Liedere Oor Die Radio November 1937

Wat op aarde is gaande in Monica se “cookery”? In die middel van die eksamens is daar elke aand ‘n singery aan die gang wat wie weet waar gehoor kon word. Sulke mense het regtig oorbodige energie!

Ja, nee, buitestaanders, ons neem julle nie kwalik nie as julle dit moeilik Beyryp. Maar loer maar net so ‘n slaggie in, en probeer as dit moontlik is nog ‘n bietjie dieper in as die vrolike gesigte, en julle sal verstaan wat in elke BTKaner se hart omgaan wat daar besig is om te oefen.

Oor bietjie meer as ‘n week gaan vir die eerste keer in die geskiedenis van die BTK hulle liedere oor die hele land weerklink – genoeg om enige BTKaner se hart vinniger te laat klop. Ouers en vriende gaan nou vir die eerste keer ‘n besef kry van die ware ou BTK, waarvan hulle al so baie gehoor het, en wat so ‘n hegte band vorm tussen studente wat almal deur dieselfde drang aangespoor word – “Wanderlust”. En wat dit dan nie vir ‘n ou BTKaner moet beteken, as hy duisende myle van Stellenbosch verwyderd, weer daardie liedjies hoor weerklink wat hyself jare gelede netso lewenslustig gesing het, toe hy nog jonk was en die lewe onbekommerd kon geniet. Watter herinnerings moet daardie liedjies nie by hom wek, as hy teruggevoer word na sy eie studente-jare en die sorgelose vreug van die BTK nie?

Al sulke gedagtes het by die klompie opgekom terwyl hulle oefen, en dan sing hulle somar weer uit volle bors. En buitendien was die drie figure wat die toon aangegee het, ook ‘n bron van inspirasie – soms tot lag in plaas van sing. Bertie Lombard met sy Piano Accordian, J Schoeman met die ghitaar en Bey Naudé, die dirigent.

Met kloppende harte het hulle eindelik een Woensdagmiddag voor die mikrofoon gestaan, wagtende op die teken en alle oë op Bey gerig – en meteens weerklink die kamer van liedere soos alleen BTKaners dit kan sing.

Saterdagmiddag vind ons weer dieselfde groepie op weg na die studio. Maar hulle het mos klaar uitgesaai! A, ja, maar éénkeer is darem te min vir sulke Wandervögel, en nog ‘n maal gaan die hele land hoor watter verskeidenheid nommers liedere deur die BTK aangebied word, as hulle kampvuur saans helder brand. Maar dit is nog nie tyd om voor die mikrofoon te verskyn nie, en intussen het die Kapenaars seker gewonder watter vrolike klomp plattelanders vir die eerste keer ‘n “Merry-go-Round” besoek! Maar wie sal dan ook nie Beyin sing as die hele “Big Wheel” vol BTKaners sit nie! Maar watter student gee om wat van hom gedink word na die eksamens! Dit het die uitbundige klomp onder ete in die “Wellington Fruit-Growers” se eetsaal ook nogeens bewys.

In elk geval, dit het tyd geword om terug te keer na die studio, en na alles suksesvol afgeloop was, en almal met gelukkige gesigte huiswaarts wou keer – word hulle meteens verras deur ‘n voorstel van ‘n sekere mev Whiteman, wat aanbied om grammafoonopnames van die liedere te maak. ‘n Elektriese skok kon nie meer oproer veroorsaak het nie! Dadelik is alle moegheid vergeet, en spoedig is almal na die studio in Hoofstraat. Maar min het hulle geweet wat op hulle wag! Om nog twaalfuur in die nag voor ‘n mikrofoon te staan en sing, as jou voete al byna onder jou beswyk na ‘n hele halwe dag se rondjakker in die Kaap, is darem nie ‘n grap nie! Maar toe die eerste plaat gespeel word, en die klomp eindelik besef: Dit is ons self wat daar sing, was daar weer vir ‘n oomblik ‘n opflikkering van hoop. Eindelik was die laaste note gesing – vra nie hoe nie(!) – en word die terugreis aanvaar.

Half deur die slaap het een vir een op Stellenbosch by die lorrie uitgetuimel – doodmoeg maar gelukkig. ‘n Onvergeetlike ondervinding!

S Naudé
(namens Sketsskryfster)

Leave a Reply