Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Kommunikasie

Reis sonder onnodige koste

Vrydag, November 15th, 2013

Indien jy gereeld oorsee reis, het jy waarskynlik al op die harde manier geleer dat selfoonkostes buitensporig duur raak wanneer jy Suid-Afrika se grense verlaat.

Tog is daar maniere om te bespaar wanneer dit steeds noodsaaklik is om per telefoon beskikbaar te wees.

Koop `n plaaslike SIM-kaart 

Meeste reisigers weet nie dat hul foon se SIM-kaart met `n plaaslike SIM-kaart vervang kan word nie.

Voorafbetaalde simkaarte is goedkoop en maklik om data op te laai. Inkomende oproepe is normaalweg gratis en uitgaande oproepe (plaaslik en internasionaal) is ook aansienlik goedkoper. 

Hou in gedagte dat, wanneer jy `n ander SIM-kaart in jou foon sit, jy ook `n nuwe selfoonnommer gaan kry.  Stuur die nuwe nommer aan jou kontakte as jy bereikbaar wil wees gedurende jou oorsese besoek.

Soos in Suid-Afrika, moet jy ook oorsee deur die RICA-proses gaan. Sorg dat jou dokumentasie in plek is om tyd en moeite te spaar. 

Koop ‘n SIM-kaart voordat jy vertrek

Execmobile of Flyconnected gee aan jou die geleentheid om `n SIM-kaart te bekom selfs voordat jy op die vliegtuig klim – minder moeite as jy in die vreemde sit.

Maxroam verskaf ook `n voorafbetaalde SIM-kaart wat in meer as 200 lande gebruik kan word.

 Skype of TruPhone

Registreer as Skype-gebruiker voor jy vertrek en koop krediete om oproepe te maak. 

Oproepe kan so min as 2 sent per minute kos, omdat dit data is en nie `n tradisionele oproep nie.

Skype se enigste nadeel is die betroubaarheid en kwaliteit van oproepe wat onderhewig is aan jou internetverbinding. 

Internasionale belkaarte

Belkaarte laat jou toe om gewone landlyn-fone, telefoonhokkies en in sommige gevalle, selfs selfone te gebruik.

Lughawens en gerieflikheidswinkels verkoop dié kaarte, wat relatiewe goedkoop internasionale tariewe bied. Jy kan ook ‘n internasional belkaart in Suid-Afrika koop. 

Sit af jou datadienste!

Die eenvoudigste, veiligste en goedkoopste opsie is om alle datadienste af te skakel voor jy oorsee gaan.

Selfs al gebruik jy nie bewustelik data nie, kan toepassings op die agtergrond data gebruik om  opdaterings te doen, of `n verbinding te probeer bewerkstellig.

Meer inligting oor diensverskaffers se “roaming” dienste: 

Cell C
Vodacom
MTN

 

[BRON: www.about.com en www.moneyweb.co.za]

 

YouTube skielik gratis?

Vrydag, November 1st, 2013

 

Indien jy die afgelope week YouTube besoek het – of dit nou om akademiese redes was of vir jou weeklikse video-fix, sou jy opgemerk het Inetkey nie noodwendig nodig was nie. En jou observasie sou heeltemal reg wees.

Goeie nuus, maar daar is ‘n stertjie aan die storie. Kom ons verduidelik eers hoekom dit skielik so is. 

Universiteit Stellenbosch se internet word herlei deur Tenet (The Tertiary Education and Research network), ‘n netwerk met die doel om die beste moontlike infrastruktuur aan akademiese instansies te verskaf. Derhalwe is Tenet se bediener oop vir US-personeel en kan toegang gratis, sonder Inetkey, verkry word. 

Maar wat het YouTube hiermee te doen? Tenet huisves ook die afgelope tyd ‘n weergawe van YouTube in sy kasgeheue, sodat gebruikers makliker en vinniger toegang kan kry.

Om te bepaal watter netwerk gebruik moet word vir ‘n versoek en die kortste pad waarheen verkeer herlei moet word, te bepaal, gebruik Google algoritmes, of te wel geo-tagging. In ons geval besluit Google om jou YouTube-versoek eerder na Tenet te wys in plaas van na hulle oorsese bedieners.

`n Risiko bestaan wel dat, indien Google besluit om ‘n ander cache te gebruik vir beter netwerkkapasiteit, die gratis inhoud kan terugverander na betaal-inhoud. 

Let wel, ALLE YouTube videos is nie outomaties deel van die kasgeheue nie – Tenet bêre die data volgens aanvraag. Om te verseker jy betaal nie, hou jou Inetkey gesluit wanneer jy YouTube besoek.

Tot tyd en wyl Google sy roete verander kan jy gratis op YouTube rondspeel. Onthou net om jou Inetkey toe te maak, anders kan jy ‘n lelike verrassing aan die einde van die maand kry.

 

Is jy oorsee en het ons nodig?

Vrydag, Oktober 18th, 2013

`n Paar jaar gelede kon jy ons net bel of e-pos stuur, toe kon jy ons blog lees en tweets volg.

Nou kan jy selfs op ons nommer druk as jy oorsee is en sukkel met `n rekenaarverwante probleem.

Spaar jouself die buitensporige internasionale oproepkostes en kom kuier vir ons op Skype deur te soek na helpinfo@sun.ac.za of die gebruikersnaamitstellenuni.

Goeie nuus vir Telkom-kliënte

Vrydag, Oktober 4th, 2013

Telkom is bekend daarvoor dat hulle nie altyd die beste publisiteit kry nie – of dit nou gegrond is of nie. Ons almal ken die spottende verwysing na “Hellkom”. Maar die afgelope maand poog dié telekommunikasie-maatskappy om weer in ADSL-gebruikers se goeie boekies te kom.

Die eerste aanduiding hiervan is die aankondiging op 20 September dat die spoed van alle ADSL-pakkette, teen geen ekstra koste verhoog sal word. Vanaf November sal Telkom begin om die spoed van kliënte wat 1Mbps gebruik, op te gradeer na 2Mbps, die 2Mbps na 4Mbps en 4Mbps na 10Mbps. Voortaan sal die ‘Tot 4 096/10 240 kbps’ pakket verdeel word in twee kategorieë, ‘Tot 4 096 kbps’ en ‘Tot 10 240 kbps’.

Volgens Casper Kondo Chihaka, Telkom se Uitvoerende direkteur van groothandel, sal die opgradering aan kliënte die geleentheid bied om ‘n vinniger spoed te bereik, afhangende van die bestaande netwerktoestande. 

Buiten hierdie ADSL-meevallertjie, het die maatskappy ook aangekondig dat Telkom internet-intekenare vir `n beperkte tydperk onbeperkte data sal ontvang vir sekere multimedia- en speletjiedienste. Die twee Telkomdienste wat ter sprake is, is Do Movies en Do Gaming. Wanneer Telkom internetgebruikers hierdie dienste gebruik, sal data nie van die maandelikse kwota data afgetrek word nie.

Die Do Movies promosie bied onbeperkte data vanaf 1 Oktober tot 31 Maart vir DStv Catch Up onlineDStv BoxOffice online, Apple TV deur middel van iTunes en die Samsung Video Hub.

Die Do Gaming opsie bied onbeperkte data op speletjie-platforms en bedieners vanaf 4 Oktober vir 30 dae vandat die diens geaktiveer is. Die “gratis data” platforms sluit die PlayStation Network, Xbox Live, Battle.net, Steam, Origin en die Do Gaming bedieners in.

Alle data wat op hierdie platforms gebruik word, hetsy dit vir aanlyn speletjies, die aflaai van `n speletjie of programveranderings is, sal nie afgetrek word van kliënte se normale datagebruik nie. Indien jy na die 30 gratis dae wil aanhou om die Do Gaming diens te gebruik, kan jy dit aankoop teen R49 per maand. 

[BRON: www.mybroadband.co.za]

Bits & Bytes amptelik op die lug

Vrydag, September 20th, 2013

`n Maand gelede het ons julle met trots ingelig dat daar voortaan `n spesiale IT-segment elke tweede Dinsdag op MFM uitgesaai sal word. (Lees die berig hier.)

Die radio-weergawe van Bits & Bytes het die afgelope week sy tweede suksesvolle uitsending gehad en die terugvoer het ons verwagtinge oortref. Met elke insetsel probeer ons om `n kombinasie van relevante nuus vir studente en personeel, sowel as interessante verwikkelinge op die tegnologiese front op `n informele trant aan luisteraars oor te dra.

Dié week se onderwerpe het e-pos storms, `n nuwe “slim”-horlosie wat eendag selfone se rol mag oorneem, ons nuutste opname en nuus oor die splinternuwe IT-Studentesentrum wat in Januarie bekendgestel word, in. 

Ons besef egter dat almal nie toegang het om daarna te luister nie en het dus die fasiliteit geskep waar jy, nadat dit uitgesaai is, steeds aanlyn na die uitsendings kan luister. Al wat jy hoef te doen is om na www.sun.ac.za/bb te gaan waar daar `n lys van alle vorige nuusbriewe is, maar ook alle vorige radio-uitsendings. Kliek bloot op die mp3-skakel.

Die insetsels word binne die us-netwerk gehuisves, dus gaan dit nie jou internetkoste opvreet nie – jy kan met `n geruste hart luister.

As jy wel die regstreekse uitsending wil hoor, skakel gerus elke tweede Dinsdag om 11:45 op die AM to PM Show op MFM saam met Ella, Eduard en ons eie Tian in.

Jy is ook welkom om kommentaar en vrae in daardie tydsgleuf via Twitter aan ons te stuur en indien daar geleentheid is, sal Tian dit op die lug beantwoord. Tweet ons by @ITStellenUni!

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.