Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Studente

Tegniese riglyne vir beoordeling op SUNLearn

Maandag, Junie 22nd, 2020

Aangesien die meeste amptelike eksamens die jaar op SUNLearn gefasiliteer word, het die Sentrum vir Leer en Onderrig en Akademiese IT saamgewerk om vir dosente ʼn gids saam te stel met riglyne vir die opstel van asseserings.

Hierdie gids is gedeel met dosente en so ver het die +/- vyftig eksamens wat daagliks plaasvind glad verloop.  

Laai die gids in .pdf-formaat af

Ons is seker dat ons dosente tans teen die spoed van lig hierdie nuwe tegnologie aanleer en daarby aanpas en weet ook dat studente hulle pogings waardeer. 

Leertegnologie-spanne werk steeds oortyd

Maandag, Junie 22nd, 2020

Onlangs het ons enkele projekte waarmee die Leertegnologie-span hulle besig hou ter voorbereiding van die skuif na aanlyn Leer en Onderrig gedeel. Sedertdien werk ons steeds lang ure om dosente en studente se leer-en toetservaring te vergemaklik. 

Oor die afgelope twee weke het ons menige opwindende projekte afgeskop en afgesluit. Terselfdertyd het ons hard gewerk om die stabiliteit van SUNLearn te versterk ter voorbereiding van die volgende eksamenperiode. Die SUNLearn-dienstoonbank het meer as 4000 navrae ontvang sedert Maart, dus kan ons verseker wees daarvan dat almal ʼn daadwerklike poging aangewend het om leer en onderrig aanlyn te skuif – van studente tot die ondersteuningspan.

 Enkele hoogtepunte van ons Leertegnologiestelsels afdeling sluit in:

  1. Die integrasie van ʼn aantal handboeke in SUNLearn-modules.
  2. Samewerking met Fakulteit Natuurwetenskap om ʼn virtuele laboratorium bekend te stel en te integreer in SUNLearn.
  3. Aktivering van ʼn aantal MS Teams vir spesifieke modules.
  4. Bekendstelling van die eerste toetsfase van ʼn leeranalistiese stelsel wat skakel met SUNLearn. 
  5. Uitbreiding van ons dienstoonbank vir SUNLearn en ander leertegnologie om daagliks beskikbaar te wees tot 10pm, sowel as Saterdae.

Ons bedank julle, ons kollegas en studente vir julle geduld gedurende hierdie proses en ook soos ons voortgaan om te werk om die beste moontlike leeromgewing te skep wat ons kan.

[Artikel deur Lianne Keiller – Bestuurder: Leertegnologie-stelsels]

Probleme met kaarttoegang op kampus

Dinsdag, Februarie 4th, 2020

Enkele studente en personeel mag tans probleme ondervind met kaarttoegang op kampus. 

As gevolg van `n groter verkeerslading op die netwerk en potensiële tegniese probleme word kaart toegang by sekere deure geweier. 

Kaarte wat wel geldig en registreer is, se regte sal outomaties opdateer wanneer die kaart gebruik word en behoort kort daarna weer reg te werk.

Ons is bewus van die frustrasie en ongerief wat die probleem veroorsaak en doen alles in ons vermoë om dit aan te spreek.

Vir verdere navrae, meld asb. `n versoek aan by servicedesk.sun.ac.za.

Nuwe waarskuwingsbanier vir jou e-pos

Dinsdag, Februarie 4th, 2020

Die aard van kuberaanvalle verander voortdurend en gevolglik moet Informasietegnologie, met die hulp van personeel en studente, alles in ons vermoë doen om dit te probeer bekamp.

In ’n poging om kubersekuriteit op te skerp op kampus, sal ons dus binnekort ’n nuwe waarskuwing verskaf wat die oorsprong van e-posse identifiseer. Deur die oorsprong te identifiseer is dit makliker om personeel en studente te beskerm teen kuberrisiko’s soos malware, spoofing en phishing

Voortaan sal daar elke keer as jy ’n e-pos van buite kampus ontvang ’n geel banier bo-aan jou e-pos verskyn wat soos volg lyk:

Click for a larger image

Kliek vir `n groter weergawe

Indien personeel of studente dus ’n potensieel gevaarlike e-pos ontvang wat lyk asof dit vanaf ’n kollega met ’n sun.ac.za adres gestuur word, sal die leser dadelik kan sien dat dit in werklikheid van buite die universiteit gestuur is, en dus verdag is. 

Let daarop dat die banier nie noodwendig beteken dat die e-pos `n gevaarlik is nie, maar bloot dat die moontlikheid bestaan en dat jy, as ontvanger van die e-pos, ekstra versigtig moet wees. 

Ons sal die effektiwiteit van hierdie stap deurlopend evalueer en heroorweeg soos nodig. Vir enige verdere navrae, stuur asb. `n e-pos aan help@sun.ac.za.

Onthou jy daai fliek wat jy afgelaai het?

Maandag, Januarie 20th, 2020

Met `n vinnige internetkonneksie en genoeg internetdata is dit vandag moontlik om die nuutste flieks en reekse aanlyn te kyk. En dis heerlik om alles tot jou beskikking te hê – wat jy ookal soek, kan jy aflaai. Dis nou wel nie heeltemal wettig nie, maar hoe gaan `n filmmaatskappy in Hollywood in elk geval vir jou in die middel van nerens opspoor?!

Ongelukkig is dit hier waar jy die fout maak. Tot redelik onlangs het TV-netwerke en filmmaatskappye nie te veel moeite gedoen om die aflaai en verspreiding van onwettige flieks en reeks te kniehalter nie. Dit was net eenvoudig te moeilik en nie koste-effektief nie. Dis egter nie meer die geval nie. 

Informasietegnologie ontvang gereeld e-posse ontvang vanaf maatskappye soos Warner Bros. en Columbia Pictures wat aandui dat onwettige, kopiereg materiaal afgelaai en versprei word vanaf IP-adresse binne die universiteit se netwerk.  Hierdie e-posse sluit die spesifieke IP-adres, sowel as die naam van die materiaal wat afgelaai en versprei is in. IT word gevolglik genoodsaak om die persoon aan wie die adres behoort te kontak en `n skriftelike waarskuwing te gee.

Die verspreiding (“seeding”) van kopieregmateriaal sonder `n lisensie is beide `n kriminele en siviele oortreding in Suid-Afrika, selfs al is die verspreiding oor BitTorrent. In Suid-Afrika, onder die Kopiereg Wet van 1978, kan dié oortreding jou in die tronk laat beland vir tot 5 jaar en `n boete van tot  R10,000 vir elke item wat jy versprei.

Tussen 2010 en 2012, is 200,000 mense reeds gedagvaar vir die oplaai en aflaai van kopieregmateriaal deur BitTorrent.

So, voordat jy die nuutste episode van jou gunsteling reeks gou aflaai, oorweeg eers mooi of jy die kans wil waag. Dis dalk veiliger om van `n diens soos Netflix of Showmax gebruik te maak.

MEER INLIGTING:

Hoe werk BitTorrent en “seeding”?

http://en.wikipedia.org/wiki/BitTorrent 

http://www.bittorrent.com/help/guides/beginners-guide

 


 

 

© 2013-2020 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.