Ten spyte van hoë-hak skoene, lang witbroeke, boordjies en dasse; ten spyte van die koue snywindjie op die lorries in die vroeë oggend en van die groot meerderheid van besoekers onder ons geledere, heers daar uit die staanspoor ’n eg BTK- “spirit”.
Met ’n flinke pas stap ons tot by die brug, waar die skape en bokke van mekaar skei – die skape na die watervalle en die bokke na die Pieke.
Mnr Coertze is op die voorpunt en soos ’n lang ry ganse volg ons hom na die Platklip. Die Houtdraers tel hout op al gaande en as die laaste paar opdaag is die koffie al amper klaar. Nie te lank of ons smul heerlik aan ons oggendete, sing en lag dat dit klink in die kloof.
Maar ons moet weer verder – die Pieke lê nog voor. Nie een wil omdraai as mnr Coertze met swaarkry stories begin. Singend en klimmend gaan ons opwaarts. ’n Dik mis kom die berg af. Sommige handjies klou vaster as die afgrond vaal word en sommige hartjies begin moed verloor. As ons eindelik die nekkie oor is begin druppeltjies val. Die hele wêreld is oordek met ’n vaal sluier so ver ons kon sien.
Ons besluit om dus reguit deur te steek tot in Nerina-Kloof. Maar eers moes ons die pad verloor in die digte mis. En toe ons gids dit weer kry, is ’n halfuur verlore.
In Nerina-kloof gaan dit net haastig want dit reën nou kliphard en dit al ’n bietjie laat. Ons kook die water oor ’n varing-vuurtjie. Die warm koffie gee weer moed, alhoewel dit nie klere droogmaak nie!
Net gou-gou is ons weer aan beweeg, en daar trek die lang streep nat hoenders langs die hellings af. Die reën slaan in venynige vlae neer en die wind dryf die koue klere teen die lyf vas.
Dis hier waar die ou gevierde BT-Kaners hul kleure wys: hulle sing, raas en korswil en doen alles in hulle vermoë om die mistroostige besoekstertjies op te beur. Van die plaas is ons met ’n oop lorrie terug na die Eikestad.
Ons besoekers het lief en leed saam met ons deurgemaak. Maar helaas, vir sommige was daar meer leed as lief. Toemaar hulle sal nog regkom!
Sketsskrywer
S Malan