Genadendal-Elgin April 1938

Wie kan hom meer ideale omstandighede voorstel as dié waaronder ons Donderdagmiddag ons toer begin het. Met die lorrie al kreunend onder ‘n vrolike klomp BTKaners is ons van Die Uitspan weg, oor Hels-hoogte en deur die fraaie Banhoek-Vallei. Die skoonheid van daardie deel was meer treffend as gewoonlik as gevolg van die opgeruimde gevoel wat in ons geheers het. Die vrolike BTK-liedjies het wyd en syd oor die boorde en plantasies weerklink. Dit was nie eers nodig om met mekaar kennis te maak nie – die omgewing het onwillekeurig kameraadskap geskep.

Boeke en klasse was gedrogte van die verlede, en oom Koerasie en sy paar maats het hulle verder die vergeteldheid ingedompel met behulp van ‘n paar glasies bier by Franschhoek. Elkeen wou uiting gee aan sy bewondering vir die omgewing tot ons die Franschhoek-pas uit was en kans gekry het vir afklim en rondkyk. Toe het die babbelbekke die wonderlike panorama spraakloos aanskou.

Ons was almal gretig om verder te stap tot aan die voet van die pas, waar ons by die Tol sou kamp. Ons het ‘n ideale kampplek onder die bome by die riviertjie aangetref. By die eerstdiekampvuur van ons toer kon ons toe mekaar se name leer ken en nuwelinge kon kennismaak met dié BTK-item, ‘n kampvuur. Die volgende dag was Goeie Vrydag. Hugh Murcott het skaars kans gehad om sy diensie – “gee” en “kry”, ook op BTK, – te sluit of dit het begin sous. Ons moes na die groot tente verkas. Daar was toe uitstekende geleentheid om die liedjies te leer. Gelukkig was die grapmakers se bronne onuitputbaar. Die reën het ons darem kans gegee om teen die aand ons litte te rek met oom Jannie se speletjie: “Siembamba”, “Die boere ry so sit-sit so” en “Eendag het ek gaan wandel”.

Saterdag het ons ‘n flukse stap al langs die grootpad gemaak – die voete het sommer ‘n deeglike ontgroening gekry met blare ten gevolge. Tussen Palmietvleie deur het ons pad gekronkel. Op een plek teen ‘n hoogte het ‘n wa langs die pad afgesak en tussen die Palmiete te lande gekom. Die BTKaner-helde het gou bygespring om die swakkes in die verdrukking te help – hulle het die wa opgebeur en teruggelig op die pad. Op Genadendal is ons rojaal ontvang deur die Weders en die ander sendelinge. BTKaners was seker nog nie tevore so weelderig in kamers gehuisves nie – die meisies in buitekamers, die mans op die solder en Dokter en mej Jooste nader aan die huis.

Sondagoggend – eenvormig in khaki-klere met rooi nekdoekies – is ons almal kerk toe. Die kleintjies se ogies het somar onbeskaamd geblink soos hulle ons aangegaap het. Die eenvoudige erns van die preek het ons geraak en nog vaster geheg aan Genadendal.

Maandag kon ons toe ook sien hoe hulle kerkbasaar en trouery hou. Die BTKaners het hul na hartelus verlustig in die pragtige omgewing en tussen die bome speletjies speel.

Sondagmiddag het mnr Weder ons met lorries na ‘n bekende kloof geneem waar ons opgeklouter het, en daarna in die rivier gaan swem het. Maandagmiddag weer ‘n ander kloof in, tussen bome deurgevleg en heen en weer oor die riviertjie getou. Ons het ou Bey beny dat hy elke vakansie in so ‘n Paradys kon gaan kuier.

Dit was al Dinsdag toe ons ons eers kon wegskeur van Genadendal met sy wonderlike natuur en besondere gasvryheid. Ons is baie dank verskuldig aan die Weders vir alles wat ons daar geniet het. Die mooiste deel van dié dag se stap Elgin toe was Viljoenspas. “I’m Wald” het besonder gepas geklink tussen die plantasies dennebome. By Elgin het ons Mietjie en Johan Louw, oom Dirk en Johan Koorts aangetref – hulle het net die volgende dag vir ons kom besoek. Van die petaljes by Elgin moet ek maar swyg, want nadat die tentkomitee hulle flou gespook het om tentpenne in die harde voetbalveld ingeslaan te kry, was hulle al wat warm was. Die kampvuur, waarop al ons hoop om ‘n bietjie hitte, gerig was, het tot ons ontsteltenis ook die grootste en onwenslikste deel van Elgin se bevolking getrek. Na ‘n paar mislukte pogings is hul eindelik verwilder en is ons met rus by die vuur gelaat tot ons moes verdaag en die nag ‘n kans gekry het en ons byna verkluim het.

Die volgende dag is al ons leed egter vergeet toe ons na ‘n paar myl se stap by ‘n heerlike swemplek in die Palmietrivier kom. En toe weer by mej Watermeyer se appelpakkery losgelaat word. Ons kon ons vandaar skaars-skaars tot by die plaas sleep en daar in die boord kamp opslaan. ‘n Paar deskundiges het beweer dat al die appels wat ons geëet het sou verhoed dat ons die walle van die omgeploegde land voel as ons om die kampvuur lê. Oom Pieter het ons in sy item ook verder sulke ongelyktes laat vergeet.

Die skof vandaar na die see was wonderlik mooi. ‘n Smal paadjie het al langs die berghange gekronkel tot bo, en toe weer afdraend gelei totdat ons ‘n pragtige gesig op die see gekry het. Eindelik was Kleinmond daar, maar ons kon net voorrade oplaai, en moes aanstap. Palmietrivier toe. Die aand het ons nog so baie appels oorgehad dat die kokke as spesiale gereg appel-“stew” en vla gemaak het. En ek vrees hulle het dit te lekker gemaak want sommige het so baie geëet dat hul volgende dag langs pad wou bly lê.

Vrydag, ná ons met die pont oor die Palmietrivier is, het ons met die pad al langs die kus die laaste deeltjie van ons toer begin. Verby De-Wets-Baai, Hangklip na Pringlebaai, en Saterdag vandaar verby Rooi-Els, Koeëlbaai tot by Steenbras-mond. Dit is ‘n wonderlike end pad – al langs die bloue see, verby die pragtigste baaitjies met hulle blink wit sand, en dan weer langs steil hange met die see diep hier onder – gedurig besig om woedend teen die rotse aan te breek.

Dit het net woes gereën voor ons by Steenbrasmond gekom het. Maar toe ons eers daar is het ons ons warmgemaak met rondspring en sing en warm tee drink, totdat die lorries gekom het. Op Gordonsbaai het mev Coertze ons vriendelik onthaal, en het ons letterlik feesgevier met die heerlike tee en warm “scones”. Dit was swaar om Dokter daar agter te laat, en die opreg-bedoelde “Hulle is lekker mense” wou maar nie glad klink nie. Ons het besef die toer is op ‘n end. Ons het die beste gebruik gemaak van die laaste endjie pad se reis, en ons vir oulaas hees gesing. Op Stellenbosch het ‘n vuile spul BTKaners van die lorries geklouter, weemoedig dat die toer op ‘n end is, maar met die besef dat ons heerlik getoer het.

H Murray
(Sketsskryfster)

Leave a Reply