Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

datarugsteun

Die einde van Windows 7

Woensdag, Desember 4th, 2019

Na tien jaar het ondersteuning vir Windows 7  tot ’n einde gekom op 14 Januarie 2020.

Hoe gaan dit jou beïnvloed?

Na 14 Januarie sal jou rekenaar nie meer enige sekuriteitsopdaterings of tegniese ondersteuning van Microsoft ontvang nie. Weens die sekuriteitrisiko wat jou rekenaar op die universiteit se netwerk plaas, kan dit in die toekoms van die netwerk verwyder word. Dit beteken dat jou data nie meer effektief beskerm kan word nie en jy ook moontlik geen toegang tot die netwerk sal hê nie  (m.a.w. geen internet, e-pos, ens).

Indien jou rekenaar steeds gebruikmaak van die Windows 7 en Windows 8.1 bedryfstelsels, moet jy so gou moontlik opgradeer na Windows 10, ’n bedryfstelsel wat wel die nuutste sekuriteitsopdaterings kan verskaf om jou data veilig te hou. Lees meer oor Microsoftprogrammatuur se lewensiklus op hulle webwerf.

Opgraderings van Windows 7 & Windows 8.1 na Windows 10 sal gratis vir personeel gedoen word. Om die opgradering aan te vra, teken asb ’n versoek aan op die ICT Partner Portal (Windows 7 to Windows 10 upgrade) waarna jy `n e-pos sal ontvang. Verskaf asseblief die volgende inligting:

  • die rekenaar se batenommer
  • tipe toestel
  • kontaknommers
  • gebounaam
  • kamernommer

Jou rekenaar se spesifikasies sal nagegaan word vir `n moontlike opgradering aangesien ouer toerusting komponente mag benodig vir die opgradering en dit die departement se onkoste sal wees. Dis ook moontlik dat baie ou toerusting wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie, dalk nie opgradeer kan word nie. 

’n IT-tegnikus sal jou kontak om verdere reëlings te tref indien nodig.

IT sal die volgende gratis doen:

  1. Lei ten opsigte van die rugsteun van werkverwante data na OneDrive
  2. Die bedryfstelsel opgradeer van Windows 7 & 8.1 na Windows 10
  3. Na die opgradering kan `n tegnikus help met die volgende indien nodig: Installasie van nie-standaard kampusverwante sagteware, bv. SPSS, Statistica, ens, sowel as die installasie van drukkers.

Jy of jou departement betaal vir:

  1. Rugsteun van alle data.
  2. Hardeware komponente benodig vir die opgradering na Windows 10

Indien IT versoek word om die data te rugsteun, sal dit teen onderstaande koste gedoen word:

Minder as 15GB – R1310-00
Meer as 15GB – R2240-00

Relevante artikels oor die uitfassering van Windows 7:

 

Beskerm jou toerusting teen beurtkrag

Sondag, Maart 31st, 2019

Teen dié tyd is ons al gewoond aan die onvoorspelbaarheid van ons kragtoevoer-situasie en het ons reeds aanpassings gemaak in ons daaglikse roetines om dit te akkommodeer.

Maar het jy al gedink watter impak onverwagse kragvloei op jou huis- en werktoestelle het? Om te verseker dat jy nie onnodig skade ly nie, kan jy ‘n paar maatreëls tref.

the-light-bulb-371652_6401. Gaan gereeld die beurtkragskedule na
As jy nie weet wanneer die krag afgaan nie, gaan jy nie toerusting betyds kan beskerm nie. Daar is verskeie plekke om die informasie te bekom – Eskom se Twitterrekening, webwerf, sowel as verskeie toepassings. 

2. Skakel af en ontkoppel
Voordat geskeduleerde beurtkrag plaasvind, skakel al jou toestelle af en trek dit by die muurprop uit. Sodoende voorkom jy dat `n skielike sterk stroom na jou toestel vloei wanneer krag herstel word, en sensitiewe elektronika beskadig.

Dit is veral belangrik dat rekenaarkabels, sowel as foonkabels, uit muurproppe verwyder word. 

3. Gebruik oorspanningafleiers
Soos ons hierbo genoem het, kan skielike sterk strome jou toestelle beskadig. `n Ander metode om dit te voorkom, is om proppe toe te rus met oorspanningafleiers (surge protectors), wat die sterkte van die stroom sal demp.

4. Kry `n kragbank
Hierdie handige klein toestelletjies is draagbare laaiers wat gebruik kan word om jou foon en enige ander USB-toestel te laai. Sodoende sal jy nie gestrand wees sonder selfoon of tablet as die res van die wereld in donkerte gehul is nie.

5. Kry `n UPS
`n Ononderbroke kragbron of UPS vervul dieselfde rol as `n oorspanning afleier, maar met die ekstra funksionaliteit van `n ingeboude battery. Dit verskaf deurlopende kragtoevoer vir `n maksimum van een uur. `n UPS is bloot `n rugsteunstelsel om jou genoeg tyd te gee om jou toestelle en data te beskerm.

6. Rugsteun
Rugsteun van data behoort nie uitsluitlik gedurende beurtkrag te gebeur nie – dit behoort deel te wees van jou roetine. As jy weet dat beurtkrag onafwendbaar is, rugsteun en stoor deurlopend jou werk of ten minste voordat die kragonderbreking plaasvind. Dit sal verseker dat jy nie belangrike werk in die proses verloor nie.

 

[BRONNE: www.eskom.co.za, www.mg.co.za, www.fin24.com, www.mweb.co.za, www.property24.com

 

 

 

Fnuik ransomware: Rugsteun jou data

Woensdag, Julie 5th, 2017

Die vernielsugtige ransom-wurm Petya het laasweek verwoesting regoor die wêreld gesaai en vele kritiese dienste onderbreek. Ongelukkig raak dit toenemend meer moeilik om hierdie tipe aanvalle te vermy, aangesien kuberkriminele slimmer raak en al meer inisiatief aan die dag lê. Hoewel daar maniere is om te voorkom dat jy in die ransomware-slaggat trap, is daar een ding wat jou sonder twyfel sal beskerm. En dis nie te tegnies of te moeilik om te doen nie.

Rugsteun jou data eenmaal ʼn week. Ja, dis ʼn vervelige, sieldodende, administratiewe taak en ons almal haat admin ewe veel – maar deur net dit te doen, verseker jy dat jou data veilig is. Selfs al word jou rekenaar oorgeneem deur ransomware of enige ander malware, het jy ekstra weergawes daarvan beskikbaar elders.

Hier is ʼn paar vinnige wenke om jou te help:

  1. Kies een dag in die week wat jou pas en skeduleer ʼn afspraak in jou dagboek om ʼn weeklikse rugsteun te doen. 
  2. Probeer om nie oor vorige rugsteundokumente te skryf nie.  Maak eerder opeenvolgende kopieë in verskeie vouers op jou eksterne hardeskyf of netwerkspasie met elkeen se datum as beskrywing. Indien enige van die dokumente korrup word, sal daar altyd ʼn vorige weergawe beskikbaar wees. 
  3. Gaan gereeld jou rugsteun-medium na en maak seker dat dit nog in ʼn werkende toestand is en jy toegang tot jou dokumente kan kry. 
  4. Gebruik meer as een rugsteun-medium, byvoorbeeld jou netwerkspasie EN ʼn eksterne hardeskyf. 

Waar moet jy jou data rugsteun?

  1. Elke personeellid het toegang tot sy/haar eie netwerkspasie (gewoonlik die h-skyf) waar jy ʼn vasgestelde hoeveelheid data gratis kan stoor. Jy het 1GB tot jou beskikking om die mees kritiese dokumente te stoor. Die spasie kan ook vermeerder word teen ʼn ekstra koste van R10-00 per 1GB. Jou netwerkspasie is ook beskikbaar via die web by storage.sun.ac.za indien jy nie op kampus is nie.
  2. Departementele netwerkspasie (gewoonlik die g-skyf). Die departementele netwerkspasie kan gebruik word vir leêrs wat deur meer as een persoon gebruik word en 15GB word aan elke departement toegeken. SharePoint kan ook deur groepe gebruik word om dokumente te deel.
  3. OneDrive bied 5TB stoorspasie per personeellid. Hierdie diens is beskikbaar via die Office365 suite. https://portal.office.com/
  4. Indien jy verkies om jou data naby te hou, kry vir jou ʼn eksterne hardeskyf. Moet nooit belangrike data op ʼn flitsskyf stoor nie – die enigste doel daarvan is om data van een toestel na ʼn ander te skuif. Dis nie ʼn betroubare rugsteun-medium nie. Maak ook seker dat jou rugsteun-mediums elders gebêre word of in ʼn kluis (nie in jou kantoor nie). Indien jy US-dokumente op ʼn eksterne hardeskyf stoor, MOET dit met ʼn wagwoord beveilig word of enkripteer word. Hou ook in gedagte dat indien jy die wagwoord verloor, IT nie jou data weer sal kan opspoor nie.
  5. Laastens kan jy ook jou data in die wolk stoor. OneDrive is een voorbeeld van wolkberging, maar GoogleDrive of Dropbox is ander opsies. Wolkberging is slegs vir persoonlike gebruik en nie vir enige akademiese of sensitiewe data nie. Onthou ook dat, indien jy meer as een toestel het, jou data op alle toestelle sinkroniseer moet word en kostes noodwendig betrokke is. 

Vir meer wenke en hoe om Windows se outomatiese rugsteun-funksie te aktiveer, lees gerus op www.backblaze.com.

 
 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.