Tafelberg-Uitstappie

Dit was ‘n sonnige oggend toe die BT-Kaners vanaf Stellenbosch vertrek het, om hulle weer te verlustig in die wye natuur, na benoude weke van spanning by die boeke.

Met soveel lewenslus het hulle begin klim, dat dit nie gelyk het of die eksamens hulle aangetas het nie. Later het die son, egter, net warm begin word, en toe ons eindelik die middag bo aanland, was almal seker bly. En wat ‘n gesig vanaf die kruin van Tafelberg! Nie een van die wat daar was, sal seker gou die sonsondergang vergeet nie.

Dié wat nog besig was met aandete, het alles netso laat staan toe hulle die uitroepe van verrukking hoor, en almal het na die hoogste top gesnel. Voor ons was ‘n donsige massa spierwit wolke uitgestrek tot aan die gesigseinder – met ‘n gedurige beweging en woeling soos onstuimige waters, en tog het dit ‘n indruk van rustigheid geskep. En langsamerhand het die dalende strale van die son die wolkemassa in ‘n ligroos waas omhul, sodat dit in één moment in feë-land omskep was en die swywende toekouers die oomblik verwag het om die feetjies in feestelike gewaad te sien verskyn. Stilswyend het hulle toegekyk, en ongemerk het die skadus begin daal, totdat die towerland alleen ‘n droom van die verlede was, en elkeen na die kampie teruggekeer het. Maar nie met ‘n gevoel van treurigheid omdat die kleurryke beeld verdwyn het nie, maar met ‘n gevoel van nietigheid in vergellyking met die grootsheid van die natuur en Gods skepping.

Die aand het egter nog ‘n verrassing gehad vir die wat die eerste keer Tafelberg geklim het – die duisende flikkerende liggies van die stad. Dit was ‘n stil en pragtige aand, en vir ure kon ‘n mens afkyk, sonder om moeg te word. So stil en rustig het die stad gelê, en tog – onder was alles lewe en beweging.

Almal was traag om na bed te gaan, maar daar was nog ‘n dag voor, en die volgende dag was almal vroeg op die been. Die frisse stap in die oggend het almal goed gedoen – en ons kon nie help om nou en dan stil te staan nie – want diepblou het die see onder uitgestrek gelê, en die verskillende skakeringe veroorsaak deur die strale van die son, het almal se bewondering afgedwing.

‘n Fyn motreëntjie het begin uitsak, maar dit het niks van ons lewenslustigheid gedemp nie, en veilig het ons eindelik weer by die stasie aangeland. Die treinreis was natuurlik jolig soos altyd, en toe Stellenbosch weer bereik was, kon almal net praat van die aangename twee dae wat sonder enige ongeval verby gegaan het. Alleen één insident – Reep se beker(?) – verswyg ons maar …

S Naudé

Leave a Reply