Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Algemeen

IT Mobiliteitsopname lewer interessante resultate

Dinsdag, Oktober 2nd, 2012

In September het die Afdeling Informasietegnologie se Mobiele Tegnologie Taakgroep, wat lede van die Sentrum vir Leer en Onderrig, Biblioteek- en Inligtingsdienste en e-Kommunikasie insluit, `n kort aanlyn opname oor selfone en tablette geloods om studente se huidige en toekomstige behoeftes te bepaal.

Die hoofdoel van hierdie opname was om te verseker dat Universiteit Stellenbosch in staat is om tendense in studente se keuse van mobiele toestelle te volg om te verseker dat relevante en ooreenstemende dienste in die toekoms uitgerol kan word.

Ons almal weet dat studente hou van cool selfoontoepassings, maar ons weet ook dat die meeste studente nie die nuuste topvlak Apple of Android toestelle het nie – wel, nog nie. Ons moet kan verstaan hoe vinnig die prentjie verander sodat ons kan sekermaak dat mobiele toestelle en toepassings wat `n daadwerklike verskil in studente se akademiese loopbaan en kampuslewe betyds geimplementeer word.

Die elektroniese opname is gestuur na 25817 voor- en nagraadse studente en 13%  het deelgeneem. Resultate sal in  `n algehele en statistieke opsomming gebruik word om die universiteit se mobiele strategie te bepaal. Te danke aan die opname, het ons afgekom op `n hele paar interessante feite oor mobiele gebruik en die verwagtinge van studente.

Die meeste studente kies hulle selfoon op grond van koste-effektiewe kommunikasie met vriende en familie en nie noodwendig as `n statussimbool of vir die foon se funksionaliteit nie. Dit wil wel voorkom asof daar oor die volgende paar jaar `n beduidende skuif weg gaan wees van Blackberrys na Android en iOS (Apple), alhoewel Blackberrys steeds populêr op kampus is.

Meer as die helfte van deelnemers aan die opname sal dit verkies as die universiteit spesifieke tablette vir akademiese gebruik voorstel.  Die belangrikste mobiele toepassings, in volgorde van belangrikheid, is eksamenresultate, eksamen- en klasskedules, inligting vir take, kalenders (klas, modules, akademies, sport, ens. ) en leerinhoud.

Deelname aan die opname was anoniem en antwoorde is nie gekoppel aan `n spesfieke individu nie. Een deelnemer was egter die gelukkige wenner van `n  R1500 Incredible Connection geskenkbewys. Dankie aan alle deelnemende studente vir hul waardevolle insette.

`n Soortgelyke opname sal oor ses maande weer gehou word.

Tablet vir jou?

Vrydag, September 28th, 2012

As jy altyd aan die gang is, maar nogsteeds `n manier wil hê waarmee  jy op hoogte wil bly van wat aangaan in die wêreld en met jou vriende en familie, kan jy dit dalk oorweeg om vir jou `n tablet aan te skaf. Hierdie toestel is maklik om te gebruik en lig genoeg om saam met jou te sleep – of jy nou reis na Arniston of Abu Dhabi!

`n Tablet het normaalweg `n  raakskerm koppelvlak wat dit maklik maak om te gebruik en meer toeganklik vanweë die eenvoud. Die toestel het nie `n sleutelbord nie en is derhalwe ligter en dunner as `n gewone skootrekenaar.

Waarvoor kan ek dit gebruik?

Dis jou keuse waarvoor jy jou tablet wil gebruik, maar die toestel is hoofsaaklik meer gemik  op vermaaklikheid, soos internet, e-pos, speletjies, sosiale media, videos, e-boeke en fotos.

Jy kan dit egter gebruik vir basiese werksdoeleindes – veral as dit kom by kommunikasie. Met hierdie mobiele toestel het jy, waar jy ookal gaan, toegang tot jou e-pos, kan jy dokumente oplaai, toepassings aflaai, dokumente skep en verander, powerpoint aanbiedings opstel en sigblaaie aanpas.

Onthou dat `n tablet nie bedoel is om rekenaars of skootrekenaars te vervang nie. Tablette het stadiger verwerkers, minder geheue en kleiner stoorspasie. As jy dus gereeld programme, soos grafiese of video-redigeringsprogramme, gebruik wat `n sterk verwerker nodig het, hou maar by jou skootrekenaar.

Watter een?

Die mark vir tablette brei amper daagliks uit met nuwe produkte en nuwe weergawes. Elkeen bied iets anders en nuut, maar voordat jy `n keuse maak, besluit eers wat jou IT-behoeftes is. As jy `n vergelyking soek tussen die verskillende opsies, lees gerus hier meer.

Meer oor tabletrekenaars op Wikipedia.

US netwerk opgradering verbeter samewerking

Donderdag, September 27th, 2012

Universiteit van Stellenbosch se IT infrastruktuur is onlangs op `n groot skaal opgegradeer en plaas dié universiteit op gelyke vlak met ander hoër opvoedingsinstansies. Te danke aan die opgradering het studente, navorsers en akademici beter toegang tot die universiteit se sentrale netwerk.

Lees die res van die artikel op IT Online. (slegs beskikbaar in Engels)

Spam – meer as net `n blikkie vleis

Vrydag, September 14th, 2012

Gemorspos, of te wel “spam”, is wanneer identiese, meestal steurende,  boodskappe na `n groot hoeveelheid e-pos- of selfoongebruikers gestuur word. As `n ontvanger kliek op een van die skakels in die boodskap, word hulle herlei na strikroof webwerwe of webwerwe wat “malware” huisves. “Spam” e-posse kan ook versteekte “malware” skripte bevat. Die teenoorgestelde van “spam” – met ander woorde e-posse wat jy WIL ontvang, word natuurlik “ham” genoem. (ja regtig)  

Die eintlike oorsprong van die woord “spam” hou verband net die oorspronklike, geprosesseerde variasie en ons het die obskure Britse groep komediante van Monty Python om te blameer daarvoor. In die 1970 skets sing-praat `n groep Vikings die woord “spam” so onophoudelik in `n restaurant dat niemand anders kan praat nie. Kliek hier as jy die oorspronklike Monty Python skets wil sien waar die woord “spam” 132 keer gebruik word in 3 en `n half minute!

Selfs Google vind die woord interessant. Die maatskappy het op `n stadium `n verrassing versteek vir hulle gmail-gebruikers. As jy jou se “spam” leêr sou oopmaak, het dit omgeskakel na `n webinsetsel met `n verskeidenheid resepte vir regte spam. Onder andere resepte vir “Spam Primavera”, “Spam Swiss Pie”, “Creamy Spam Broccoli Casserole” en “Spam Veggie Pita Pockets”. Die eerste gemorspos is reeds op 3 Mei 1978 gestuur om `n nuwe rekenaarstelsel te adverteer. Dis gestuur vir 600 gebruikers van ARPANET en al 600 adresse is met die hand ingetik vanaf `n uitgedrukte dokument. Jy kan die e-pos hier lees.

Vanaf Augustus 2010 word daar geskat dat daagliks ongeveer 200 biljoen gemorspos boodskappe gestuur word.  Gelukkig gebruik ons op kampus redelike streng gemorspos filters om groot hoeveelheide onnodige e-posse uit ons posbusse te hou. As jy egter nogsteeds te veel kry na jou sin, gaan lees gerus hier. As dit jou enigsins beter laat voel – volgens Steve Ballmer, CEO van Microsoft, kry Bill Gates vier miljoen e-posse per jaar, waarvan die meeste gemorspos is.

SOURCES: http://blog.emailaddressmanager.comhttp://mashable.com & www.wikipedia.org

Soek jy `n eenvoudiger manier om toegangbeheerde massa e-posse te stuur?

Vrydag, September 14th, 2012

As jy die verantwoordelike persoon in jou departement vir die uitstuur van inligting aan ander personeellede of studente is, het jy waarskynlik al gewens daar is `n beter manier om die hele proses te vergemaklik.

Wel, daar is en die stelsel se naam is Sympa (Systeme de Multi-Postage Automatique (i.e. Automatic Mailing System)). Sympa is perfek vir die uitstuur en administrasie van massa e-posse, baie eenvoudig om te gebruik en kan selfs “mail merging” hanteer indien nodig.

Indien jy tot dusver Outlook gebruik het om e-posse te stuur aan groot groepe mense, het jy dalk al agtergekom dat daar `n beperking is op die aantal adresse waarheen jy kan stuur, naamlik 120. Sympa laat jou toe om aan `n onbeperkte hoeveelheid adresse te stuur. Jy kan ook verskeie lyste skep en die naam van die lys aanpas om meer beskrywend te wees. Onthou net, die naam van die lys is ook die e-pos adres waarvan jou e-pos gestuur gaan word, kies dus mooi!

Om `n sympa-lys te skep, kan jy dit self doen deur na http://sympa.sun.ac.za te gaan en te kliek op die “create list” oortjie. Onthou om al die velde op die vorm in te vul.

Alternatiewelik, as dit vir jou te oorweldigend lyk, kan jy ook `n versoek aan ons dienstoonbank stuur by help@sun.ac.za. met die volgende inligting:

1.            Wie is die eienaar en verantwoordelike persoon vir die lys?

2.            Wie mag stuur na die verspreidingslys?

3.            Moet dit sigbaar of versteek wees in die Global Address List?

4.            Vervaldatum van die lys?

5.            Wie moet lede wees van die lys (volledige gebruikersname in xls/xlsx formaat)

6.            Wie vra die verspreidingslys aan?

7.            Wie mag die verspreidingslys aanpas? (byvoorbeeld nuwe lede byvoeg, ens.)

En voor jy kan sê “Sympa!”, sal jy na hartelus e-posse kan uitstuur. Meer inligting oor Sympa – http://en.wikipedia.org/wiki/Sympa

BRON: Pablo Korkie en Johan Loubser, IT

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.