Die stigting van die BTK

Die Bergklim en Toerklub is ‘n natuurlike voortsetting van ‘n Bergklub wat vroeg in hierdie eeu doodgeloop het en ‘n Natural History and Geography Society wat ook nie ‘n hoë ouderdom bereik het nie. Die Klub het egter gegroei uit ‘n wesenlike behoefte wat in die Stellenbosse studentesamelewing in die laaste tyd gevoel is. Wat is die toestand tot hiertoe? Studente kom op Stellenbosch en na ‘n driejarige verblyf gaan hulle van hier weg sonder dat hulle éénmaal ‘n uitstappie in die pragtige natuurskoon om ons heen gemaak het. In die kort vakansies bly meer en meer studente op Stellenbosch omdat daar nie ‘n doelmatige organisasie is wat hulle vakansies kan help reël nie. Op aandrang van sulke leemtes in ons samelewing is dan die besluit geneem om ‘n doelmatige organisasie in die lewe te roep om die deelneem aan leertogte en toere moontlik te maak, en meer aan te moedig. Bergklim en toerlewe tel onder die aangenaamste geestelike en liggaamlike uitspanningswyses vir die student. Hoe kan ons liefde hê vir ons land as ons nie nader aan ons natuur kom nie en kennis van die skoonheid wat ons omring het nie!

Die ideaal van die klub is om mense te bemoedig en te help om ‘n ruimer gees te ontwikkel deur aanraking met die onbeperkte weelde en rykdom van die natuur.

‘n Heerlike idee by die eerste voorsitter. Terwyl hy in die trein sit, die berge om Stellenbosch bewonder kry hy die gevoel van vryheid in die blou van die berge. Dit was die inspirasie om allerhande besprekinge in dié rigting aktueel te maak deur die stigting van die klub aan te pak. Met twee ander persone is toe die saak saam breër uitgewerk en op Maandag, 4 Junie 1928 besluit ‘n groep van sowat vyftig belangstellendes wat op grond van kennisgewinge oor die voorgenome stigting saamgekom het, dat ons so ‘n klub sal stig.

Dr Wilcocks wat sy instemming met die stigting betuig het, maar nie aanwesig kon wees nie, word as kaptein gekies met die volgende as ‘n bestuur om sake te reël:

Mnr J Driescher, B.A. voorsitter van die algemene vergaderings en vise-kaptein.
Sekretaris: Mnr H J Piek B.A.
Tesourier: Mnr D J de Vos B.A.
Sketsskrywer: P W Botha B.A. (later vervang deur mnr J J de Moker B.A.)
Assistent Sketsskrywer: Mnr J S Klopper B.A.
Padsoeker: Mnr Van Niekerk (later dr A V Krige van die H J Skool Stellenbosch)
Addisionele lid: Mej S Murray (later mej F Gonin)

Met ywer is die opstel van ‘n konstitusie aangepak en vroeg in die tweede semester is ‘n konstitusie aangeneem en name opgeneem ter getalle van 170 as die eerste lidmate van die klub.

Nou het hier ‘n idee verwesenlik geword. Ons heilwens vir die Klub is: Mag hy lank lewe, hierdie boek sy ‘n getuie van sy lewenskrag en bloei!

J S Klopper

Leave a Reply