Die Ligter sy van Studentelewe 1934

Honderde jongmense, mans en meisies, wag nou net die eksamenuitslae af om oor hul toekoms te besluit, en van hulle is talle nou al besig om voorbereidings te tref om een van die dae na ’n universiteit te gaan vir verdere studie.

Studentejare! Watter heerlike drome weef dié wat daarna uitsien nie om daardie vooruitsig nie! Hulle sien daarna uit as ’n groot avontuur; dit sal nie net klasse en boeke beteken nie, maar vriendskappe en vrolikheid, hier en daar met so ’n bietjie kommer gemeng.

Die studie self bly natuurlik die belangrikste, maar by verre nie die enigste nuttige iets wat die universiteitsjare hul gaan bied nie. Daardie jare wat die jongmans en meisies aan die universiteit deurbring gaan ook vir hulle ’n voorbereiding wees vir die later jare wanneer hulle op eie bene moet staan. En dis in hierdie sy van die studentelewe dat die verenigings so ’n groot rol speel, en dis hierin dat op elke opvoedingsentrum ’n goeie voorsorg gemaak word. Daar is debatsverenigings, sportklubs, wetenskaplike verenigings, vak-verenigings, lees- en studiekringe, afsonderlike taalverenigings, toneelverenigings en nog ’n aantal ander om van te kies en te keur, ’n verskeidenheid oorkomstig met dié wat bestaan in die aanleg, temperament, belange en doelnastrewinge van die verskillende indiwidue wat die groot studentemassa uitmaak.

Wanneer die student vir die eerste keer na die universiteit kom en so ’n bietjie sy weg gevind het, soek hy self die klubs of verenigings uit waaraan hy graag wil behoort, en dis dan interessant om gade te slaan hoe die groepie jongmense met die ledetal van een of ander vereniging uitmaak, dikwels dieselfde belange met mekaar deel en dieselfde doel nastreef.

Van ’n unieke aard is die verenigingslewe wat die Berg- en Toerklub op Stellenbosch aan sy lede bied. Soos die naam van hierdie klub, wat in 1928 gestig is, aandui, is die bedrywighede tweërlei van aard – die lede klim berg en toer deur die velde, en almal wat behoefte het aan gesellige verkeer in die buitelug, aan gesonde oefening, aan die versadiging van ’n voortdrywende “wanderlust” en ’n dorstende skoonheids- en vryheidssin, sluit daarby aan en geniet van die voordele wat die klub bied.
Die uitstappies vind plaas op Saterdae of openbare vakansiedae, gewoonlik na die omliggende berge en klowe in die distrik van die Eikestad, en af en toe ook ’n bietjie verder. Die leiding word opgedra aan ’n bekwame bergklimmer wat weet hoe om ’n doeltreffende pas aan te gee sodat niemand hoef agter te bly om homself te ooreis nie. Om geleentheid te gee vir meer gevorderde en gereelder bergklim, en ook om nuwe streke en roetes te ontgin, is daar die sogenaamde gidsuitstappies wat elke Saterdag plaasvind onder leiding van een of ander bergnavorsende klublid.

Die staptoere vind plaas gedurende die kort vakansies en los menige student wat ver van die huis is, se vakansie-vraagstuk op. Die toerroete lê dan gewoonlik langs een of ander uitgesogte streek van ons mooi Westelike Provinsie of pragtige kusstreke, en die studente, te midde van al die skoonheid, vergeet vir ’n dag of ag hul hul boeke, om net te geniet van die natuur en die vryheid van die veldlewe. Natuurlik vergesel ’n vragmotor of ander paktuig altyd die toeriste om eetware, tente, ensovoorts, te vervoer en blaarvoetiges so af en toe ’n skoffie te bespaar.

Lê die toerroete vêr van Stellenbosch, word die eerste deel van die reis per trein afgelê, en die vrolike klompie in die spoorwegwa maak gou maats met mekaar, en voordat hulle werklik die staptoer begin is hulle al “een van die hart en een van sin” en gereed om die lief en leed van die toer saam te aanvaar in die allerbeste gesindheid.
Al singende val hulle in tred op die pad en klink die stemme in die veld:

“ Wie kan dan dink om nou te boer
in droë, muwwe boeke?
Die lewe is maar in die veld
Waar alles vry is, alles wild!
Laat ander anders dink.
Die hardste grond is ons gemak,
Die grofste spys ons koningsmaal,
Die guurste weer gee ons plesier.
Ons kan sing, ons kan lag, ons kan leef.”

Niemand vind die gereelde dagskof te vermoeiend nie omdat die rustyd en ligte maal in die middel van die dag toereikend is vir verfrissing en aansporing tot die tweede skoffie.
Aangeland op die vernagplek duur dit nie lank na ’n verkoeling in ’n waterstroompie of swemgat eerdat daar weer groot bedrywigheid in die kamp heers nie: die walaaiers laai af, die tentkomitee slaan tente op, die houthakkers dra hout aan, die groenteskillers sit gesellig op die gras en skil en skil, want die gemeenskap beroem hulself op groot aptyte, en honger hoef niemand te gaan slaap nie. Dis feitlik net die broodsnyers en papkokers wat vanaand vry is om te terg en te pla waar hulle wil.

En na die ete die kampvuur! Die hele vriendekring vergader om die kolegloed; ’n verwante gloed; ’n verwante gloed in studenteharte vind uiting in die liedere wat spoedig teen die bergrand weergalm, want dis ’n singende gemeenskap hierdie: hul sing op die berge, in die klowe, op stowwerige paaie en vroeg smôrens met die haangekraai vervang ’n strelende serenade dikwels die skelle klank van die opstaanfluitjie. Die lede is trots op ’n aantal liedjies wat deur hulle self gemaak is, en so uitgebreid is die repertoire dat die bestuur in September van verlede jaar uitvoering gegee het aan die idee om sommige van die mooiste en bekenste liedjies saam te vat in ’n bundeltjie wat gedruk en onder die lede versprei is.

Die kampvuur-program omvat egter meer as gesamentlike sang: daar is resitasies, toneelopevoerings, oorspronklike streke, geestige hekeling – en almal neem deel aan die pret om die vuur.

Bloesend van gesondheid, met bruingebrande gesigte en arms, keer die lede met rugsak en met wandelstok na die heerlike buitelewe weer terug na hul universiteitsdorp, en as die laaste skoffie afgelê word hoor ’n mens nog die bekoorlike wysie: “Ons kan sing, ons kan lag, ons kan leef!”

Sketsskrywer
Onbekend

Leave a Reply