Porterville-Bokkeveld April 1945

Dit is eienaardig hoedat elke toer uit die staanspoor uit ‘n karakter dra wat hom vir goed onderskei van alle ander toere daarvoor of daarna. Natuurlik is dit nooit dieselfde groep mense wat elke keer gaan nie – en die omgewing en weersomstandighede bepaal ook tot ‘n groot mate die karakter van ‘n toer. So is daar byvoorbeeld nounog sprake, onder die ouer geslag, van die Groot Reëntweer van April 1941. Dit was ‘n groot toer vanweë die groot aantal toeriste – iewers in die koers van 110 – en ‘n groot reëntoer vanweë die buitengewone hoeveelheid water wat uit alle rigtings die toer benat het.

Om egter tot die teenwoordige tyd terug te keer, dink ek dat hierdie toer in die Annale van die BTK bekend sal staan in die jare wat kom as die Groot Los Toer van April 1945. Soos die voorgemelde was hierdie toer groot in die sin dat daar nie minder as agt-en-neëntig nekdoekdraers was nie. Natuurlik was dit ook in alle ander opsigte ‘n groot toer – volgens Engels Great!

Om by die Los te kom. Dit was in die eerste plek ‘n los klomp mense wat hulle lief en leed gepool het vir die duur van die vakansie. Daar was enkele vastes by, maar hulle het ook mettertyd losser en losser geraak. In die tweede plek was los sigarette en snoeperye deurgaans baie volop. Verder het los grappe en stories gereeld hul verskyning gemaak, sodat later van tyd selfs die meer vaster persone geprotesteer het as ‘n storie nie los genoeg is nie. Daar was ook ‘n Los professor op toer – Los in die sin dat hy nog sy eie baas is. Verder ‘n losserige proponentjie en so aan.

Omdat ons nie die Vrydagmiddag kon wegkom van Stellenbosch nie, kon ons daardie aand darem die toer begin deur ‘n baie aangename kampvuur en het etlike komitees reeds die kans gehad om hulle stram litte los te maak vir wat voorlê. So het dit gebeur dat P.K. Engelbrecht, ‘n rekruut van die hout en water, se pinkie-vinger se kop geheel en al los geraak het van die res van sy lyf af, en hy genoodsaak was om tuis te bly tot aller spyt. In elk geval het ons toe die geleentheid gehad om mekaar se gesigte oor ‘n stukkie wors te aanskou, ‘n paar liedjies te sing en om die toonhoogte van Rynie se fluitjie goed in die akoestiese geheue op te teken vir verdere referensie. Sakies het net so stadig begin vlot toe moes ons alweer afsluit, want daar wag baie rugsakke wat moet gepak word en die nuweling – damestoeriste moes hulle laaste “beauty-sleep” gaan vang om ‘n goeie vertoning te maak die volgende môre op die trein. Meeste het eers na Willie se fliek gaan kyk en diegene wat meeste geshine het wou dit glad nog ‘n keer sien.

Saterdagmôre vroeg-vroeg was daar ‘n gewoel in ds Louw se agterplaas. Die hoop bagasie het aangegroei namate die toeriste so driekwart deur die slaap gekruie gekom het, elk met sy besondere bydrae. Die groepie kakie-gekledes op die stasieperron het aangegroei en die spanning het by die minuut gestyg. Uiteindelik was ons op die trein en weg; met moeite het elkeen sy eie of iemand anders se sitplek gekry, maar niemand het omgegee nie, want daar was net een gemeenskaplike gedagte, naamlik om die toer ten volle te geniet met alles wat dit sou oplewer. Daar is gesing en geskerts en gelag “tot verbasing van de aanschouwers” en die nuwelingseuntjie en -dogtertjie het begin ontluik en begin opgaan in die spirit wat reeds opgeduik het. Willie het ook sy rolprent-kamera begin draai en natuurlik wou almal shine kry.

Nietemin het ons moeg geword van die treinry – veral op die taklyn vanaf Hermon toe die goederetrok met kunsmis prioriteit gekry het op die vrag in ons in die onderaardse geur daarvan moes bestaan. Die eerste BTK-middagmaal met enjinkoffie het egter wondere verrig en die manne het maar die pype en sigarette aan die gang gehou om die lewe vir die vrouvolk draaglik te maak. Sommige van die meer waaghalsige geeste het die lokomotief bestyg en soos waffer kersfeesdekorasies daarop gepryk en darem pal op die draai agtertoe geloer en gewaai om seker te maak dat die heldhaftigheid nie onopgemerk bly nie. Dokter, oom Dirk en Martin was veral teleurgesteld dat die stasies vanaf Hermon hulle nie kon sien nie. Because waardeur die stasies was blind.

Die treintjie – ongewoon aan soveel lewende hawe aan boord, het mismoedig geword en almeer tyd verloor sodat ons op Porterville ‘n ronde uur laat aangekom het. Die staplustiges het toe so vir ‘n wyle kans gekry om die nuwe skoene so ‘n bietjie te bestof. Kriel se lorries – hoog gelaai het met ‘n snork en ‘n blaf verbygejaag kampplek toe. Maar die donker was vinniger en het ons gevang sodat daar van die eerste kampvuur die aand, daar in oom Paul Albertyn se Port Jaksonbossie, nie veel tereggekom het nie. Die aandkokke het darem die posisie gered deur ons te vergas op ‘n kosnommer van besondere gehalte.

Sondag het stil verbygegaan – Sorry please, ek meen dit was alles behalwe ‘n stil Sondag. Tappies het vir ons ‘n diens gehou, maar dit was nie die oorsaak van die rusverstoring nie. Dit was die Sondagmiddag toe die lomerigheid so begin toesak het oor die rustiger geeste. Rynie het sy lê gekry en Martin was net fluks op pad om vir (Seun) Liesbeth in te lig oor die skoner dinge in die lewe – nie dat Seun of iemand anders ooit nog daarin geslaag het om hom te beweeg om sy nekdoek te laat was nie – ek sê dit was toe dat die rooimiere in twee van ons toergenote ingevaar het en hulle vir die res van die toer tot almal se vermaak, gedryf het om die snaakste dinge te sê en te doen. Die omies en die tannies van die huurplase het aangedryf gekom op die middagwindjie, betyds om die sirkus te aanskou wat daar ontstaan het sodat oom Paul se hardhorige vrou genoop was om in ‘n fyn stemmetjie haar verbasing teenoor ons kampmoeder te lig, “Haai Meisies Möller maar dis komieklike mense die!”

Sondagaand het ons dinge weer rustig gevat om die kampvuur en het die jongelinge kans gekry om vir die eerste keer as sleedrywers op te tree en kon die nuweling-jongedogters gerus gestel word,
“Bewe dan tog nie so, maak tog nie so,
ons sleetjie val tog nie om.”

Sondagaand se kampvuurprogram het ‘n bestendige stempel gedra sodat elkeen met ‘n gevoel van kalme genoegdoening ‘n lêplekkie kom soek en glad te gou het Rynie se skril fluitjie die môrelug deurklief. Maar dis lekker om van ‘n why-no-spring grondmatras op te staan as die pap wag.

Maandag se stappie oor die berg na Warmbad was korter en makliker as wat ons verwag het, sodat ons lank voor die lorries by ons bestemming gekom het en ‘n lekker squeal begin optel het oor ons baaiklere. Die Tarzan-geeste het nie gewag vir oop deur of baaiklere nie en eenvoudig die bolwerke bestyg – hulle Adamspakke aangetrek en die draadlooswater beproef. Andere meer praktiese geeste onder die meisies het later mekaar in die bad ingestamp en toe hul nou reeds nat was, kon niemand hulle verhoed om so in hulle klere te swem nie.

Die middag was daar ‘n watergala wat die polowedstryd by Duinkerke soos kinderspeletjies laat lyk het. Onder die hewiger ongevalle was Tappies se stywe nek. Maandagaand het die kampvuur ons in ‘n hoek vasgekeer sodat daar in verdiepings geslee is. Kopstukke van die Citrusdalse samelewing ten woorde die Dokter en die predikant het ons vereer met hulle teenwoordigheid en saam aangesit om die blikbord en die reisdeken. ‘n Glanspunt in die aand se program was die musieklose orkes onder die paplepel van Con, kompleet met balette (one skirt missing). Die warmbad was ‘n salige oord – veral vir die blikwassers wat met behulp van die draadlooswater ‘n flitskring uitgevoer het met die blikwas soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie. Voor sy vertrek het die Dominee en sy vrou die ganse toergeselskap mildelik voorsien van sigarette en boklets en almal uitgenooi om die volgende dag middagete te kom geniet op die grasperk van die pastorie.

Dinsdagmôre het ons vir die laaste keer ons gesigte in die warm water gewas en in die reguit pad geval Citrusdal toe. Die son het hom aan die regterkant behoorlik laat geld. Gelukkig was die winkeltjie op Modderfontein in besit van ‘n goeie voorraad druiwesap sodat dit die laaste twee myl baie makliker gegaan het. Etlike van die luier geeste het gebruik gemaak van die natuurlike verkeer en op die manier vinniger oor die weg gekom. Getrou aan die beroep wat oom Dirk die vorige aand gedoen het, het die manne hulle oë toegemaak vir die aanloklike kennisgewingborde en blindelings Pastorie toe gepeil. Op die sagte grasperk kon ons welbehaaglik ons skoene uittrek en in die sonnetjie ontspan wyl die middagbrood besig was om te middagbrood. Die botterbroodjies verskaf deur die vriendelike doktersvrou het goed ingegaan. Hierna het die Dominee vir ons die nuwerwetse kerkgebou gaan wys en het elke toeris die kans gehad om die nuwere rigting in die kerk-argitektuur te bespreek. Mnr Graham het nie op die orrel gespeel nie, maar almal het darem op die preekstoel geklim. Die doopbakkie het ook baie aandag geniet. Hierna is aan die Dominee en sy gade die Orde van die vuurpyl toegeken. So teen drie-uur het ons weer ons oë toegeknyp tot buite die gevaarsone en die laaste vyf myl lekker gestap.

By die aantreklike kampplek aangekom wou Jean dadelik die groenteskillers aan die werk sit, maar meeste was reeds op pad om na die waterval te gaan kyk en ‘n koue swemmetjie te vang. Die natuurskoon van die waterval het almal se bewondering afgedwing. Party het egter verkeerde paadjie gevat en nooit by die waterval uitgekom nie. Die kampvuur was rustig en aangenaam, maar Fransie en Sarah het maar hard en koud geslee daar bo-op die klip. Die assistent-toontjiesdokter het sy hande vol tone gehad.

Woensdag se pad was lank, baie sanderig en baie opdraend. Die natuurskoon het egter dubbeld vergoed vir al die swaarkry. Heelparty het kaalvoetstap probeer en dit nogal makliker gevind. Uiteindelik het ons vir Con ‘n bobbejaan daar bo-op die kranse gewaar en geweet dat die kampplek naby was. Hierdie aand het die eerstelinge die kampvuur regeer en onder meer ‘n geslaagde orreluitvoering gegee, net jammer die voetnote was bietjie vals, seker vanweë die blare.

Donderdag was die geledere van die stappers heelwat uitgedun en die bevolking op die lorrie baie dig. By Disselfontein is heelwat appels en pere verorber. Die pad oor die vlakte na De Keur het skynbaar al langer geword maar eindelik was ons tog daar. Weer het sommige swakkere geeste op eienaardige voertuie by ons aangesit gekom, enigiets vanaf die polisiewa tot ‘n trekker is gebruik solank dit maar die voete van die grond afgehou het. Nadat ons die varkens en die koeiens uit die populierbos verdryf het, is die tente daar opgeslaan. Oom Tippie en ander plaasmense was ons gaste by die kampvuur. Min het ons geweet dat ons geforseer sou wees om die volgende dag hulle gaste te word.

Ja, en die nag begin dit toe mos reën – die toerplanne wat reeds tot ‘n mate ontwrig was deur gerugte van Maagkoors in die Agter-Witsenbergse, moes nou verder gewysig word. Die stap in die nattigheid na oom Tippie se appelskuur was sover as wat ons gekom het. Nie dat ons ons aldaar ontuis gevoel het nie – of skaam was vir die appeltjies nie. Dit was maar weer “Al val die reën ook -O dit traak ons tog nie -” gee my nog ‘n appel. Die Jan Pierewieters en die volkspele-entoesiaste het teenoorgestelde kante van die skuur begin stofskop en so tussendeur was daar allerlei ander afleidinge. Dat appels ‘n mens eetlus gee is vir altyd bewys in daardie skuur – want ten spyte van ons aanslae op oom Tippie se appeloes is daar die middag ‘n rekord aantal brode verslind. Gemiddeld vyf snye per kop is ingesit – maar latere inligting het getoon dat soveel as tien snye in dieselfde maag beland het. Bravo Annie!

Deur organisasie aan die kant van die bestuur en die vriendelikheid van ons gasheer kon die geselskap per vragmotor tot op Ceres kom. Dit was koud en nat, veral op daardie laaste lorrie bo-op die vrag bagasie onder die nat seil in die haelstorm.

Ceres se stadsaal was in die ware sin van die woord ‘n uitkoms. Die kokers moes wel buitekant in die reën werk – maar dit was slegs vir ‘n rukkie, dat ons van die elektriese geriewe in die kombuis ook kon gebruik maak. Ons het laat tot eet gekom met die gevolg dat die lampvuur tot middernag geduur het. En toe happen dit mos dat Annie vir Monica skiet vir slee in Tappies se afwesigheid.

Saterdagoggend was daar nie pap nie want sien – die papkokers het verslaap. Rynie het darem daarin geslaag om die mense betyds op die stasie te kry.

Op Wolseley moes ons oorlê tot die middag en die Kerkbasaar is bestorm, spoedig was al die lekkernye daarmee heen. Nietemin is die middagete by Tappies se huis nie verwaarloos nie.

Spoedig was ons weer op die trein vir die laaste skof na Stellenbosch – dit was toe die sing opraak dat die los stories voor die dag begin kom het.

In die Uitspan is daar oor eiers en vleispasteie gedraf en nadat Willie nog musikale agtergrond vir sy rolprent vervaardig het, is ons uitmekaar. Dit was ‘n toer van betekenis – ja maklik!

(vir Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment