Knysna April 1935

18 – 27 April 1935

Donderdagmiddag, 18 April was Stellenbosch stasie weer ‘n toneel om jou oor te verbaas: Sewe-en-sestig reisvaardiges babbel en raas en lag, spog met nuwe rooi nekdoeke, soek na rugsakke en spring rond van ongeduld.

Eindelik kom die trein!

Nadat ons eindelik veilig tot rus gekom het in die trein wat ons Knysna toe sou neem het die huisbesoek begin. Dokter kuier so die gang af en bring dr Jurgens ook saam en so stadigaan leer ons mekaar ken. Die rooidoekies help ons ook nog baie.

By George het almal wat nog nie rooi nekdoeke gehad het nie gesorg dat hulle kry en toe eers het hul ware Knysna-toeriste gevoel. Toe ons deur Knysna stap het ons na ‘n ware “doing company” gelyk.

Aan die anderkant van die dorp het ons by ons kampplek aangekom. Ons het ‘n pragtige gesig oor die lagoon gehad verder uit oor die Knysna Heads tot in die see.

Veral die volgende oggend vroeg moes ons almal stilstaan en kyk na die sagte môrelig wat ligvlakke op die gladde water gegooi het waarin huisies weerkaats gestaan het en waaroor twee hoë bome wag gehou het.

Die eerste kampvuur het gesellig afgeloop buiten dat die Duiwelsvlerke hoewel nog nie gestig nie reeds sy duiwelswerke begin het en ses meisietjies wat ‘n item moes lewer probeer “pip” het. Gelukkig het hulle dit nie reg gekry nie.

Die aand is dr Jurgens en Frans Geldenhuys as dirigente vir die toer gekies.

Die volgende dag het die vrolike tog na Noetzi begin. Ons was daar almal op verlief en meer as een het besluit om hul wittebroodsdae daar deur te bring. Die meisies was so lus om te swem dat hulle maar die golwe vir hul laat vang het en die onwillige meesters ook saamgesleep het. Na die ete het die tog oor die heuwels na die Heads begin. Daar was nie veel van ‘n voetpad om te volg nie en met kronkels het die safari met hul rooi doekie oor die groen heuwels getrek.

By ‘n kloof aangekom kan ons nie deur nie, dit is dig bewoud en ons moes mooitjies ‘n pad bo-oor soek. Nou het ons die ding begin geniet. Mens kon duidelik die punte sien wat een na die ander uitsteek in die see tot eindelik in die verte die laaste lang punt van die Heads.

Toe ons by ons kampplek kom wat die tentekomitee onder oom Koerasie se bekwame leiding besig om ons tente onder die bome langs die lagoon op te slaan. Hier sou ons ‘n avontuurlike naweek deurbring. Ons het mekaar al taamlik goed geken veral die Pluimvee wat hul op Riversdal so opmerklik gemaak het. Hier het die Valkenburg tent met hul enige verstandige Johanna hul onderskei; hier het hulle die nodige maar ondoeltreffende “sileweer” gekry; hier ook het hulle vir ‘n liefhebbende “vader” aangeskaf. Hier het die duiwelsvlerk hul naam offisieël aangeneem en hul werksaamhede openbaar begin.

Sondag was ‘n heerlike rustige dag vol genot en grappe. Swem en roei was aan die orde van die dag. Die reusagtige golwe wat teen hoë puntgeslaande rotse dreun en die branders wat saggies in die water van die lagoon verdwyn sal ons nooit vergeet nie.

Sondagmiddag het dit reeds effentjies begin reën en alle voorbereidings vir sterk reën is gemaak, die weer was darem nog genadig en het ons die mooiste kampvuur van ons toer gegun.

Onder die donker bome het die helder warm gloed opgevlam en die vaste ry toeriste-gesigte om die kring verlig. Die koue nat naglug was daar buite, in ons kring was net lig, vlammende tonge van vuur en skaduwee gewissel en nou hier nou daar gooi. Toe was dit ook dat ons mekaar beste geken het, en dat ons beelde in die vlamme kon lees.

Tog was onderdrukte opgewondenheid, wat later blyk ‘n skerpioen te wees wat vir oom Koerasie lief gekry het. Die nag was die skerpioen die oorsaak van groot opskudding. Danie het ‘n “droomskerpioen” gesien en die res van die Holrytent se inwoners so die skrik op die lyf geja dat die kamp se helde toegesnel het en dr Eiselen glad Duits gepraat het. Die nag moes Moos net besig bly met slote grawe veral om die Valkenburg tent.

Die volgende oggend met ontbyt het dit effens opgeklaar en het ons besluit om maar aan te stap na die spoor waar ons die bostreintjie sou kry (natuulik goed gewapen met reënjasse en seiltjies en mussies!).

Vrolik het ons hoog en droog in die trokkies gesit en sing. Dr Jurgens was veral op sy stukke en was baie kreatief. Danie se droom oor tog op die treintjie en die duiwelsvlerk se streke is alles daar beëdig en hersien. So tussendeur begin dit reën en jy sien net nat mensies onder die seiltjies uitsteek. Later het meeste toeriste die toevlug geneem na die “van” wat onderdak was. By Braskahil het ons ‘n kwartier versuim, in plaas van die tradisionele vrylekkers is ons op gekleurde suikerlekkers, ‘n spesialiteit van die bosse getrakteer. Hier het ons maar gespring onder ‘n afdak om warm te word. Daarna is ons weer verder na Diepwalle waar ons net tyd had om ons middagete te hê en die wonderlike groot geelhoutboom te gaan kyk.

Weens die reën het ons weer die aand by die Heads gekamp. Ons kon nie kampvuur hou nie maar het onder die groot seil wat oor die twee lorries gespan was vergader en beter gesing as nog ooit. Mej Jooste het ons veral vermaak met die aksies by die nuwe liedjie “Ik kan spele”.

Die volgende dag het ons uit Knysna met die spoor gestap tot by Belvedere waar ons die klein Duitse kerkie gaan kyk het. Die middag het ons naby ‘n helder rivier geëet. By die tyd is die kore net hard aan oefen. Nou bly hier ‘n groepie agter en dan daar.

Dinsdagaand het ons by Karrawater gekamp. Mnr Robertson het ons wild persent gegee wat ons baie geniet het en om die menu vol te maak het Gerard glo ‘n haai gevang sodat ons die volgende oggend soveel vis geëet het dat ons seker ‘n oorvloed van brein ontwikkel het.

Die volgende oggend het ons gestap en gestap maar al ons moeg was weer weg toe ons hoor dat dit 15 myl was. Dit het selfs die hoipoloi so inspireer dat hulle somar begin oefen het.

Dié middag het ons ‘n baie mooi kortpad af Wildernis toe gestap, sodat ons ‘n goeie gesig van die koppie af op die “Serpentine” gekry het en net bokant “Fairy Knowe” afgekom het.

Die aand moes die kore voordra. Ongelukkig was die nagtegale almal so hees dat dit maar skreërig gegaan het. Dr Jurgens se koor het die prys verhaal met die liedjie wat almal later aangeleer het. “Any Old Hat”. Die ander liedjie wat baie populêr was was “Wenn die Soldaten”.

Die oggend het ons in Wildernis gewag en gou gebruik daarvan gemaak met roei en swem. Na ete is die twee verkouendstes in die lorrie gestop en het die ander toeriste die laaste paar myl van die toer aanvaar.

Op die tentoonstellingsgronde van George onder ‘n afdak het ons die aand gekamp veilig bestand teen reën. Voor ete het ons die nuwe soort dansie uitgevind sodat ons die res van die toer goed geweet het hoe om warm te kry. Hier het ‘n klompie studente, motortoeriste ons besoek en die kampvuur met ons gedeel. Dr Eiselen het pryse uitgeloof aan die koormakkers en die voordraers van die twee beste items, Chris en Booysen en die ses stylhaar meisies wat “Wenn die Soldaten” voorgedra het; toe het die hofsitting begin.

Onwillig het ons die aand gaan slaap eers toe sleetjies opgetrek en Kangaroes met geweld gebriek is kon ons ons na ons kant van die lorrie wend.

Die volgende oggend vroeg het die mans die meisies gewek met hul befaamde snork simfonie; die meisies het hul toe maar bedank met ‘n skrikbord prelude, en natuurlik was hulle te ondankbaar om dit te waardeer.

Op die trein kom ons dadelik die verdieping agter wat die week saamlewe in ons vriendskap gebring het. Ons ken mekaar nou almal, almal is maats omdat ons saam in die kampvuurvlam gestaar het.

Die aand het ons “Midnight Club” gehou soos Dokter sê. Halftwaalf moes nog eers koffie gemaak word en ons kon maar nie die ou maats verlaat nie selfs nie vir die nag nie.

Saterdagoggend vroeg het juf Jooste by Gouda afgeklim en halftien het ons almal by Stellenbosch uitgeklim. Op die stasie het ons gequeue vir potlode wat ons van die kruidenier in George gekry het, en daarna is ons Uitspan toe waar ons al die nuutjies “Lank sal hy lewe” toegesing het. Vir oulaas het ons “Lekker koffieblik” gesing en elkeen weer sy eie paadjie geloop.

Die toer is verby! Die toer wat ‘n verbasende sukses was, wat van sewe-en-sestig vreemdelinge vriende gemaak het.

S H Wessels

Voorgedra Vrydag, 10 Mei in Harmonie se “Coolarie”

Leave a Reply