
Hennie Erasmus was born on 10 January 1935 in Ladysmith, Natal. He is survived by his wife, Maureen, and three children.
_________
Dit is met groot leedwese dat die Regsfakulteit verneem het van die heengaan van navorsingsgenoot, emeritus professor en afgetrede regter H J Erasmus op Sondag, 15 Mei 2016. Na hy die pos beklee het as Professor in Latyn aan die Universiteit van Oranje-Vrystaat, Professor in Klassieke Studies aan die Universiteit van Port Elizabeth en Professor in die Regsgeleerdheid aan UNISA het ‘Hennie’ (soos daar met deernis na hom verwys is) in 1976 by die Stellenbosse Regsfakulteit as professor aangesluit. Hy het die Fakulteit vir bykans twee dekades met onderskeiding gedien, onder andere as dekaan, tot sy aftrede in 1995. Hennie Erasmus was op sy dag die onbetwiste leier op die gebied van die siviele prosesreg. Hy was outeur van standaardwerke soos Jones and Buckle – The Civil Practice of the Magistrates’ Courts in South Africa en Erasmus – Superior Court Practice, en het tot regshervorming bygedra deur die opstel van invloedryke verslae en betrokkenheid by die Reëlsraad. Na sy aftrede het sy formidabele talente as juris verdere erkenning geniet deur ‘n aanstelling as regter aan die Kaapse Hooggeregshof (hy was geen vriend van die benaming ‘Hoë Hof’ nie), waar hy gerespekteer is vir sy wysheid, saggeaardheid en gesonde oordeel. Na sy aftrede as regter het Hennie Erasmus opnuut bande met die Fakulteit gesmee, deur aanstellings te aanvaar as buitengewone professor en navorsingsgenoot in die Departement Privaatreg. Dit het hom in staat gestel om sy belangstelling in regsgeskiedenis, en veral die vroeë geskiedenis van regspleging in Suid-Afrika, te hernu. Hierdie onderwerpe het hy bly navors tot sy skielike heengaan. Hennie Erasmus het die waardes van kollegialiteit, beskeidenheid en uitnemendheid vergestalt. Ons sal hom baie mis.
Hennie Erasmus was gebore op 10 Januarie 1935 in Ladysmith, Natal. Hy word oorleef deur sy eggenote, Maureen, en drie kinders.
_______________