Suidelike Sederberge April 1997

Vrydag – 28 Maart

06:00 is vroeg in die oggend, veral op ’n vakansiedag, maar 40 BTKaners laat hulle nie daardeur afskrik nie. In ’n japtrap was die bus (wat deur die bestuurder die ‘BTK Likkewaan’ gedoop is) gepak, maar ons het nog ’n halfuur gewag vir moontlike laatslapers.

Teen 12:00 was ons op die plaas Ysterplaat, reg om te sap. Dit was ’n fantastiese sonskyndag en lekker warm. Net soos ons ’n bietjie begin sweet het onder die warm son, het ons aangekom by die middageteplek. ’n Lieflike helder dammetjie. Nog voor die laaste mense behoorlik hulle rugsakke kon neersit was Christiaan Terblanche en Hans Hendriks reeds in die koel water. Party het gevolg, ander het besluit om dinge liefs van die kant af te beskou.

Die sonnetjie het so lekker gebak dat die kaas op die brood gesmelt het en baie grappe oor ons ‘toasted cheese’ broodjie tot gevolg gehad het. Wim Morris en Jean Hendriks het na ete gaan swem en besluit om die wat nie wou swem nie ook aan die water bekend te stel. Arme Jacques Wasserfall is met die broodjie nog in sy hand natgegooi dat die water so drup.

Die middag was ’n moeilike stap en ’n redelike klim teen die berg op. Ons het maar probeer om die ruskansies so lank as moontlik te rek. Die laaste skof teen die berg uit was baie steil, soveel so dat Teuns Kok en Hans Hendriks elkeen met twee rugsakke daar uit is en nog steeds vir die groep moes wag.

Net na sononder het ons begin kamp opslaan en kos maak. Diegene wat nie gou gespring het nie, moes sukkel om die tente in die donker nag op te slaan. Soos baie van ons geleer het, is dit nie heeltemal so maklik as jy vir die eerste maal met ’n Kestral-tent in die donker kennis maak nie. Na ete is daar nagmaal gehou met rooi wyn en ‘Hot Cross Buns’. Dr. Jurgens Hendriks het voorgegaan met die klein diens. Na die gewyde tyd het hy nog die moeite gedoen om te verduidelik dat ’n mens nie dadelik moet gaan slaap as die toervader nag sê nie. Maar dit was verniet want ’n halfuur daarna was almal in die bed. Die wat buite geslaap het, het blykbaar gesukkel met die helder maan in hul oë.

Saterdag – 29 Maart

Net na 06:00 het Christiaan Terblanche begin skree dat ons moet opstaan. Gou-gou het die eerste gille vir warm koffie begin klink. Voordat ons met die dag se stap begin het, het ons eers ’n entjie terug gestap na ’n mooi uitsigpunt. Van daar het ons uitgeklim in ’n ‘chimney’ tot bo-op Spinnekopberg. Van die mans moes maar bo staan en aanwysings skree aan die dames. Dit was hier dat Christiaan die berugte aanmerking aan Daleen Lordan gemaak het. ‘Jy moet nie liefde maak met die rots nie, jy moet klim!’ Na ’n paar benoude oomblikke in die skeur was almal bo om die uitsig oor die Cederberge te bewonder.

Van daar moes dit vinnig gaan om terug te kom by die kampplek en alles op te pak, maar dit was sommer gou klaar en ons kon begin aanstryk. Ettiene van der Poel en Hildegard Steinmann kon net nie die stadig stap hanteer nie en was heeltyd heen en weer deur die hele groep, dan is hulle voor en dan weer agter. Die dag se stap was eintlik lekker kort en ons kon lekker vertoef vir middagbroodjies by ‘Spoc se Rock’.

Omtrent ’n halfuur se stap van die kampplek af, het die toerleier (Christiaan) vir ons gesê dat daar nie water by die kampplek is nie en dat ons by daardie stroompie alle bottels en sakke vol water moes maak. Een van die papsakke het ’n gaatjie gekry en Erik van der Merwe het die laaste heuwel met die sak in sy hande en ’n vinger op die gaatjie geklim. Liesl Thiele het die ekstra gewig gevoel en elke keer as sy keel skoonmaak dan moes Ewan Conradie maar omdraai en haar eers by ’n hoë rots ophelp.

Ons het kamp opgeslaan en toe gestap na die baken op Apex Piek. Die mis wat begin vorm het, het niemand se geesdrif gedemp nie. Maria Magdelena Rosouw het opgemerk hoe lekker dit was om sonder ’n rugsak te kan stap. Toe ons bo-op Apex Piek kom kon ons net die baken langs ons sien, want alles was toe van die mis. Opgewonde gille het elke nou en dan aangedui dat daar ’n ‘gat in die mis’ was waardeur ’n mens ’n stukkie van die uitsig kon sien. Die rotsformasies en klein grotte was fantasties en ons het baie aanmerkings geskree om die eggo’s te hoor. Dit het begin koud word en die sop voor aandete was net die regte ding. Toe was dit tyd vir die wraak en na dit moes die eerstetoeriste ’n uitkenningsparade deurgaan waarin hule ses van die bestuurslede moes uitken, iets wat blykbaar voorheen ’n tradisie van die BTK was. Maar die ses bestuurslede het hulself so vermom dat hulle mekaar nie eens kon herken nie. Christiaan met sy balaklawa en donkerbril was moeilik, maar sy rooi sweetpakbroek het hom weggegee. Die enigste persoon wat hom herken het, is gou stilgemaak omdat dit ewe nie sy beurt was om te antwoord nie. Soos Wim gesê het: “Moet nou nie uit jou beurt blaker nie, man!!” Wim se raad aan die eerstetoeriste was: “kyk na die nekdoekies – dit is die ‘give-away’”. Maar almal se nekdoekies lyk dan dieselfde Wim! Die moeilikste was die sesde persoon wat onder ’n onderstebo slaapsak gestaan het. Wie dit was, weet meeste van ons nou nog nie. Die eerstetoeriste se items was goed geoefen (was hulle dalk bang vir die wraak?) en die weermagitem het luide toejuiging gekry toe die korporaal se bevele teen die omringende kranse weerklink het.

Teen slaaptyd was die mis so dig dat Niki Steenkamp gereken het dat wanneer hy die nag ’n draai gaan loop hy liewer sy brandende flits langs sy tent sal los, anders kry hy dalk nooit weer die kamp nie!

Sondag – 30 Maart

Moraal was maar laag met die opstaan want deur die nag het dit gereën en alles was nat. Net na ontbyt het Hans Hendriks besef dat hy vergeet het om sy eier te bak en ons oë het gerek toe ons sien dat hy nog die hele tyd ’n volstruiseier saamdra. Christine Steinmann het vir Christiaan gevra of ons nie liewer moet bus toe stap nie, maar hy het gesê dat hy nie sommer ’n toer sal beëindig a.g.v. ’n bietjie reën nie. Hy was in elk geval oortuig dat die mis sommer gou-gou sou lig. Dit wou nogal so lyk, maar net toe ons opgewonde raak trek dit weer toe en begin liggies reën. Om alles te kroon was die mis nog so dig dat ’n mens nie eers die voorpunt van die groep kon sien nie. En dit op die dag wat die mooiste uitsigte sou bied. Die toerleier het ’n moeilike taak gehad om rigting te hou en so nou en dan moes ons ‘bundu-bash’ deur plate blommetjies met sulke doringblaartjies – ‘Eina-bossies’ soos Nina Kruger dit gedoop het.

Ons moes so in die ligte reën die middagbroodjies maak en het dit geëet met lekker soet koffie. Moraal was baie laag en almal was bly toe ons kamp opslaan en tot ruste kom, veral omdat dit toe net mistig was en darem nie gereën het nie. Nico Holtzhausen het net vir almal vertel hoe hy reken ’n mens eintlik die beste uitrus op die ‘suffer’-toere.

Die sop was selfs ’n groter treffer as die vorige aand en Hans se volstruiseier het 10 mae help vul. Die mis het begin lig en met sleetyd kon ons so hier en daar al sterre sien. Die wind was baie koud, maar die sleekring was baie warm want al die slee’s is baie naby aan mekaar gemaak en daar is sommer lekker gebroei. Selfs die items was maar korterig omdat niemand vir te lank onder die slaapsak wou uit wees nie.

In die hekeltyd het oom Jurgens Hendriks vertel hoedat Nina Kruger eintlik van ’n BTK-toer vandaan kom, bedoelende eintlik dat haar ouers so ontmoet het.

Maandag – 31 Maart

Die oggend het sommer vrolik begin toe die son opkom en die mis weg was. Ons was vroeg in die pad. Tydens ’n rustydjie is Junita Jordaan deur die mans aangewys as die flerrie van die toer, eintlik juis omdat sy so stil was. Met ‘Game-break’ by die Maltese Kruis moes Daleen Lordan ’n tweede wraak deurgaan omdat sy so skoorsgesoek het met die ouens. Maar sy het dit baie geniet en selfs getel dat elkeen van die mans hulle kom wreek het.

’n Duitser wat na die Kruis kom kyk het, is nader gebring om eers ’n groepfoto te neem. Die arme man moes dieselfde foto met sewe kameras neem! Middagete was heerlik. Dit was op ’n mooi groen grasperk in die tuin van die vakansieplaas Sanddrif langs ’n stroompie wat daardeur vloei. Maar partymaal het ons gewonder of daar nie meer mense in die ry wag vir die toilet (die eerste een wat ons op die toer raakgeloop het) as wat middagete geniet nie.

Die middag was ons in die karavaanpark en almal kon bietjie ontspan en weer ’n warm stort geniet. Aandete kon ons die keer op ’n vuur berei en ons kon vir die eerste maal om ’n werklike kampvuur slee en nie net ’n ‘denkbeeldige een’ soos oom Jurgens dit gestel het nie.

Christiaan Terblanche het opgemerk hoe snaaks dit is dat almal kla oor swaar rugsakke, maar saans in die slee kom bottels en bottels sleesous te voorskyn.

Die Duitser wat ons die oggend ontmoet het, het kom saam slee en het selfs twee items gelewer. Die een plastiek krat voor hom en die een agter, wat die boggels van ’n kameel voorstel, en sy bewegings hoedat hy op die kameel ry, het ons laat rol soos ons lag.

Om daardie kampvuur is daar nog tot laat gekuier, totdat die laaste drie wat nog wakker was, nl. Teuns Kok, Johan Thiart en Jacques Wasserfall die laaste bietjie koffie so teen 01:30 opgedrink het. Dit, en natuurlik ook die laaste bietjie rooi wyn wat oorgebly het van die nagmaal die eerste aand.

Dinsdag – 1 April

Die opstaan het al moeiliker geword namate die toer einde se kant toe gestaan het, behalwe miskien vir Teuns Kok en Jacques Wasserfall wat sommer vroeg reeds begin het met: “Muesli, Muesli anders val ons om!” Want hulle het reeds hul eie muesli opgeëet en bedel toe by al die meisies wat maar min eet. Die dagstap na die Wolfbergskeure het vir die meeste van ons goed begin toe ons die rugsakke in die tente kon los. Om die berg te klim sonder daardie rugsak is nou maar net aansienlik makliker.

Ons kon ons verwonder oor die pragtige uitsig van bo af. Die klim deur die skeure was groot pret en op party plekke, waar ons noodgedwonge vir mense voor ons moes wag, het Dale Cilliers vir ons gesing sodat ons die akoestiek van die rotse om ons kon waardeer.

Tydens ‘Game-break’ was groep 2 baie ongelukkig toe Christiaan die oop pak grondbone vir Teuns gooi en in die proses die helfte uitmors. Van die Skeure af het ons gestap na die boog in een van die pieke en het daar naby middagete geëet. Donderwolke het saamgepak toe ons met die pad terug begin, maar dit het nie regtig gereën nie. Halfpad ondertoe was ’n groot rots en Hans en Keith Browne, wat lede van die klimmuur op die Bos is, het vir ons gewys hoe die rots nou eintlik geklim moet word.

Onder in die vallei was nog so ’n groot skuins rots en dit het gedien as rusplek. Daar is ook besluit dat dit nou die ideale groepfoto sal maak. Hans het sy driepotostaander uitgehaal en Carel Cairns het sy kamera daarop monteer. Hy moes onder luide gejuig spring en hardloop om betyds bo-op die klip te kom voordat die ‘self-timer’ die foto neem.

Nadat almal opgestaan het, het Teuns Kok en Wim Morris besluit om resies te hardloop teen die rots af. Teuns het tot stilstand gekom in ’n bos, terwyl Wim, wat gewen het, duskant deur die sand gerol het. Hans het net daar besluit dat Wim definitief ’n malheids-prys vir hierdie toer moes kry.

By die kamp is daar eers krieket gespeel met vreeslike ingewikkelde reëls oor presies hoe ’n mens uitgevang moes word. Charl Möller was baie beïndruk met die draai van sy balle, wat eintlik maar ’n gevolg was van die onvoorspelbare hop van die bal op die grondpad wat as kolfblad moes dien.

Hy was ook die een wat gemeen het dat, al het hy die bal heel mis geslaan, die kolf darem getrek het vir ’n ses! Christiaan het net voor donker verduidelik dat alle skiete vir slee onmiddellik gekanselleer word en almal moet oor skiet as hy die fluitjie blaas. Die meisies het almal uitgekaar gespat en die ouens moes maar jaag, want daar was meer ouens as meisies. Nina Kruger het eers twee minute later uitasem weer by die vuur kom sit.

Al was dit die laaste aand, was die items maar kort want almal was moeg. ’n Paar van die tradisionele items is vir die eerstetoeriste opgevoer. Die grootste lag van die aand was toe Johan Thiart ’n storie van Jan Spies vertel het. Maar die gelag was nie vir die storie nie, maar meer vir Teuns Kok wat toe kliphard in die slee lê en snork.

Een van die groot gesegdes van die toer: ‘Hansie, waar’s jou hoed!’ het hier sy oorsprong gekry na aanleiding van een van die vorige aande se items van Renoster en Olifant wat vir Hasie wou slaan omdat hy nie ’n hoed gehad het nie. Hans Hendriks het dan juis so ’n besonderse wit hoed met handtekeninge op gehad.

Die aand se slaap was aansienlik beter, vir Johan Thiart in elk geval, want hy het die bus se sitplekke se kussings uitgehaal en daarop sy bed gemaak.

Woensdag – 2 April

Teuns en Jacques was sommer vroeg-vroeg al aan die bedel vir Muesli wat oorgebly het. Net voordat ons die lang pad aangedurf het, het ons die likkewaan se vensters afgespuit. Gelukkig het ons dit drooggemaak ook, want teen die einde van die grondpad was die res van ons groen likkewaan meer bruin as groen!

In Citrusdal het ons eers ’n ietsie gaan drink en bietjie gesing, maar net vinnig want die groot ‘Terrash’ sou eers met middagete in die Spur in Stellenbosch plaasvind.

Toe ons in die Spur gaan sit, sê Teuns vir Jacques dat hy reeds vir die kelner gevra het en dat hierdie Spur nie muesli bedien nie.

Na ’n groot gesingery en geëetery is almal uitmekaar. Christiaan het met die terugstap gesê dat hy nou glad nie na die volgend twee dae uitsien nie, want dit is altyd die tyd wanneer ’n mens bietjie ‘depro’ is na ’n lekker toer…

…en lekker was dit beslis!!!

Jacques Wasserfall (namens die sketsskrywer)

Leave a Reply