Victoriavalle en Zimbabwe Julie 1934

04 – 27 Julie 1934

Vir die eerste maal in sy bestaan sinds 1928 het die BTK dit onderneem om ook in Julie-vakansie ‘n toer te onderneem. Die plan vir die toer het reeds by die Bestuur van 1933 ontstaan. Veel propaganda was nie nodig nie, want dit was pas bekend dat daar ‘n plan is vir so ‘n toer toe was daar baie aspirant toeriste. Die vuur het nog sterker geword toe die destydse voorsitter vertel dat die toer £7.10 sou kos. Die 1934 Bestuur het egter na raadpleging van die Spoorweg outoriteite die toer bereken op £10. Dit was ‘n koue water op die vuur. Tog het ons teen die prys nog honderd-en-vyftig deelnemers gekry. Danksy die gewilligheid van die S.A.S. om ons geen konsessies behalwe die gewone ekskursies te gee op hulle spoorweë nie, moes ons die vuur nog weer byna blus, met die vasstelling van die fooi op £17. Waarmee die Bestuur eindig is nog ‘n ander saak wat die toeriste getal nie meer sal vermeerder nie.

Daar het tog vyf-en-twintig vuurtjies bly rondlewe. Hulle het eers maar half flou gelyk maar later het dit wel geblyk dat hulle vol energie was. So breek dan die 4e Julie aan en daar vertrek ‘n klompie van ons van Stellenbosch. Die klompie het gegroei tot by Worcester tot vyf-en-twintig en by Kimberley het Ferrie en Boppe toe bygekom om ons getal tot sewe-en-twintig te laat styg. Die treinreis het ‘n bietjie lank geduur maar dit het ons kans gegee om ‘n bietjie van die BTK-liedjies te leer en ook om mekaar beter te leer ken. Hier en daar het ons ook ‘n ou bekende nôi of kêrel ontmoet en ons dan maar met hulle so vriendelik moontlik gehou.

Saterdag, 7 Julie kom ons toe op Bulawayo en na ons ‘n badjie geniet het het ons die dorp ‘n bietjie gaan bekyk.

Ongeveer halfdrie is ons daar weg op pad na Victoria Falls. As geselskap het ons eenkant toe die Telbourne skool voetbal span gehad en aan die anderkant was die “scoutmeisies” tot wie se leed Stals weer onder ons geselskap was.

In Rhodesië kom ‘n trein nooit anders as ses of sewe uur in die môre op ‘n plek aan nie. So was ons dan vroeg die volgende môre uit daardie nou bankies, en na rooi skynsel van die opkomende son gestaan en kyk.

Laat elkeen weer vir homself die gevoele in herinnering roep wat hul van hom meester gemaak het toe hy daardie mis van die Valle sien opstyg en ook later die gedreun hoor. Watter gevoel van tevredenheid en trots was dit nie!

Verlate klim ons daar op die stasie af. Net Eksteen begin daar vreemde nôiens te soen en intussen val sy ma se heerlike rosyntjie brood ook in mindergewenste hande. ‘n Paar van die toeristinne ken egter ‘n lekker plek as hulle dit sien en het hulle somar tuis gevoel toe hulle ‘n hotel sien en somar onbewus het hulle daarheen afgedwaal.

Na Grové en mnr Picken toe kennis gemaak het op die stasie het ons aangestap na die Bigtree – ons kampplek – via Devils Cataract.

Op Devils Cataract – elkeen het dadelik besef waarom daardie val die naam dra. Die duiwel alleen kan tog met so ‘n woeste en oorweldigende gebaar, ‘n donderende geluid en in ‘n pragtige wit gedosde kleet die kranse daar afspring.

By die Bigtree op die wal van die rivier onder die bome het ons toe gaan kamp. Mnr Spencer, die laaste “beauty king” van Bulawayo bring toe eindelik ons goedjies. Daar makeer egter ‘n hele boel, onder andere ons koskas. Die hongeriges het om kos begin roep en die geroep het Grové se honger ook laat woed met die gevolg, dat hy die lorrie daar bestyg, die stasie meester invlieë, die goed daar uitsleep en die hongeriges hom. Die Kaptein se teleurstelling is nog nie verby nie en die seekoeie slaap glo nog lekker onder sy nuwe veerkombers.

Na die middagete is almal geuniform vir die Valle en die reënwoude. Watter verskeidenheid van uniforms. Dit was swaar om uit te maak of dit ‘n ekspedisie na die suidpool is, na die ekwatoriale reëndele of na ‘n strand. Hoe dit ook al sy almal het lekker nat gereën en party het dit somar beskou as hulle enigste bad wat hulle by die Valle sou kry.

Wie van ons is so verwaand om daardie Mainfalls te beskrywe? waarby sal ons daardie wit, met geel tinte, skuimende, vallende water vergelyk? Hoe sal ons daardie dwars instromende valletjies stroompies wat met die ander bots om dan weer saam te smelt vir iemand skilder? Wie kan daardie gevoel beskrywe wat ‘n mens kry as jy die geweldige rotse sien en die toenemende watermassa in die diep kloof sien en hoor afdaal?

Is dit ‘n wonder dat Hazel haarself moes briek aandraai om nie self daar af te spring nie? Wie sê daardie byna volkome sirkel reënboog wat oor die Rainbow Falls gevorm word is nie mooi, helder en skitterend nie?

Eindelik het ons by Dangerpoint gekom. Lelik het Eva daar vasgetrap toe Adam haar daar in die Boilingspot wou afgooi. As ‘n mens ook daardie kokende water daaronder sien, dan kan jy ook ‘n spoor in ‘n klip trap as een jou daar wil afgooi. Net gou is ons toe oor dinog ‘n etetjie en daar moes ons na die Transvaalse K.W.V. (K.S.V.) onderwysers kamp vir ‘n diens.

Die Valle toer was nie ‘n gewone BTK-toer nie. Gewoonlik stap ons elke dag en kamp byna elke aand op ‘n ander plek. Die keer het ons kamp bly staan, maar ons het elke dag probeer vir ‘n uitstappie gaan. Ons het dit as ‘n groep nie aldag reggekry nie, want daar was ‘n klompie wat van die weer nie wou en kon hou nie.

Alle uitstappies kan egter nie ewe mooi, interessant en aangenaam wees vir almal nie. Ja sommige mense kan ook net die mooie en die aangename geniet, terwyl die interessante benede hulle is, of nie in hulle smaak val nie.

Die volgende uitstappies is toe in die dae by die Valle onderneem: Maandag langs Suid-Rhodisië wal af tot by Fifth Gorge. Op die uitstappie het sommige die Rhodisiese hitte ten spyte van die aanwesigheid van ‘n sambreel te kwaai gevind. Ek wonder of die hotel se bier hulle nie gelok het nie.

Dinsdag, 10 Julie was die dag vir Palm Grove. Daar kry ‘n mens in die eerste plek dig begroeide kloof met bome en palms en daaronder het ons ons almal gesit en verwonder aan die magtige strome en draaie van die water in die Whirlpool en daarbo weer die stil borrelende Boiling Pot. Hiervandaan sien ‘n mens ook eers werklik dat die brug wat van bo groot lyk in werklikheid maar klein is, maar geweldig hoog bokant die water. Ons het ook ‘n etetjie – botterhamme en koffie daar geniet en toe weer terug. Hierna het ons die onbeskryflike Eastern Cataract ontdek. ‘n Gevoel van ontsag en bewondering het almal by die gesig beetgepak. As ‘n doofstomme die mense daar moes gesien het sonder dat hy die Valle sien, sou hy gedink het dis ‘n klomp swaksinniges wat vergeet het dat hulle moet beweeg en hulle monde toehou. Ja dit was toe eintlik die mooiste deel van die Valle ‘n nuwigheid van die dag.

Woensdag, 11 Julie het ons ons toe op ‘n lang tog en op ‘n teerpad na Livingstone begewe. As ons ‘n paar dae later gegaan het is ek seker sal Oumatjie daardie pad afgestap het soos niks. Gelukkig is Rhodesië se mense nie onoorwinlik nie, en net so ‘n paar glimlaggies was nodig, toe was ‘n hele boel op motorkarre en het weer die stap tog na Livingstone af”gelift”.

Dit was ons besoek aan die gewone en nog steeds deeltydse hoofstad van N. Rodesië. Ons het egter alle reëls oortree deur in hulle stadstuin te gaan sit met ons botterhammetjies, maar die kafee eienaar het ook ‘n fortuin gemaak uit al die teedrinkers. Die van ons wat hulle by landsomstandighede kan aanpas het wel ondervind dat die bier daar baie lekker smaak.

Een ding is seker Livingstone het somar ‘n lekker drywende swembad ook daar in die Sambesie.

Donderdag sou party gaan vlieë het en ter wille van hulle het ons ander ook somar daar rondgelê.

Vrydag het ons onsself verhef na die hoogtes van Dale’s Koppie en daarna ‘n end teen die rivier op, by die plekke waar die seekoeie loop volgens mnr Dekker of oom Koos. Natuurlik was dit weer ‘n mooi plekkie en dit het net ‘n moeite gekos om vir Pa en Ma weer te laat omdraai.

Saterdag, 14 Julie het die klomp vroeg opstaners hulle na die vliegveld begewe en daar ‘n vliegtuig geskaak en gaan vlieg daar oor die Valle rond. Watter voorreg was dit om vir 15/- die hele wêreld om jou heen te sien en in een oogopslag die hele Valle. Ja hulle wou net daar bly om tog somar al die mooiheid altyd voor hulle te hê. Wie weet watter ideale wat hulle nooit gehad het nie, het nie nou in hulle ontstaan nie. Party het miskien weer weemoedig geword. Oom Koos en Louwtjie alias Blikpens het ook byna die loods omgehaal om maar aan te hou swewe met hulle.

Om tienuur het ons weer die vasteland verlaat en ‘n toggie met die motorboot Daphne gevang. Ons het met ‘n krokodil op die pad gesels. Louwtjie en Oom Koos kon sweer hulle het die ding gesien en ook ‘n kiekie van hom geneem. Wel die kiekies is daar en ‘n kiekie lieg nooit, maar selfs ‘n vergrootglas bespeur hier geen krokodil nie. Op Kandahar eiland het ons mos toe lekker tee gedrink. Mnr Paré het vir ons vegetable curry afgegooi en Marie het ‘n baie naasbestaande nefie met die naam van Blou Apie daar ontmoet. Kandahar ‘n pragtige digbegroeide tropiese eiland.

Sondag is mos ‘n rusdag en elkeen het maar op sy eie manier gerus. Voor die dag om was het Grové egter weer vir ons ‘n mooi diensie gehou. Die K.W.V. het ook ‘n diens gehad, maar die klomp “heidens” wou nie graag die waarheid om so ‘n lang periode uigerek aanhoor nie.

Maandag was die dag van Silent Pool, Eastern Cataract en Ooswal. Wat was mej Zondagh en Eksteen nie bly om weer ‘n hele boel van hulle ou familie daar in die kranse te sien rondklouter nie.

Na die Silent Pool het net ‘n paar hulle begewe. Die gesegde van een of ander vrou, “the Pool is swarmed with Crocodiles” het onder andere vir Oumatjie Molly en Rita skkoon wild gemaak vir die plek. Snaaks dat hulle vir die vierbenige krokodille so bang is terwyl hulle nooit gehuiwer het om die tweebenige krokodille aan te pak nie. Dis ‘n steil klim daar af, maar tog die moeite werd, veral as ‘n mens sien hoe stil die water daar is, en hoe dat dit ‘n paar honderd tree weg net hier oor die wal, woed in die Whirlpool. Alleen ‘n slag het ons gaan verbaas staan by die Eastern Cataract – wie sal dan ook ooit genoeg kry.

Vir middagete het Alda en Co weer vir ons lekker sop gemaak en op ‘n lekker sand plek het ons geëet. Die aand het ons toe nog ‘n slaggie gaan reënboog kyk in die bietjie maanskyn wat daar al was.

Dinsdag was die dag van gepak en geween – sommige openlik en onder in hulle hart, sommig oor die Valle, ander weer oor die krokodille en tweebenige seekoeitjies. Iets oor vyf het die trein ons daar weggeskeur van die Valle. Die ergste wonde is egter aan Oumatjie en Grové toegedien. Oumatjie is daar weg met ‘n beswaarde hart en Grové met byna ‘n Junior en, of Senior Picken soen op sy lippe.

Na gewoonte moes ons die volgende oggend om sesuur op Bulawayo afklim. Na ons toe ‘n paar snytjies brood in ons kele afgewurg het is ons op mnr Edwards se lorrie na die Matoppos – nie Ferrie se Matoppos nie. Ons het maar net vir 4/- gesit en kon dus nie verwag het om te lekker te sit nie!

Die aand het ‘n klompie van ons – waaronder natuurlik nie Oom Koos – ‘n biertjie gaan vang in die Midlands Hotel op Gwelo. Wat daar nog meer gevang is, weet ek nie. Party van ons mense was in alle hokkies, draaitjies en kamers van die hotel.

Donderdag, die 19e het ‘n paar van ons groep toe van Fort Victoria na Zimbabwe gestap. Ja Eksteen, Stals en Elmine het selfs ‘n rekord geskep – een het daarheen gery en die ander is daarheen “gelift”.

By die Zimbabwe het ons toe van Donderdag tot Dinsdagmôre vroeg gebly. Daar het ons gedans. gekyk, gewonder, die geheimsinnige ruïnes aangegaap en teorieë opgebou oor die ontstaan van die affêre. Ja Stals en Elmine het hulle daar vas verbeel dat hulle verlore is en nie meer van hierdie aarde nie, en het toe begin spook. Byna het Rita en Oumatjie nie alleen in verbeelding nie maar in werklikheid die aarde verlaat.

Ja dit alles is die invloede van die Zimbabwe ruïnes in die heldere maanskyn wat ons daar gehad het. Kan ‘n mens ook daardie heerlike maanskyn aande vergeet – vir ‘n seksie was dit al ‘n genot en vir ‘n ander seksie ‘n marteling – so het selfs die natuur meegewerk tot vorming van klieks.

Onder die besoeke en uitstappies by die Ruïnes was daar twee wat omtrent by almal populêr was, naamlik die besoekies aan die hotel, veral na die plekkie waar mnr Abel agter ‘n toonbankie staan. Ja daar by die plekkie is onder andere tot selfs Sondagnag ,99 van ‘n sekond oor twaalf ‘n besoek afgelê vir ‘n stontjie – ag die slapeloosheid moet tog ook verhelp word, en ‘n mens mag nie op Sondag jouself dokter nie.

Vrydag is egter gebruik om ‘n besoek aan Morgenster te gaan aflê. Dit was alles baie leersaam om die bedrywighede van die mense daar te sien. Daar was die drukpers, die baie rigtings van skole en die weeshuise. Veronica het vir Josef ontmoet.

Na die sop en brood vir middagete het ons egter ‘n koppie, naamlik die “Worlds View” van Morgenster bestyg en ‘n pragtige uitsig gekry oor die ‘n uitgestrekte aaneenskakeling van koppe en dale tussen in.

Ja en is ons nie dank verskuldig aan die drie families Möller, Murray en Kruger by wie ons tee, lemoene en vriendelikheid ontvang het nie, om nie vir mej Joubert, mnr Barnard en dr Steyn en ander dames en here te vergeet nie.

Saterdag het ons weer rondgedwaal om die omgewings van die Ruïnes te besigtig.

Die Sondag het ons al dromende tussen die Ruïnes, al swemmende by Chipopopo Valle deurgebring. Die aand het ons ‘n diensie gehad en daarna het mnr Abel en Kie vir ons kom vergas op viool en sangstukke. Alda skaam jou dat jy met jou “shorts” mnr Abel laat daal het tot die wens om ‘n muskiet te wees.

Maandag het gekom en het ook so stadig verby gegaan. Dit was egter ons ongunstigste dag van die hele toer wat weer betref. Eksteen wat al die dae in die tent gerus het, wou die dag die Zimbabwe in sy kamera inpalm, maar helaas die wolke was voor die son. Die aand lyk dit toe na reën en skielik kry die outoriteite die plan dat daar die aand na die diensie, in die Great Zimbabwe Hotel geslaap moet word. Die tente is afgeslaan – gepaard met baie skokke vir die afslaners. Ons was egter nog nie ‘n saamgesmelte(!?) menigte nie met die gevolg dat die een seksie in die Hotel gaan slaap het, en die ander wat te gebonde was aan die lekker kampplek en die heerlike bome het besluit om maar daar onder die ope hemel te bly. Pauwtjie sê uittrekkery was nog nooit vir haar so interessant soos die aand nie – sy het vir Stals en mnr Brink aan die eenkant, Grové aan die anderkant en Pa by die vuur gehad om wag te hou dat niemand sal kyk as sy uittrek nie.

Engela sweer sy het nog nooit so lekker geslaap soos die nag nie – sy en Grové het mos nou dieselfde hemele gehad waaronder hulle geslaap het.

Om by Rhodesië se treine aan te pas het ons toe die volgende môre sesuur ons wa in die pad gesit en halfsewe is ons ook daar weg, behalwe miss Sunday en Hazel. Sunday was mos die vorige aand so jonk, en toe agter – ek weet nie wie – rondgehardloop en haar voet vertrap. Die Dinsdagmôre was sy toe te oud om vroeg op te staan.

Die reis na Fort Victoria is weer ryende, “liftende” en stappende gedoen. Die gawe mense van Rhodesië wou ons almal “lift”, maar Engela, Pauwtjie, Bronco alias Molly de Waal, Hugo of Boet, Van Aarde alias Pa, dr Serton en oom Koerasie wou beslis nie hulleself so verneder om te ry en sodoende hulle rekord te breek dat hulle die volle program, soos dit geplan was, van die toer deurgemaak het.

Na ‘n hartroerende geween is afskeid geneem van die Fort Victoria Krokodille is ons sowat half-drie Dindagmiddag, 24 Julie van Fort Victoria weg.

Die aande van ons toere is vir die grootste deel in ons kamp deurgebring met harde pogings om te sing – ons “bless” ou Gerhard Roux nou nog dat hy die liedere boekies wat hy laat druk het vir ons, so goed in sy kas opgesluit het. Die singery wou egter nie vlot nie, maar na ‘n openbaring van ‘n kwaadaardige ontevredenheid van Grové en ‘n kalme bestraffing van Dokter het dit tog eindelik gegaan. Gebeur wat wil vir Pa kon hulle nie aan die sing kry nie. Hy kon onmoontlik nie sing nie, want dan val sy pyp uit sy mond; verder kon niemand tog verwag dat hy moet sing as hy so ‘n lastige wese soos Bronco, onder ‘n kombers in toom moes hou nie.

Mohir het gewoonlik gesing totdat die tweede liedjie “Dodo my liefstertjie” van Veronica se lippe gehoor is, waarna hy dan heerlik ingeslaap het. Niemand kan ook so ontwaak soos hy een aand by die Valle en die Sondagaand by die Zimbabwe ontwaak het nie.

Die terugreis was vir sommige van ons aangenaam; veral vir een omdat hy weer die stem van sy vrou en kinders sou hoor en vir ‘n ander omdat die stem van sy vrou ook die laaste sal wees wat hy in die aand sal hoor en die eerste woord wat hy weer by ontwaak in die môre sal hoor sal “koffie” wees.

Vir ander was dit ‘n hartverskeurende tyd. Hulle moes verliefdes en verloofdes in Rhodesië agterlaat; die ou bande wat hulle op die toer saamgebind het, en sommige het alreeds saamgesmelt – moes verbreek word, al was dit dan net vir ‘n paar dae, byvoorbeeld party van ons het al op Touwsrivier agtergebly en ander moes Stellenbosch toe kom.

Nou – ons het baie kans gehad om veel nuuts te leer op die toer Het ons? Ons het kans gehad vir baie interessante ondervindinge! Het ons dit gehad? Wie is spyt dat hy of sy met die toer saamgegaan het? Het ons die toer en kampte geniet?

D J Conradie
(tydelike Sketsskrywer)

Re-Unie by dr Serton se huis
11 Augustus 1934

Konstribusies
“Seven Merry Maidens From Stellenbosch Are We”

Die trein gaan al donderende noordwaarts (Eksteen, mnr Chief, is dit ‘n lelike woord?). Ons vergader in een kompartement en begin sing: “O! vra my nie ….” Nee! Begin weer! “O vra my nie my liefde nie, ek het ….” Nee, dit wil glad nie vlot nie. Ons begin Matie-liedjies, dit klink beter; ons sing later glad Jazz en dit klink heel goed! Die Chief is ontevrede, maar dit maar net tussen hakies.

“Rita en Ouma, nee kyk, as julle nou nie die skoolkinders van Selbourne los nie dan – ja, dan kom gesels ons nie met julle nie! Wat doen die twee? Hulle gaan mooi aan en skiet selfs die onderwysers vir ete. ‘n Onvergeetlike misdaad! And Rita was (AC) Cordingly known as a knock-out.”

Die Valle! Ag ja, ons sewetjies is ook maar mensies en bewonder ook. Wil selfs nie oor afgebrande “berge” en dale stap nie, en dit net uit skone bewondering vir die ou Valle. Alweer verbrou hulle – hul moes gestap het!

Die “Merry Maidens” word geskiet na die hotel dans; hulle vra die Chief en jaag sodoende die “camp-ghost” skoon op hol. Die armsaligheid van die affêre was: Die “Gallery” was nie daar om hulle te verdedig nie. Waar was hulle? Ons wonder nog!

Corrie sê net ‘n mens sê net, “Of course not” en alles is okay, maar wat van Rita? Was Selbourne College se hart nie flenters om weg te gaan nie? Molly hou nog steeds haar flikkers vir Zimbabwe al het “Old Markotter” ook nog tien “farms”.

Die “Maidens” maak pals en die pals kom kuier eens op ‘n mooi aand. Halftien is Godsdiens en die Engelsman moet sit, hy moet selfs saam sing. So ja, mnr Chief, hulle was mos vier jaar laas in die kerk. Wys hulle! En elfuur? Trek Ferrêre!!

Mnr Chief, mnr Chief, hoekom is die kamp sover van “Peg, O’ my heart?” Hulle kom kuier, halftien gaan hulle verby, geen Godsdiens! Maar neem ons die Chief kwalik? Glad nie! En kyk hoe manoeuver die chief! Nee, nee, kyk, dis ‘n BTK-toer, nê “Gallery”?

Dis ‘n Maanligaand in Juliemaand,
Op die Valle se rand,
Sit twee hand aan hand,
Dis ‘n sagte “ja” en ‘n soentjie daarna,
Dis al! Ja-a Ouma!

Zimbabwe, Zimbabwe wie het jou gebou? Is dit die likkedille, ‘n hippo of ‘n tier? Wat sê jy Alda? En Alda, speel mnr Abel se viool nie inspirerend nie? Maar kyk hoe dans so ‘n Skotsman die horrelpyp! Marie ken ook mos talent as sy dit sien, nê?

Mnr Chief, is jy alweer daar op die kombers? Toe maar Engela, ek het nie met jou gepraat nie!

Hulle kom! Hulle kom! Dis Fort Victoria se drom. Ja Molly, selfs die stasie is tussen hul. Stellenbosch wil ons 1,600 myl ver wees nê? Rita, kyk, dis ‘n “Standard Bank” wat jy jou hart by verloor het nie! Tussen hakies, die “gallery” is nog altyd stil!

Dokter, Maties met slegte harte hoort mos nie waar spoke speel nie! Almine, sal jy en Stals nou basta saamspeel! Julle kan dit op Stellenbosch hervat, of sal jy dalkies wil slaap daar?

Die “goodbye” sê is niks maar die “never more shall see!” Toemaar Molly, praat maar, die pals sal nie luister nie! Die Chronieke sê mnr Abel se hart was so seer. Was dit Alda?

Rita nee, daardie ogies van jou! Die kêrels kan dit nooit hou nie. Jy leer net nou vir Ouma ook oulik wees.

En wat nou weer van die sikrêtjie, pals?

Die pals hou “party, and what a party!” Mnr Chief, ons ken tog nog net “O, vra my nie my liefde nie”, en die het ons regtig weggegee. Ons is ook te treurig die laaste aand om so te sing. Verstaan mnr Chief nou mooi? O, armsaligheid, ja, dis sowaar die laaste aand!

Regtig, mnr Conradie, die pals speel nie “fool” as hul sê hulle het die toer baie geniet nie. Daai vir al die ou dingetjies – vir die “serafs” ook selfs!

Ons gaan weer nê pals?

(Die artikel gee goed die gees wat daar enersyds op die toer geheers het teenoor die “andersyds”.

D J Conradie

Sê-Goed
(Wat Gesê Is)

1. Ou BT-Kaner: Kom ons stap Morgenster toe!
Moderne een: As ek ‘n “lift” kan kry.

2. Oom Koos: Zimbabwe is niks in vergelyking met Gwelo nie.

3. Mohr: Bok is ook maar ‘n vervelige besigheid, ‘n mens raak somar aan die slaap.

4. Lettie: ‘n Gap (grap) is ‘n gap, maar ek lag nie aldag vir een nie.

5. Stals: Ek gee nie ‘n flenter om wat ek “spend” op ‘n kaffer nie.

6. Lelik aan Pa: Maak dood jou pyp, ek versmoor hier onder die kombers. (Pa se ore en pyp was ook onder die kombers.)

7. Oom Koerasie: Ek is duiwel met noiens.

8. Blikpens: Ek is dronk!

9. Ouma: Hoeveel perdekrag is die Valle?

10. Grové: Ons stap van Fort Victoria na Zimbabwe – ek ry.

11. Mnr Brink (Snork): Ek koop g’n “curios ” nie; Ek maak hulle somar self as ek slaap.

12. ‘n Vraag: Mnr Brink hoekom so stil en alleen?
Antwoord: Ek hou van verstandige geselskap.

13. Mnr Kradie na die stap van Fort Victoria na Zimbabwe (aan Stals en Eksteen). As die vroumense iets oorkom van die lang stap, sal julle twee vir hulle terug dra!

14. Oom Koos: Die swakste dra die Koffieblik.
(Op die end sal dit seker die swartste wees).

15. Blikpens: Ek eet ‘n bars! Dis al manier waarop ek my £17 kan inhaal.

16. Rita: “Conscience makes cowards of us all” (Shakespeare)

17. Dr Serton: Elke keer as ek iets uit my handsak wil hê, moet ek op ‘n ontdekkingsreis gaan! (‘n Goeie kans vir Geografiese ondersoek Dokter).

18. Rosemary na die uitsaai van die toespraak by die onthulling van die Livingstone Standbeeld verlede Sondag: Die geluid van die Valle was so duidelik dat ek eintlik die “Eastern Cataract” kon hoor.

19. Ferrie oor die Valle: Hulle is bleddie mooi.

20. Pop: Julle is ‘n droë ou spul. Plaas julle meer lag.

21. Dokter by Matoppos: ‘n Bietjie minder geestig wees! (Dokter meen seker dat daar al genoeg geeste is).

22. Mnr Conradie: Akademiese gesag help op toer ook niks.

Waarom is Louwtjie by Zimbabwe uit die “Gallery” tent geskop?

Antwoord: Omdat hy snags in sy slaap gesing het:
Oh Elmienwitch, Oh Oumawitch,
Ich liebe dich, I tot old Grové,
I have the itch, But he promptly,
hit me on the smutch,
And now I am sitting in the ditch.

DIE VALLEPARLEMENT

Die lede van die Valleparlement het pas teruggekeer van ‘n suksesvolle sitting by die Zimbabwe-Valle.

Die volgende was Ampdraers:

Goewerneur-Generaal: Sy Eksellensie Lord Grové Hertog van Picken.
Speaker: Kapt Ferrie Boppilict.
Eerste-Minister: Dr Georgrafie de Spoker.
Minister van Morpheus: Genl Mohr van Bokken.
Minister van Besproeiing: Sir D J Koerasie.
Minister van innerlike mens: Madamoselle Sunday.
Minister van liefde: Dr Dekkerel Gwelo.
Minister van mieliepap: Hert van Pa-pen.
Minister van Voeding: Fraulein Hazel von Erfkoop.
Minister van Oorlog: Genl-Grandma a la Krokkedil.
Minister van Naturelle Sake: Adv John mission.
Minister van Publieke Rytuie: Lord Lochie Mollen.
Minister van Kragte: Prof Harry.

Reuter berig dat die Sambreeltjie-Stormtroepe Rhodesië binnegeval het met die doel om krokodilletjies te vang. Dit spyt ons egter om te verneem dat niemand daarin geslaag het nie, omrede ‘n sekere Ferrie soos ‘n vark in ‘n laken gevoel het en oorlog tot die dood toe, teen die krokodille verklaar het; en nog een, Grové, die agtervolgdes skrik gemaak het.

Ons kan egter berig dat Kol. Granny darem daarin geslaag het om ‘n krokodilletjie in hande te kry, maar toe die Kolonel dit te veel op die kop streel, het dit te veel sy stertjie geswaai en moes die fiere krygsheldin laat los tot die groot vreugde van die Penkoppe van die Westerlike Provinsie.

Verdere berig word ontvang vanaf Zimbabwe dat Genl M Lochner byna daarin geslaag het om ‘n krokodil se stert te knoop, was dit nie, dat die nag aangebreek het en die Militêre dokter bevrees was vir ernstige letsels in ‘n verdere agtervolging nie.

NOU MAAR NET ‘N HERINNERING

Wat is die waarde van ‘n herinnering? Dit bind die agtergrond van ons lewe tot ‘n eenheid; dit suiwer ons lewe.

“Ek was by die Valle.” Dit het elkeen van ons al seker al ‘n paar keer moes sê. Elke keer waarskynlik met ‘n mate van selftevredenheid omdat dit ‘n verwesenliking was van ‘n ideaal.

Die Valle met hulle magtige bekoring weens hulle eiesoortigheid, en die wonderlike mate waarin skoonheid en krag in hulle verenig is, was seker die indruk van die toer.

Die altyd voortdurende stem van hulle wat jou met afskuwing sowel as bewondering vul, sal ewig met ‘n mens bly. Daar is iets in die hele toneel wat ‘n groot variasie in effek aanbied, beide sensasiewekkend en esteties.

En dan daardie boswêreld met ‘n eie lewe en taal, so ryk, so misterieus vir die een wat hom daarin kan inlewe, dat jy soms in sprakelose verrukking net maar kan luister en aanhou kyk en luister. En naderhand luister jy ook nie meer nie – jy lewe net. Maar dan moet jy as mens alleen wees.

In volkome oorgawe aan die wonders van die natuur en in volslae vergetelheid van die lewe en die minder aangename wat dit soms meebring, kyk jy na die skoenlappertjie wat swierig rondsweef, na die lang grassade wat voor jou neerbuig en weer orent kom in die koel aandluggie. Onbeperk geniet jy van die heerlike frisheid van die buitelewe.

Watter drome is nie gedroom, ideale opgewek en heilige voornemens het hulle nie van jou meester gemaak nie.

Dit alles wat jy daar sien en belewe neem jy so diep in jou op dat jy die langdurige herinnering daarvan met jou meedra na die gewoel. Dit gee ‘n mens wat hyself nie ken nie; iets lewends, iets blywends.

Daardie vry-lewe wat weer ryke gevoelens uit jou siel loswikkel, uit die roes van die ongedurige stadslewe – daar is stilte; lewe omsluier deur harmonie as jy saans luister na die voëls en ander veraf veldgeluide wat deur die eensaamheid na jou toe aankom om dan eindeloos weg te swewe asof die stilte dit huisves iewers …. daar nog verderaf.

En nou? …. ‘n formele, tradisionele glimlag, ‘n groef van rituële roetine waar jy gevaar loop om in te val …. Stellenbosch!

Hazel Robertson

Name van die toeriste van die Eerste BTK-toer na die Valle & Ruïnes.

VICTORIAWATERVALLE TOER

(Vul my maar aan asseblief uit daardie toerverslag soos ek gevra het) – verander soos julle wil.

Gewoonlik gaan die BTK maar net in September- en Aprilvakansies toer. As gevolg van die kort vakansie is dit dus nie moontlik om so ver te gaan nie en die verste plekke wat in daardie vakansies besoek word is dan maar Knysna en eenkeer was daar ook ‘n toer tot sover as Springbok.

In 1934 het die BTK dit egter aangedurf om in die Junie-vakansie ‘n toer te onderneem na Rhodesië waar die Victoriawatervalle, die Matoppos en Zimbabwe Ruïnes, besoek is.

As ‘n persoonlike woordjie my toegelaat sal word wil ek sê hoe die idee ontstaan het. In 1933 was ek met ‘n CSV-Kamp by die Valle en toe is ek op my eie na Matoppos, Zimbabwe en verder tot sover as Sibiburg. Terwyl ek die wonderlike skoonheid van die Valle gadegeslaan het en die mooi omgewing van die Valle, het daar ‘n sterk begeerte by my ontstaan om die grootste natuurwonder ook aan my mede-BTKaners te laat sien.

Toe daardie misterieuse besieningsheid van die Ruïnes my beetgepak het, het ek ook gewens dat dit hulle te beurt mag val. Veral is ek angstig dat die studente dit nog in hulle jeug moet sien. Die indrukke is blywend en watter voorreg is dit dan nie om van jonks-af al daardie majestueuse, misterieuse indrukke met jou saam te dra nie.

Toe ek hier kom het ek dadelik begin propaganda maak met die gedagte dat dit ‘n paar jaar propaganda sal wees. Tot my verbasing het die destydse voorsitter somar vlam gevat en dit moes somar dadelik die volgende jaar. Ongelukkig vir Piet Koorts kon hy op die ou end self nie saam nie.

Na veel gesukkel het die toer tog later plaasgevind maar nie soos ek dit graag wou nie. Ons het oorspronklik honderd-en-vyftig name gekry op die veronderstelling dat ons op die spoorweë die gewone toer tariewe sou kry. Die Spoorweë het dit egter geweier en ons moes maar ‘n gewone tweede-klas retoer kaartjie koop en daarvoor het die meeste nie kans gesien nie (dit was £12..2..9). Die slotsom was toe dat die groep net uit vyf-en-twintig bestaan het en daarvan was maar ongeveer die helfte studente.

Ek self het egter tog nog dit beskou as ‘n verwesentlike ideaal. Toe die trein dan ook die oggend die Valle nader het ek so in stilte uitgestap en op die brug gaan staan om te kyk wanneer ek daardie staande miswolk oor die Valle sal sien. Nou moet ek swyg omdat dit vir my onmoontlik is om daardie gevoel van voldoening te beskryf toe ek die miswolk waarneem.

Ons het agt dae by die Valle gekamp en ons het probeer om dit so na moontlik ‘n BTK-toer te maak deur elke dag kort uitstappies te doen en byna elke dag kon ek hulle iets nuuts gaan wys of laat doen. Hulle was party dae maar ‘n bietjie opstandig omdat hulle te bang was dat hulle nie genoeg van die Valle sal te sien kry nie. Elke dag het elke individu ten seerste geniet.

Ons is daar weg na Zimbabwe wat ‘n klomp klippe opmekaargestapel het om ‘n muur te vorm. Dit lyk na ‘n anti-klimaks, maar gelukkig was dit nie. Daar het party hulle eers geniet en ek ys vandag nog as ek dink dat, wat kon gebeur het as, die een spook in die Ruines omgekyk het en gesien het dat sy opgevolg word deur ‘n ander spook.

Die drie weke vakansie het omgevlieg en tot ons verbasing het elkeen nog weer £1..10 teruggekry op die £17..5 wat oorspronklik betaal is.

Dis egter ‘n baie groot geluk dat die honderd-en-vyftig mense nie gegaan het nie. By die Valle is daar nie moeilikheid nie, daar is baie kampplek en baie water hoewel die krokodille ernstig beswaar maak teen ‘n swemmery van mense in die rivier.

By Zimbabwe was daar plek vir ‘n klomp maar die water was baie skaars en hout was ook nie te volop nie. Vir daardie plek was ons groep net groot genoeg.

Rhodesië het dit ook besonder geniet om ons daar te hê. Daar was twaalf meisies in ons groep en dit was vir die jong mans daar ‘n rariteit om soveel jong meisies bymekaar te sien. Dit het vir die leier ook ‘n bietjie moeilikheid besorg.

Mev Stekater Williams by die Zimbabwe het ook gevra ons moet lig weer kom, want dit was volgens haar oordeel die gaafste klomp seuns en dogters wat sy nog ooit bymekaar gesien het.

Daar is al dikwels gevra wanneer maak ons dan weer ‘n toer daarheen. Verder as dit het dit nog nie weer gekom nie. ‘n Mens mag egter hoop dat die moontlikheid nie heeltemal uitgesluit is nie.

Sketsskryfster

Leave a Reply