Knysna-Plettenbergbaai-Keurbooms April 1937

“Ons gaan nou sonder sorg op toer,
Wat sal ons langer in boeke boer?
Weg na die velde wat ons trek
En weer nuwe lewe in ons wek.”

So voel ‘n toeris voor ‘n naderende toer, as die boeke-kennis hom begin oormeester en hy met verlange uitsien na die “wydheid van die velde” en die “blou van hemel bo”, wat van hom weer mens gaan maak. Dit was dan ook die stemming van omtrent veertig Maties toe hulle Donderdagmiddag hulself op die stasie bevind het – elkeen met die gedagte aan die vakansie wat voorlê en aan wat die toer gaan bring. Die groot getal nuwelinge seker met nog meer hope en verwagtinge as die klein getal oues. In die begin was dit maar net die rooi doekies wat ons as ‘n eenheid gebind het, maar alreeds Vrydag op die trein het dit beter gegaan, en toe ons naby Knysna al langs die blou see gaan, was één ding seker – dat die natuur ons nie sou teleurstel nie.

Op George het ‘n paar ons verlaat om sake te reël en sou met die lorries vandaar na Knysna gaan. Knysna het al te gou in die gesig gekom, en somar dadelik na die aankoms het ons begin stap na die kampplek van die aand. Na ‘n ent klim kon ons onder in die vallei die klein dorpie Knysna sien met die uitgestrekte mere rondom, wasig in die strale van die ondergaande son. Alhoewel die stap in die aandkoelte besonder verfrissend was, het die kampplek geblyk verder te wees as die oorspronklike mening was. Met die donker het ook die honger gekom, en die laaste padkos van die trein het verdwyn – Tos was natuurlik daarby! Toe ons in die digte woud kom het die groepies maar al nader en nader aan mekaar begin stap, en daar was seker meer as een wat aan stormende olifante begin dink het. Dempsey het in elk geval gemeen dat sy oorverdowende geraas op die blikke hulle sou weghou. Al singende het ons die ander bereik wat in ‘n klompie bymekaar gesit het. Van die lorries was g’n spoor te sien nie. Maar dit is onmoontlik om die eerste aand al moedeloos te word en toe die lorries eindelik opdaag, was dit ‘n jolende klomp BT-Kaners wat hulle aangetref het. Na ‘n warm stuk braaivleis en sop het ons maar gou die bed opgesoek, en eers weer die volgende oggend deur die blaas van die fluitjie wakker geword.

‘n Entjie terug van Brackenhill het ons eers die valle gaan besigtig. Tussen digte bome slinger die pad, en in die vroeë oggend weergalm “Im Wald, im grünen Walde”. Vandaar terug en toe verder deur die woud na “The garden of Eden” waar elkeen hom kon verlustig in die skoonheid, van die reuse-varings wat rustig troon as heersers in ‘n heiligdom. Maar die bestemming van die dag was nog nie bereik nie, en ons was al te gou weer op pad. Die sien van die see het so aanloklik gelyk, dat die seer van die voete vergeet was, en die hitte van die son iets van die verlede geword het, by die gedagte aan die strelende koel van die branders.

Dit was dan ook netso belowend as wat dit gelyk het, maar Plettenbergbaai het selfs nog meer gebied as verwag was – want later in die aand het ‘n paar, vir wie die koel sandduine te aantreklik was, nog die genot gesmaak om die silwer maan of die see te sien, soos dit alleen daar kan skyn. Dit is net baie onverstaanbaar, dat dié twee, vir wie so ‘n touseltjie eintlik bedoel is, niks daarvan gesien het nie.

Sondag is deurgebring met swem, slaap en eet. Dr Coertze het die beste daad die dag verrig deur elke beker vir sy eienaar te verseker. Dié aand het die halfuur vir die eerste keer tot sy reg gekom, maar toe die vlammende en krakende vuur seker bygedra het. Of dit nou van die vuur of die mooiheid van die omgewing was, wat die toeriste inspirasie gegee het, is moeilik om te sê, maar die liedere het meteens herlewe, en dit was ‘n plesier om in die stilte van die aand sulke musiek te hoor. Mnr en mev Taljaard het ons dié aand vereer met hulle teenwoordigheid, en die koek wat hulle saamgebring het, kon nie lank geheim bly nie.

Maandagoggend het nie te belowend aangebreek nie, en dit was nie ‘n aangename gedagte om te dink dat die dag by Keurboomsrivier deur reën sou bederf word nie. Maar die reënhoede en seiltjies het gou die reën verjaag, en toe Keurbooms bereik is, was daar niks beter te wens nie. Spieëlgladde water, waarin die bosbedekte heuwels aan weerskante weerkaats met net die gewoer-r-r-r van die bootjie in ons ore, het almal eers in swye afgelê, maar dadelik daarna wil jy jou lofliedere en hulde aan die skoonheid van die natuur bring deur te sing – en al singende word “Whisky Creek” dan ook bereik. Die grootste deel van die dag is daar deurgebring, en na die rit terug met die bootjies, het ons dié middag ‘n paar myl verder gestap na Wittedrift – die einddoel vir die dag.

Die smaakvolle ete wat deur ‘n paar toeriste by mnr en mev Van Huyssteen geniet is, sal onvergeetlik bly – Reep was skaars sigbaar agter die groot bord kos, en Bey het hom met vingers en al verlustig aan die hoenderbeentjies. Gerugte het egter rondgegaan dat die agtergeblewenes só weggeval het aan die kos dat hulle later moes lê en eet! Mnr en mev Van Huyssteen was dan ook ons gaste om die kampvuur, wat nie op hulle plaas se werf kon gehou word nie, weens reparasie aan die brug.

Of dit van die goeie maaltyd of van die drukkende weer was, is moeilik om te sê, maar daar was feitlik nie een wat die volgende oggend nie van ‘n slegte nagrus gekla het nie. Maar die stap is voortgesit, al was dit opdraend en warm. Diep-blou het die Tsitsikama-reeks voor ons uitgestrek gelê, afgewissel deur die honderde heuwels en “The Valley of a Thousand Hills”. Met die middag se stap is die woud weer bereik, en die indruk van die hange wat met bosse en nogmaals bosse bedek is, sal onvergeetlik bly.

Dié aand was die kampplek by Buffelsnek, maar een van die items was die musiek verskaf deur mev Conradie en Maurits. Om nie te praat van die twee outas, wat ons dié aand ‘n besoek kom bring het nie!

Woensdag het ons net in die oggend gestap, met die doel om die middag te rus. Na ‘n besoek aan die “Big Tree” is ons na ons kampplek, by “Diep Walle”. Die pad daarheen was alleen al die moeite werd om te stap maar die uitsig van bo was bo verwagting -die rye heuwels met die see aan die gesigseinder en met die blou Tsitsikama-berge wat soos steunpilare teen die lug vertoon. Waarlik ‘n ideale ruspunt. Maar van lange duur was dit nie. Dringende wolke het begin opsteek, en die tentkomitee moes maar weer al hulle hardewerk vernietig, sodat ons na ‘n meer geslote en veiliger kampplek kon verhuis. In volle reën-mondering het ons klomp dan ook terug marsjeer, en ‘n paar myl verder ‘n kampplek gevind wat niks te mense oorgelaat het nie. Die tente was ook net weer betyds opgeslaan toe ‘n sagte mis-reëntjie begin uitsak het, wat egter niks van ons plesier weggeneem het nie, en die oorsaak was dat die toeriste vir die eerste keer werklik hulle kele in oefening gebring het. Miskien was dit ook te danke aan die warm koffie en koek van die middag.

Dié aand toe dit donker word, kon ‘n mens ‘n besef kry van Sangiro se gevoelens in die oerwoud – “Dis nag – nag, in die onbetree” dieptes van die eeu-oue oerwoud ….”

Vrolike sonskyn het ons die volgende oggend begroet, en die frisse lug na die reën het die toeriste blykbaar so inspireer, dat ons teen eenuur in Knysna was. Net toe die stap deur almal begin geniet word, en die “Wanderlust” tot sy volle reg gekom het, was die dennebome en waterstrome agter die rug, en was Knysna weer in die gesig, waarvandaan ons ‘n week vantevore vol verwagting vertrek het.

Dié middag het almal wat nie die ongeluk gehad het om op komitees te dien nie, hulle eie gang gegaan, terwyl die ander maar hulle werk aanpak. Dit is net wat die tentkomitee gevoel het, en dit was opmerklik om juis dié middag die skielike hardwerkendes van die tentkomitee te sien. Veral Butie het net woes rondgespring. Maar die loon vir die harde arbeid was seker die grootste teleurstelling wat hulle nog gehad het – want die stasiemeester het goedgunstig ingestem dat ons dié nag in die treine kon slaap. En hierdie informasie was nie aan lede van die tentkomitee bekend gewees nie. Butie het dit as ‘n onvergeetlike sonde beskou, en moes hom maar troos met die gedagte aan die lekker borsel wat die skuldiges ontvang het.

Op die voetbalveld naby die stasie is die laaste kampvuur gehou, waar Andries, die drywer van een van die lorries, vir oulaas ‘n “speech” gelewer het. Vir die broodsnyers op die trein was daar net één storende element – die geweldige aptyt van veertig BT-Kaners na die toer.

Saterdagoggend teen halfnege was ons weer in die Eikestad waar die Pieke soos altyd ons hulle stille welkomsgroet gebring het.

S Naudé

Leave a Reply