Die Regshulpkliniek open deure in Worcester

Op 20 Maart 2013 het die Regshulpkliniek van die Universiteit van Stellenbosch ‘n kantoor in die Mediese Fakulteit van dié Universiteit se Ukwanda-Gesondheidsentrum te Worcester geopen.

Die Regshulpkliniek se doel met die opening van ’n kantoor in Worcester is om behoeftige persone van die platteland toegang te bied tot kwaliteitregsdienste. Aanvanklik sal prokureurs van die Stellenbosch-kampuskliniek slegs een keer per maand dienste aanbied, maar ’n spoedige uitbreiding van die diens word beoog, afhangend van belangstelling en die beskikbaarheid van die nodige befondsing.

“Aan die begin sal die Regshulpkliniek slegs fokus op regshulp ten opsigte van egskeidings, kinderregte en plaasuitsettings, maar ons regsdienslewering op Worcester kan mettertyd uitbrei indien ons daarin slaag om standhoudende befondsing vir die projek te kan kry”, het die Direkteur van die Regshulpkliniek, mnr Kruger van der Walt, verduidelik.

Om vir regshulp te kwalifiseer, sal persone ’n middeletoets moet aflê, aangesien toegang tot gratis regsdienste slegs beskikbaar is aan persone met ’n lae inkomste wat nie privaatprokureurs kan bekostig nie.

Sorry, comments are closed for this post.