Na ‘n nat lente het Gala aangebreek met die mooiste dag wat Stellenbosch kon oplewer. Om tienuur (‘n uur laat as gevolg van sekere dames wat nie betyds kon wees nie) het die busse vertrek. Die padwysers het die weg van die toer aangewys en vandaar is die spoor geslaan na Monteith. By middagbrood het die Ackerman se Ackervrou alle lof gekry vir die spoed waarmee sy ingepak het en ook alle blaam vir die beker wat by die huis gebly het.
Sederberg September 1962
“Men who are happy and free” en stewig leerskoentjies wat op Wupperthal gemaak is, kan miskien simbolies beskou word van die Sederbergtoer van 1962. En dit was ‘n toer met lede “happy and free” ten spyte van koue en reën en moeilike stappe, want die gees was so erg soos die skoentjies.
Mosselbaai April 1962
Heroldsbaai was ver en die busse was stadig en kort voor lank was die son onder en ons magies leeg. Al raad is om rem te trap, uit te klim en net daar, terwyl die motors verbyflits, aandbrood te hê. Die water is gou-gou aan die kook gesing en met die holplekke gevul, is ons spoedig weer op pad.
Jonkershoek Gala 1961
“Ons stap nou …………………..!” Daar is geen busse wat vertrek nie, want Gala 1961 is uniek! Ewie stap voor en Braam stap slot, en so val ons khaki-gekledes in die pad, Jonkershoek toe – ons eerste kampplek.
Maar eers sak ‘n klomp “suckers” Coetzenburgposkantoor binne om tjappies te kry – en moenie glo dis almal eerste toeriste nie! Dan verder, tot ons by Oom Kalie se halfwegstasie bietjie water kan ingooi.
Ceres-Tulbagh September 1961
Vrydag, kwart-oor-vier.
Groepies-groepies sit, staan, lê om die pakkamer. Enkele stemme oor die akademie, volgende jaar en ander koeitjies en kalfies. Hier en daar ‘n glimlag, ‘n kuiltjie in die wang, terwyl daar belangstellend in die nuwe sangbundeltjie geblaai word. Dan word die stilte verbreek deur die aankoms van die busse. Haastig word die laaste plekke in die bus gedêps. Op die manier het ons dan weer ons stywe boordjies en dasse verruil vir die rooi-nekdoekie, ons lenterokkies en sy vir kakie en rooi.