Dit is eienaardig hoedat elke toer uit die staanspoor uit ‘n karakter dra wat hom vir goed onderskei van alle ander toere daarvoor of daarna. Natuurlik is dit nooit dieselfde groep mense wat elke keer gaan nie – en die omgewing en weersomstandighede bepaal ook tot ‘n groot mate die karakter van ‘n toer. So is daar byvoorbeeld nounog sprake, onder die ouer geslag, van die Groot Reëntweer van April 1941. Dit was ‘n groot toer vanweë die groot aantal toeriste – iewers in die koers van 110 – en ‘n groot reëntoer vanweë die buitengewone hoeveelheid water wat uit alle rigtings die toer benat het.
Jonkershoek Gala 1944
28 November – 05 Desember 1944
Die inleiding tot die galaweektoer was ‘n stywe kennismaking in kisklere in die komiteekamer van die Uitspan. Toe ons die volgende oggend met ‘n harde wind agter ons die kontourpaadjie in Jonkersuitstap, was dit al asof daardie stywe mense op die regopstoeltjies net daar teen die muur bly sit het, en gesellige plaasvervangers het in hulle plek saamgekom.
Du Toitskloof – Ceres – Tulbagh September 1944
Dis nie ‘n ou saak wat baie gebeur dat BT-Kaners ‘n hele toer deur lente-sonskyn kry nie. Hierdie toer het ‘n gerieflike uitsondering gekry vroeg op die reis, toe somar alles – reën, wind en hael – gelyk op die stappers afgeklim het om die gees te verseël. Ja, die vakansiegees was daar, onmiskenbaar daar, van die eerste “sittin’ tune” daar in die “dog box” op die bagasie in die Wellingtonse trein tot die laaste “quittin’ tune” voor ds Louw se huis. Van die begin tot die einde het elkeen gevoel dat hy die toer ten volle geniet – hy het eenvoudig nie ‘n fout gemaak nie.
Kleinmond April 1944
Tyd spring so snaaks rond. Dit was of die toer in ‘n dag verbygegaan het, en nadat ons teruggekom het en elkeen weer vasgemessel staan in sy eie plekkie in die samelewing, voel dit soos jare terug, nie net ‘n week nie.
Montagu Oktober 1943
24 September – 05 Oktober 1943
Die Worcester trein was ‘n uur laat en propvol. Toe hy die Stellenbosch-Stasie intrek het ons hom ‘n hele ruk aangekyk, almal besig met die interessante probleem, waar gaan vyf-en-sestig khaki-stuks inpas? Die vraagstuk het plek gemaak vir een veel meer persoonlik en aktueel: waar de drommel kom ekke in? en ons het oor onwillige ooms en gesette tantes en uitbundige skoolkinders ingeborrel. Read More
