toe; dit alles om voor in die “queue” te wees. Want op ‘n BTK-toer of uitstappie is niks so populêr as die koffieblik nie.
Halfdrie is die aftog geblaas, en op ‘n streep is die hele seksie weer terug, om klompies klompies die aand in Stellenbosch aan te kom, goed betyds vir bestellings, vergaderings, ensovoorts.
T Scheffler
Paradyskloof – Uitstappie 28 Maart 1932
Paas Maandag
Omtrent halfnege die oggend kon jy ‘n bende van oor die vyftig lewenslustiges langs die voet van Stellenboschberg sien vorentoe beweeg. Die paadjie was soms maar moeilik om te hou, en die bossies het ‘n mens se bene geskraap, maar gaan die weg na Paradys dan nie maar altyd deur ‘n enge poort nie?
Nadat ons in die kloof ons toebroodjies- en koffievoorraad verminder het, het klompies-klompies hoër gegaan en weerskante van die kloof die rante uitgeklouter. Een groepie het tot bo by die baken gekom. Dr Eiselen, ons “chaperone”, wat een van hierdie was en wat met twee lang broekspype van ons weg is, het teruggekom met maar anderhalf. Om dit nou nog van ons weg te steek, rol hy toe albei broekspype tot bokant sy knieë op, maar ons het gou-gou uitgevind hoe sake gestaan het.
Teen die namiddag het ‘n paar van ons al in die kloof langs opgegaan, totdat ‘n hoë waterval – met min water, egter – ons die weg versper het. Die pad was maar nat en glibberig, maar geeneen het gekla oor die swart kolle agter op sy klere of oor ander spore van ‘n ontydige gaan-sittery nie. ‘n Mens het gevoel of jy ure hier kon deurbring en net maar kyk en bewonder.
Die namiddag by die huistoe stap het ons nuwere lede geleentheid gehad om so ‘n paar van ons toerliedjies te leer. Vir die oueres van ons was dit aangenaam om weer saam ons ou liedjies te sing.
Die laaste indruk van die dag het ons ontvang toe dr Eiselen met opgerolde broekspype en al op sy fiets van die Uitspan huistoe ry.
T Scheffler
Tweede Waterval 1 April 1932
Ons getalle was hierdie keer wel geringer as in vorige jare die geval was – ons sal dit maar aan die depressie toeskrywe – maar soos nog altyd tevore, was Tweede Waterval ‘n inspirasie. Daar was nie die volle, bruisende stroom wat ons soms al gesien het nie: dit was eerder die sagte geruis van ‘n dun straaltjie wat al na die afgrond vallende meer en meer tot ruis verander om dan stadig en sag deur die lug te sweef tot aan ons voete.
Jy vergeet dat dit koud is; dat jou skoene deurweek is van nattigheid; dat jou klere nou nog die spore dra van daardie val daar onder oor die gladde klippe in die kloof. En dit neem lank voor jy besluit om maar weer om te draai; terug Stellenbosch toe. Wie weet watter moeilikhede jy daar agtergelaat het, van watter droewige taak jy die oggend weggevlug het om eers weer jouself te vind. Maar nou maak daardie nie saak nie, want te midde van swaar en verdriet sal jy Tweede Waterval nie vergeet nie; en die indruk wat jy daar gekry het sal vir jou nog lank ‘n besieling wees.
T Scheffler
Bothmaskop – Uitstappie 14 Mei 1932
“Cupire”-dag
Omtrent vyf-en-twintig persone het hieraan deelgeneem. Dr Eiselen, wat nog nie heeltemal met ons gewoonte van eers ‘n halfuur na die vasgestelde tyd te vertrek bekend is nie, het ongelukkig lank voor ons by sy huis verby is met Hartuut en Luise vertrek, met die gevolg dat ons hulle eers bo op Bothmaskop raakgeloop het.
Brekus het ons in so ‘n klein klofie onderlangs geniet. Toe ons eers bo was, het ons maar weer afgeklim in ‘n groot boomryke kloof, waar ons die res van die dag deurgebring het met gesels, sing en eet. Omtrent halfvier is ons weer terug langs die grasbegroeide hange, in ‘n streep wat hoe verder hoe meer en meer uitgeduur het, totdat dit maar sulke klein fragmentjies was wat bokant Lanzerac weer tot ‘n entiteit vergaar het om as sulks die dorp in te marsjeer.
T Scheffler
Stellenboschberg 18 Junie 1932
Jan Klopper, ons gevierde opperhoof van vergange jare, het ons ‘n besoekie kom bring, en die gebeurtenis is gevier deur ‘n uitstappie na Stellenboschberg.
By afwesigheid van Koorts en die ander bestuurslede, het Lottie die hef in hand gehad, of liewers die fluitjie in haar mond.
Bo-op die berg het wintervrolikheid geheers. Sneeuballe het hulle weg gevind na BT-Kaners se gesigte of agter by hulle nekke in, of by ander plekke waar hulle net so min welkom was. Maar as koue van dié aard altyd dieselfde uitwerking gaan hê as hierdie keer, dan kan ons dit aanbeveel. Want dit was ‘n singende gemeente, gelei deur die entoesiasme van toeriste soos Dorothy en Lottie, wat die namiddag van die berg af teruggekom het.
T Scheffler
Tweelingkoppe 29 – 30 November 1932
“Om te dink dat ek nou die dag nog daarbo was, bo-op die hoogste punt van die Pieke, en hier ver onder my het ou Stellenbosch soos ‘n klein tuintjie – met Pappegaaisberg vir ‘n molshopie – gelê.”
Tagtig mense kan vandag so praat, want van die honderdtal wat Dinsdagnamiddag uit Matieland weg is Jonkershoek toe, het slegs twintig die Watervalle gekies.
Dinsdagaand by ons kamp langs Eerste Rivier aangekom, honderd mense, nog wild en vreemd vir mekaar. Wat nou gedoen? En dis hier waar die “reën van bowe” ons te hulp gesnel het. Want toe dit uitgereën het en almal sopnat om die vuur sit om droog te word, was ons nie meer honderd individue nie, maar ‘n eenheid, dit wil sê almal BT-Kaners.
Woensdagoggend is ons kwart-voor-ses van die Spookhuis af weg, elkeen met ‘n beker BTK koffie in sy maag. In Langkloof gebrekfis. Half-elf bo-op die berg.
Veni, vidi, vici! Oorwinnaars inderdaad!
Twaalfuur bestyf ons die hoogste punt. En daar was nie plek vir net een, soos baie vroeër altyd gedink het nie. Ons het almal staanplek kon kry.
‘n Uur later begin die terugtog, hierdie keer langs Verniakloof. Vyf-uur kom ons weer by ons slaapplek van die vorige nag aan.
Die ander klomp verseker ons dat hulle net so ‘n lekker dag gehad het. Ons wil nie met hulle stry nie.
Ja, ons dink almal graag terug aan hierdie dag. En die woorde Tweede Waterval, Langkloof, Pieke sal vir ons altyd ‘n besondere bekoring hê. Beskrywe kan ons dit nie. Elkeen van ons dra die indruk daarvan in sy eie siel, want in sy diepste wese is elke Matie ‘n BT-Kaner.
T Scheffler
Tafelberg 3 Desember 1932
Oor die veertig Stellenbossers seil die Saterdagoggend deur die bosse aan die voet van Blinkwaterkloof langs die berg op. Mnr Hutchinson van die Kaap het die tweevuldige posisie van ons gas en gids beklee. Met ‘n oorvloed van tussenposes het hy die geselskap opgelei tot ons by die kabelspoorstasie aankom, net betyds om te sien hoe die een “trein” sy hok verlaat, en ‘n ruk later hoe die ander een aankom.
Toe ons hier klaar was vind ons uit dat ‘n paar van die kêrels so vriendelik was om intussen die water te kook. Bokant Platteklip, in ‘n pragtige grasbegroeide klofie het ons ons middagetes verteer. Van hier is ons op ons gemak voort, al op die top van Tafelberg, na “Maclear’s Beacon.” Van daar langs via “Skeleton Gorge” na Kirstenbosch.
Op pad hierheen het die geselskap taamlik gedisintegreerd geraak, maar streepsgewys het almal mettertyd by Kirstenbosch aangekom. Hier kry ons ook vir Martha Els en Babette Taute wat die oggend by die Kaapse stasie verlore geraak het.
Die weer was heerlik. Dis jare laas dat die BTK Tafelberg-uitstappie so suksesvol was. Tertius se bekwame dirigering by die singery was g’n geringe faktor om dit te bewerkstellig nie. Mnr Hutchinson, vir wie so iets nuut was het opgemerk: “I thought to meet a party of students, i.e. scientists, architecths, teachers, ect. and here I find a collection of musicians!” Of ons nou juis sulke danige uitstaande kunstenaars is, is ‘n ope vraag, maar die antwoord wat hy ontvang het was bepaald raak: “Yes, we are students, scientisits, ect. but above all we are human beings.”
T Scheffler