As ek vannaand terugdink aan die kamp, dan vergeet ek al die baie bogpraatjies, al die baie spontane opwellings van gedagtetjies (wat ek soms nogal nie anders as uitgesproke geestig kon bestempel nie), al die heerlike en eerlike pogings om te lag (sommige het geslaag, ander nie), al die baie kleingeweervuur en aanvallery, en al die aanvallighede, die enkele bestrawwing en die ongetelde vermanings aan die nie-kwaad-bedoelende komiteetjieslede – alles vergeet ek, want ek wil vanaand nie meer lag nie, ek kan nie vanaand so lag soos gisteraand nie.